Dwelms

‘n Sewentienjare seun is by sy ouers se huis in hegtenis geneem nadat twee daggaboompies en inspuitnaalde in sy kamer gevind is. Buite in die erf is nog nege daggaboompies, vier daggapype en daggasaad gevind. Die polisie het gereageer op inligting van die publiek. Die seun het reeds in die hof verskyn en is onder die sorg van sy ouers vrygelaat. Daar word vermoed dat hy veel sterker dwelms gebruik en hy sal gestuur word vir ‘n dwelm-ondersoek.

Die afgelope tyd lees ek nogal baie oor hierdie dinge. Ook by Zee, waar dit eintlik aan my hart begin vat het. Dis so ver uit my verwysingsraamwerk, dat ek nie weet wat om daaroor te sê nie. Dit gebeur sommer so onder ons neuse. Hoe kan ons so met oogklappe deur die lewe gaan? Niks raaksien nie?

Hierdie is ‘n vriendin van my se seun. Sy het die naweek oorgeborrel en my alles vertel. Sy is bang. Sy is ‘n ma. SY het hom gebust. Sy kon niks anders doen nie. Alles voorheen het gefaal. Sy kon nie tot hom deurdring nie. Toe gaan sy self polisie toe…

Die polisie het mooi saamgewerk. Seker gemaak dat hy die betrokke aand by die huis is, en toe toegeslaan. Sonder dat hy weet sy ma het hom gaan aangee. Sy sê sy het amper op haar rug geval toe sy die goed sien wat hulle in sy kamer gekry het. Hy het selfs ‘n tipe van ‘n greenhouse gebou, sodat sy plantjies beter kon groei. Sy was natuurlik nooit welkom in sy kamer nie, (soos sommige tieners seker maar is) en as sy wel daar toegelaat is, het hy die ou plantjies mooi versteek. En die agter in die tuin het sy nooit eers opgemerk nie, sy is heeldag by die werk…

HY is natuurlik vreeslik kwaad vir haar, sommer vir die hele wêreld. Hy reken dit is HAAR skuld dat hy dwelms gebruik. Hoe werk hy daai ene uit? Verlede jaar was daar selfs ‘n voorval by sy skool, waar dagga ook betrokke was. Selfs die maatskapike werkster kon niks met hom uitrig nie. Hy het haar doodeenvoudig net geignoreer.

Ek ken haar goed genoeg om te weet dat sy die beste doen wat sy kan. Haar man is ‘n paar jaar gelede sommer baie skielik oorlede, en hulle het 3 seuns, waarvan die jongste effens gestremd is. Van toe af, werk sy baie hard om haar gesin bymekaar te hou. Daar is ‘n vriend in die prentjie wat by haar bly, maar hy is nie hulle pa nie. Die ander twee is fine, maar hierdie ene, die middelste ene… hy is KWAAD.

My hart breek vir haar. Sy voel aan die een kant baie skuldig dat sy dit gedoen het, maar sy het gevoel dat daar geen ander keuse oorbly nie. Eerder dit as wat sy hom in ‘n lykshuis moet gaan uitken. Ek kan my nie indink wat EK sou gedoen het nie. Ek dink dit was baie dapper van haar. Maar daar lê ‘n lang en moeilike paadjie vir hulle voor. Hy wil nie saamwerk met die berading wat die hof gelas het nie. Hy wil met niks saamwerk nie, blameer haar net heeltyd vir alles. Waar het alles dan so verskriklik verkeerd geloop?

Terwyl my hart huil saam met haar, is daar ook hierdie absolute dankbaarheid in my dat dit nie my kind is nie. Dankbaarheid dat ek so geseën is met ‘n pragtige kind. Kyk, moet my nie verkeerd verstaan nie, hy is beslis nie ‘n engeltjie nie, maar hy het deur sy tiener jare nie vir ons een slapelose nag besorg nie. Ja, hy rook, en ja, hy drink ‘n bier. Hy is darem al amper 19. Maar hy het nog nooit, ooit sonder respek met my of sy pa gepraat nie, nog nooit ‘n deur in ons gesigte toegeklap nie, nog nooit geskree of tantrums gegooi as hy nie sy sin kry nie, nog nooit sommer net gesê “ek sal nie” wanneer hy gevra word om iets te doen nie. Hy is die verantwoordelike ene tussen sy pels, die ene wat sorg dat almal veilig by die huis kom, die ene waarop mens altyd kan staatmaak.

En ek vergeet partykeer al hierdie dinge, want vir my is dit hoe dit mos moet wees, ek neem aan dit moet so wees in almal se huise. Totdat ek hoor hoe ander tieners deur die lewe worstel. En hoe bitter swaar dit vir hulle ouers is om hulle op die regte paadjie te hou. En my hart huil van dankbaarheid…

27 Responses sover »

  1. 1

    attie said,

    Dellie, dit is ‘n baie hartseer storie. Ek dink die ma verdien ‘n medalje, maar ek vermoed sy wil net haar kind terughê – die een wat nie kwaad is nie. In my bietjie werk met tieners gebeur dit baie kere dat die moeilike tieners iewers langs die pad die ouers die skuld gee. EK onthou toe ons dogter so droog gemaak het, hoe kwaad haar vriendekring vir ons was. As jy met haar praat sê vir haar jy weet van ‘n pa wat verstaan.

  2. 2

    sonstudio said,

    You have to be cruel to be kind… maar dis BAIE makliker gesê as gedaan! Ek kan my net indink hoe desperaat hierdie ma is.

  3. 3

    boendoe said,

    Dellie, ek hoef jou seker nie te vra om hierdie ma te ondersteun so ver jy kan nie? My hart bloei vir haar.

  4. 4

    rb said,

    Dit is erg en iets wat ek vrees.
    Ek het gelukkig ook veilig en geborge groot geword. Nog nooit in die versoeking gekom vir sulke tipe goed nie, ek hoop net my dogtertjie kan dieselfde pad loop.

  5. 5

    platterfuss said,

    Eish, is sad!!

    Partymaal dink ek die Oom daarbo het geweet ek moenie kinders hê nie… of iets!!!!

    En Zee het begin om my te ‘maak dink’…. en nou die!

  6. 6

    sonkind said,

    Dellie – sy het onwetend gedoen wat hulle vir ons geleer het in die berading – Tough Love.

    Toe my seun in die rehabilitasie sentrum was, is ons verplig om een hele dag as ouers daar te gaan deurbring. Soort van ook berading. Dit was vir my ‘n dag “well spent”.

    Al die ouers is eers in ‘n groep toegespreek en elkeen kon sy eie storie vertel. Daardie dag het ek stories gehoor wat my hart gebreek het en my hare terselfdertyd laat rys het. Dalk sal ek ‘n post daaroor doen. Maar veral het hulle ons daar geleer om nie sommer net te aanvaar dat dit jou as ouer se skuld is as jou kind dwelms gebruik nie.

    Jy is meer as welkom om my e-pos adres vir jou vriendin te gee (dis te kry op my blog). Dalk kan ek haar emosioneel ondersteun en ook oordra wat ek geleer het uit die berading.

  7. 7

    Roer said,

    Sjoe, Delsh. ENIGE tronkstraf deesdae, hetsy ‘n week of 20 jaar, is ‘n doodstraf agv van vigs. Ek’s bly hy is uit op borg. Kom ons hoop hy’t ‘n goeie prokureur vir die verhoor. Kom ons hoop hy doen dit nie weer nie. Sterkte daar. Sy gaan jou bystand nodig he^.

  8. 8

    Dellie said,

    Dankie julle almal, ek het vir haar ‘n e-mail gestuur, en ek hoop sy kom lees julle comments en besef dat sy nie alleen is nie. Al ken julle haar nie eers nie, of vir my for that matter, is julle ondersteuning amazing! Dankie weereens!

  9. 9

    Zee said,

    Dellie, Ek het nogal lank gevat om hier te comment, weet jy, ek het my hele lewe weer hier sien afspeel, ek moes my eie kind in die tronk sit om hom te probeer red deur hom rehab toe te stuur. As ek so hierbo lees sien ek die rebellie in die seun, en mamma wat alles probeer doen om te help. As daar naalde betrokke is kan jy maar verseker weet dis nie net dagga nie, hulle steek die goed so goed weg. Weet jy, ek het tot die gevolgtrekking gekom dat hulle net gehelp kan word as hulle wil, dat maak nie saak hoe jy probeer om hulle te help nie, dis alles jou skuld, en weet jy, DIS NIE ONS SKULD NIE!!!! Sonkind praat so waar, en ongelukkig het ek eers te laat van Touch Love geleer. Ai, se asb vir die mamma ek dink aan haar en dat sy reg opgetree het, in die belang van haar kind al dink hy nie op die oomblik so nie. (((hugs))) vir die mamma want ek dink dat sy dit nou baie nodig het!

  10. 10

    mykopop said,

    Die eerste gedagte wat ek ook gehad het is wat Sonkind ook genoem het: Tough Love. Ek weet nie of mens die term meer hoor deesdae nie, maar in party gevalle is dit blykbaar al wat help, anders gaan die kind net eenvoudig aanhou die ouer manipuleer.

    Partykeer wonder mens om dit iets is wat jy reg gedoen het of net genade: my 3 kinders stel nie eens in rook belang nie, en ek het hulle van kleins af geleer hoe om drank te gebruik, hulle drink dit amper nie.

    Sterkte aan die ma, ek sien Ds. Attie het juis iets oor tieners geskryf – miskien kan julle hom bietjie vir raad vra.

  11. 11

    Dellie said,

    Ek het Ds Attie se post gesien, ja, ek sal vir haar daardie link ook stuur.

  12. 12

    karoles said,

    Dit is enige ouer se nagmerrie. In Holland is daar baie kinders wat dagga gebruik, daar is mos winkeltjies waar hulle dit kan koop, daar word gedeal op die skoolplein. Ek vind dit dapper dat ‘n ma so ‘n stap neem, dis seker nie maklik nie

  13. 13

    mt.weazl said,

    Dellie en al die ander wat wil weet. Hie is die nommers van 2 lede van SAPS. Hulle doen “presentations” by skole i.v.m. dwelms. Hulle is baie goed en ook uitsonderlik vertroud met alles op die gebied. Hulle is: Kapt. Jan Combrinck op 072 237 5537 en Rudi (ek ken nie sy van of rang nie) op 072 282 9207.

    Ek het hulle hele Powerpoint presentation op my skoot-komper, maar kan hom nie e-mail nie a.g.v. sy grootte (132mb). Ek kan dit moontlik op disket brand en vir iemand aanstuur. Julle kan dan julle eie cd’s brand. Dit kan moontlik help dat iemand die tekens betyds herken. Dit kan ook voornemende dwelm-gebruikers (tieners ens.) afskrik. Terloops…statistiek toon dat meer as 50% van Laerskool leerlinge reeds met dwelms ge-eksperimenteer het!

    Skakel gerus die bg. SAPS lede. Ek is seker hulle sal meer as bereid wees om te help.

  14. 14

    Jasper said,

    Ek sidder as ek na hierdie dinge luister. ‘n vriend van my se broer is so. Snaaks hoe een kind algehele afstand doen van so iets en die ander een hom vergryp. Hoe werk dit!? Die opvoeding is tog dieselfde….

  15. 15

    Zee said,

    Jasper, ek vra myself dieselfde vraag elke dag van my lewe, my meisiekind is nou ampertjies 21 en sy het nie dieselfe pad as haar boetjie geloop nie, dieselfde opvoeding, het haar nie voorgetrek nie… Dis hoekom ons baie keer wonder, waar het ons gefaal as ouers!

  16. 16

    skoorblok said,

    Ek dink nie dit het met ouerskap of gene of skool of gestremdhede te doen nie.

    Dit is uit en uit vriende.

    Ek het al dagga gerook saam met vriende. Vriende wat nie users was nie, maar wat dit vir die fun gedoen het.

    En dit was lekker. Daardie dag. Maar so what, ek kan nie heeldag op ‘n trippie wees nie, op daardie stadium het ek in ‘n beroep gestaan wat meer geverg het van my as sports. En ek is net eenvoudig nie ‘n dwelmgebruiker nie.

    En kan ‘n amuserende post skryf oor die twee kere wat ek dagga gerook het. ‘n Satire. Ook oor die daggaplant wat in my erf gegroei het, nadat ek hom in die veld gevind, en uitgeplant het.

    Maar my broer was ‘n user. Oor vriende. En dit het my ouers derduisende rande gekos om sy skulde te betaal. Gelukkig het hulle dit gehad. Maar ek sou hom eerder graag wou laat opsluit…

    Ek se vir ouers – ken jou kinders se vriende. En ken sommer hulle ouers ook. Want dis waar die onheil begin uitbroei!

    Sterkte Dellie met die ondersteuningswerk. Die een dag is die ma se gemoed op, en die ander dag af. Hoop jy is reg om die rollercoaster te ry. Hoop jy kry krag daarvoor.

  17. 17

    Zee said,

    Skoorblok ????? Ouers, ek sweer by my is daar nie onheil wat uitbroei nie! Brei uit op jou stelling!

  18. 18

    [...] is vir Dellie se vriendin en vir Zee en elke ouer daar buite wie se kind die dodedans met dwelms [...]

  19. 19

    Zee said,

    Dankie Sonkind, het vinnig gaan loer maar ek dink mens moet geen disruptions hê as jy dit lees nie!

    Skoor, sorry as ek kras geklink het maar weet jy, ek het altyd gedink dis scum wat dwelms gebruik totdat dit met my familie gebeur het, dan besef jy soos Sonkind sê – dwelms is ‘n DIEF!

  20. 20

    Suz said,

    Dellie

    Jou posting laat mens diep dink en maak my sommer bang, veral as ek daaraan dink dat ek nog groen koring op die land het. Ek het 2 seuns 1 van 10jr en die ander 1 is vandag 7 en ek bid elke dag dat hulle die regte pad sal wandel.

    mt.weazl – ek sal graag een van daardie cd wil hê as dit moontelik is.

    Lekker Aand aan almal

  21. 21

    Eben said,

    Dellie met die lees van al die comments maak Skoor se comment die meeste sin. Wees eenvoudig betrokke by jou kind.

    Leer sy/haar vriende ken. Raak betrokke by hulle. Het jy al mooi gedink oor jou Seun? Dis nie omdat hy so nice en verantwoordelik is wat hom so laat uit staan nie, maar dis omdat julle betrokke was met hom en sy vriende. Weer Skoor … julle ken Seun se pelle, julle was betrokke met sy opgroei, dis hoekom hy so uitgedraai het … wees trots op jouself Dellie.

    Aan die betrokke moeder, staan sterk en bid. Ons glo almal dat alles ten goede sal uitdraai en hy weer die seun word, wat jy groot gemaak het. Sterkte!

    Eben

  22. 22

    Dellie said,

    Ek dink tog jy en Skoor het ‘n punt beet daar Eben, ons ken regtig al Seun se vriende en hulle ouers redelik goed. Ons weet saam met wie hy uithang. Maar dit vrywaar hom ook nie om in so ‘n situasie te beland waar groepsdruk hom basies dwing om iets te doen wat hy nie normaalweg sou doen nie. Ek klop myself beslis nie op die skouer omdat hy “goed” uitgedraai het nie, ek is net dankbaar daarvoor.

    Sonkind, dankie vir jou post, maar as gevolg van beurtkrag kon ek vanmiddag net die helfte lees! :shock: Ek sal more gou weer daar gaan draai, die manne het my nou eers bietjie my aandag nodig!

    My vriendin het die possie en julle comments kom lees. Ek dink net dat sy nog nie gereed voel om daarop te reageer nie. Intussen sal ek haar ondersteun sover ek kan. Baie dankie vir al julle positiewe bydraes, al die raad, en al die ondersteuning. Ek is seker sy waardeer dit.

  23. 23

    skoorblok said,

    Skuim is jou kind nie. Maar hy het dit iewers gekry. En skuim is daai kind ook nie (maar as jy nie die vriende ken nie, weet jy ook nie regtig nie, ne)

    Maar skuim is die bliksems wat die goed hier aanbring, hier vervaardig, hier smokkel en smous.

    En skuim is ons regering wat ook ‘n klomp users in die kabinet het, wat lag terwyl ons kinders se skanse/waardes/norme van alle kante afgetakel word, sodat hulle nikswerd grootmense uitdraai, of dood in die tog daarheen.

    Hierdie blogs is van onskatbare waarde, want soveel mense se pyn en opinies en absurde teorie kan almal hier geplaas word, en sodoende kan niksvermoedende mense bedag gemaak word op dinge wat hulle nooit eens aan gedink het nie.

    Dit is tyd, nou meer as ooit, om jou oe oop te maak. Niks is meer taboe nie. Besef dat jy die enigste anker is waaraan jou kind kan vasgryp. En hoe lyk die anker waaraan JY vasgryp?

  24. 24

    Dellie se vriendin said,

    Dankie aan almal met jul ondersteuning en raad. Dit was nie n maklike besluit nie, maar ek glo nie die ergste is verby nie. Daar wag nog die hofsake en die koerante het alreeds die storie beet. Ek waardeer dit dat niemand my kwalik neem vir dit wat ek gedoen het nie. My hande het afgekap gevoel en ek het gedink dit is die enigste uitweg. Dankie weereens.

    Ek sal elke dag na julle raad kom kyk.

  25. 25

    skoorblok said,

    Miskien, as die stof gaan le het, en julle weer die stukke optel, kan julle gesin vir berading gaan?

    Net om die pad vorentoe lig te gee.

  26. 26

    [...] loer gerus ook by Dellie en Sonkind [...]

  27. 27

    Ek lees al die dinge en voel asof dit ek is wat hier praat. Ek het presies oorgekom wat hierdie vrou moes deurmaak. Die verskil is ek is die kind se ouma!!
    Hy is die begin Oktober die jaar weg na n rehab sentrum vir 8 maande. Ek kan nie ophou huil nie en mis my kleinkind verskriklik baie. Ek het myself n (goal) gestel en het begin om goed te doen vir die 8 maande wat hy weg is, soos Mode parades ens. Ek wil graag alle geldjies vir n rehab skenk. of dit vir n kind se rehablitasie betaal, omdat alle ouers dit nie altyd kan bekostig nie. Die dealers sit in hulle kastele terwyl ons kinders moet ly. As ieder en elk nie iets probeer nie, gaan ons nie meer ons families na n paar jaar he nie!!!! Enige iemand wat wil help kan my kontak by my email adres!!!


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 66 other followers

%d bloggers like this: