Gediertes

Jou kamp begin nou al na iets lyk. Jy’t nie meer die planne nodig om die tentjie op te slaan nie (alhoewel jy nog elke keer wonder oor jou IK as jy die ding terug in sy sak moet kry na die tyd).

Ongelukkig het jy nog die Kampkoorsvirus onder lede (geen kuur is nog gevind nie). As mens filosofies na Kampkoors kyk, sien jy dat dit kompleksiteit skep. Meer Goeters beteken meer dinge wat gedoen moet word om die Goeters te gebruik.

Aan die begin was dit vinnig om kamp op te slaan: tent opslaan, stoele opslaan, bed maak, vuur maak, tjops eet, inkruip. En dit was omtrent dit. Met die virus onder lede verloop dit anders: Grondseil uitlê, tent opslaan (bietjie groter, om plek te maak vir die matras, en dus ‘n bietjie moeiliker om op te slaan), stoeltjies (bietjie groter), tafeltjie opslaan (mamma begin skimp vir enetjie met ‘n ingeboude opwasbakkie), gasbottel koppel met arms en plate vir ‘n lig, ‘n potjie en ‘n verwarmer, matras opblaas (toe net so uitputtend met ‘n handpomp), windseil opslaan, vuur en gas aansteek, tjops, wors, pap en braaibroodjies maak en siedaar!

Nou’s mens so moeg jy wil net slaap, mamma is bietjie krapperig oor mens eers na nege in die aand kan begin eet… maar ons is hier, in die natuur.

Na ‘n bietjie ongemaklike rondhoppery op die matras, kry jy jou lê.

Zoeemmm… Klap! mis…

Muskiete is baie soos ons, hulle hou verskriklik van kampeer.

Met kampkoors onder lede sal jy ‘n arsenaal hê teen die klein duiweltjies. Muskietspiraaltjies word aangesteek binne en buite die tent. Stinky Sleep word aangespuit op elke stukkie oop vel. Na so ‘n rukkie van chaos en doenigheid raak dit weer rustig en jy kry jou lê. Jy dink: “Goed bere, ‘try’ my nou…”

Dis natuurlik nie gemaklik OF romanties om blink van die chemikalieë op ‘n ‘glorified’ li-lo te slaap nie, maar dis hier belangrik om aandag te gee aan een van die ander belangrike simptome van Kampkoors: die drang om Iets te Doen.

Kampkoors druk jou om die heeltyd voor te berei vir iets. Lank gelede, in die begin van jou kampdae, kon jy gou kamp opslaan en verder net sit en die omgewing beleef. Deesdae is daar so baie Dinge Om te Doen, dit raak omtrent die punt van die kampery. So daar lê jy, jy het Iets Gedoen, jy het ‘n strategie teen dreigende ongemak, jy is waarlik besig om te kamp…

Maar muskiete is nie al wat hou van kamp nie. Iets sal een of ander tyd oor mamma se voet skarrel, glo dit maar. Dis dan wat sy die Stinky Sleep gryp en elke liewe hoekie van die tent spuit met ‘n aggressie wat jou senuweeagtig maak. Enige ongedierte sal sterf, al is dit net omdat alle bruikbare suurstof verplaas is deur die inhoud van die kannetjie. Vinnig raak dit onhoudbaar in die chemiese waas. Jy strompel orent en skop ‘n spiraaltjie om, teen die nylon van die tent. Nou is die walms rokerig ook. Met toenemende paniek probeer julle die tent ooprits, tussen hoese en hyge deur. Dan ontsnap jy uit die tent in ‘n bol rook, maar jou longe brand van die aanslag en jy’t bietjie vinnig regop gekom….

Die tente en karavane storm jou weer skuins, die grysheid oorval jou, maar dankie tog vir jou tent se toue…

Dis oggend in die ablusieblok. Net voor jy die stort oopdraai se ‘n seuntjie vir sy pa: “Hoekom moes ons gisteraand so laat alles oor dwelms leer Pappa?”

‘n Muskietnet is net die ding, vertel die virus jou. Dit sal alles perfek maak…

1 Response so far »

  1. 1

    Kraai said,

    Ek geniet jou kampstories verskriklik. Hoop jy kan nog voortbring.

    Groetnis


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: