Agtergrond
Om langs ‘n karavaan te kampeer is baie braaf. Karavaanvakansies behels die duplisering, en soms verbetering, van die presiese weelde en toebehore waaraan mens gewoond is by die huis. Dit sluit nou alledaagse klein dingetjies in soos mikrogolfoonde, wasmasjiene, outomatiese waterverkoelers, DSTV, hart-long masjiene, ens.
Van vroeg in jou kampgeskiedenis is jy al gekonfronteer met die aura van die karavaan. Die standaard karavaanman se kamp is gewoonlik net groot genoeg vir sy familie en ‘n paar vriende en miskien helfte van die Thuli-blok olifante en hulle gades. Die goed is soos oorlogskepe; hulle het ‘n invloedsfeer veel groter as hulle afmetings. Weë jou as jy jou tweemanbesigheidjie tussen twee sulke auras opslaan…
‘n Gesoute karavaner is gewoond aan dinge op ‘n groot skaal, so jou gedroggie van ‘n tent is nie eers meer binne sy verwysingsraamwerk nie. Sy ‘laaitie’ se speeltentjie is dan groter as joune. Met ander woorde, jy moet omtrent sewentig meter polisielint saamvat om jou kampie af te baken, anders is jy eintlik maar net ‘n ‘obstacle course’ vir jou buurman en sy pelle. Dis hoekom mens so versigtig moet opstaan in die oggend. As iemand jou nie in die nag dood geparkeer het nie…
Tog is die belangrikste effek van karavane op jou baie meer subtiel. Sien, daar’s so baie blink dinge en liggies en vreemde implemente langs jou dat jou kampkoors stadig oorsit in iets erger: Karavaanagtigheid…
Karavaanagtigheid is sekerlik die uiterste variant, die finale evolusie van kampkoors, maar is ‘n kort stappie weg van werklik ‘n karavaan hê. Dit word gekenmerk deur ‘n totale oorgawe aan goeters in die ergste graad. Jy het nie eers meer die vermoë om twee keer te dink oor ‘n kampding voor jy dit aanskaf nie. Jy dwaal rond in kampeerwinkels met ‘n mond wat half oophang en ‘n brosjure in die hand waarop jy regmerkies aanteken soos ‘n wafferse voëlkyker. Elke liewe ding wat geadverteer word het in jou geestesoog al klaar ‘n plekkie in jou kampstaanplek. Die effek op jou beursie grens aan vandalisme.
So neig jy na karavaan koop toe sonder om een te koop. Jy vertel natuurlik vir almal dat karavane onnodig is en dat jy net sowel in ‘n woonstel kan vakansie hou, maar jy het naderhand so baie goed gekoop dat jy dit net alles kan saampiekel as jy ‘n karavaan het om dit in te sit. [Einde van agtergrond]
Dis die nuuskierigheid wat jou onderkry. Daar sit jy uiteindelik op jou stoeltjie in die wildtuin, sê nou maar, met ‘n blikkie goue lafenis na ‘n hele dag se kamp opslaan. Jy tuur nou en dan die bosse in, maar die karavaankamp langs jou is so heldergroen en lewensgroot, dis soos om langs die Eiffeltoring te staan en om te probeer om nie op te kyk nie. Troppe rooibokke kom nader agter die groen aan, van die opinie dat hulle na jare se rigtingloosheid uiteindelik hulle pad terug paradys toe gewei het en party probeer selfs oor die draad klim.
Ewenwel, hier sit jy op jou gestoeltetjie met ‘n yspak teen jou voorkop waar die grill sy merk gelaat het. Mamma kloek nou en dan om uit te vind of jy nog kan dink en jou naam kan onthou en so aan. Geskokte rooibokke steier hier en daar duiselig rond anderkant die heining. Vandag ry ons nêrens heen nie. Buurman en sy trawante is al vroegdag uit met dieselenjins wat brul, vandag sien hulle net ou wild wat al doof is.
Jy ploeter maar rond en melk die laaste bietjie simpatie (dit hou mos nie lank nie), maar jou oog trek heeltyd na die karavaan toe. Daar’s so baie goeters! En hier teen skemer het van hulle nog blink liggies ook! G’n mens met kampkoors onder lede kan so iets weerstaan nie. Dis dan wat jy net gou biejie nader gaan loer. Net so bietjie kyk. Hoe nader jy kom hoe interessanter word dit. Hordes tafels, ‘fancy’ seilstoele wat die ouens by Boeing as standaard-toerusting op ‘n 747 sal oorweeg, Jamie Oliver se hele kombuis, matte, Mnet… jy sal nie verbaas wees as hulle môre pos afgelewer kry nie.
Ongelukkig is dit so dat iemand wat so nuuskierig is ‘n natuurlike sluip aan hom het. Dit lyk sommer verdag. En as die liggies en blink dingetjies jou so laat kwyl, is jy naderhand in die middel van jou buurman se kamp en kan jy mos nie sien die mense het teruggekom nie, jy besef eers iets is fout as jy in Phalaborwa se hospitaal wakker word met half toegeswelde oë. Langs jou sit mamma wat nie geammuseerd lyk nie, en net effens bly is dat jy nog leef en dat die kindertjies nog ‘n pa het, al is dit ‘n ’stupid’ een. Die dokter kom in en mompel iets van die euwels van drankmisbruik. Jy probeer verduidelik dat jy werklik nie weet wat gebeur het nie, dat jy niks ingehad het nie, maar jou buurman het jou mond ook toegeslaan.
En in elk geval, as jy die dokter was sou jy ook nie ‘n ou geglo het met ‘n Toyotateken op sy voorkop nie…











