Archive for Oktober 14, 2008

Semi-final troue

Hoekom is dit so dat ‘n simpel gebeurtenis in ‘n plek waar mens veronderstel is om stigtelik te wees, (soos ‘n kerk) so histeries snaaks kan wees dat jy nie kan ophou lag nie?

Picture this…

Saterdagmiddag 4uur woon ons ‘n troue by. Teen kwart voor sit almal al en wag vir die bruid, want dis te warm om buite te staan. Toe word dit nog warmer in die kerk ook. Maar daar sit ons, netjies uitgevat en heel rustig en kalm. Ds spot nog so dat as daar meer Bul ondersteuners as Cheetah ondersteuners in die kerk is, hierdie ‘n laaaang diens gaan word… gelukkig is ons toe in die minderheid. Maar eintlik dink ek Ds het die warmste van almal gekry.

Die bruid kom die kerk binne, en sy lyk pragtig. Ek is effens verbaas om haar in ‘n tradisionele rok te sien, aangesien dit nie een van hulle se eerste huwelik is nie. Maar sy lyk nietemin stunning en neem haar plek langs haar aanstaande in.

Die preek is mooi. Kort en kragtig. En ek het aandagtig geluister en ek kan dit nou weer bevestig – Adam het in ‘n diep slaap verval sodat Eva uit een van sy ribbebene gevorm kon word… maar nerens staan daar dat hy weer actually wakker geword het nie! Dit verduidelik dalk die dade van ‘n paar mans, dames…  Hie-hie!

Toe Ds met die bruidspaar begin praat, wonder ‘n paar van ons of sy met die regte man trou… want dit wat Ds hom noem, en die naam waarop ons hom ken, is twee heel verskillende goed … en daar sit ‘n paar van ons toe reeds met ‘n grin om die mond toe die volgende gebeur…

Presies op die oomblik toe Ds sê: “Die huwelik is ‘n gelyke vennootskap tussen man en vrou…” gaan iemand se selfoon aan die lui… en met watse ringtone? “Achmed the Dead Terrorist” se demoniese laggie… whahahaha… en die foon is in haar handsak, dis ‘n mission en ‘n half om by die ding uit te kom om hom net stil te maak… Intussen gaan sommiges aan die giggel, party hou hulle pose baie mooi en sit roerloos, ander se gesigte is bloedrooi en terwyl hulle op en af hop, loop die trane geluidloos oor hulle wange… hier en daar ontsnap ‘n gedempte snork of snik… en vir die res van die seremonie staar almal net na die grond of voor hulle uit, te bang om vir mekaar te kyk en die gevaar te loop om uit te bars van die lag! Ons was wel histeries toe ons buite kom!

Daar was nie tradisionele confetti nie, ons moes bubbles blaas. Dit was nie ‘n reuse sukses nie, want mens blaas jouself lighoofdig en dan maak die bubbles so ‘n short left by die paartjie verby, en verdwyn om die hoek van die kerk op hulle eie mission. Of jy moet basies OP die paartjie staan, en dan beland die seep van die bubbles in hulle oë, of bars in sulke kolle op ander mense se klere. Die kinders het later by die onthaal darem heerlik daarmee gespeel!

Die saal was pragtig versier in wit, silwer en pers, en die mure en dak behang met rolle en rolle kantmateriaal. Klein liggies wat oral flikker, kerse en lampe in die hoeke en op die tafels.  Maar geen kans vir ‘n venster om oop te wees nie, en geen waaiers nie. Ons gebruik toe maar die verskoning van “te warm binne” om buite in die koelte om iemand se kar saam te drom en die game te luister op die radio. Ons wag in elk geval nog vir die bruidspaar om terug te keer van die fotosessie af.

Intussen kry ek ook kans om een van my gunsteling dinge te doen – mense kyk. En soms as ek dit doen, merk ek baie eienaardige dinge op wat niemand anders skynbaar raaksien nie. Soos die dame met die mini en die tan sykouse by haar swart sandale… (sy het miskien nie tyd gehad vir skeer nie?) en die dame wat sowaar net een voet se toonnaels geverf het! Hie-hie, sy het twee baie bedrywige kindertjies, en ek kan net raai wat alles in daai huis aan die woel was voordat hulle die troue net-net betyds gemaak het! En dan was daar die man met die “haarstyl” – dis baie moeilik om te beskryf, maar dit lyk basies of ‘n kameelperd sy tong in ‘n bottel jel gedruk het en hierdie ou toe van skuins bokant sy boude af vorentoe gelek het tot by sy neus. Maar die man het dalk nie ‘n spieël gehad daar waar hy aangetrek het nie…

Presies 5 minute voor die einde van die game, roep die seremonie monster ons om nou in te kom saal toe, die bruidspaar is oppad. Pure spitefullgeit reken ons, hy kon darem nog 5 minute gewag het… maar teen daardie tyd het ons nie veel omgegee nie, die Bulle het toe al klaar gewen. Ons is nie baie Bul ondersteuners in ons groepie nie, maar vir die res van die aand het ons sekergemaak ons trek die Cheetah’s se siele behoorlik uit. Gelukkig alles in goeie gees. En ons is nog welkom by hulle huise. Hie-hie!

Die kos was lekker en baie. Hulle het ‘n varkie en ‘n skapie op ‘n spit gehad, met slaaie. Erens na tien het die meeste familie van die bruidspaar gegroet. Al wat oorgebly het, was ons klomp vriende, omtrent so 30 van ons. En toe begin die pret behoorlik! Niemand sit ‘n dans uit nie, en niemand worry meer oor hoe hulle danspassies lyk nie, want dis net pels wat oor is. Op die ou end het almal either ‘n silwer of pers stoel versiering om die kop gehad. ‘n Paar selfs om die nek sodat hulle lyk soos katte met strikdasse. Selfs die bruid en bruidegom het saamgespeel. Gelukkig het ons nie op die tafels gedans nie…

Hier teen eenuur het die bruidspaar uiteindelik koers gekry, en nie lank daarna nie het die DJ ook opgepak. Maar ons was nog nie klaar gekuier nie, en is toe vort na iemand se huis toe waar ons basies gaan sit en tjol praat  en grappies vertel het tot in die vroeë oggendure. Half vier Sondag oggend het ek die bedliggie afgesit…

Baie geluk julle twee, mag julle bootjie veilig vaar. Dankie dat julle ons vriende is en ons hierdie besonderse dag met julle kon deel. Dit was ‘n awesome troue!


Comments (19) »