Away2Xplore het vanmore vir Seun gebel en bevestig dat sy afspraak by die Ambassade gereël is vir Dinsdag oggend. As hy goedgekeur word daar, kan hulle moontlik al teen Vrydag vlieg… nou kom die tyd vinnig nader!
Ek kan seker nie meer uitstel nie, ons sal die goedjies moet gaan kry wat hy nodig het om saam te neem. Sy bagasie mag nie 20kg oorskry nie, dus gaan ons net die nodigste goed inpak. Die res moet hy anderkant koop. Hier is die lysie:
2 “hoodies” (wat noem mens dit in Afrikaans?)
Warm baadjie
2 swart langbroeke
2 driekwart broeke
2 oorpakke
t-hemde
onderklere en sokkies
staalpunt skoene
battery aangedrewe alarm
noodhulp tassie met:
strepsils
hoesmedisyne
pynpille
voltaren jel
anti-septiese room
pleisters
verbande
skêr
multivitamiene
peacefull sleep
en ‘n tas om dit alles in te pak!
Die enigste ding wat my nog bietjie uitfreak op hierdie stadium, is sy ID. Dié het in die wasmasjien beland, en op 23-01-2008 het hy aansoek gaan doen vir ‘n tydelike ene. Op daardie stadium het ons gedink hulle sou al in Februarie vlieg, so ‘n normale ID sou te lank neem. Die beampte aan diens het ons laat verstaan dit neem 10 dae om dit uit te reik. Grappie! Elke keer as hy gaan navraag doen, is die antwoord dieselfde: “da siestêm is offline!”
Hy het die ID nodig om mee rond te beweeg in die VSA, want sy werkgewer hou sy paspoort, sodat dit nie erens verlore gaan nie. Wat gaan ons doen as hy dit nog nie het teen die tyd dat hy moet vlieg nie??? Update: Seun het sopas sy tydelike ID gekry. Die permanente ene sal eers in April uitgereik word, en die sal ons maar vir hom moet pos.
Die ander ding wat my opval, is dat die arme kind nie veel van “winter” gaan sien hierdie jaar nie… teen die tyd wat hy anderkant aankom, begin dit lente raak, en wanneer hy terugkom, is dit al weer somer hier! En as hy dalk volgende jaar weer gaan, is dit dieselfde storie. Ek reken hy gaan effens gatvol raak vir somer!
Nou ja, Mammie sal maar haar koppie moet beginne regkry, hier waar ek nou tik brand die trane al klaar agter my ooglede… my enigste ou voëltjie verlaat sowaar die nes! En hy vlieg sooo ver weg…












