… let me count the ways…
My Lief
Vandag is nie ‘n spesiale dag nie. Dis nie jou verjaarsdag of Valentynsdag nie. Dis ook nie ons huweliksherdenking nie. Maar vandag wil ek graag net bietjie vir jou vertel hoe ek jou waardeer en hoe lief ek vir jou is.
Hierdie jaar ken ons mekaar al 21 jaar. Ons is sowaar mondig! En as ek terugdink oor die jare, is daar niks wat ek wil verander nie. Nie ‘n ding nie. Dis asof my lewe begin het die dag toe ek jou ontmoet het. Voor dit is alles net vaag.
Onthou jy ons eerste soen? Dit was net na die “chicken” episode toe jy my huistoe geneem het. Sommer met die eerste kuiertjie het jy my gevra of jy my maar beter mag leer ken. En terwyl ek koffie gemaak het, kon jy nie ophou om my te komplimenteer nie. My mooi naels, wat glo so lekker sou rugkrap, en wat jy kastig so bewonder het terwyl jy eintlik my hand wou vashou, my hare, my oë, en jy het dit so geniet as ek bloos! En ek het gebloos as jy net vir my KYK! Hehe!
Toe jy ry, het ek nie lekker geweet wat om te doen nie. “Moet ons nou soen, of wat?”, het ek gewonder terwyl ek soos Liewe Heksie patroontjies in die sand getrek het met my tone. As ek ‘n hoed gehad het, sou ek dit seker laaaag oor my oë getrek het. Toe lig jy my ken met jou vinger, en soen my vlindersag. En tot vandag toe, lief ek jou lippe!
Onthou jy toe jy SWA toe is toe ek swanger was met Seun? Jy het vir my briewe geskryf. Nee, wag, dit was nie briewe nie, dit was boeke vol. Letterlik. Klein dagboekies met datums en tye, en al die detail oor wat julle doen, wat julle sien, en hoe jy na my verlang. En as die boekie vol was, het jy dit gepos. Dit was vir my heerlik om te lees. Om te weet dat ek elke dag in jou gedagtes was. Ek het nog al daardie boekies. En ook die klein, geel kuikentjie, en die padda sticker… (Bloos!)
Onthou jy toe ek jou vertel het ek is swanger? Ons het vir Seun so mooi beplan, daai kalender met die “regte” tye om die saadjie te plant, is nog steeds agter in my eerste resepte boek! Ek het in Westgate gewerk, jy het skofte gewerk, en my kom haal by die busstop. Toe ek in die kar klim, kon ek dit nie meer hou nie, net vir jou gesê “Hallo Pappa!” en ek sal nooit, ooit jou gesig vergeet nie! Jy het my in ‘n greep beetgekry, en my oraloor gesoen, ons het gelag en ek dink daar was selfs ‘n traan of twee gestort. Jy was so trots! En deur die hele swangerskap het jy met jou “laaitie” gesels, met jou kop op my maag. Dik stukke. (Terwyl ek ‘n baie ekonomiese truitjie gebrei het… elke keer as ons dit gewas het, het dit so bietjie gerek… Seun het daai trui gedra tot hy drie was… ‘n pragtige witte!) Jy het altyd gesê “Ek weet wat ek gemaak het, dis my laaitie daai!” En vir die volgende nege maande kon nie een van ons ophou glimlag nie.
Ons seun kon nie vir ‘n beter pa gevra het nie. Jy was streng toe dit nodig was terwyl hy groot geword het, maar jy is ook sy pel. Hy weet hy kan met jou praat oor manne dinge. Hy weet jy luister na hom en hoor wat hy sê. Jy het hom nog altyd die vryheid gegee om sy eie besluite te neem, maar ook geleer om die gevolge van sy dade te dra, soms groot verantwoordelikhede op sy skouers geplaas, maar so lei jy hom nog al die jare net, en jy laat hom toe om in sy eie mens te ontwikkel. Hy het so baie van jou in hom. Ek het altyd gedink ek het die laaste goeie man op aarde gekry, maar ek dink hy is ‘n goeie kandidaat vir tweede plek!
Jy het jare se geduld, jy is so sensitief vir almal om jou se behoeftes, jy kan dit nie verdra as ‘n kind erens swaarkry nie. Jy laat my toe om my eie mens te wees, jy onderdruk my nie, jy gee baie raad, maar dwing nooit jou opinie op my af nie. Selfs al is jy baie ouer as ek. En weet jy, die ouderdoms verskil het my nog altyd veilig laat voel, so asof ek weet dat jy sal kan help as ek verward raak oor dinge. Jy is soort van my “safety net”, die ene waarop ek terugval wanneer al my moontlikhede uitgeput is, wanneer ek nie meer self kan cope nie, die ene waar ek net myself kan wees. Want dis mos goed wat al ou nuus is vir jou! Jy sê ook nie verniet dat ou bokke groen blare like nie, né! Jy het my mooi volgens jou hand geleer… (bloos)
Alhoewel ons albei ons eie ding doen (besighede), ondersteun jy my so baie in myne. Jy boost altyd my intellek, jy waardeer die feit dat ek sowaar kan dink vir myself. Hoeveel kere sê jy nie jy is trots op my nie, spog jy met my prestasies by kennise, vriende en familie? Jy laat my glo in my vaardighede. Jy gee my selfvertroue. Ek voel asof jy my grootste fan is! Hehe! Is jy…? Wel, ek is joune. Hoe sê “hulle”? To the world you are just “someone”… but to someone, you are the world!
En jy kan kook! Jy het my dan leer kook. Al wat ek kon maak toe ons ons nessie begin bou het, was chips, varktjops en tamatieslaai. Onthou jy my eerste vetkoeke wat liewe ou Bowzer begrawe het? En die klipharde soetkoekies (waarop ek so trots was) waarmee julle rotte in die myn ondergrond gegooi het, omdat dit nie eers wou sagword in koffie nie, en die extra spiced BBQ hoender, en die rou pap…
Soveel aande as ek klaar gewerk het teen 7uur, is die kossies reg. Jy weet hoe om al die huishoudelike toestelle te bestuur, van die stofsuier en stoof, tot die wasmasjien en strykyster. Jy en Seun for that matter. Ek kan maar siek word met ‘n smile, en actually gaan RUS. Julle sal oorleef, my besigheid aan die gang hou, en nie lyk of julle uit die wasgoedmandjie geklim het nie!
My lief, ek het jou lief met alles wat in my is. Jy is my asem, my glimlag, my soete nagrus, my common sense, my gewete, my beskermer, my veiligheidsnet, my ander helfte, my pot se deksel, my tamatiesous toebroodjie, my minnaar, my vriend, my velcro drukkie, my lewensmaat, MY MAN. Ek waardeer so baie van jou, waarvoor ek nooit vir jou dankie sê nie. Ek doen dit nou. Hier voor al my blog maters. Hulle moet weet hoe bevoorreg ek is om ‘n man soos jy te hê! Dankie vir wie ek is wanneer ek saam met jou is.
Al my liefde, vir altyd
Jou chicken