Ek lees vandag raak dat wetgewing binne die volgende twee weke deurgevoer gaan word wat ‘n verbod sal plaas op die afsny van ‘n hond se stert. Het jou honde sterte?
Ons het ‘n swart Labrador gekry toe ons net getroud is. Sy naam was Bowzer. Genoem na die grootbek met die diep stem, van “Sha Na Na“ – onthou julle? (Nee toemaar Demoerin, jy en Adrie sal nie ‘n clue hê waarvan die grootmense hier praat nie! Hehe!) Anyway, Liefie het my een middag by die werk kom haal, en toe ek in die kar klim, wriemel hierdie pikswart hondjie met ‘n waaiende stertjie onder die sitplek uit om my te verwelkom.
Soos klein hondjies maar doen, het hy baie groter geword. Sy stert ook. Hy kon snaakse goed doen met sy stert. Wanneer hy soggens wakker geword het, het hy more gesê deur net sy stert te swaai terwyl hy nog in sy hok lê, te lui om uit te klim. As ek van die werk af gekom het, het sy stert die absolute plesier weergee van sy blydskap om my te sien. As hy wou hê ek moes sy ore krap, het hy my met sy stert teen die bene kom piets. Wanneer hy stout was, soos om koffietafels met sy stert om te gooi, het hy stert tussen die bene in sy hok gaan wegkruip. Wanneer hy voëltjies bekruip het, het die hare tot op die punt van sy stert regop gestaan. As hy by my voete gelê het, en sy stert begin klop teen die mat, het ek geweet hy hoor daar is iemand by die hek. Wanneer Liefie laat gewerk het, het sy stert eerste vir my laat weet dat hy oppad was, so asof sy stert die vibrasies kon aanvoel.
Die Worse se sterte vertel ook hulle eie stories. So reguit soos ‘n vlakvarkstertjie as hulle gaan ondersoek instel na vreemde geluide, ‘n stertswaai wat die hele lyfie swaai as bekendes verwelkom word, so ‘n halfmas enetjie soos ‘n slap kabel as hulle smartvraat speel.
Aan die ander kant, kan ek my nie voorstel hoe moet ‘n Dobermann of Rottweiler, selfs ‘n Jack Russell, lyk met ‘n stert nie. Maar hoekom is hulle sterte in die eerste plek afgesny? Wie het besluit dat ‘n hond met ‘n stomp stert mooier of beter is as een met ‘n gewone stert? Sommiges reken dis omdat hulle sterte aan bosse vashaak as hulle jag. Nou hoekom het ‘n kat dan ‘n stert? Hy is mos ook ‘n jagter, en sy stert kan aan baie meer goed vashaak terwyl hy rotte en muise jag.
Telers is glo nie baie ingenome met die nuwe wetgewing nie, en sommiges doen dit sommer self as ‘n veearts nie wil nie. Darem onder verdowing, wanneer die hondjies vier tot vyf dae oud is. Ingevolge wetgewing kan hulle dan nou vervolg word.
Ek wonder of ou Bowzer dieselfde sou gewees het sonder ‘n stert? Ek dink dit sou my herinneringe aan hom minder gemaak het. Daai stert het ‘n hele paar koffietafels, bekers en fase se einde beteken!












Adrie said,
Mei 22, 2008 @ 10:43 vm
Tannie Dellie
Jy moet dat ons nou vassit. GMF!!! Jeug beteken nie onder die klip nie en Grease is ‘n classic wat almal gesien het. Sha na na was die band in die dance off.
In elk geval, honde met lang haar se sterte word nie gesny nie. Ek weet ook nie hoekom word kort haar brakke se sterte gesny is nie. ‘n Rotweiler met ‘n kort stert gaan koddig lyk.
Ek verstaan nie die sin agter die wet nie. Skape se sterte word ook afgesny met goeie rede. Daar is seker nie ‘n goeie rede dat ‘n hond se stert afgesny word nie (ek dink persoonlik dit is kosmeties), maar is daar ‘n goeie rede dat dit moet bly?
Paula said,
Mei 22, 2008 @ 10:45 vm
Weereens ‘n mooi inskrywing
As die stertjies onder verdowing afgesny word en onder ‘n vearts se toesig kan ek nie die nadeel daarin sien nie?
Gelukkig het ons nie die probleem nie. Beide my hondjies is Pomeranians met stertjies wat op hul rug gekrul lê. Ek kan nie hulle indink daarsonder nie
BB said,
Mei 22, 2008 @ 11:06 vm
Hmmm – ou Bowzer: “Good night, and grease for peace” en ShaNaNa sing in die agtergrond “Good night, swe-e-eet heart, gooooood niiiiiiight”
Die ou gaan veearts toe en vra om Fluffy se stert te laat afsny. Veearts vra hoekom?? Hy seg: “My skoonma kom volgende week kuier en ek wil nie hê sy moet dalk dink sy is welkom nie”
Wipneus! said,
Mei 22, 2008 @ 11:30 vm
Ek onthou Bowzer
My hond se stert sê ook vir my baie. As hy eers so stert tussen die bene rond loop, weet ek hy is of siek, of hy was stout. Hy het baie geite aan hom die “Shane” van my…as ons hom deesdae roep en hy is nie in ‘n “bui” nie, draai hy sy kop so skeef in ‘n ander rigting en maak of hy ons nie hoor nie. Kan jy dit glo? Shane kan deurgaan as ‘n mens….. Teddie sê natuurlik hy aard na sy eienaar, dis nou ek
Pikkelik said,
Mei 22, 2008 @ 11:44 vm
Ek weet wragtig nie. Ek het nog nooit ‘n afsterthond gehad nie, ek hou nie daarvan om ‘n hond se holletjie te sien nie. My Chow’s het sullke mooi waaiersterte wat hulle kan swaai dat die hare soos ‘n wafferse supermodel s’n heen en weer beweeg.
In alle geval dink ek dit is stupid om tyd te mors met sulke ‘wette’ as die land besig is om uitmekaar te val…
kaalvoetinireen said,
Mei 22, 2008 @ 11:59 vm
Maak dit regtig saak of ‘n hond ‘n lang of kort stert het? Mens kry tog nie ‘n hond vir die lengte van sy stert nie…alhoewel ek tog dink dat sommige honde snaaks sal lyk met lang sterte, maar dis seker ook maar net omdat ons so gewoond is daaraan om hulle so te sien. Ek stem saam met Pikkie dat dit tydmors is. Is daar nie ander meer belangrike goed wat aandag moet kry nie of is dit net ek???
Meermin said,
Mei 22, 2008 @ 12:37 nm
My boerboel het so krom stert want die stertjie is in die ma gebreek, ons kon ook nooit die stertjie laat afsny nie, nou loop hierdie boerboel van my maar met sy krom stertjie!! My katte weer het sulke dik sterte, die mooiste sterte denkbaar!!
Eben said,
Mei 22, 2008 @ 1:08 nm
Dellie wys jou net met watter k@k hou ons mense hulle besig terwyl die land brand. Ook geen wonder Mbeki vlug land uit, want sy regering wat hy gekies het worry oor hondsterte …. ai ai ook lekker onnosel
‘n Hond met ‘n stert kan ‘n vinniger en korter u-draai maak as een sonder stert.
demoerin said,
Mei 22, 2008 @ 2:43 nm
Ek onthou actualy Sha Na Na, vaagweg, maar tog. Ek weet nou nie lekker nie, moet stem…’n Rottweiler met ‘n stert?
Dellie said,
Mei 22, 2008 @ 2:55 nm
Mmm, Demoerin, jy is toe nie so jonk soos wat jy voorgee nie, né?
boendoe said,
Mei 22, 2008 @ 5:32 nm
Nee wat, ek is nou nie ‘n dierelover nie, maar dit voel alte veel na wreedheid om die sterte af te kap omdat die base dit so like. Dis amper soos sirkumsisies – eintlik onnodig. Die Jode het vir 40 jaar in die woestyn rondgedwaal, dis waarom dit destyds sin gemaak het. Nou het ons seep en water. Maar die arme honne? Watse verskoning is daar vir hulle? Viva sterte!
krista said,
Mei 22, 2008 @ 7:35 nm
Sekere soorte lyk net nie goed met sterte nie – soos foksies, boerboele, rotties en jack russels.
Anyway, ek luister gereeld na Sha-na-na op youtube, hulle het ‘n paar clips daar. Is my fav musiek!
demoerin said,
Mei 23, 2008 @ 7:02 vm
@ Dellie, net ‘n baie goeie geheue!
corlivandermerwe said,
Mei 23, 2008 @ 12:40 nm
My honde sê alles wat hulle voel of dink met hulle sterte. As Jack baie opgewonde is staan daai stert van hom kiertsregop maar as hy vir Danny verkla oor sy sy speelgoed vat hang hy halfmas. Dis nou maar worsies vir jou!
chrystelle said,
Mei 23, 2008 @ 2:26 nm
Jou inskrywing en die rubriek wat Willem Pretorius in die Volksblad van 22 Mei oor die afkap van honde se sterte geskryf het, kom merkwaardig baie ooreen. Ek geniet jou blog, en veral die oorspronklikheid. Dit bly nie lekker om iets te lees wat te veel met iets anders vergelyk nie.
Dellie said,
Mei 23, 2008 @ 2:57 nm
Chrystelle, welkom, dis lekker om iemand van Welkom raak te lees. En jy is reg! Ek het dit gou gaan lees op Volksblad online, want ek het nie eens Donderdag se koerant onder oë gehad nie. Dis nogal scary.
Maar as jy gewonder het, ek het die hele kwessie hier raakgelees toe ons vir iemand se kind inligting oor ‘n taak gesoek het: http://www.savc.co.za/taild.htm
Bly jy geniet my blog, kom kuier gerus weer!
Dadada dadada dadum… « Pikkelik se Blik said,
Mei 23, 2008 @ 7:00 nm
[...] dadada dadum… Posted on May 23, 2008 by Pikkelik Dellie het daaroor geskryf en dit pas so lekker in by hierdie week se tag – Lekker [...]
rosalindfranklin said,
Mei 24, 2008 @ 5:10 nm
My honde het sterte maar ek kan op die aarde geen rede insien dat ek ooit hulle sterte sou wou afsny nie. Ek dink dit is wreed, hulle kommunikeer dan met dit?
Dit kan net seer wees, ek geen nie om wat die verskoning is nie.
maxie said,
Mei 25, 2008 @ 10:51 nm
Stem saam met Rosie. En volgens veeartse IS dit wel seer. Ek sal dit nooit aan ‘n dier doen nie.