Archive for Julie, 2007

Biocommunication?

Daar was gister ‘n berig in die Beeld en Volksblad oor ‘n man wat gediagnoseer is met “vaginale probleme” deur hierdie toestel. Ek het al skoon vergeet hiervan. Weet niemand dan van hierdie ding nie?

Een van my eerste studente in 1999/2000 was ‘n vrou. Deur al die jare het ons nog steeds kontak, veral aan die einde van die finansiële jaar wanneer sy weer vergeet hoe formules werk in Excel. :-) Maar sy is ‘n dierbare mens, en redelik bekend in ons gemeenskap. Sy het my ook moed ingepraat hier in die begin-jare toe ek sommer wou tou opgooi. Sy beklee ‘n spesiale plekkie in my lewe. Sy is ‘n kruie dokter. In plain Afrikaans. Dis hoe ek dit verstaan. Sy groei self kruie, help mense van dwarsoor die wêreld met kruie kure en behandelings, sy ken al die “mixes”, so ‘n holistiese uitkyk. En sy is glo goed in wat sy doen. Ek gaan nie name noem nie, wou net die agtergrond gee. Dit gaan hier oor die tegnologie, nie die persoon wat my daaraan bekend gestel het nie. Ek wil net my persoonlike ondervinding met hierdie toestel met julle deel.

In elk geval, sy het my so ‘n paar maande gelede genader om haar te help met “goed waarmee sy sukkel”. Ek reël toe vir haar 2 privaat ure, ek dog sy sukkel weer met Excel en het persoonlike hulp nodig in haar besigheid of voorraad setup ensovoorts. Sy arriveer toe met haar laptop, maklik, dan kan ek mos sommer help op die spot waar dit nodig is.

Maar sy is toe nie hier oor probleme met Excel nie. Sy soek hulp om hierdie nuwe program wat sy gekoop het met al sy goodies te operate. Basies ‘n databasis met foto’s en persoonlike info. Sy sukkel om die foto’s van haar kamera na die rekenaar oor te laai, en daarvandaan na die databasis oor te plaas.

Toe vertel sy my van Quantec. Dit is blykbaar oorspronklik deur NASA ontwikkel om mense in die ruimte mee te behandel. Ek moet nou proefkonyn speel sodat sy kan leer hoe om hierdie program te gebruik. Sy het nou nie al die props saamgebring nie, net die diode. Dis ‘n goue “boksie” bietjie groter as ‘n sigaret pakkie. Dit word verbind met die laptop. Dit is nou die toestel wat die “white noise” uitstraal. Dit lyk eintlik soos ‘n reuse paperclip, om ‘n swart boksie, en dis glo 18 karaat goud. Dit LYK soos goud. Sy vertel my hoe die kristalle en goed op ‘n glasblad gepak moet word, en die band om die kop, ens om jou lesing volledig te kan neem. Maar sy kan ook ‘n lesing op my doen met net die diode en ‘n foto. Spesiale kamera. Deel van die hele pakket. Nogal baie geld.

So neem sy toe ‘n foto van my, ek wys haar hoe om dit op die laptop en in die databasis te kry. Toe kry ek ‘n “reading”. Net op my foto en die teenwoordigheid van die diode. En ek val amper op my rug! Genugtig, is my gestel dan SO vergiftig? ‘n Lys kom op van al jou skete, liggaamlik, emosioneel. Wat se “remedies” daar vir jou is, watter kleure, geure, musiek jou beinvloed. Dis nou nie dat ek ‘n walking hospital case is nie, maar daar is ‘n paar dinge liggaamlik en gesondheids wys waaroor ek nogal bekommerd of bewus van is. Soos my sooibrand as ek net vir ‘n pie of witbrood kyk, my lae-rug pyne. Niemand weet daarvan nie, allermis sy! Maar hier is dit, swart op wit, dat daardie probleme wel bestaan. Selfs aan die emosionele kant was ek verras, ek is nogal goed opgesom, musiek, kleure en geure is in die kol. My kalmte en geduld in enige situasie kom sterk deur. My uithouvermoë, emosioneel. My “ek wil sorg vir almal!” -kant steek selfs kopuit. En selfs dat ek ‘n issue met my pa het??? Iewers, erens moet dit mos dan waar wees?

Die behandeling vir al jou probleme, kom in die vorm van frekwensies, wat na jou gestuur word elke twee ure vir 20 sekondes, maak nie saak waar in die wêreld jy is nie. En jy weet nie eers daarvan nie. Ek kon nie my kop lekker om hierdie een vou nie, maar sy was bereid om my vir ‘n maand lank te “behandel” omdat ek haar proefkonyn was. Soos wat ek die ding verstaan, word die frekwensies van die medisinale deel van kruie en plante na jou gestuur. Sy het my vertel dat dit ook werk op plante. Erens het iemand glo die wurms wat gedreig het om ‘n arme boer se hele aartappel-oes op te eet, laat doodgaan met die regte frekwensies. En emosioneel kan jy beinvloed word om minder stress te hê. Ek dog toe, hoekom nie? Kan seker nie skade doen nie, en hulle sê mos as mens iets nie verstaan nie, moet jy dit ervaar.

Maar my skeptiese kant weet nie so mooi nie. Ek kan nie werklik sê dat ek enige “verskil” in my probleempies ervaar het nie. Ek het baie beslis minder sooibrand gekry die afgelope tyd, maar dit kan ook mos wees omdat ek nou bewus is van die probleem en kosse vermy wat dit veroorsaak. My rug voel beter, maar dit kan ook wees omdat ek my stoel hoër gestel het en gemakliker voor my rekenaar sit. En as dit regtig so maklik was, hoekom het ons dan nog plae in die wêreld? Hulle kan mos net met die regte frekwensies gebombardeer word, en siedaar, geen siektes nie. Hoekom oorloë? Wêreld leiers kan mos emosioneel beinvloed word om vrede te maak? Wat dink julle hiervan?

Hier is ‘n link na die berig wat gister in die Volksblad en Beeld was:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2155430,00.html

En hier is die link na Quantec se website:
http://www.quantec.ch/english/index.html

Comments (17) »

Bloggers Anonymous

Dis lekker om te lewe, ja dit is…of jy ‘n voël is, of wat-ook-al, of ‘n vis…

Welkom al die nuwe maatjies, dis ‘n lekker wêreld die! Daar is ‘n paar “virgin” bloggers hierdie week, Sharks en Sonstudio! ‘n Spesiale welkom aan julle tweetjies. (Hehe, ek wil nou nie iemand copy nie.) Kom Blommie, wanneer is dit jou beurt, of het ek iets gemis? Ons soek NOG kuierplekke! En Sonneblom is terug! Ons het amper ‘n bokke-rotte-pantie-painting-en-shrimp soekgeselskap uitgestuur vir jou, jong! Heit, Internet-loosheid kan jou darem laat voel of jou suurstof afgesny is, né.

Wat my eintlik by my punt bring:

“My naam is Dellie, en ek is ‘n blog addict. (Sê almal saam: “Hello Dellie”)

Ek weet nie hoe dit gebeur het nie. Ek het in Mei of Junie 2006 vir die eerste keer SSSB ontdek. Van daar af kan ek nie veel onthou nie, behalwe dat hierdie virtuele wêreld vir my oopgemaak het wat ek absoluut onweerstaanbaar vind. Ek dink ek het hierdie blog “per ongeluk” geskep. Was op so ‘n IT high, dat dit effens blurry is. En toe go ek net with the flow.

Ek sê elke dag vir myself, “Self, vandag gaan jy EERS werk, en AS daar tyd is, mag jy gaan blog.” Baie gedissiplineerd dink jy? Hehe. Daar’s ‘n groot verskil tussen sê en doen! Sien, ek het die voordeel dat ek die baas is, en nogsteeds my werk goed kan doen sonder om heeltyd 100% betrokke te wees. My studente vorder teen hulle eie pas, en as iemand my nodig het, is ek hier, maar ek hover nie heeltyd oor hulle skouers nie. So soms is hier mense wat nie vreeslik baie hulp nodig het nie… Bright sparkies. Maar in plaas van dat ek bietjie admin doen of assessments merk in daai stil tye, lees ek blogs. En ek comment. Ek kan myself net nie keer nie! Ek moet elke paar minute gaan kyk wat wie waar gesê het. En daai favorites lysie groei by die dag. My werk begin nou REGTIG inmeng met my bloggery! Sal ernstig moet restructure. Delegate. Moet meer tyd kry vir blog. MOET MEER TYD KRY VIR BLOG!!”

Ernstig nou, waar lê die balans? Dis vir my absoluut fantasies om te leef in hierdie era waar die Internet ons wêreld so klein maak. Om julle almal te leer ken, is ‘n belewenis. (Ek het kuber maats, yey!)Ek geniet elke oomblik van rondspring tussen die blogs, dis absoluut ‘n wonder woonbuurt van mense, dinge en emosies. Selfs baie creative besigheids idees! Soms praat ons mekaar moed in, help mekaar om belangrike besluite te neem, k@k mekaar uit, beplan t-shirts, gee raad oor bokke en rotte en tamaties, secret loves, en soms gesels ons net lekker of praat net strooi. Ons kan ook DIEP raak en sensitiewe issues aanpak. Is dit wat dit so lekker maak, die gesels sonder pressure, sê wat jy wil sonder om alles regtig bloot te stel?
Ag, ek gee nie rerig om nie. My common sense is nog in plek, ek LIEF dit om hier te gorrel, en ek kuier lekker by julle almal!

My naam is Dellie, en ek is ‘n blog addict. Join jy my vir die volgende meeting?

Comments (30) »

Kredietkaart kuier in Indië sonder toesig

My kredietkaart het besluit om te gaan kuier. Sonder my en sonder my toestemming. In Indië. In Mumbai om presies te wees. Vir ‘n week lank. Sover. Hoe hoor ek julle vra? G’n mens sal weet nie!

Ek is baie bang om tranksaksies op die Internet te doen met my kredietkaart. Of enige kaart. Ek het Internet bankdienste, maar dis net ‘n besigtigingsdiens, ek kan net saldo’s kyk en transaksie details bekom. Kan niks oorplaas of betaal nie. Ek verkies dit so. Ek dog ek is veilig so?

Groot is my verrassing dus toe ek vanmore gou gaan kyk wat daar aangaan, en ek kom agter daar is 5 transaksies gedoen vanaf die 11de tot die 13de Julie, met MY kaart, IN Mumbai! Vir ‘n totaal van R342.99. ‘n Volgende transaksie op die 18de, wys ‘n deposito van R89.37…hoe nou? (As die deposito meer as die transaksies was, sou ek seker nie gekla het nie! Hehe) Die bank reken die transaksies in beslis in Mumbai gedoen.

Ek gebruik my kredietkaart vreeslik min. Daar is ‘n paar debietorders wat maandeliks daar deur beweeg, en ek betaal tjeks daarin omdat dit vinniger clear en ek effens meer rente verdien. Maar ek doen nie sommer transaksies met my kaart nie. En ek was beslis nie in daardie tydperk in Mumbai nie! Die verste wat ek nog van SA af was, was Namibië, en dis jare terug.

Nou wie karring dan rond op my kaart?

So twee maande terug is my beursie hier in my sentrum gesteel. Dit was ‘n baie stil Vrydag oggend, en van die laaste keer wat ek my beursie gebruik het, totdat ek besef het dis weg, kon dit net een van drie mense gewees het. Niemand anders het toegang tot my sentrum gehad in daardie tyd nie. Daar was ‘n hele paar randjies in my beursie, sou na werk gou die week se kruideniersware gaan koop het en betaal het vir die volgende twee weke se koerant advertensies. Dit op sigself was ‘n aaklikge ondervinding, net die idee dat iemand in my goed gekrap het was ‘n groter invasion as die verlies en ongerief. En dit nogal iemand wat my weer in die oë kom kyk en aangaan met haar kursus asof niks gebeur het nie. Ek kon niks bewys nie, dus kon ek ook geen aantygings maak nie. Intussen het ons ‘n CCTV system ingesit, nou kan ek hulle dophou as ek uitgaan vir vyf minute. En ek bêre geen geld of my beursie meer in die sentrum nie.

Ek het die gesteelde kaarte dadelik aangemeld toe ek dit agterkom, en daar was gelukkig geen transaksies gedoen nie. Intussen het ek reeds ‘n nuwe kredietkaart gekry, dieselfde rekening, maar daai sekuriteits nommertjies op die agterkant het verander. En ek moes my besonderhede vir die debietorders update, anders kon hulle nie deurgaan nie. So die ou kaart moet dan mos nie meer kan werk nie? Ek is maar stupid as dit by hierdie soort goed kom. (Onthou, ek is blond!) Maar ek dink nie dat een van die drie wat ek van die diefstal verdink, intussen in Mumbai kon kom nie! My seun het my van ‘n site vertel wat basies outomaties kredietkaart nommers genereer, en dan kan jy mal gaan op iemand anders se rekening. Scary. Is dit regtig so maklik? Kan iemand dalk so bietjie lig werp op hierdie onderwerp?

Die bank sal my terugbetaal vir die transaksies wat gedoen is, en dan moet ek die bewegings daar nou mooi monitor. Indien dit weer gebeur, sal die rekening heeltemal gesluit word en ‘n nuwe een geopen word. Maar nou is ek EERS bang vir die Internet! Wees versigtig julle, kyk maar gereeld wat in julle rekenings aangaan! Daar is so baie skelms daar buite.

Comments (26) »

Rekenaar Vlatirs

Vrinne, dit was ‘n bedrywige Maandag. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is mal oor my werk. Maar party dae voel ek of ek sommige mense net so van agter af stilletjies kan bekruip en wurg as ek dieselfde konsep vir die hoeveelste keer moet verduidelik. (Ek dink dis PMS, want die meeste van die tyd ken my geduld geen perke nie!)

Vandag gebeur dit toe weer: ‘n student is besig met ‘n e-mail kursus. Sy roep my omdat die boodskap nie wil stuur nie. Groot is my verbasing (weereens) toe ek gaan kyk wat die probleem is en uitvind sy het haar pel se straat adres ingetik by die recipient blok!

En dis nie die eerste keer wat dit gebeur nie! Ek sweer, maak nie saak hoeveel grade ‘n ou agter sy naam het nie, as hy voor hierdie rekenaar kom sit vlieg alle logika by die venster uit. Party vergeet skoon waar is bo en onder. (Scroll down, dan scroll hy OP!) Ek het al tot iemand gehad wat die muis soos ‘n remote wou hanteer. In die lug. In haar regterhand, en die buttons probeer click met die linkervoorvinger! Die girl by ons HK het ‘n omie gehad wat eers teen die 2de les agtergekom het hy werk nie op ‘n touch screen nie! Sy sê haar screen was amper op die grond soos wat hy met sy vinger op hom druk om die Start menu oop te maak!

Toe besluit ek opsluit om hierdie volgende vlatirs met julle te deel, en ek doen dit in die beste gees. My studente weet ook dat ek nooit vir hulle sal lag nie, nie voor hulle nie anyway, want ek onthou ook hoe dit gevoel het om niks te weet nie. Maar soms kan mens nie anders as om te lag nie, dan loop ek maar uit en gaan grin in die ontvangs area:

Question Word level 1 assessment: Add the following sentence to the last paragraph: “Please supply us with your banking details”
Answer: Student actually supplied his banking details, complete with branch code and all!

Question Windows level 1 assessment: How do you clean the computer screen?
Correct answer: With a clean damp cloth, taking care not to scratch the surface.
Student answer: Click the close button.

Question Word level 1 assessment: If a toolbar is not visible, describe the steps that you will use to make it visible?
Correct answer: Click on view – toolbars- click the toolbar that you want to make visible.
Student answer: Increase the power of light on the computer.

Question Windows level 1 assessment: What solution is there to rectify irregular power supply?
Correct answer: UPS (Uninterrupted Power Supply)
Student answer: Unlimited power supply box. Plug hom by die muur in.

Question Windows level 1 assessment: How would you protect your personal computer from viruses?
Correct answer: By installing an anti-virus program and updating it regularly.
Student answer: By using computer accordingly. By not spilling anything on the keyboard buttons.

Question Excel level 1 assessment: Name three types of documents that you can create in a spreadsheet program.
Correct answer: Invoices, budgets, statements
Student answer: Rows, Columns, Cells

Dink jy nog steeds jou Maandag was erg?

Comments (14) »

Muismanewales

Daar is ALWEER’n rot in my huis. Die keer het hy sy intrek in die badkamer geneem. Hy lewe op hierdie stadium van seep. Ja, BADSEEP. En hy is nogal kieskeurig, hy kou nie aan die wat reeds op die bad of wasbak lê nie, nee, hy soek die wat nog nie oopgemaak is nie. Twee koekies het hulle hoeke verloor, lyk my die papier is die vesel deel van sy dieet. En ‘n ander een is sommer in die middel getackle, Grand Canyon se moses, dit lyk of hy baie honger was.

Daar lê niks tell-tale drolletjies rond nie. Liefie reken hy poep seker net bubbles!

Maar nou wonder ek hoe de duiwel kan hy bly lewe as hy sulke moelse happe van ons seep eet! Seep is mos bedoel om jou buite skoon te maak, nie van binne nie. So dit kan beslis nie gesond wees nie.

Spike kan nie wag dat die badkamer deur oopgaan nie, hy soek daai rot die heeltyd. Hy het mos die vorige een gevang, ma-se-groodwild-jagter! En dit was omtrent ‘n geween en gekrens van tanne om die ding by hom af te vat. Hy het seker vir nog ‘n halfuur by die hek gesit en huil nadat Liefie dit gaan weggooi het.

Die probleem is dat daar ‘n opening onder die bad is, en ek is bang hy sit vas daar binne. Hy grou al die sand en ou sement en goed daar onder uit, maar rot se kind kruip te goed weg. Nou maak ek maar die deur toe as Spike en Rox alleen daar is, want ek sien al in my gedagtes hoe breek ons ‘n bad uit om wosonkies te red!

Ek is te bang om gif uit te sit, die wors kinners kan dit dalk net in die hande kry. Of bekke kry. En die valletjie help nie veel nie, meneer rot sidestep hom pragtig. Hy probeer nie eens die aas afhaal nie. Het al kaas, vleis, brood, pap en BILTONG probeer. Maar nee, hy hou nie daarvan nie. Miskien moet ek seep try…

Het iemand bietjie raad asseblief? Ek voel al soos Boendoe en die Boerbokke!

Comments (23) »

Moving on…

Ai, die lewe leer ons darem maar harde lessies, né. Vir sommige lessies betaal jy ‘n paar geldjies, vir ander betaal jy emosioneel. En soms is dit ‘n kombinasie van die twee.

Ek glo nog in die goedheid van mense. NOG STEEDS. EERSTE. Ek vertrou baie maklik, seker omdat dit in my lewe en werk vir my belangrik is dat mense MY moet vertrou. “Doen aan ander soos jy wil hê moet aan jou gedoen word.”

Hierdie quote van Joy Madison, is waarby ek lewe: “People are made up of 99% emotion and 1% reason. Take care of their hearts, and their heads will follow.”

Geduld en empatie het ek tonne van. MENSE is vir my wonderlike goed, dis so lekker om al die verskillendes te leer ken! Hoe meer ek hulle kan boost en beter laat voel oor hulle self, hoe lekkerder raak my werk en lewe vir my. Dis net jammer dat almal se motto nie dieselfde as myne is nie. (Sjoe, dit sou ‘n lekker wêreld wees!)

Dis maklik om iemand te vertrou wat goed doen vir ander mense. Dis so edel om te gee, mens kan soms nie anders as om skuldig te voel as jy nie die voorbeeld volg nie. Wat is ‘n paar ou geldjies nou vir MY, wat ‘n dak oor my kop het, kos in my magie, ‘n lekker bedjie, warm klere, ‘n kar…teenoor iemand wat rot en kaal besteel is, geen skuiling het nie, of sukkel om te betaal vir die noodsaaklikste dinge.

Jy werk hard vir jou geldjies, en soms voel jy dat dit jou nie regtig ARMER gaan maak as jy die bietjie wat jy het met ander deel nie. “Die wiel draai mos, miskien rol iemand eendag ‘n klip uit MY pad as ek nou help,” dink jy. “En dis in elk geval beter om te gee as te neem, almal sê so…” (Wonner soms hoe stadig daai wiel draai en wanneer gaan EK bietjie aan die ontvang-kant staan!)

En jy doen! Jy gee met die beste bedoeling in jou hart geld vir iemand wat jy gedink het ander wil help. Jy bewonder hierdie persoon vir sy “saamvoel” en “maak ‘n verskil” attitude. Jou geldjie gaan ‘n gaatjie toestop, en nou voel jy sommer baie beter, jy gloei skoon van lekkerkry. Op ‘n manier gaan jou beskeie bydrae iemand minder bevoorreg se hart verbly. Reg? Reg.

Oor die algemeen gee ek nie geld aan instansies wat fondsinsamelings doen nie. Die meeste legitimate instansies verkies in elk geval deesdae om boeke, dagboeke, kalenders, noodhulp-kassies, hampers en dies meer te verkoop om hulle fondse te versterk. Juis omdat mense nie sommer geld wil gee nie. Jy wil darem voel jy kry ietsie terug vir wat jy gegee het. Jy wil nie net ‘n kwitansie koop nie. Ek koop dagboeke wat ek nooit gebruik nie, (dink altyd ek sal, maar aan die einde van die jaar is daar net hier en daar ‘n telefoon nommer, en miskien ‘n paar inskrywings in Januarie) maar ek weet daai geldjie gaan vir ‘n goeie doel. En ek troos myself dat ek ‘n deeltjie bygedra het.

Wat vir my die afgelope paar dae duidelik geword het, is dat die meeste mense emosioneel meer tenagekom voel as finansieël. En dis moeiliker om dit te verwerk. Vertoue is geskend. Dis blerrie seer. Dis iets wat jy saam met jou neem as jy die volgende persoon leer ken. Dit verander aan jou persoonlikheid. Jy vertrou nie meer so maklik nie. Is dit regverdig? Kan EEN vrot appel in jou lewe al die ander appeltjies in jou mandjie affekteer? Ja, dit doen, of jy nou wil of nie, en nee, dis NIE regverdig teenoor die ander appeltjies nie.

En so bou jy die skanse op en vir ‘n wyle vertrou jy nie sommer met die eerste indruk nie. Maar dit vat aan jou binneste, want dis nie JY nie. En jy word SO kwaad vir die persoon wat veroorsaak het dat jy nie meer JY kan wees nie dat jy dit van die dakke af wil uitgil: Hoe durf jy dit aan my doen?!?! Hoe durf jy my so mislei??? En jy rant en rave en vertel vir almal wat wil luister, en selfs vir die wat nie wil nie. Maar wat bereik jy eintlik? Niks. Dis soos water van ‘n eend se rug af.

Dan wil jy wraak neem. (Eintlik is dit nie wraak nie, jy DINK so, maar eintlik wil jy hom nog ‘n kans gee om aan jou te bewys dat jy hom kan vertrou. Jy kan nog steeds nie glo dat hy eintlik ‘n skurk is nie. ) JY. SOEK. VERDUIDELIKINGS. Jy gooi jou kaarte oop en eis om te weet wat van jou geldjie geword het. Maar jy kry nie reaksie nie. Niks wat jou eis bevredig nie, anyway. En jy voel teleurgesteld. Erg. Jy het verwag dat hy die eerbare ding sou doen en die bewyse vir jou gee. Hy het mos nie iets om weg te steek nie? En miskien gee jy hom nog ‘n kans, en weer een en…uiteindelik weet jy dat jy jou energie en asem mors.

(Soos die eerste chatters en bloggers wat hier in die gallery sit en die spektakel bekyk WEET…hehe…ons wil mos nie LUISTER nie…hoop julle het die show geniet…hulle sê mos “aanhouer wen”… Volpunte vir effort hoop ek! Ons leer, maar ons leer maar STADIG!)

Maar die mens se EK is ‘n wonderlike ding. Jy weet, daai outjie daar DIEP binne wat so aan jou karring soos ‘n label wat raak gestryk is? Een oggend word jy wakker en jy is nie meer kwaad nie. Jy voel eintlik vreemd kalm as jy aan die hele petalje dink. Jy besef dat jy nie die skurk in die verhaal is nie. Jy WEET jy is beter as hierdie situasie. Jy besef dat jou intensies suiwer was, en dat jy eintlik die boef moet jammer kry. Hy gaan soveel armer as jy deur die lewe. Hy het dalk so bietjie van jou geldjies gekry, maar hy is armer in die dinge wat REGTIG saakmaak. Dinge soos vertroue, vriendskap, eerlikheid en integriteit. Selfs in die kuber ruim. En self al bly jy anoniem. Eendag gaan hy wel voor Iemand moet verduidelik, en ek dink nie jy kan daar comments delete nie.

En voor jy weet, vertrou jy weer…’n mens kan nie vir jouself lieg nie. Daai outjie daar DIEP binne kan maar net nie sy dinge vir homself hou nie. En dan beweeg jy vorentoe…trots op wie JY is! En jy glo NOG STEEDS dat elke mens basies goed is. EERSTE.

Comments (13) »

Scary Movies

I want to play a game…

As jy hierdie woorde herken, is jy heel moontlik ‘n riller kyker. Of jy het minstens al ‘n paar gekyk.

Ek vrek oor rillers. Ek wil my doodgril, knyp my oë toe, kruip agter die kussing weg en klim onder die duvet in. Soms loop ek uit en staan en luister om die hoek na die kreune en steune en gille soos iemand opgekap word. Maar kyk sal ek kyk. Op ‘n manier. ‘n Paar goeies wat ek die afgelope tyd half en half gekyk het, EN ou favs, is volgens my mening:

Saw I, II en III
The Hills Have Eyes
Silent Hill
See No Evil
Hostel
Stay Alive
What Lies Beneath
Pet Cemetry I & II (dink ek?)
Friday the 13th (hoeveel was daar?)
Nightmare on Elm Street (ook baie)

Hostel was seker die ergste, al daai bloed en goed. En die effekte is deesdae uitstekend. Ek verkyk my daaraan. Eintlik is enige riller OK. Maak nie saak of dit dom tieners is wat die verkeerde afdraai paadjie vat nie. Of ouens waarvan wasbeelde gemaak word terwyl hulle nog lewe nie. As ek kan gril, is dit lekker.

Ek word baie maklik naar. Iemand kan net MAAK of hy wil ots, dan GOOI ek baie amper! Die bloed en binnegoed is nie so erg nie, vir my was die ERGSTE. SCENE. OOIT. daai vrot varke in Saw III wat so verpulp word en die arme judge wat amper daarin verdrink. Ek het AMPER my chips gespill. Was baie close. .. Verskoon my…hhoooiiyyy!!

Wonner hoekom is dit so? Ek kry nie nagmerries van die goed nie, en ek dink darem nie ek het ‘n diepgewortelde haat teenoor die mensdom wat ek bevredig deur rillers te kyk nie. Ek like dit net.

Ek het darem al ‘n paar goed uit rillers geleer: (Eerder bang Jan as dooie Jan?)

Dat ‘n mens nie alleen moet slaap in jou eina-ste nagklere nie, veral nie op ‘n vreemde plek nie. Soos ‘n verlate hotel of ‘n afgeleë eiland nie.

Dat dit nie wys is om met die trappe OP te hardloop as ‘n maniak met ‘n skerp mes/byl/kettingsaag jou jaag nie. Die venster op die solder sal onoopmaaklik (nuwe woord?) TOE wees, of jy sal sonder heenkome op die dak vasgekeer word. Dan moet jy spring. Gewoonlik drie verdiepings ver. Of moontlik DEUR die solder se vloer val tot op die grondvloer. Waar die maniak met die mes/byl/kettingsaag nog al die tyd vir jou wag.

Moet ook nie gaan ondersoek instel na verdagte geluide in die agterplaas met net ‘n t-shirt aan nie. Veral nie as jy ‘n girl is nie!

Kyk ook eers altyd of daar iemand/iets onder die bed is met ‘n mes/byl/kettingsaag voordat jy opstaan om verdagte geluide te ondersoek.

As jy jouself in ‘n vervalle hotel bevind, en die ligte werk nie in die gesamentlike badkamers nie, stort maar eerder more. Die plek is anyway vuil.

As jy en jou pels gaan party hou op ‘n verlate eiland, of ‘n party eiland, of dalk ‘n “trip for four” wen, MOENIE in die aand in die bosse gaan “vry” (lees: spyker) nie. Infact, “vry” (lees spyker) op enige plek, is soos in totaal ‘n NO-NO as jy wil lewe tot die son weer skyn.

Bly weg van swembaddens in die aand. Om een of ander rede weerkaats die water so in jou oë, en is daar soveel stoom, dat jy nie die maniak met die mes/byl/kettingsaag gaan sien voor dit te laat is nie.

Moenie in ‘n sunbed klim in die middernagtelike ure nie. Veral nie op ‘n party eiland waar van die toerleiers reeds “verdwyn” het nie. Daai donker tyd is bedoel vir slaap, nie tan nie.

Laat die kat of hond maar buite slaap as jy alleen en reeds in die bed is met jou eina-ste nagklere. As jy wel besluit om hulle in te laat, kyk vir skuim om die bekkies. Net incase.

Indien ‘n troeteldier wat verlede jaar reeds gesterf en begrawe is, skielik sy opwagting voor jou deur maak, MOENIE hom inlaat nie. Jy’t hom begrawe, onthou???

Sit die lig aan as jy toilet toe gaan, veral in ‘n vreemde omgewing. Maak op die minste seker dat jy ‘n flitslig het.

Rillers, grillers en thrillers is nie almal se potjie tee nie. MAAR

Live or Die

Kyk of Nie

Blog or Not

The Choice Is Realy Yours

PS. Daai Blog riller wys nog. Gaan kyk ondertoe as jy nog iets wil sê. Liefde. Altyd. Hehe

Comments (19) »

Skoonouers

Dit was ‘n lekker naweek. Tipies winter in die Vrystaat, alles vaal en dof, maar die dae was vol sonskyn en sonder wind. Lekker gebak in die sonnetjie. Batterye is gerecharge, en daai alter ego wat verlede week uit die kas geklim het, veilig weggebêre.

My skoonouers het hier gekuier van Donderdag af. Liefie en Seun (17) het vir hulle gekook omdat ek nog Donderdag aand tot 7uur moes werk. Dit moet ek net sê van my manne, hulle kan alles doen. Vee, was en stryk, koskook en skottelgoed was.Seun was maar nege toe ek begin het met my besigheid, en van toe af moes hy leer om sy deeltjie te doen. Dis ‘n groot berg van my skouers af, my ure is maar ongereëld in die week. Hulle vat vas en raak en menigmale is die kossies reg wanneer ek klaar gewerk het. Of ek moet net die final touches kom doen. Anyway, hulle het ook toe mooi uitgehaal en gewys Donderdagaand, en skoonouers was heel beïndruk.

Ek is baie lief vir my skoonouers. My ma is oorlede toe ek 13 was, ek en my pa is nie vreeslik close nie (annerdag se storie daai), dus het my skoonouers basies die plek van my ouers ingeneem toe ons getroud is. My skoonpa is ‘n Pastoor, maar hy het vroeg in ons huwelik geleer dat hierdie ONS huis is, en ons die dinge hier op ONS manier doen. Vir so ‘n paar jaar het ons in dieselfde straat gebly, twee huise van mekaar af. Dus baie gerieflik naby. Hy het die manier gehad om sommer so in die straat, nog voor hy by die hek kom, al na my te roep. Hard en duidelik. Of kom klop aan die deur, en as ek nie soos in oombliklik daai deur oopruk nie, my dan begin roep. Hard en duidelik. Die hele buurt het altyd geweet as hy oppad is na ons toe. Eendag het ek net vir hom mooi verduidelik dat ek nie daarvan hou nie, en dat hy my asseblief ‘n kansie moet gee om tot by die deur te kom nadat hy geklop het. Problem solved. En so het ons maar die ander dingetjies wat gepla het ook uitgestryk.

Skoonma is die dierbaarheid van self. Sy het nog nooit ingemeng in ons huwelik OF my huishouding nie. Sy is altyd daar as ek hulp nodig het, en het so in die beginjare gehelp met pannekoek en melkkos resepte sommer so oor die foon. Wat ek daardie tyd van kook af geweet het, was effens gevaarlik. Het een Sondag hierdie “wonderlike” ete voorberei, maar die BBQ hoender sommer weer gespice. My arme man het vir dae lank die toilet met baie gereelde tussenposes besoek! My eerste vetkoeke is deur die hond begrawe…en Liefie vertel altyd hoe hy en sy pel die rotte onder in die myn doodgegooi het met my eerste Soetkoekie pogins… Intussen het dinge darem gelukkig ten goede verander!

In elk geval, Skoonma het voor ons troue vir my die raad gegee: “Moenie hom bederf deur bv sy klere vir hom reg te sit om aan te trek nie. As die kindertjies eers daar is gaan jy nie tyd kry daarvoor nie, en hy gaan dit nog steeds verwag.” Ek het dit toe nooit gedoen nie, maar sy doen dit nog tot vandag toe vir Skoonpa! As hy self iets moet soek in ‘n kas of ‘n tas, is dit choas en dan moet sy weer alles regpak. Ek dink dis nogal slim van hom…!

Sy is ook altyd besig om met Skoonpa te “baklei” oor iets. “Steek in jou hemp. Maak reg jou das. Moenie so mors nie.” hehe Maar hulle is beslis mekaar se ander helftes. Hierdie jaar is hulle 50 jaar getroud. Dis ‘n leeftyd. Skoonma se gesondheid is nie waffers nie, maar Skoonpa hol heeltyd rond soos ‘n mier wat kos bymekaarmaak vir die winter. Kan nie ‘n oomblik stilsit nie. Altyd besig om erens iemand te help. Kry kos by winkels verniet (groente en brood wat verby die verval datum is, maar nog nie sleg is nie) en deel dit uit onder die hongeres. Sy begin nou bietjie sukkel om by te hou, maar hy glo sy sal doodgaan as hy haar nie besig hou nie. Ons raas baie met hom om haar bietjie rus en vrede te gun, maar hy ken haar seker beter as ons.

Skoonpa is MAL oor roomys. Toe ek hom die eerste keer ontmoet het by my skoonsuster se huis, het sy vir my ‘n bakkie roomys in die hand gestop en gesê: “As jy dit vir hom gaan gee, is jou kop deur.” Nodeloos om te sê, my shares het sommer dadelik gestyg!

Nou ja, Saterdag is hulle terug huistoe, en tot die honde het dadelik agtergekom die huis voel vreemd stil. Ons het mekaar nie regtig waardeer toe ons so naby mekaar gebly het nie. Nou verlang ons ons dood na mekaar. En ons bly so ver van mekaar af dat ons mekaar seker 2 maal per jaar sien. Sad. Maar die kuier was lekker.

Comments (6) »

Om te blog of nie te blog…episode 2

Maters, hierdie inskrywing is toe gedoen vandag deur Frank Botha:

Ek kan kritiek hanteer mits dit konstruktief van aard is. Ek besef ook dat ‘n blog ‘n direkte weerspieëling van ‘n mens se lewe is, en dus laat ek my kritici soms toe om regtig lelik te raak. Maar nie diè keer nie. Daar is vroeër vandag onder my aandag gebring dat my naam (sonder dat daar direk daarna verwys word) op ‘n ander blog deur die modder gesleep word. Die Daaglikse Dosis antagonis is Dellie en die inskrywing, Om te blog of nie te blog, verskyn vandag.

Dellie: Sonder om nou regtig persoonlik te raak, werk sommige blogs heavy op my senuwees. As dit nie moed opgee is nie, is dit selfmoorneigings. Ek het jou blog begin lees omdat ek daarvan hou om te lees wat in ander mense se lewens aangaan. Maar die laaste tyd is dit nie meer lekker nie.

Frank: Goed, jy raak beslis persoonlik wanneer jy die woorde “jou blog” en “selfmoordneigings” in dielselfde paragraaf gebruik, want almal wat jou blog en myne lees weet dat jy indirek na Frank Botha se Daaglikse Dosis verwys. Ek HET baie tou opgegooi die laaste tyd (weens persoonlike redes) en ek HET Saterdagaand probeer selfmoord pleeg. Ek is slimmer as wat jy dink.

Dellie: Jy soek elke dag geld vir iets anders. Ek stel nie belang om lid van jou klub te wees nie. Ek is ‘n Steve fan en ek behoort nie eens aan SY bewonderaarsklub nie. Wat moet ek doen met joune? Ek wil nie gesmeek word om comments te los sodat jou ratings kan styg nie. Ek wil my sê sê wanneer ek wil. Ek wil ook nie ‘n email van jou af kryu wat sê hoe jy my mis en dat ek asseblief moet terugkom nie. Dit maak my benoud.

Frank: Eerstens, hoe die hel maak ‘n nice e-pos van iemand af wat bieg hoe hy/sy jou (kuber)geselskap mis ‘n mens benoud? Het ek jou gedreig? Nee. Tweedens, ek soek nie “elke dag” geld by my bloggers nie. Ek hou daarvan om mense minder bevoorreg as ons te help waar ek kan, en so gereeld ek kan. Ek persoonlik sê nog elke keer wanneer ek vir iemand geld insamel dat ek persoonlik ook geld skenk. En ek doen. My gewete, wat dit betref, is skoon en ek verloor nie slaap oor jou opinie nie, maar verdedig myself hier omdat ek duidelikheid oor jou valse aantyging wil kry.

Dellie: Ek wil nie ‘n baadjie van R200+ by jou koop nie. Ek wil ook nie my besigheid by jou adverteer nie. Jou nuutste idee van ‘n birthday club is pateties. Wil jy nou vir my sê ek moet R150 betaal vir ‘n geskenk vir myself wat jy MISKIEN sal aflewer as ek naby genoeg is, en of jy nie rugby kyk nie? Ek bly in die flippen Vrystaat!

Frank: Jy het NIE ‘n baadjie by my gekoop nie en advereer NIE jou besigheid by my nie, dus dra jou kritiek boggerol water wat dit betref. Ek respekteer jou opinie oor die BDay klub, maar verwerp die laaste deel van daardie argument. Ek werk met couriers en sal die geskenk by die BDay boy/girl aflewer.

Nou, hoewel hierdie vrou klaarblyklik daarop uit is om my naam heeltemal (sonder verwysing na my naam) op haar blog gat te maak, phase haar aantygings my nie soveel dat ek my prokereur hoef te betrek nie. Ek is gereed vir sulke tipe aanslae omdat ek weet my vyande daarvan hou om my die moer in te maak. Ek vind ook van die comments nogal interessant.

Sela en amen (Anonymous);

Ons het lankal vir daaglikse boks gekyk en gewonder (Marat);

Dellie, ons is so 3 wat gewonder het oor sy gebedel. Wat van ons baadjies? Waar is die sogenaamde klub? Ek eis my geld terug! Dink jy hy sal dit vir my gee? Ek sal hom dreig met koerante. Daar was onlangs ‘n dame (volgens hom) wat geld nodig gehad het. Ek weet van mense wie geld in sy rekening betaal het. Ek het klere en kos aangebied, maar hy weier om haar adres vir my te gee! Hy druk daai geld in sy sak! (Anonymous).

Eerstens, Anonymous, ek weet presies wie jy is en sal die R300 wat jy aan my betaal het vir die baadjie en klub, einde Julie aan jou terugbetaal. Verwag ‘n e-pos waarin ek jou bankbesonderhede vra. Ek verban jou ook dadelik van my blog af.

Marat, wat die hel weet jy van my en my blog af? Jy was maande laas op my blog en het elkgeval nog nooit iets positief oor my of my blog te sê gehad nie. Jy bestaan nie vir my nie.

Ek eis dat enigeen wie ‘n probleem met my, my blog, DDKlub, my baadjie, BDay Klub of enigiets wat met Daaglikse Dosis gepaard gaan HIER met my te deel. Ek forseer niemand om hierdie blog te lees of om geld te skenk nie. Elkeen wie het, het dit gedoen uit vrye wil. As jy my nie laaik nie, vat jou goed en toer. Praat. Ek luister. En delete bloggers se toegang tot hierdie blog. Probeer my.
Frank Botha

En hierdie was my comeback:

Frank,

My vorige inskrywing is hoe ek jou geantwoord het op my blog. (Kyk episode 1 se comments) Maar dis vir my snaaks dat jy nie my hele inskrywing nie, maar net ‘n paar paragrawe hier aanhaal. Net die waarop jy dink jy verweer het?

Laat my toe om nou ook te antwoord op die dinge waarop JY geantwoord het:

In die eerste plek dink ek nie jy is baie slim nie. Selfmoord is nie ‘n uitweg nie, en ek gee nie ‘n hel om wat jou persoonlike drama was of is nie.

Tweedens: Ek het nie gesê dat ek wel aangesluit het by jou klub, OF dat ek jou baadjie gekoop het nie. Ek het net gesê EK WIL NIE. En ek het ondervinding van jou “werk met couriers”. Ek was nie die enigste een wat in Desember CD’s gewen het en dit nie gekry het nie, hoekom sê jy niks daaroor nie??? Ek het haar gebel. Brei maar uit hierop as jy die moed het. So ek dink hierdie een het beslis iets om die lyf.

Derdens: Ja, dit maak my benoud as iemand so needy is dat hy basies smeek vir hits op sy blog. Dit laat my en vele ander voel dat jy ons in ‘n blik wil druk. Jy vra nie eers hoe dit gaan en al daai dinge nie, jy smeek basies vir ons om terug te kom. (Ek WEET dat ek nie die enigste een is wat so ‘n e-mail van jou gekry het nie)

Vierdens: Los my blog maatjies uit die ding. Ek het net gesê wat almal lankal wou sê, en te bang was om te sê. Kyk bietjie hoe lyk jou comments vir vandag? ‘n Volle twee! Geluk! En dit van dieselfde girl wat verjaar het hierdie week. Ek hoop sy laat weet of sy die CD gekry het wat jy haar belowe het.

En laastens: Bel maar jou prokureur as jy wil, maar ek het geensins jou naam beswadder nie. En ek het toe ook ‘n prokureur. Lees mooi en jy sal sien dat ek nerens jou naam of jou blog genoem het nie. JY het die baadjie aangetrek, en jis, hy pas toe perfek! Wie sou kon raai?

Ek het nie besef dat ek so ‘n byenes gaan oopvlek nie, maar ek is nie vir een oomblik spyt nie. En so by the way, daar was 3 wat geld betaal het vir die DD combo, so jy sal elkeen van hulle se geld ook moet terugbetaal, en dan sit jy met zero fans. Sorry pel, jy het die bed gemaak, slaap maar daarop.

Comments (14) »