Ons het Donderdagaand ontbyt gaan eet saam met ons kamp maatjies. Hehe,
nee, jy lees reg, ONTBYT in die aand!
Kyk, die sakie staan so: Ons wou eintlik vreeslik graag ‘n sjampanje ontbyt gehad het, maar aangesien ek en Liefie redelike normale ure werk, en ‘n paar ander Woensdagaand nagdiens gewerk het, was dit nie moontlik nie. Toe besluit ons om die “next best thing” te doen – ‘n sjampanje ontbyt in die aand! Die enigste voorwaarde was dat jy in jou pajamas opdaag… hehe!
Dit was groot pret. Liefie het in sy gewone klere gegaan, maar ‘n kombers saamgevat. Want, reken hy vir hulle, hy slaap “colgate” (kaalgat) so hy moet ten minste sy bas toemaak! Ek het ook net my pantoffels aangetrek, en my pajamas in ‘n sak saamgevat. Die res was ook spoilsports, het ook pajamas in sakke saamgevat, en nie eers ene het pantoffels aangehad nie… maar my voete was heerlik warm, dankie! Hoe later hoe kwater? Eventually was almal in pajamas, met M in haar “honeymoon nighties” van 25 jaar terug…
En toe speel ons die keer ‘n ander speletjie. ‘n Ernstige speletjie. Dit was nogal emosioneel. Dit het so gewerk: iemand se naam word genoem, en almal om die tafel moet iets oor daardie persoon sê. Goed of sleg. Wat is die eerste gedagte wat in jou kop kom as jy die naam hoor? Hoe lyk jou prentjie van hierdie pesoon? Wat beteken hierdie mens vir JOU in jou lewe? Wat sou jy sê op sy/haar begrafnis?
Die reaksies het gewissel van skaterlag-snaaks tot traantrek-diep. En dit was ongelooflik! Hoekom moet ons wag tot iemand die tydelike met die ewige verwissel voordat ons sê wat ons waardeer in hulle en wat hulle vir ons beteken? Dis dan te laat, hoekom sê ons dit nie NOU terwyl die mens dit kan hoor en waardeer nie?
Dit was nogal ‘n eye opener om te hoor wat my pelle van my dink. Selfs my eie man. ‘n Mens besef nie altyd hoe mense jou sien ten spyte van die maskers wat jy dra nie. En jinne, hulle SIEN my! Ek kan nie voorgee nie. What you see, is what you get. My maskers is maar redelik deursigtig! Vir my was dit rerig baie emosioneel, want wat almal basies in gemeen te sê gehad het oor my, was: “Ons giggle girl. (!) Spontaan. Borrelend. Altyd dieselfde positiewe houding. Jy laat ons lag. Maak nie saak wat die omstandighede is nie, jy SAL vir ons die snaaks daarin uitwys. Ons lag omdat JY lag. En as ons “Beautifull in Beaufort Wes” en ”Soos bloed” hoor, dink ons aan jou. ”
Maar ernstig nou. Hier en nou maak vriende ‘n verskil in jou lewe, nie waar nie? Vertel dit vir hulle! Moenie wag tot dit te laat is nie. Wat help dit jy sê nice goed oor iemand wat dood is? Dis dan net die mense wat agterbly wat die lekker dinge onthou. Terwyl ons lewe, het ons nodig om te weet wat ons beteken vir mense. Toe, doen dit! Vertel bietjie vir daai maaitjie van jou wat vir jou uitstaan oor hom/haar. Die beloning is groot terwyl jy dit nog kan waardeer. Ons het hiermee ons jarelange vriendskappe versterk en verbeter. En ja, ‘n grouphug was deel van die pakket! Ek voel so bevoorreg omdat hierdie mense in my lewe is!
Dankie maatjies, al lees julle nie hier nie, julle is deel van my lewe, julle maak my wat ek is. Ek vrek oor julle!
NS. Danksy my ADSL lyn wat Vrydagmore geen reaksie getoon het nie, is hierdie ene bietjie laat… het probeer om die router Bio-Plus te voer, maar dit het nie gewerk nie. Ook nie vir my nie. En vanmore gaan dit nie veel beter nie. Dis heeltyd aan en af. So vergewe maar as ek skitter in my afwesigheid. En onthou, gryp hierdie Maandag aan die horings, en ry hom bloots!










