Archive for Junie 20, 2007

Kunskamp

Kamp gebeur nie net in die natuur nie. Daar is ‘n ding soos kultuurkamp ook, soos by Potch se jaarlikse Aardklop, of OppiKoppi en natuurlik Oudtshoorn se KKNV (Klein Karoo Nasionale Vlooimark). Kampeer op hierdie plekke het bitter min met natuur uit te waai, soos in bosse en wild en so aan. Dit het wel baie met menslike natuur uit te waai en as jy al op ‘n kunstefees gekamp het sal jy weet die menslike natuur is baie wild en gebeur soms om, agter en ook in bosse…

Kunskampterreine het nie mooi afgebakende staanplekkies nie, omdat skoolbeheerliggame etlike probleme het met kragpunte en braaiplekke op hulle rugbyvelde. So die grense van kampe is maar ‘n kwessie van stille (of luide) diplomasie. Geriefsgewys is daar bordjies wat jou na die geriewe aanwys wat bestaan uit:

a. Rye en rye vreesaanjaende, blou ‘portable’ toilette.
b. Dis omtrent dit.

As jy gewoond is aan beroepskampeerders vir bure kan jy dalk hier so bietjie kultuurskok opdoen (heel gepas). Hier en daar sien jy wel iemand met grondseile en windskerms en baie liggies, maar oor die algemeen het jy hier met ‘n perd van ‘n ander kleur te doen. Die kleur van bier meestal.

Daar is natuurlik baie studente, wat jou al klaar moes afskrik, veral as jy self een was of is. Hierdie ouens sal enigiets aanwend as tent. So beland jy dalk langs ‘n ding wat bestaan uit drie laang boomstompe met seile om gespan. Soos ‘n enorme tipi. En bo uit die opening borrel ‘n rokerigheid met ‘n soet geurtjie, met allerlei interessante effekte op die voëllewe in die naaste boom. Soos dat hulle vlieg sonder om hulle vlerke te klap en so aan.

Allerlei kleurryke kampies skiet rondom jou op. Daar is geweldig baie klein tweeman besigheidjies; dit lyk soos ‘n kleurvolle seil-plakkerskamp. Maar dis nie net tente nie… Oorkant jou tent se stoepie is daar ‘n kamp wat bestaan uit ‘n bad. Ja…

Dis die gees van die plek wat jou gryp. Sê nou maar dis jy en jou vriend Piet en julle Liefstes wat optrek na die groot kultuurmekka. Jou eerste gewaarwording is dat kampgrense suiwer teoreties is en kort voor lank slaap daar ‘n hele groepie mense op jou grondseil en ‘n ander lotjie onder jou ‘treiler’. Ewenwel, ‘n mens gaan kyk jou ’shows’ en gaan loop jou voete nerfaf vir mamma deur die vlooimarke en eet pannekoek asof daar nooit weer ‘n kerkbasaar gaan wees nie.

Laataand se kant is jy terug op die rugbyveld. Tussen vanoggend en nou het daar natuurlik ‘n bevolkingsontploffinkie gebeur. Daar’s nou twee keer soveel tente en ander bly-implemente. ‘n Jong paartjie het in jou ‘treiler’ ingetrek en dit lyk of hulle ‘n taamlike simbiotiese reëling het met die groepie onder die ‘treiler’, m.a.w iemand onder slaan die kitaar terwyl die twee binne-in ‘n poging tot sang aanwend. Dis ‘after all’ ‘n kunstefees. Jy kan nie dadelik agterkom wat hulle sing nie, maar dit klink soos Koos Kombuis se ‘Lalie’ gemeng met ‘Die Stem’ en dele uit ‘Gesang Tien’. Die voëltjies bo die tipi langs jou is so gerook, hulle sing die woorde saam. Party mossies giggel onophoudelik. Vanaand slaap ons min…

Maar ‘n man moet jou kamp ‘ekspert’ status trots bevestig deur op ‘n stoeltjie tuis te raak met ‘n koue Kasteeltjie en ‘n braaivuurtjie. Ongelukkig is dit hier nie ‘n geval van waai vir julle buurman wat doer anderkant by sy eie vuurtjie sit nie. Nee, hier trek ‘n vuur mense soos ‘n kers motte trek. Uit ‘treilers’ en baddens kom mense aangedraal. Sommige met pakkies vleis, ander met goed wat lyk soos vleis, maar waaroor daar nog beraadslaag kan word. Maar almal drink ietsie, van bier tot enjinskoonmaker. En almal deel. Dis heerlik man. Maar moet net nie aan die rondloop raak nie… dis waar dinge omtrent altyd skeefloop of selfs heeltemal ophou loop.

Die koue Kasteeltjies begin klop en jy begin rondkyk na die beste roete na die rye blou ablusieboksies… Nou terug Mamma, ek en vriend Piet gaan net gou fluit… ja…

‘n Gerondlopery is die lekkerste deel van kunskamp. ‘n Mens sien dinge wat jou laat stilstaan, jy ontmoet mense en raak onmiddellik vrinne met ‘n dosyn ander. Dis asof die dinge soms net reg saamwerk en skielik bevind jy jou langs ‘n man met ‘n kitaar en jy staar in die vuur en besin oor jou dinge. Daar’s die ouens met die groot waens met hulle gesigte op die kant, maar hier, tussen die mense is iets anders aan die gang. Meer eg, al is dit soms surrealisties. As jy ooit so kamp, kyk uit vir Roof Bezuidenhout van die Brixton Moord en Roof Orkes en luister bietjie na die woorde. En Bacchus Nel met sy swart gidshond; ‘n man wat meer sien as ek en jy.

Jy’s ongeveer op pad in die regte rigting, maar jy loop stadig, want jy wil nie op mense trap nie en die moute in jou lyf praat ook. Stadig loop is vriende maak. Daar is al gesê dat daar geen liefde is soos die liefde tussen dronk vreemdelinge nie. Die kleinste dingetjie raak die grootste ooreenkoms.

Jy en Piet hou mekaar regop op pad na die blou linie toe, julle maak vrinne, almal met ‘n anderse tipe dop. Naderhand is jy die pad heeltemal byster. Jou kop draai soos ‘n wasmasjien en dan val jy oor iemand. Jy probeer opstaan, maar al die kleurvolle tentjies en dingetjies om jou laat jou voel of jy in ‘n draaiende wasgoedpaal verdwaal geraak het. Dan maar weer af grond toe en verder kruip. Jou vriend Piet het jou al twee tente terug verloor en hy strompel tussen ‘n ander klomp mense in wat in ‘n pienk 1972 kombi bly. Hulle vind mekaar dadelik en Piet, so vertel hy later skugter, word terstond deel van ‘n ’sightseeing trip’ deur die Karoo wat eers twee dae later ophou.

Tyd vergaan. Jy’t nooit die ablusieboks opgespoor nie, maar daar was iewers ‘n ‘coolerboks’… Jy kruip deur mense se tente, groet beleefd, verloor dalk ‘n hemp toe jy deur die verkeerde tent kruip op die regte tyd, ontmoet baie ander kruipende mense en kuier al kruipend die hele kampterrein vol. Iewers ontferm ‘n rasta hom oor jou en na ‘n dop of drie helikopterbrandstof kry julle die blink idee om iets om jou knieë te bind. Al wat byderhand is, is ‘n stuk tou en ‘n klomp rou tjops. Werk soos ‘n droom.

Die res van die nag is moeilik om te onthou. Jy droom jy’s in die hemel. Jy lê op ‘n sagte wolkie en alles om jou is wit. Stadig kom jy by. Die wit om jou het krakies in. Lyk baie soos… ja… die binnekant van ‘n bad. Die sagte wolkie is nou aan’t beweeg. Met die eerste oogopslag lyk sy blond…

Jy klim moeisaam uit en voeter dadelik om. So lê jy maar en staar deur seer oë na jou tent. Hopelik slaap mamma nog. Die stadigste vink wat jy nog ooit gesien het loop treetjie vir treetjie voor jou in. Hy stop en draai sy kop stadig na jou toe. Sy oë is bloedrooi en hy probeer iets tjirp, maar sy stem is hees en sy tong is so dik dat hy halfpad opgee en befoeterd wegskuifel op soek na water. Hy stop by jou knieë en kyk vir ‘n lang ruk na jou. Dan skud hy sy kop en strompel verder.

Ooggetuies het later bevestig dat jy onskuldig in die bad geval het. Blykbaar opsigtelik oninstaat ook. So mamma se bui is koud, maar dit kon erger gewees het…

Comments (3) »