Kampkoors – Klein Begin

Die volgende paar posts oor “Kampering” het ek nie geskryf nie. Ek het nie ‘n idee wie het nie. Ek het my bes probeer om hom/haar op te spoor, maar ek kon nie. Dus gee ek hiermee krediet aan die “Onbekende Skrywer” wat my laat skater het! Ek kan net nie anders as om dit te deel nie. En as jy dalk die “Onbekende Skrywer” is, kontak my asseblief? Geniet dit!

Klein Begin:

Dit begin heel onskuldig. Met ‘n ou tweeman-tentjie. So ‘n blou “dome” enetjie wat in die winkel lyk of hy op Everest sal pas, maar wat eintlik nie erger as Clarens in die herfs kan hanteer nie. Maar hy is joune en jy’s skielik ‘n kampeerder.

Ag dis tog te lekker om die penne en seile en dinge aanmekaar te flans en om te sien hoe die dingetjie wonderbaarlik verander van plat plastiek tot ‘n ou skuilinkie wat ferm en waardig lyk.

In die begin maak jy al wat ‘n tou is vas. Daai dingetjie staan so vas jy hoor behoorlik die spanning in die toue. Met die tyd raak mens mos gemaklik en later aan word net die nodigste in die grond vasgehamer. Tot Die Storm jou tref. Vir ‘n laaang ruk daarna maak jy weer alles vas. Partykeer is die skrik so groot jy koop nog ‘n sak vol toue en penne wat net so groot is soos die tent self. Jy maak daardie tentjie so vas dat dit lewensgevaarlik is om snags uit te gaan. Al die rieme rondom jou lyk soos die laser-alarms in Mission: Impossible. Jy kan hulle net nie sien nie…

Nou trap jy mooi en probeer onthou waar jy die riem gespan het tussen jou tent se voordeurflap en twee bome en jou opslaanstoeltjies (sodat hulle nie weer wegwaai nie). Dan vang jou enkel die ene wat jy gespan het tussen die windseil en die bakkie se ‘towbar’. Mens val mos so skielik grond toe oor ‘n tenttou, maar jy het natuurlik veertien toue in die grond ingehamer om jou tentjie se dakseil vas te hou, en die goed is so styf soos kitaarsnare. Val jy op een, skiet hy jou soos ‘n trampolien rond na die volgende een toe en so bons jy die hele karavaanpark wakker in jou onderbroek. Die bome en bosse waaraan jou tent vas is skud rond asof daar werklik ‘n storm is en jaag al wat ‘n vlermuis is op, saam met wie weet watse ander gediertes. Sou daar nou iemand in jou tent wees kan mens hule vergewe dat hulle vermoed daar is iets ietwat ongewoon aan die gang, soos ‘n aardbewing of ‘n trop olifante wat die kamp binneval. En dan storm hulle ook uit… Binne-in jou tounetwerk in…

Die volgende oggend in die ablusie-fasiliteite kyk die mense jou half skuins aan. Jou lyf lyk of iemand jou in die nag met ‘n sweep bygekom het. ‘n Seuntjie sal dalk agter sy pa se been skuil en sê: “Gaan Pappa nou weer my oë toehou?”

1 Response so far »

  1. 1

    Dee said,

    Hahaha – dit is VREK SNAAKS.
    Ek kan so assosieer met daai gevoel, want ekt nie rerig groot geword met kampeer nie.
    Ek probeer hard om in te pas by al die ander wat al die toue ken soos wat ek nie eers my eie palm ken nie, maar dit gaan maar swaar.😛


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: