Een van my eerste studente in 1999/2000 was ‘n vrou. Deur al die jare het ons nog steeds kontak, veral aan die einde van die finansiële jaar wanneer sy weer vergeet hoe formules werk in Excel.
Maar sy is ‘n dierbare mens, en redelik bekend in ons gemeenskap. Sy het my ook moed ingepraat hier in die begin-jare toe ek sommer wou tou opgooi. Sy beklee ‘n spesiale plekkie in my lewe. Sy is ‘n kruie dokter. In plain Afrikaans. Dis hoe ek dit verstaan. Sy groei self kruie, help mense van dwarsoor die wêreld met kruie kure en behandelings, sy ken al die “mixes”, so ‘n holistiese uitkyk. En sy is glo goed in wat sy doen. Ek gaan nie name noem nie, wou net die agtergrond gee. Dit gaan hier oor die tegnologie, nie die persoon wat my daaraan bekend gestel het nie. Ek wil net my persoonlike ondervinding met hierdie toestel met julle deel.
In elk geval, sy het my so ‘n paar maande gelede genader om haar te help met “goed waarmee sy sukkel”. Ek reël toe vir haar 2 privaat ure, ek dog sy sukkel weer met Excel en het persoonlike hulp nodig in haar besigheid of voorraad setup ensovoorts. Sy arriveer toe met haar laptop, maklik, dan kan ek mos sommer help op die spot waar dit nodig is.
Maar sy is toe nie hier oor probleme met Excel nie. Sy soek hulp om hierdie nuwe program wat sy gekoop het met al sy goodies te operate. Basies ‘n databasis met foto’s en persoonlike info. Sy sukkel om die foto’s van haar kamera na die rekenaar oor te laai, en daarvandaan na die databasis oor te plaas.
Toe vertel sy my van Quantec. Dit is blykbaar oorspronklik deur NASA ontwikkel om mense in die ruimte mee te behandel. Ek moet nou proefkonyn speel sodat sy kan leer hoe om hierdie program te gebruik. Sy het nou nie al die props saamgebring nie, net die diode. Dis ‘n goue “boksie” bietjie groter as ‘n sigaret pakkie. Dit word verbind met die laptop. Dit is nou die toestel wat die “white noise” uitstraal. Dit lyk eintlik soos ‘n reuse paperclip, om ‘n swart boksie, en dis glo 18 karaat goud. Dit LYK soos goud. Sy vertel my hoe die kristalle en goed op ‘n glasblad gepak moet word, en die band om die kop, ens om jou lesing volledig te kan neem. Maar sy kan ook ‘n lesing op my doen met net die diode en ‘n foto. Spesiale kamera. Deel van die hele pakket. Nogal baie geld.
So neem sy toe ‘n foto van my, ek wys haar hoe om dit op die laptop en in die databasis te kry. Toe kry ek ‘n “reading”. Net op my foto en die teenwoordigheid van die diode. En ek val amper op my rug! Genugtig, is my gestel dan SO vergiftig? ‘n Lys kom op van al jou skete, liggaamlik, emosioneel. Wat se “remedies” daar vir jou is, watter kleure, geure, musiek jou beinvloed. Dis nou nie dat ek ‘n walking hospital case is nie, maar daar is ‘n paar dinge liggaamlik en gesondheids wys waaroor ek nogal bekommerd of bewus van is. Soos my sooibrand as ek net vir ‘n pie of witbrood kyk, my lae-rug pyne. Niemand weet daarvan nie, allermis sy! Maar hier is dit, swart op wit, dat daardie probleme wel bestaan. Selfs aan die emosionele kant was ek verras, ek is nogal goed opgesom, musiek, kleure en geure is in die kol. My kalmte en geduld in enige situasie kom sterk deur. My uithouvermoë, emosioneel. My “ek wil sorg vir almal!” -kant steek selfs kopuit. En selfs dat ek ‘n issue met my pa het??? Iewers, erens moet dit mos dan waar wees?
Die behandeling vir al jou probleme, kom in die vorm van frekwensies, wat na jou gestuur word elke twee ure vir 20 sekondes, maak nie saak waar in die wêreld jy is nie. En jy weet nie eers daarvan nie. Ek kon nie my kop lekker om hierdie een vou nie, maar sy was bereid om my vir ‘n maand lank te “behandel” omdat ek haar proefkonyn was. Soos wat ek die ding verstaan, word die frekwensies van die medisinale deel van kruie en plante na jou gestuur. Sy het my vertel dat dit ook werk op plante. Erens het iemand glo die wurms wat gedreig het om ‘n arme boer se hele aartappel-oes op te eet, laat doodgaan met die regte frekwensies. En emosioneel kan jy beinvloed word om minder stress te hê. Ek dog toe, hoekom nie? Kan seker nie skade doen nie, en hulle sê mos as mens iets nie verstaan nie, moet jy dit ervaar.
Maar my skeptiese kant weet nie so mooi nie. Ek kan nie werklik sê dat ek enige “verskil” in my probleempies ervaar het nie. Ek het baie beslis minder sooibrand gekry die afgelope tyd, maar dit kan ook mos wees omdat ek nou bewus is van die probleem en kosse vermy wat dit veroorsaak. My rug voel beter, maar dit kan ook wees omdat ek my stoel hoër gestel het en gemakliker voor my rekenaar sit. En as dit regtig so maklik was, hoekom het ons dan nog plae in die wêreld? Hulle kan mos net met die regte frekwensies gebombardeer word, en siedaar, geen siektes nie. Hoekom oorloë? Wêreld leiers kan mos emosioneel beinvloed word om vrede te maak? Wat dink julle hiervan?
Hier is ‘n link na die berig wat gister in die Volksblad en Beeld was:
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2155430,00.html
En hier is die link na Quantec se website:
http://www.quantec.ch/english/index.html











