So lees ek toe die anner dag dat bloggers nou deur sielkundiges ondersoek (ontleed) gaan word. Nogal ‘n interessante spesie, bloggers, meen ek.
Hoekom blog jy?
Kruip jy weg agter ‘n kuber identiteit, en indien wel, hoekom?
En indien nie, hoekom nie?
My begrip van ‘n blog, is dat dit jou on-line joernaal is. Hier skryf jy wat jy gewoonlik net in jou dagboek geskryf het, met die verskil dat dit nou beskikbaar is vir miljoene oë om te lees. Eintlik is dit ‘n skrikwekkende gedagte! Is dit nie dalk daardie puntjie wat maak dat sommige van ons nie HEELTEMAL alles wil openbaar nie? Wat maak dat ek vir julle loer met een oog, in plaas van om ‘n vollengte foto van myself hier te plaas?
Miskien kruip ek weg agter ‘n kuber identiteit, waar ek myself kan uitbeeld sonder om regtig alles te wys. Waar ek myself kan wees, kan sê wat ek wil, maar graag wil hê dat julle my binnekant leer ken voordat ek die buitekant wys. Waar ek aanvaar kan word vir wat in my kop aangaan, nie die klere wat ek dra nie. Waar ek vir een keer in my lewe van BINNE af beoordeel word. Want jy gaan lank wag om die cover te sien!
Dis nie dat ek ‘n lae selfbeeld of min selfvertroue het nie, inteendeel, ek werk elke dag met baie verskillende mense. Ek is in ‘n posisie waar ek vinnig mense se vertroue moet wen om my werk goed te kan doen. Ek kan goed kommunikeer en luister, en ek is darem volgens my mening nie die lelikste mens op aarde nie. Iemand se kat het my nog nie onder die sand probeer toekrap toe dit my sien aankom nie.
Ek is aan die mollige kant, (mollig klink vir my mooier as dikkerig), maar nie so erg dat ek gesondheids probleme ondervind en klere by Big & Tall moet koop nie. En ja, seker as gevolg van die feit dat ek dit geniet om te kook EN te eet. En ek kry nie baie oefening nie. Daar is regtig nie tyd daarvoor nie, en as daar tyd was, sou ek sekerlik iets anders gekry het om te doen in daardie tyd, (soos om ‘n blog te begin) want ek HOU NIE van oefening nie. Kan darem in die spieël kyk sonder om naar te word. (Net so vinnig loer as ek kaal is…hehe)
Maar ek is glad nie fotogenies nie. Ek wonder altyd “wie de f@k is dit????” as ek foto’s van myself sien. Dit lyk nie soos die prentjie wat ek van myself in my kop het nie. My neus is nie so groot nie, en daai tweede ken wat so wil-wil uitloer, is nie myne nie. Ook nie daai tanne wat so skeef lyk aan die regterkant nie. En genade, daai kapsel! Skoolfoto’s was altyd ‘n nagmerrie, want juis op daai dae sou my hare elkeen hul eie rigting inslaan en die puisie wat al vir weke dreig om uit te kom, pragtig ontplof op die voorpunt van my neus. Dus HET ek nie onlangse foto’s van myself nie. En ek dink regtig nie jy wil daai skoolfoto’s sien nie…
Die punt wat ek eintlik wil maak, is dat dit guts vat om jou hart hier te kom oopmaak. Ongeag van hoeveel van jouself jy wys, is jy so blootgestel hier. En in ‘n mate voel dit veiliger om effens anoniem te bly.
Maar ek kruip nie weg nie, ek wil net nie alles op een slag wys nie…
Sien julle!











