Hulle is hier! Amptelik gearriveer en hulle eerste asem geproe op Saterdag, 17 Mei 2008.
Ek het Vrydagmiddag agtergekom dat iets nie lekker is nie. Twee vreemde nat plassies in die TV kamer en kombuis gevind. My nie veel daaraan gesteur nie, maar aangeneem die drukking op haar blaas raak bietjie erg en dat sy nie betyds buite kon kom nie.
Saterdag-oggend staan ek op, en vind die TV kamer in chaos. Al wat ‘n los kombersie en kussing is, is op hope “geskrop”. Iemand maak nes! Maak alles weer netjies, net om ‘n uur later op dieselfde toneel af te kom. En toe sien ek dat Roxy vreeslik bewe, asof sy koudkry, maar sy hyg oopbek na asem asof sy warm kry. En sy wil niks weet van “mandjie toe” nie, sy wil net op die bank of op my skoot wees.
Het haar uiteindelik sover gekry om in die mandjie te bly, as ek dit styf teen die bank skuif. Kombersies uitgehaal, koerante onder die mandjie gepak, en toe raak sy effens rustig. Spike mag net nie naby haar kom nie, dan wil sy hom opvreet. En hy kry die vuilste kyke! If looks could kill…
Teen 13h40 het die eerste reuntjie sy verskyning gemaak. Sy het niks gesukkel nie, en dit was vir my ongelooflik hoe haar instink oorvat en sy presies weet wat om te doen. Maak die sakkie stukkend, kou die naelstring af, en vreet die nageboorte. Van instink gepraat, net hierna was daar iemand by die hekkie, en haar instink was om te gaan ondersoek instel! Ek moes mooi praat en paai en vryf om haar te kalmeer, want toe het sy die reuntjie in die bek, en sy wil net padvat met hom. Wou hom seker gaan wegsteek vir die gevaar!
Om 14h25 was die eerste tefie daar. Deur die hele gebeurtenis, was Spike omtrent erger as ‘n mens-pa. Gee sulke fyn tjankies die hele tyd, maar waag dit nie te naby aan die mandjie nie. Hy klim eerder op my of Liefie se skoot, en druk die koppie tussen ons arms deur sodat hy darem ‘n view kan hê. En hy is die ene ore.
En so wag ons vir die volgende babie. Maar niks gebeur nie. Toe dit al drie ure later is, reken Liefie, nee wat, daar gaan net twee wees. Ek wil die nie glo nie, want haar pensie lyk nie of dit veel gesak het nie. En ek kan sweer ek voel nog ietsie beweeg daar binne. Maar soos die tyd aanstap, begin ek ook maar aanvaar dat dit net die ou tweetjies gaan wees.
Verrassing! Kwart oor nege maak nog ‘n tefie haar verskyning. En tien uur nog ‘n reuntjie. En toe is dit verby. Vier babatjies! En hulle is te pragtig. Almal omtrent dieselfde kleur, so ‘n mix tussen bruin en swart. Ek het foto’s geneem, maar die camcorder neem nie die beste stil foto’s nie. Ek sal vandag vriendin se kamera leen en ordentlike foto’s neem.
Maar min geslaap, ek is wakker die oomblik as een van hulle ‘n geluid maak. Ek is so bang sy gaan lê dalk op een! Gelukkig weet ons sy het genoeg melk vir almal. Daai tieties is behoorlik vol. En die kleintjies is doodgelukkig en volgesuip! Spike kan dit darem nou al so effens nader aan die mandjie waag. Sy het hom al toegelaat om so bietjie te snuffel aan hulle, maar ook net vir ‘n sekond of twee, dan grom sy vir hom. Dan loop hy weg met sulke fyn tjankies en kom wees smartvraat op my skoot. Arme ou ding! Gisteraand het hy soos ‘n weeskind sy kombersie geskuif tot so voor die mandjie, en maar daar geslaap!
Die eerste tweetjies. (Alles is rooi, want hulle is onder ‘n infrarooi lig vir hitte) Hier kan mens sien hoe groot is die pensie nog!
Mamma Roxy met al vier saam, doodgelukkig met vol spensies.
Pappa Spike loer ook so bietjie.














