Gister was d-dag vir ons Blou Oog vriendin. Divorce day. Jip, dis verby. Sy is nou amptelik ‘n loslappie!
Ons het vroeg gery om teen half agt in Bloemfontein te wees. Die hofsaal was vreeslik vol, want daar was nege nuwe prokureurs wat op die rol geplaas is. Ses dames en drie mans. Nogal interessant om die verrigtinge dop te hou.
Teen die tyd dat dit verby was, is ander sake aangehoor, en eers na 12 die skeisake. Vriendin was nommer 58. Teen daardie tyd het haar senuwees al aan een lang flenter gehang. Hoe nader dit aan haar beurt gekom het, hoe stywer het sy my arm vasgeklou. So styf dat ek haar benoude hart kon voel klop. Arme ding.
Toe dit uiteindelik haar beurt is, is die Gesins Advokaat missing in action. Haar saak word toe terug gehou, sodat me Gesins Advokaat eers gevind kan word. Daar is een of ander kwessie rondom die besoekregte van die kinders se pa, wat opgelos moet word. Toe panic vriendin eers! Maar gelukkig is dit uitgesorteer, en die sakie toe afgehandel, alhoewel sy tot heel laaste moes wag.
Die Regter is toe ook ‘n man met ‘n fyn sin vir humor, en ek het ‘n paar keer lekker gegiggel vir hom. Vriendin se huweliksertifikaat is in ‘n vreeslike toestand. Dis al so effens versnipper en geplak met kleeflint. Toe die Regter dit in sy hande neem, merk hy so droog op dat die toestand van die huweliksertifikaat seker die toestand van die huwelik weerspieël. En dit is nogal in die kol!
Omdat my senuwees nou nie so heeltemal op hol was nie, kon ek darem so ‘n paar ander dinge ook om my waarneem. ‘n Ou tannie van 65 het haar man van net oor die 70 geskei. Hulle is in 1961 getroud. Die tannie het heeltyd voor ons gesit, maar ek het regtig nie verwag dat sy daar is om te skei nie! En sy loop met ‘n kierie, baie moeilik. Maar haar saak was nogal snaaks:
Eers was daar vir omtrent 5 minute ‘n gesprek tussen haar en die Regter om te bepaal of sy in Afrikaans of Engels wil getuig. Sy antwoord hom in Engels dat sy in Afrikaans sal getuig. Hoe meer hy vir haar probeer verduidelik dat dit haar reg is om in Engels te getuig, hoe meer dring sy op Afrikaans aan, want sy praat dan al vir 45 jaar Afrikaans!
Advokaat: Kan u asseblief aan die hof die vernaamste redes noem vir die verbrokkeling van u huwelik?
Tannie: My man stel nie meer belang in ons huwelik nie. Hy het a 70 year itch gekry.
Regter: (Met ‘n grin) Nou waar het hy begin jeuk, mevrou?
Tannie: (Lag) Hy het by ‘n ander vrou begin kuier.
Regter: Het sy gekrap waar hy gejeuk het?
Tannie: Nie net sy nie, daar was twee!
Teen die tyd was almal in die hofsaal aan die giggel. Die arme ou tannie ook. Sy is nou ook geskei. Dis eintlik sad. Na al die jare kry die ou man toe ‘n itch wat sy nie kan krap nie.
Links agter ons het twee mans styf teen mekaar gesit. Liefie het hulle vroeër opgemerk en gespot dat hulle seker ook gaan skei. Hy was toe in die kol. Die twee is in Desember 2007 getroud (burgerlik verbind, het die hof dit genoem), maar intussen het die een aan die drink gegaan en die ander ene emosioneel en fisies begin mishandel. Tog sit hulle styf teen mekaar in die bank. Weird.
Toe ons uitloop, merk ek op dat ek hoop nie een van ons hoef weer die binnekant van daardie hofsaal te sien nie. “Nee,” reken Liefie, “ek hoop ook nie so nie. Tensy ek natuurlik ‘n 70 year itch ontwikkel… “
Gisteraand het ons toe vir vriendin en die kinders Spur toe gevat. Die twee kleintjies het dit behoorlik geniet. Kon nie genoeg gespring en gespeel kry nie. Ek dink hulle het morsdood geslaap gisteraand.
Vriendin was nou nie rerig in ‘n party mood nie, ons het maar so ‘n paar glasies wyn gedrink en ietsie geëet. Liefie het toe die ideale manier gekry om haar op te cheer. Hy het vir die kelner vertel dis haar verjaarsdag, want reken hy, dit is mos die begin van ‘n nuwe lewe vir haar. Ek dink dit was ‘n sweet gedagte. Toe sy haar oë uitvee kry sy ‘n sparkler en alles wat saam met Spur se gelukwensings kom! Hehe, sy kon nie help om te lag nie. Mooi foto geneem wat sy kan bêre om die dag te onthou.
Nou is dit ook gedoen. Ek weet die moeilike deel kom nou eers. Ons sal nogsteeds hier wees vir haar. En dankie vir al julle ouens wat ondersteuning gebied het die afgelope paar maande. Sy waardeer dit vreeslik.
Julle moet lekker naweek hou, ek sal Maandag Zee se huiswerk gereed hê.

























