Vreemde mense

Ek onthou hierdie gesin uit my kleintyd, juis omdat hulle so “vreemd” was. Hulle was anders as ons, en mense het vir hulle gelag. Sommiges agter toe deure, sommiges sommer in hulle gesig. Ek was te klein om te onthou of dit hulle gepla het op daardie stadium.

Wanneer Bettie-One-Light en haar man Ben-Grootlieg, en hulle ses seuns,  in ‘n nuwe huis ingetrek het, het almal asem opgehou. Want hulle kon ‘n nuwe huis binne ‘n week demote na murasie toe. Rerig. Die kinders het mekaar in die kombuiskaste se laaie in die huis rondgestoot of gesleep, dat die skaafmerke oral sit. Die nuwe kaste en teëls was binne dae in ‘n verskriklike toestand. Skottelgoed was, was iets waaraan hulle nie geglo het nie. Nie elke dag nie, in elk geval. Die mense wat dit wel tot in die kombuis gewaag het, vertel dat sommige stapels borde en potte gelyk het of dit lewe…

Daar is sokker gespeel in die huis, en baie gou was ‘n paar ruite ook stukkend. Die agterdeur se onderdeur het net aan een skarnier gehang, en die sifdeur was, wel, sif.

Al die kinders het bed natgemaak, en die beddegoed is nie elke dag gewas nie. Sover as moontlik het almal dit vermy om die huis binne te gaan. Die stank was ondraaglik. Wanneer die beddegoed wel buite beland het, is dit sommer so oor die heiningdraad gegooi om net droog te word en vars lug te skep. My pa het dit pisvelle genoem. Ek sal daai woord nooit vergeet nie.

Op die eerste dorp waar ons saam met hulle gewoon het, en hulle leer ken het, het hulle hul name gekry. Bettie-One-Light is so genoem omdat sy ‘n dik swartraam bril gedra het met net een lens. Blykbaar vir jare. Bad en harewas was ook nie hoog op haar lysie nie, en ek onthou haar vetterige bob haarstyl baie goed. En die lang beenhare. Crimpelene rok en die visplakkies wat sy altyd gedra het. En die vuil toonnaels. Ek het haar nooit in ander skoene gesien nie, nie eers in die winter nie. Sy was ook nie die maerste dame op aarde nie, en het glo nog soos gewoonlik oor drade na die bure geklouter toe sy agterkom sy is agt maande swanger. Dit was toe nommer sewe, die enigste dogtertjie.

Ben-Grootlieg het vreeslik grootgepraat ook. Hy het altyd ‘n geel of oranje hardehoed gedra. (?) Hy was lank en skraal met die liggaamshouding van ‘n vraagteken. Ten spyte van die vuil huis, het hulle altyd Springbok of Rooibok biltong gehad. (Wat hulle natuurlik alleen verorber het, almal aan wie aangebied is, het dit baie ordentlik van die hand gewys!) Daar is blykbaar hard met hom gepraat oor die skelm skietery, maar sy verweer was dat hy nie die bokke geskiet het nie. Hy het doodonskuldig langs die pad in die donker gestop om water af te slaan, en dan het die bokke sommer aan die hoofligte van sy bakkie kom ruik. Toe besluit hy om hulle maar met die wielspanner oor die kop te donner en op te laai. Hoe kan die mense dan nou dink hy lieg?

Toe ons verhuis, was dit nie lank nie, of hulle was ook op die nuwe dorp. Pa en Ben-Grootlieg het albei vir dieselfde staatsdepartement gewerk. Teen hierdie tyd het die kinders se ouderdomme gewissel van 16 tot 3.  Ek was omtrent 12. Die twee oudste seuns het ‘n poging aangewend om die huis, of ten minste die kombuis, skoon te hou. Hulle was ook verantwoordelik vir kosmaak en die groentetuin. Daai arme kinders het gewerk, almal van hulle. Elke naweek wat ons by die huis was van die koshuis af, en elke vakansie.  Ek kan nie onthou dat ek ooit vir Bettie-One-Light op ‘n ander plek as langs die agterdeur op ‘n plastic stoel gesien het nie. Daar het sy net gesit. Nie gelees of gebrei of iets nie, net gesit. Met haar arms oor haar maag gevou.

Daar was nie ander maats nie, en soms is die seuns bietjie vrygelaat om te gaan swem of speel. Ek het so af en toe my asem opgehou en saam die huis binne gegaan. Dit was donker en bedompig daar binne. Geen kantgordyne wat bietjie sonlig deurlaat nie. Net dik lappe voor die vensters wat die donkerte binne hou. Daar was nie eintlik sprake van ‘n sitkamer nie. Of as daar was, kon ek dit nie sien onder die hope klere wat die hele plek volgelê het nie. Maar daar het ek ook die streep getrek – g’n mens sou my in die slaapkamers kry nie! En ek was ook nooit honger as daar geëet word nie…

Een seun was my ouderdom, en in my klas. Daar het ek hom leer ken en hy was nie te bad nie. Maer en witblond met tande soos ‘n hamster. By die skool was hy skoon, en daai reukie het nie aan hom gehang nie. Maar hy was vrekbang. Vir enige ding. As jy net hard praat langs hom, wip hy soos hy skrik. Een Vrydagaand by die huis was ek baie verveeld met myself. Toe besluit ek om vir Nico bietjie te gaan skrikmaak. Kry ‘n ou lanken, nie eers wit nie, dit was ‘n blommetjies gedoente soos Altus se hemde, maak gate in vir die oë, gooi die ding oor my kop, en sit af na hulle huis toe. Daar gekom, sien ek deur die venster die hele gesin is in die kombuis, sommiges besig om te eet, sommiges besig om skottelgoed te was. Nico is naaste aan die agterdeur. Ek klop. Hy maak oop en ek skree “whaaaa” met my hande in die lug. Nico verstar net so met groot oë, raak nog bleker as gewoonlik, en slaan agteroor soos ‘n paal terwyl ek histeries aan die lag gaan. Julle, hy was amper dood! Hoe moes ek nou weet hy was nog besig om aan iets te kou, en dat die skrik hom gaan laat verstik??!! Hy het vir weke daarna nie met my gepraat nie.

Ten spyte van hulle vreemde gedrag en huishouding, was die kinders baie gehoorsaam. As pa Ben gepraat het, was dit ‘n geskarrel van ‘n ander wêreld soos wat die mannetjies hol om te doen wat hy vra. As daar nie geluister is nie, is die belt summier afgeruk en het die gille in die buurt weergalm. Gelukkig nie te dikwels nie. Hulle het gou geleer.

Ek wonder wat van hulle geword het? Die laaste keer wat ek hulle gesien het, was die Desember vakansie voordat my mammie oorlede is. 1983. Intussen het die lewe met ons almal vreemde draaie geloop. Ek hoop hulle het ‘n gelukkige paadjie gevind.

16 Responses sover »

  1. 1

    demoerin said,

    Lekker leesstorie! :lol: @ pisvelle

  2. 2

    meermin said,

    Dellie hoe vat jy ou terug na baie baie jare, my ouers het ook allerhande byname vir vriende en bure gehad, ronde Piet, Piet kak praat, Lang Ben, Dik Frik, 10 to 2 (die een ou se bene het altyd so gaan staan), piesang hande, Piet kortgat, my eks was Piet skiet, die een ou het ‘n baie lelike bynaam gehad, kan dit nie hier sè nie!! Lekker dag vir jou!!

  3. 3

    TristonJ said,

    Aarde maar jy het n talent om n storie te vertel… ek het so n vriendin op skool gehad…. as dit kombuis skoon maak tyd is dan staan die pa by die agterdeur met n brandslang in die hande en maak oop!! en daai klere wat skoon en vuil level met die banke in die sitkamer gestaan het… dis nou wanneer jy kan raai waar die sitkamer stel is!

  4. 4

    Tersia said,

    LOL! So lekker om te sit en ontspan hier by jou!

  5. 5

    :lol: Jislaaik, ek het nou lekker aan die storie gelees so met die rillings en al wat hier teen my rug afrol!

  6. 6

    neykie said,

    Dis rerig ‘n lekker lees storie Dellie. :lol: snaaks hoe mens later wonder oor wat van die mense geword het wat vir ‘n rukkie jou pad gekruis het.

  7. 7

    BB said,

    Bitter, bittersweet story somehow… :(

  8. 8

    Wipneus! said,

    Ek het nou so lekker gelees en gelag maar dit is eindelik hartseer!!

    Ek wonder ook wat van die kinders geword het, ek hoop hulle is gelukkig :(

  9. 9

    Zee said,

    Dellie, jy kan darem maar ‘n storie vertel hoor!!
    Het jy nie al daaraan gedink om ‘n kortverhaal boekie te skryf nie!
    :lol: @ pisvelle, het lekker gelag hoor!

  10. 10

    Marina said,

    Ai Dellie jy maak die terugdink in mens los. Daar was sulke snaakse mense in ons kleintyd ook. Onder andere “Auntie Rathbone” Sy was die duiwel se vrou vanself. Ek was vrekbang vir haar.As ek by hulle huis moes verbyloop het ek altyd na die oorkant van die pad geloop. Haar seuns was ook sulke wilde “ducktails”
    Dankie vir die lekker storie!!!

  11. 11

    Baie goed vertel Dellie. Vreemd as mens nie geleer word om skoon te wees nie, sal jy dit nie doen nie.

  12. 12

    Suz said,

    Dit is eintelik sad, as jy daaraan dink dat ouers ‘n kind se toekoms kan maak of breuk met hulle opvoeding. Die oumense kon darem die snaakste name vir mense uitgedink het. Onthou my tannie het altyd van haar 1 neef gepraat as “rondom lelik”, dan was daar ook ‘n rooi piet ook en die ander name kan ek nie eers meer onthou nie.

    En noudat ons so by name en goed is, daar was in die ou dae mos baie mense wat dieselfde name in die familie gehad en dan het die oumense mos gepraat van anna van klein piet van sannie. Gelukkig is daar darem nie meer vandag so baie familie wat dieselfde name het nie.

    Mooi aand vir julle

  13. 13

    Pikkelik said,

    Baie goeie inskrywing… Ek voel amper te skaam om te sê ek het gelag, maar dit was ‘n lekker vertel met ‘n sad kinkel…

  14. 14

    Dellie said,

    Pikkie, moenie sleg voel omdat jy gelag het nie – ek dink met ‘n smile terug aan hierdie mense. So half bittersweet soos BB sê. :wink:

    Zee! :shock: Ekke, kortverhale skryf? Nee jinne, nog nooit aan myself gedink as iemand wat kan skryf nie! Ek vertel net soos ek onthou… :mrgreen:

    LOL Marina, ek sien hoe loer Auntie Rathbone deur die venster vir jou… hehe! :lol:

  15. 16

    Eben said,

    Soos die meeste comments bo … neem jy ons ook bietjie weg na gister. Na ek klaar gelees het, wonder ek wat het van die een en daardie een geword.

    Gewoonlik – nie altyd en daar is uitsondering – val die appel nie ver van die boom, en die kinders (in baie gevalle) het maar daardie gene in hulle om te wees soos hulle groot geword het.

    Laat weet asb net onder watter skuil naam jy jou kort verhaal boekies op die rak laat plaas !! :)


Comment RSS · TrackBack URI

Say your words