Archive for Mei 28, 2008

Hotdog, anyone?

Julle moet nou maar gewoond raak daaraan dat ek die klein Worsies se foto’s gaan GOOI vir die volgende paar weke. Ek speel so lekker, en kan nie wag dat hulle ogies oopgaan nie.

Dit gaan goed met hulle almal, spekvet gesuip en Ma Roxy lyk ook nie sleg nie. Dis nou nie meer die pensie wat hang nie, dis net tt’s. Dit lyk nogal funny as hulle net klaar gesuip het, al die tt’s aan die eenkant is leeg! Maar almal is happy. ‘n Vreemde ding wat my opval, is dat Spike vreeslik “help” met die babas. Hy klim saam in die mandjie, en as Rox bietjie gaan bene rek, pas hy babas op.

Die geringste geluidjie, en hy is by. Hy ruil selfs doeke! Hehe! Is dit hoe honde dit doen? Ek het nog nooit so ‘n gesinnetjie bymekaar gesien nie, en verkyk my aan hulle spanpoging. Ek dog dis net die ma wat sorg vir die babas.

Die pajamadril is darem nou minder, want Spike het besef daar is nie regtig plek vir hom in die mandjie in die nag nie. Hy lê soms half bo-op die kleintjies, en dan sit hulle behoorlik ‘n keel op. Nou maak hy homself maar toe in sy kombersie langs die mandjie. Ek het ‘n bamboes mandjie ook wat ek vir hom reggesit het, maar hy het my na ‘n nag laat weet dat hy nie daarvan hou nie, deur die kante stukkend te kou. Hy verkies net sy kussing en kombers! Daai blou bondel langs die mandjie, is Spike.

Bib het so gespot dat hulle in Korea klein honkies vir brekfis eet, en toe onthou ek ‘n foto wat ek eintlik al moes geneem het toe hulle net ‘n dag of wat oud was. Hulle groei ongelooflik vinnig! Warm brakkie, enigiemand?

Comments (31) »