Ek het hierdie vir Bosparra geskryf:
Daar is onweerswolke op die blog-horison. Sulke donkeres. En van veêer af kan die bliksemstrale gesien word.
Is ons nie ‘n vreemde spesie nie? Bloggers, bedoel ek. Dit voel soos in my skooldae toe jy aan ‘n sekere “kliek” moes behoort het voordat jy raakgesien of gehoor word. Of enigsins bestaan het. Kyk maar net na die hele slakke en parras kwessie… Ai, en ek het gedink ons word groot en ontgroei dit. Maar ons het tog nie werklik nie. En of jy nou wil of nie, erens gaan jy in ‘n sekere blik gedruk word.
Ek is nie sommer naweke op die internet nie, eenvoudig omdat dit dan tyd is om aandag aan my gesin en huishouding te gee. (Vrydag-aand was ek bietjie alleen, en het heerlik saam met julle gekuier, dankie!) Dus het ek eers Maandag oggend agtergekom van die hele Litnet debakel. Almal het nou al seker iets te sê gehad daaroor, maar ek wil darem ook so ‘n ou stuiwertjie in die armbeurs gooi.
Ek is hopeloos te bang-gat om daai ouens te gaan aanvat, OF te join. Hulle sal met hogere woorde en begrippe waarvan ek nog nie eens gehoor het nie, maalvleis van my maak! Om hier op Bosparra iets te kom tjorrel, is in elk geval ver genoeg uit my comfort zone uit!
Eintlik loop ek al met hierdie possie in my mind vir ‘n week of twee. Nie oor Litnet nie, maar oor blogs in die algemeen. En ons interaksie met mekaar.
Ek is baie gelukkig met my blog (kliek) by WordPress. Dis lekker daar. Die mense ken my, en ek ken hulle. Ek geniet my Bioplus in die oggend saam met hulle, en kry idees oor wat ons vanaand gaan eet wat nie te vet maak nie. Ek sien hoe lyk die matriekafskeidrokke en foto’s van 20 jaar gelede, en wys weer vir hulle hoe klein is die baba Worsies wat Saterdag aangeland het. Hande word uitgestrek en ons bemoedig mekaar wanneer dit nodig is, huil saam as iemand iets of iemand verloor, raak heel laf en simpel by sommige inskrywings, en weer stil en ernstig by ander. Sommiges neem ons op reise deur die wêreld en maak ons met foto’s deel van hulle ondervindings. Persoonlike ondervindings. Nie prentjies uit iemand anders se boeke nie.
Ek is gemaklik daar. Ek sien dat ek die naweek my 30 000ste besoek gehad het sedert Oktober 2007. Ek weet niks van blogstats en sulke goed nie, maar dis nice, dink ek. Vir die ouens wat langer blog, is dit seker nie snaaks nie, maar vir my is dit moers! En ek kry selfs redelik gereeld kommentaar! DIS nou lekker! Ons almal wil mos maar gehoor word. Wel, gelees word, in hierdie geval.
Dit beteken ook dat my blog nie net ‘n leë kardoes is wat in die kuberruim ronddryf nie. Iemand geniet dit wat ek daar deel. En ek kan dit deel sonder om woordeboeke rondom my te versamel, ek kan maar my tale soms meng, en ek hoef nie altyd honderd persent reg te spel nie, en ek kan vreeslike lang sinne maak. Ek mag maar ‘n drankie geniet, en selfs soms die stoute skoene aantrek om iets soos ‘n stripshow te gaan kyk omdat ek nuuskierig is en ek hulle daarvan wil vertel. Want dis wie ek is. Ek hoef nie grade te hê om lekker saam met iemand te kuier nie, en ek kan maar effens kommen ook wees as ek wil.
So met die tyd, kom mens ook agter op watter blogs kan jy behoorlik lostrek, en waar moet jy maar eerder jou woorde versigtig kies. Sommige blogs is soos persoonlike joernale, ander het spesifieke temas. Oor die algemeen is daar ‘n gevoel van wedersydse respek. Lewer kommentaar ordentlik, let op jou taalgebruik. Maar soms is ‘n “fok” of “donner” nodig om die regte emosie weer te gee. En dan is daar natuurlik ander plekke waar jy kan lostrek soos jy wil. Vir my persoonlik, geld net een reël: as ek more hierdie kommentaar lees, gaan ek nog respek hê vir myself? En kommentare het so ‘n nare manier om jou te volg oral waar jy gaan. Mense begin jou daardeur ken. Is dit die beeld wat jy van jouself wil uitdra? Is dit wie jy is? Antwoord maar self op daardie ene. Ek was al baie spyt en soms baie skaam oor goed wat ek sommer so op die ingewing van die oomblik kwytgeraak het.
Ek het begin blog as ‘n stokperdjie. En ‘n stokperdjie is mos iets wat jy geniet om te doen in daai tydjies wanneer jy nie swoeg en sweet om kos op die tafel te kry nie. Vir die lekker daarvan. Ek bespreek juis daarom nie vreeslike swaar en morbiede kwessies nie, want hierdie is my afleiding. Ek wil nie vir myself nog werk maak deur navorsing te gaan doen oor iets nie. Maar ek is ook ‘n gewillige leerling op die blogs waar mense ernstiger kwessies bespreek, wat my belangstelling prikkel. Daar lees ek en leer, maar hou my kommentaar vir myself as ek niks van die onderwerp weet nie! Ek kan nie dig nie, ek kan nie sing nie, ek kan nie dans nie. As ek baie hard probeer, sal ek seker ‘n heel skaflike matriek opstel kan baasraak… maar ek wil nie, want dit klink te veel na werk.
Die afgelope paar weke het ek ernstig begin wonder of dit nog vir my lekker is. En toe weer besef dat ‘n mens nie al die mense altyd gelukkig kan hou nie. Ons smaak verskil tog. Ons kan onmoontlik nie saamstem oor alles nie. Dis wat alles so interessant maak! Maar ons kan mekaar die spasie gun om ‘n opinie te hê, foute te maak, verkeerd te spel en tale te meng. En miskien so bietjie selfsugtig te wees en aan jouself eerste te dink. Soort van – please yourself, not the crowds. Die ene werk goed vir my, aangesien ek nie ‘n celeb is nie.
Dus, klieks sal daar altyd wees. Vind maar die ene waar jy gemaklik voel. Of observeer die ander eers so bietjie voor jy jou voet in jou mond sit. Ek beywer myself nie vir lewenslange roem as gevolg van my blog nie, ek wil net ‘n bietjie pret hê. Is dit nou soveel gevra?











