Die wonderlikste ding het verlede week gebeur. Sommer so spontaan. Nadat ek kommentaar gelewer het op Boendoe se Krummels, het Sonkind gevra vir bankbesonderhede. Ek het dit gegee. En die reaksie kan ek nou nog nie glo nie. Julle kan maar self gaan lees.
Dit gee my weer moed vir ons mensdom. Dat wildvreemdes sommer so aanbied om te help, is ongelooflik. En julle het gehelp. Elke bietjie help vreeslik baie! Maar dis nou eers die begin van die paadjie. ‘n Egskeiding kos baie geld, maar ons sal plan sien. (Skuus, ek tjank net eers so bietjie.)
Dit was so lekker om die verrassing op haar gesig te sien toe ek die eerste geldjies vir haar gee. Daarmee kon sy darem al so ‘n paar noodsaaklikhede self gaan koop, sonder dat ons aanbied om dit te doen. Mense, julle harte is groot! Vir elkeen wat ietsie gegee het (ek gaan nie name noem nie, julle weet wie julle is!) baie dankie. Glo my, ek het lanklaas iemand gesien wat iets so opreg waardeer.
Vir die van julle wat nie Blou-oog se storie ken nie, gaan lees hier en hier. Vir die res, ‘n update: sy gaan sien vanmiddag ‘n prokureur, en dan sal die bal aan die rol gesit word. Hopelik kan die egskeiding so gou as moontlik afgehandel word. En kan sy en haar kinders ‘n nuwe lewe begin.
Ek is baie trots op jou dat jy hierdie stap neem, vriendin. Ek weet hoe moeilik dit vir jou is om aan te gaan. Ek sien die seer elke dag in jou oë. Ek verstaan die leegheid wat jy nou skielik ervaar. Ek weet hoe moeilik dit vir jou is om elke dag die kinders te troos. Maar ek glo jy doen die regte ding. Mag jy ‘n sterk voorbeeld word vir elke vrou wat emosioneel en liggaamlik mishandel word. En ons belofte staan nog steeds: ons SAL jou hierdeur help! Teen volgende jaar hierdie tyd, vertel ons vir almal hoe gelukkig julle is! Deal?
Blou-oog het gevra dat ek hierdie vir julle plaas:
Aan my vriendin Dellie, haar Liefie en al haar Vriende
Ek weet nie hoe om DANKIE te sê nie, ek het geen woorde nie, maar al wat ek kan uit kry so deur die trane is om BAIE DANKIE te sê vir jou en al die goeie vriende wat jy het. Ek het alreeds vir jou gesê wat sou ek en die kindertjies sonder julle gemaak het.
Ek moet julle iets vertel – gisteraand toe ek en die kindertjies in die bed klim het Jarika en Enrico vir ons gebid, ek kon my trane nie meer keer nie, hulle sê toe DANKIE vir LIEWE JESUS dat TANNIE Dellie en OOM WESSIE so mooi kyk na ons en so baie help, toe vertel ek hulle van Tannie Dellie se maatjies wat haar ook so help.
Dankie dat daar goeie mense is soos julle.
DANKIE VRIENDIN, WESSIE en AL JOU VRIENDE
BLUE EYE












