Dit WAS al weer daardie tyd van die maand… daardie tyd van kwitansies koop. En die keer is ek laat, want Seun is nie hier sodat ek hom kan stuur om alles te gaan betaal nie. Hy het my lekker bederf.
In elk geval, Liefie sal maar die ou werkie vir my moet doen hierdie maand, en seker volgende maand en die maand daarna ook. Ek hou niks daarvan om te gaan rekeninge betaal nie.
Maar toe wonder ek, wie hanteer die geldsake in jou huishouding? As julle elkeen julle eie salaris verdien, bly jou geld joune en sy geld syne? En wie betaal wat? Of gooi julle alles bymekaar en doen dinge daarvandaan? Besluit julle saam oor nuwe meubels/ matte/ skilderye/ toestelle/ beddegoed/ klere/ gadgets wat aangekoop word?
As net hy ‘n salaris verdien, gee hy dit vir jou om die nodige te doen, of betaal hy alles en gee vir jou ‘n toelaag vir die huishouding en jouself? Word dit julle geld, of bly dit syne en jy moet vra as jy iets nodig het? Of “toestemming” as jy iets wil koop?
Toe ek en Liefie getroud is, het ek net vir ‘n rukkie gewerk. Ons het alles gedeel, Liefie het die begroting vir die maand opgestel, en betaal wat betaal moes word. Ons het albei vrye toegang gehad tot die geld wat vir kruideniers en ander dinge bedoel was. Toe Seun gebore is, het ek ophou werk, en ook meer saam aan die begroting beginne werk. Dit was nou net een salaris wat ingekom het, maar dit was ons geld, nie “syne” nie.
Nou het ons elkeen ons eie besigheid, en ons begroot en betaal self al die uitgawes van elke besigheid. Wel, ek begroot, en iemand anders gaan betaal dit fisies. Hehe! Ek doen ook ons huishoudelike begroting, en ons deel die kostes van die huishouding. Maar ons het ook elkeen ons “eie” geld. Soms sal ons bietjie stry oor wie se beurt dit is om te betaal vir bv kruideniersware, of ‘n naweek braai saam met vriende. Eventually sal hy vir die drank betaal, en ek vir die vleis en slaai. Die punt is dat ons nog steeds deel. Maar soms is dit ook vir my lekker om hom uit te vat vir ete, en rerig van “my” geld daarvoor te gebruik. En om hom te “nag” as ek iets wil hê wat ek nie self kan bekostig nie…
So, is dit julle geld, of joune en syne/hare?











