Julle kan my inskrywing vir vandag by kommintaar.com gaan lees.
Spesiaal vir jou BB, sal ek die possie maar nou hier ook plaas.
Wat maak oom Kallie daar?
Ons het 10 jaar terug ‘n woonstelblok gekoop. Op ‘n dubbel erf. Op die voorste erf, woon en werk ons. Op die agterste erf is daar net vier garages. Voor die gebou is ‘n groot stuk oop sand. Amper soos seesand, maar net rooierig. Op daai “strand” het ons al beach parties gehou met bonfires and all.
Een van die woonstelle is ingerig soos ‘n kroeg. Op grondvlak, natuurlik. Lekker kuierplek. Nou kyk, ons is mense wat nogal gereeld sosiaal verkeer. En ons is effens loud. Ons het pels wat sommer hulle hele kareoke systems hierheen bring, en dan raak dit vet pret. As jy inni Vrystaat bly, skep jy jou eie entertainment – anners gaan jy vrot voor jy oud is. Maar ons probeer darem ook om klaar te raas teen middernag.
So het ons toe ook een aand (of nag) redelik goed gekuier, en teen 5uur die volgende oggend het ons voor in die sand gespeel, terwyl ons wag vir die son om op te kom. Oom Kallie is ons buurman. Aan die agterste erf. Oor die pad. Toe hy die oggend daar wegtrek op sy fiets om te gaan oefen, is die eerste ding wat in ons minds opkom, om vir hom te sing: “Wat maak oom Kallie daar…? ” Hy het nie gedink dis snaaks nie, maar ons was histeries.
Een aand het ons dit bietjie oordoen met die musiek (volgens oom Kallie) en toe ons weer sien, is die polisie daar. Selfs nie eers hulle kon insien hoekom die omie gekla het nie, want ons was heel rustig. En na hulle van diens af was, het hulle saam kom kuier.
Daarna het ons mekaar gereeld gegroet as ons mekaar sien. Dis nou ons en oom Kallie, nie ons en die polisie nie. En toe word die omie heel van sy fiets afgery deur ‘n onverskillige motoris terwyl hy oefen en hy het baie seergekry. Ons het baie simpatie gehad, en gedink dat ons uiteindelik erens geconnect het. Want dit was ‘n oor-en-weer groetery wat vir niks geskrik het nie.
“Hoe gaan dit, oom Kallie?”
“Nee, dit gaan beter, geen klagtes nie.”
“Wonderlik! Hoe gaan dit met die antie en die kinners? En met oom se been?”
“Nee, dit gaan goed met almal. My been is nou OK. Hoe gaan dit daar by julle?”
Hy het skaars herstel, toe skraap ‘n motoris hom weereens terwyl hy fietsry. Not nice, en ons is weereens vol simpatie. En so groet ons mekaar as ons mekaar sien. Beslis nie huisvriende nie, maar ook nie onaagenaam met mekaar nie.
Tot Maandagmiddag. Fok!
My man ken ‘n ou wat sy werk verloor het so ‘n rukkie terug. Maar hy is goed in sy ambag, en om hom te help besluit hule toe om die vier garages op die agterste erf in te rig as ‘n workshop vir hom, sodat hy net aan die gang kan kom met iets en geld verdien om vir sy gesin te sorg. Ons vra hom nie huur of elektrisiteit op hierdie stadium nie, want die garages staan anyway net daar. Die ooreenkoms is dat ons ‘n baie klein persentasie van sy wins kry – maw, as hy nie werk het nie, hoef hy niks te betaal nie.
En dis nou ook nie ‘n moerse besigheid nie, daar staan nie wrakke rond en word getimmer en gekap tot middernag nie. Dis maar hier en daar ‘n skraap of ‘n duik wat reggemaak word en gespray word. En hulle hou anyway op 5uur in die middag. As jy daar verby ry, sal jy mooi moet kyk om te sien dat daar iets in die garages aan die gang is.
Nou moet ek ook net bysê: Besighede in Stateway (hoofstraat van Welkom) het vir jare met die plaaslike munisipalitiet baklei vir die reg om besigheid hier te bedryf. Dis ‘n deel van die stad wat direk uit die middestad vloei, en dit maak sin om hier besigheid te bedryf. Dis die hoofstraat, after all! Ons was baie hardegat, en het hulle uitgedaag om ons te maak ophou. Ons en al die ander besighede, natuurlik.
Uiteindelik het ons tot ‘n vergelyk gekom – hersoneer, en betaal vir besigheidsregte op jou perseel. Nog nie almal (ons inkluis) het gehersoneer nie, (dis ‘n baie duur proses) maar ons betaal intussen ons rates asof ons gesoneer is vir besigheid. Met geen probleme van die munisipaliteit af nie.
Nou wil oom Kallie in sy broek kak. Maandagmiddag kom hy so ewe na my man toe, en sê vir hom dat hy glad nie impressed is met die panelbeating wat aangaan in ons agterste erf nie. Hy is nie eers by die huis in die dag nie! En hy het al klaar met sy prokurower gepraat EN ons gaan verkla by die Stadsbeplanner. Ons ken die stadsbeplanner ook al goed, btw.
Maar wtf?? Die eintlike ding is dat hy by die munisipaliteit aansoek gedoen het vir ‘n workshop (ek vermoed in 19toet) en hulle het dit afgeskiet. En nou doen ons presies dit waarvoor hy afgeskiet is. Sonder drama. En dit is net te erg vir hom om te hanteer. Ek dink oom Kallie het ietsie vergeet – hy bly nie in Stateway nie, maar in die straat agter Sateway…. whahahahaha! Oud word is nie vir sissies nie!
Maar hoekom is hy so nasty? Genade, wat gaan oom Kallie nou bereik? Wat hy nou eintlik wil doen, is om die brood uit ‘n gesin se monde te vat. En dit net omdat sy scheme nie gevlieg het nie? Of is hy dalk nog vies omdat ons hom geserenade het? Miskien moes ons hom ook een aand vir ‘n braai genooi het. Nah…
Oom Kallie, ek nomineer jou vir Doos van die Jaar. Jy is daai doos waarvan hulle praat wanneer die storie vertel word van die krewe wat mekaar onderdruk – as iemand lyk of hy dalk bo gaan uitkom, dalk net so bietjie beter as jy doen, klim jy vinnig op en trek hom af.
You go, oom Kallie, dis hoe mens ‘n nasie bou….








