Ek het Vrydag aand die duurste shooter van my lewe gedrink…
Sien, dit het so gekom: ons het besluit om net rustig te wees vir die naweek. Het ‘n paar DVD’s gaan kry vir Vrydagaand, aangesien die weervooruitsigte nommerpas was daarvoor. Maar vir kosmaak het ons nie lus gehad nie. En ons het nou ook nie ‘n vreeslike verskeidenheid van plekke wat kos aflewer nie, dus besluit ons toe om by ‘n sekere plekkie ‘n drankie te gaan drink, ‘n vingerete te bestel om weg te neem, en snoesig te kom DVD’s kyk.
So gesê, so gedaan. Ons drink ons bier rustig, maar die kos neem toe langer as die drankie. En ons besluit om bietjie wild te wees, en nog so ietsie te drink. Ons bekyk die shooter menu, en die kroegman kom stel iets voor wat nog nie op hulle spyskaart is nie: ‘n “hand grenade”. Dis klink heel gaaf, dit is Tequila, Jaggermeister en Play. Ons kry die drankie, sluk dit weg, en sowaar het ons nog asem. Glad nie sleg nie. Ons oorweeg selfs nog ene.
Uit die hoek van my ook sien ek die kroegman is baie besig daar voor die rekenaar. En hy lyk eers geskok, druk ‘n paar sleutels, kyk weer na die skerm, en lyk nog meer geskok. Skud sy kop, probeer weer. Hier in die stilligheid wonder ek of hy nou sukkel met die program of wat? Na die vierde probeerslag kom hy nadergestap, maar hy probeer om nie vir ons te kyk nie.
“Uhm, Oom,” sê hy vir Liefie. “Oom, dis bietjie duurder as wat ek gedink het. Dis ‘n shooter wat ek by ‘n ander plek geleer maak het. Dis nie op hierdie menu nie, nou moet ek per tot charge…” En hy lyk regtig asof die honde sy kos afgeneem het. Ek kry hom skoon jammer.
“Hoeveel?” vra Liefie. “Uhm, R72 Oom…”
Die lessie wat ek hieruit geleer het? Moenie sommer net alles sluk wat iemand vir jou gee of sê nie. Soms is die prys wat jy daarvoor moet betaal, baie meer as waarop jy gereken het.
Lekker week julle, gryp hom aan die horings en ry hom bloots, né?