Egskeiding. Dis ‘n groot woord. ‘n Hartseer woord. ‘n Woord en ‘n daad wat lewens vir altyd verander. Dis vir baie ‘n heel laaste uitweg. Ook vir Blue Eye.
‘n Goeie vriendin, wat reeds deur ‘n egskeiding is, het vir my gesê dat sy dit vir niemand sal aanraai om te doen nie. Dit los letsels wat jy vir altyd saam met jou dra. Ek glo dit. Veral as twee mense met kinders saam aan ‘n lewe gebou het wat nou skielik verby is.
Sommige paartjies kry dit reg om deur middel van huweliksberading te red wat te redde is. Weer te begin kommunikeer met mekaar, weer te onthou wat hulle in die eerste plek na mekaar aangetrek het, hoekom hulle vir mekaar lief geword het. Maar as daar mishandeling in ‘n huwelik plaasvind, of oneerlikheid, kan ek nie sien hoe daar iets kan oorbly om te red nie. Dan moet jy ‘n breek maak, en jouself red, hoe moeilik dit ook al is.
Dit is nie die eerste keer dat Blue Eye en haar man uitmekaar is nie. Dit het al ‘n paar keer gebeur. Elke keer gaan ‘n paar maande verby, hy kry weer ‘n werk en ‘n huis, die kinders skuif weer eens na ‘n ander skool, en alles gaan “OK” vir ‘n wyle. Dan begin die proses hom maar net weet herhaal. Hy verloor sy werk. Hy blameer haar. Hy mishandel haar liggaamlik en emosioneel. Die bietjie geld wat wel daar is, hou hy vir homself en koop eerder sigarette en bier as kos vir die kinders. Die huur kan nie betaal word nie. Die kinders moet skuif na ‘n nuwe skool. Die bose kringloop begin weer van voor af.
Ek is baie trots op haar dat sy uiteindelik die besluit geneem het om dit te beëindig. Maar tussen sê en doen, lê daar ‘n gapende afgrond. En die realiteit van “doen”, is dikwels ‘n hengse ontnugtering. En BAIE scary. Vir almal. Vir my ook.
Emosioneel is sy nogal aan flarde. En dit verstaan ek. Skielik is sy alleen, die bed is leeg, en al is hy ‘n blikstottel, was sy eens op ‘n tyd lief vir hom. Natuurlik gaan sy hartseer en verwerp voel. Sy probeer hard om alles bymekaar te hou ter wille van die kinders. En ons probeer so veel as moontlik toesien dat sy nie alleen is om te gaan sit en tob nie.
Sy is bang vir hom. Hy het al voorheen gedreig dat hy iets aan homself en die kinders sal doen. Ons het ‘n ekstra slot aan haar veiligheidshek gesit, sodat hy nie daar kan inkom nie. Hy weet watter sleutel sluit die deur oop. Ek het vir haar my pepperspray gegee vir wanneer sy skooltoe loop met die kinders. Met die opdrag: spuit, gil en hol!
Vandat hy geloop het, het hy nog nie weer enige finansiële ondersteuning gebied nie. Hy het een of twee keer vir die kinders ‘n paar rand gebring, maar as sy vra vir geld sodat sy kan kos koop vir hulle, reken hy sy moenie haar probleem syne maak nie… genade, dis sy kinders wat honger moet ly!
‘n Paar dae gelede het sy uitgevind dat hy weereens sy werk gelos het, en moontlik oppad is Brits toe. Sy het die prokureur laat weet dat hulle moet opskud met die dagvaarding, anders gaan hulle hom nie in die hande kry nie. Op die stadium bly hy by sy suster.
Sy bel hom toe gister en vra dat hy asseblief daar moet wag vir haar vir die volgende uur, sodat sy met hom kan kom praat. En toe bel sy die Balju sodat hy die dagvaardig kan gaan aflewer… Sy was omtrent in ‘n toestand! Bewe van kop tot tone so groot soos sy is, en dreig sommer om om te kap! En ek is besig met ‘n klas, kan haar nie eens gaan ondersteun nie! Arme ding!
Nodeloos om te sê, het ek haar later in trane gevind. Hy het haar terug gebel en vreeslik sleg gesê, en is nogal heel verontwaardig dat sy sy naam “swartgesmeer” het by die prokureur! Reken dat sy maar net kon gesê het hy het haar verlaat! Ekskuus??? Na alles wat hy aan haar gedoen het? Se moer! Hy het natuurlik gedink dit gaan weer wees soos in die verlede, en na ‘n paar maande is alles weer OK. Toe kry hy ‘n hengse verrassing…
Hoe lank die proses nou nog gaan uitrek, en wat volgende gaan gebeur, weet ons nie. En wat gaan die implikasies wees ten opsigte van onderhoud… die man is dan weereens werkloos!
Blue Eye vra dat ek baie dankie sê vir almal se ondersteuning. Julle weet wie julle is. Dankie, elke bietjie help! Die son sal weer skyn.











