Archive for Maart, 2008

Kampvuur nagevolge

Dit was great! Al voel ek vandag of ‘n trein my getrap het. Ek kan net my oë en vingers met gemak beweeg. En ek lyk soos ‘n tamatie met ‘n tippex masker… ek leer ook maar flippen stadig!

‘n Naweek saam met dié klomp is altyd iets om te onthou. Ons klomp kry miskien so twee of drie keer ‘n jaar die kans om ALMAL bymekaar te wees. Dan praat ek van so 22 mense, waarvan 6 kinders is. ‘n Aand of dag is eenvoudig te min tyd vir ons om lekker te kuier. Vandaar die kampnaweke. Ons is nou al mooi georganiseerd wat dit aanbetref. Elke ou kry ‘n lysie met kos en ander benodighede wat moet saam. En ons deel die koste van die staanplekke. Een staanplek is gewoonlik nie genoeg nie.

Ons het Vrydag middag so net na 5 by Aldam (Allemanskraal dam) aangeland. Nou kyk, ons werk nou al soos ‘n goed ge-oliede masjien saam om die kampplek gou reg te kry. Daar is een karavaan, en dan ses tente wat wissel van baie groot tot baie klein. En natuurlik die gazebo’s vir die “kombuis” en ekstra koelte. Dit lyk kompleet soos ‘n dorpie op sy eie as ons klaar is. En die gadgets het ook al mooi aangekom. Van oulike lampies tot ‘n bio-stofie en lampies wat een of ander gel gebruik vir brandstof, wat nie stink soos parrafien nie. Elke kamper het natuurlik ‘n opblaas matras of selfs van hierdie fensie nuwe strechers wat sommer ‘n opblaas matras by het. So goed soos jou bed by die huis, so van ongemaklik slaap is daar nie sprake nie.

Vrydag aand se spyskaart het bestaan uit worsbroodjies – min moeite, want ons is mos dan moeg kamp opgeslaan! Darem lekker gebraai, met tamatie en uie sous. En toe begin die groot kuier. En die pret. Ons speel telefoontjie soos toe ons klein was – met histeriese gevolge! Ek kan nie almal onthou nie, maar hierdie ene op my beurt was verskriklik snaaks: “Borrie en Kerrie hou nie van koning Rosedoring nie” word “Die queen van Saudi Arabia hou nie van kerrie koekies nie”!! Ek dog ek maak my nat!

Die ander game was “I spy with my little eye…” en as jy ‘n leidraad vra, moet jy ‘n skopdop glasie OBS drink. Hoe later, hoe kwater, en op die ou end word daar nie meer gevra vir leidrade nie, daar word sommer net gedrink.

Saterdag oggend vieruur het ons resident visserman en sy vrou die viswaters gaan aandurf. Sommer kompetisie gehad tussen die twee van hulle, en sy het gewen! Ek sal later ‘n possie opsit spesiaal oor dié twee, want daai twee se visvang vernuf en truuks verdien hulle eie spotlight. Dis ook daar waar ek so lekker foto’s en video’s geneem het, dat ek vandag soos ‘n tamatie lyk. Skoon vergeet van die son!

Toe die res van ons ontwaak teen so 8uur, is ons terstond “polisie koffie” ingejaag. (Dis moerkoffie met whiskey, vir die wat nie weet nie.) So ‘n lekker skop onder jou jis om krag vir die dag te kry. En op die koop toe, ‘n ander brousel, wat iemand toe reken sal ons immuunstelsels goed doen: ‘n hele groen rissie, opgesny in skyfies, in ‘n skopdop glasie bedek met whiskey. Eish! Ek kon net die whiskey en een skyfie rissie inkry, die res het ek gespoeg dat dit daaaar trek. Teen 12uur Saterdag middag, was dit tyd om die innerlike weer bietjie te versterk. Spek, eiers, gebraai uie en sampioene, alles op ‘n broodrolletjie. Te lekker.

Die geriewe by Aldam is baie netjies. Ons sorg altyd dat ons ‘n staanplek naby die badkamers het. Daar is ook ‘n swembad, supertube, put-put, tennisbaan, trampoliens en rolstkaatsbaan. En dis daai trampolien wat my lyf so seer het vandag… spring mos daar rond soos ‘n 16 jarige!

Saterdag-aand het ons vleis gebraai, en om die kampvuur gesit en strooi gesels. Ons het ook bietjie gesing, maar ek dink die res van die oord was heel dankbaar toe ons daarmee ophou! En ons het natuurlik marshmallows gebraai. Heerlik.

Sondag-oggend het gesorg vir ‘n grappie wat nog lank by ons gaan bly. Ek en Liefie deel ‘n tent met ‘n ander paartjie. Tussen ons “kamer” en hulle “kamer”, is nog ‘n vertrek, maar daar is nie ‘n skeiding tussenin nie, dus kan ons mekaar sien. Vroeg Sondag-oggend hoor ek hoe iemand die tent se flap oopzip, en maak net my een oog so oop. Ek sien hierdie man met ‘n snor wat so skeefkop vriend aan die anderkant se lighter voor hulle bed optel. Die man smile nogal ewe vir my, maar ek is so deur die dinges dat ek hom nie herken nie. (Ek en Liefie het Saterdag aand voor die ander gaan slaap, en ek is bewus daarvan dat iemand anders wat ons nie ken nie in die nagtelike ure by ons sou aansluit. Ek neem toe aan dit is dié man.) Tien minute later is vriend wakker, en hy soek sy lighter. Nou moet julle verstaan – vriend is oor die algemeen half doof, en soggens is dit tien keer erger. Ek sê toe vir hom ‘n man met ‘n snor het die lighter gevat. “Wat?” vra hy. Ek, harder: “‘n Man met ‘n snor het jou lighter gevat.” Hy: “Huh?” Ek, nog harder: “‘n Man met ‘n snor!” Hy: “Wie, Louis se swaer?” Nou, nie een van ons ken ‘n Louis nie, en ek bars uit van die lag. Onthou nou net, ons is in tente, dis vroeg en stil in die kamp, dus hoor almal nou hierdie gesprek. Ook die “man met die snor / Louis se swaer”… wat toe al dit tyd ons lang maat was wat die lighter nodig gehad het om die koffie aan die gang te kry! Die antwoord sommer van buite af: “Moenie worry nie, die man met die snor sal netnou die lighter terugbring!” In sarsie begin die hele kamp lag. Ons was histeries! En vir die res van die dag is “Louis se swaer” geblameer as iemand nie iets kon vind nie! Ai, die ene gaan ons nog lank laat skater!

Sondag middag het ons twee potjies gemaak, ene vir die mans, wat “warm” was, en ene vir die vrouens en kinders wat meer matig was. Skoor, ek kon nie al die bone opspoor vir die “Pork en Bean” potjie nie, maar sal beslis die resep bere vir volgende keer.

Die oppak is natuurlik die aakligste deel van die hele storie. Dis asof ons uitstel tot op die laaste om dit te doen. Ons wil nie huistoe nie. Maar alle goeie dinge moet ook seker tot ‘n einde kom.

Ek het baie foto’s geneem en video’s gemaak, en is herdoop na Steven Spielberg. Nou gaan ek die sagteware se vermoëns beproef, en kyk of ek vir elkeen hulle eie stukkie onthou bymekaar kan sit. Dis die ideale projek om al die funksies te leer ken. En dis wonderlik om te weet dat daar darem ‘n paar priceless oomblikke vasgevang is wat ons nooit sal verloor nie.

Dankie maters, dit was ‘n fees!

Comments (15) »

Kampvuur

♪ As ek saans met my maats om die kampvuur sit, ♫

♫ Kampvuur sit, klop my hart van puur genot! ♪

♪ Dan’s ek bly, dan’s ek bly, nes ‘n voël, so vry ♫

♫ Voël so vry, gans tevrede met my lot ♪

♪ Net die maan- en sterreprag bo my ♫

♫ Ai, wat kom ooit daarby? ♪

♪ As ek saans met my maats om die kampvuur sit, ♫

♫ Kampvuur sit, klop my hart van puur genot! ♪

campfire1.jpg

Ons gaan so bietjie saam met pelle kamp die naweek. En ek gaan my nuwe speelding uittoets…. 

Comments (18) »

Id10t

Een van die lekkerste dele van my werk, is om assessments na te sien. Dis baie bevredigend om te sien hoe iemand wat niks geweet het nie, dit wat hy intussen geleer het goed weergee. Sommige antwoorde is sulke huh? oomblikke, wanneer ek nie ’n idee het wat die persoon eintlik probeer sê nie, maar soms is daar juweeltjies wat my laat skater van die lag. En soms is iemand gemaklik genoeg om selfs ‘n joke hier en daar in te kry.

Die opdrag was om die inhoud van ‘n dokument wat voorheen opgestel is, te copy en paste in ‘n nuwe e-pos boodskap. Die boodskap word dan aan my gestuur. Dié dame het obviously gedink die dokument is vervelig, en die volgende vir my gestuur:

6 truths of life:

1) You cannot touch all of your teeth with your tongue.

2) All idiots, after reading this first truth, try it.

3) The first truth is a lie.

4) You’re smiling now because you are an idiot.

5) You will soon forward this to another idiot.

6) There’s still a stupid smile on your face.

Ja, die stupid smile het nogal lank op my gesig gebly! I love my job!

Comments (12) »

Nuwe Speelding

Ons het ‘n nuwe speelding: ‘n “Samsung 34 x Optical Powerful Zoom & Easy-to-use DVD Camcorder“, om presies te wees. Nou moet ons net uitfigure hoe om die ander goed te doen, behalwe record, stop en playback…

vp-dc175_small.jpg

Vreeslike oulike ou dingetjie, klein en maklik om te hanteer. Dit kan ook gewone foto’s neem, maar die kwaliteit is nie wonderlik nie. Miskien moet ek net bietjie die manual lees en kyk hoe om die verskillende settings te stel! Maar ek weet absoluut niks van fotografie af nie. Nogal gedink dat dit ‘n lekker stokperdjie kan word. Vir nou verewig dit vir ons lawwe oomblikke, en lekker onthou tye.

Comments (12) »

Tydskrif

Nee, Boendoe, ek het nie vergeet nie! Maar jammer dit verskyn nou eers hier. Almal weet seker nou al waaroor dit gaan, maar vir die wat nie weet nie:

Tydskrif is ‘n blogtydskrif wat sommige inskrywings wat deur bloggers gemaak word, bietjie langer laat leef. Daar is mos sekere inskrywings wat mens oor en oor wil lees. Bloggers nomineer drie gunstelinge sedert 1 Desember 2007, en vra iemand anders om weer dieselfde te doen. Jy word ook aangemoedig om jou eie inskrywings te nomineer.

Hier is my nominasies:

Trots Suid Afrikaans   GertGariep

Wat is in ‘n naam    Voetjies

Good luck bad luck   Ding se dinge

As jy hier lees en nog nie getag is nie, speel asseblief saam? Stuur ook ‘n e-pos met jou nominasies na tydskrif@gmail.com

Comments (3) »

Nuwe begin

Ai, ek kan nogal gewoond raak daaraan om ‘n week sonder ‘n Maandag te begin! Hoop julle het ‘n heerlike langnaweek gehad.

Seun het al twee keer gebel, en alles is fyn. Die vlug was nie sleg nie, blykbaar was die landing in Atlanta bietjie rof en hulle het nogal geskrik. Sê so ewe vir my: “Mammie, ons dog die vliegtuig gaan rol!” Hulle bly in Miami tot die 13de April. Hy en sy pel het darem al ‘n yskas, mikrogolf, beddegoed en bietjie kos gekoop. Maar hulle is besig en werk hard. Ek dink hulle het sommer dadelik agtergekom dat hulle nie daar is om vakansie te hou nie. Maar dis goed so, harde werk het nog altyd net goeie resultate gelewer.

Ek het die naweek bietjie kaste uitgepak (boring!) en meubels geskuif en oor die algemeen was ek heel produktief. Ons het kamers omgeruil, ons kamer is yskoud in die winter, en aangesien Seun nou nie hier is nie, het ons maar vorentoe geskuif. Om besig te bly help ook dat mens se gedagtes nie allerande vreemde koerse inslaan nie. En noudat alles effens anders lyk, is dit ook makliker om hom nie om elke hoek en draai te soek nie.

Daar is nog net ‘n paar goedjies wat my duidelik laat besef dat hy nie hier is nie… die melk word suur, die brood begin groei, en daar is bakke vol oorskietkos in die yskas! Ek sukkel maar om minder te kook, maar ou Esther is hier vandag, so sy kan maar die kossies huistoe neem.

Carolina, baie geluk met die wonderlike nuus dat jy Ouma gaan word! Dis amper so opwindend soos om self swanger te wees. Ons hoop die swangerskap verloop voorspoedig, en mag dit vir julle baie vreugde bring.

Nou ja, dis tyd om weer bietjie te werk. My ADSL is nie lekker vanmore nie, verloor dit kort-kort. As ek dus dalk weer verdwyn, please blame it on Helkom!

Comments (10) »

Die nes is leeg

Ek sluit die deur oop. Alles is doodstil. Ek sit my handsak op sy bed neer. Ek voel die leegheid, in die vertrek, in my hart. Ek ruik aan sy kussing. Ek maak my oë toe. Dit voel of hy hier by my is. En my toevou in een van sy velcro drukkies… die trane loop. Ek mis hom al klaar…

Die rit lughawe toe was voorspoedig. Ons het ‘n pel se GPS geleen, want vir verdwaal het ons nie kans gesien nie. Oulike ou dingetjie, die GPS. Het ons veilig by ons bestemming gebring, en gesorg dat ons teen twee uur reeds op die lughawe was.

Die mense van Away2Xplore was reeds daar, en besig met ‘n vroeëre klompie wat deur die prosesse moes gaan. Nadat die dame met hulle klaar was, het sy gou vir Seun nader gewink, en teen die tyd dat sy pel net na drie opgedaag het, het hy al sy rande vir dollars verruil. Toe het hulle die bagasie gaan toedraai en inweeg, (maar net 17kg, ons het mooi gepak) afdrukke gemaak van hulle vliegkaartjies, versekering, paspoorte en visums. En toe kan ons saam kuier tot ses uur.

Ouma en Oupa, asook Liefie se broer en seun, het ook kom groet. Voor hulle gekom het, het ons gou elkeen ‘n bier of wat afgesluk (dis nie dat ons skynheilig is nie, maar Oupa is ‘n pastoor en keur nie drankgebruik goed nie, so ons drink nie voor hulle nie) maar dit is vreeslik duur daar, R15 ‘n bier!

En dis nogal ‘n “teer” sakie vir die mannetjies, dié bier drinkery. Hulle is nou maar vir omtrent 6 maande “wettige” drinkers in SA, nou kom hulle anderkant, en daar moet jy 21 wees voordat jy ‘n bier in ‘n pub kan gaan drink! Blykbaar is Canada se perk ook 18. Dus laat ons hulle toe nou maar die laaste twee Castles geniet. Ons het so gelag vir Seun se pel, toe hy die laaste slukkie uit die glas neem, vat hy die leë Castle botteltjie, kyk dit so verliefderig aan, en sê: “Oh, I’m going to miss you!” gee die bottel ‘n innige soen, en fluister: “I’ll be back. I love you!” Lawwe ding.

Ek was baie dapper en het die trane so lank as moontlik terug gehou. Probeer om nie aan die naderende afskeid te dink terwyl ek die sms’e van bemoediging van my boeties en sussies lees nie. Erens het die kraantjies so effens beginne lek, iemand het dit gewaar, en ai, as iemand my jammer kry tjank ek al hoe harder. En toe huil Ouma ook saam. Maar ek het die klomp gou aan die lag gehad toe ek my voorraad tissues uit my handsak haal en ‘n hoop so groot soos ‘n rugbybal op die tafel pak! En genadiglik droog my trane toe ook op!

Net na ses was dit sulke tyd. Hulle vlug sou teen half agt vertrek. Vanaf Johannesburg na Dakar, waar hulle brandstof inneem, daarvandaan na Atlanta. Die lughawe daar is glo so groot, dat hulle met ‘n trein vervoer word na die volgende vlug! Vanaf Atlanta na Miami, en daarvandaan met ‘n bus tot erens in Texas, ek is nie lekker seker waar nie. Maar hy sal laat bel sodra hulle veilig aangekom het by hulle bestemming.

Toe moes ons groet. Die vertreksaal was vreeslik besig, en dit het ook seker gehelp. Ons het ons goed gedra. Maar toe hy my so vasdruk, wou ek nie laat gaan nie. Almal het vervaag, en ek het sy reuk ingedrink, sy sterk arms om my gevoel, geweet dis my vlees die, en dat dit altyd so sal wees. Hy was net nou die dag nog ‘n klein ou seuntjie. Vir wie ek moes sorg. Maar ek glo in hom. En ek weet dat hy nou ’n groot, sterk jong man is, wat meer common sense en verantwoordelikheid het as baie volwassenes wat ek ken. En toe raak ek vreemd rustig. Hy sal OK wees. Daaraan twyfel ek nie vir ‘n oomblik nie. Net jammer dit maak nie die hol kol in my hart weer vol nie.

Gelukkig was dit donker oppad na Ouma-hulle se huis toe. Liefie se boetie en seun het saam met ons gery van die lughawe af. In die donker kon die trane maar vrylik loop. Liefie se skerp oë het dit wel raak gesien, en sonder ‘n woord het hy net my been gedruk. Ons harte verstaan.

Dis ‘n vreemde plek, hierdie leë nes. Ek het altyd geweet dit moet eendag gebeur, maar dis glad nie hoe ek myself voorgestel het dit sou wees nie. Ek verstaan my gevoelens hieroor nog nie lekker nie. Dis amper soos om weer ‘n tiener te wees. Onseker. Wat nou? Wat moet ek nou doen? Vir wie moet ek sorg?

My kop vertel my dat my kind groot is, maar my hart wonder hoe dit dan so vinnig gebeur het? Ek voel nie “oud” nie, maar dit voel of ek oud MOET voel! Maak ek sin? Ek twyfel, ek maak nie eers sin vir myself nie! Maar ons sal ook OK wees. Dis nie vir altyd nie. Hy sal terug wees op die 12de November. En dis mos sommer om die draai!

NS. Liefie reken daar is een ou plus puntjie aan die hele leë nes kwessie… ons kan nou maar kaal rondloop as ons wil! Hehe!

Comments (36) »

Chaos

Ek het nog nooit SO ‘n Maandag beleef nie! En dit het nog net begin!

Eerstens, gaan die krag af vanoggend net na 7. Gelukkig is my hare net klaar drooggeblaas, maar net toe ek die stryk ystertjie wil begin deurtrek, groet die krag. Nou lyk ek soos die hond se stert.

Esther skitter in haar afwesigheid. Dis Maandag. Dis chaos oral in my huis. My kind se klere moet gewas word. En dit reën ook nog!

Moes die eerste klasse van die oggend kanselleer – geen krag. Dit het eers half nege aangekom. Sal maar sien hoe verloop die res van die dag.

Nou is die krisis Seun se klere. Ek het in die eerste plek nie ‘n tuimeldroeër nie. Hang maar in die huis en sit die waaier en heater aan! En Esther is nie hier om dit gou te was nie. Shame, en ek wil nie dat Seun dit self doen nie, van volgende week af sal hy in elk geval moet. Miskien moet ek sommer hierdie hele week kanselleer, en eers weer Dinsdag koers kry. Dis in elk geval lang naweek.

Ons moet more middag 3uur op OR Thambo wees. Ek weet nie wat gaan gebeur nie. Ek verstaan dat hulle 5 ure voor die vlug op die lughawe moet wees. Hoe laat hulle eintlik vlieg, weet ek nie. Ons gaan by my skoonouers omgaan sodat hulle hom kan groet, en sommer by hulle slaap more-aand in plaas van om in die nag terug te ry.

Dis te deurmekaar op hierdie stadium vir my om hartseer te wees. Miskien is dit so bedoel dat vanoggend so erg moet wees, dit lei ten minste my aandag af! Ek skat dit gaan eers regtig my vang op die lughawe. Sal maar baie tissues saamneem!

As ek bietjie stil raak, moenie panic nie, ek sal kom verslag doen teen Woensdag of Donderdag, hang maar af hoe die week uitdraai. Nou moet ek eers hierdie Maandag aan die horings gryp en hom bloots ry!

Lekker week!

Comments (29) »

Giggles

It’s Friday! Be happy!

Please bake all garbage…

bake-all-garbage.jpg

Be afraid, be very afraid…

cheese-fear.jpg

Fridge in need of Valiums…

anxious-refrigerator.jpg

Lekker naweek!

Comments (11) »