Stapkamp

Een keer in jou lewe, ten minste, gaan jy jou in ‘n staptoer begewe, want jy dink mos net aan die natuur en hoe lekker dit sal wees om naby aan die skepping te wees en om deur woude te stap en uit stroompies te drink. Jy kyk eerstens te veel televisie en tweedens ook.

Staptoere en togte is wonderlik as jy een van daardie mense is wat elke naweek met ‘n stok en ‘n ou hoed oor berge en dale stoomroller sedert jy leer loop het. Vir die res van ons is dit ‘n subkultuur waarvoor ons baie respek het, maar wat ons net vlugtig van deel raak voor ons dit begin vermy.

‘n Stapper is mos ‘n ander ding, en dit wil-wil begin lyk of daar sterk aanduidings is na die bestaan van iets met die naam van ‘Stapkoors’… As jy weet dat dit twee en vyftig minute se stywe stap vat vanaf hierdie stroompie tot by daardie grot, dan is jy een van hulle. (En nee, dankie, ek dink nie ek gaan na jou klub se vergadering toe kan kom nie. Ek’t iets anders aan en ek dink terloops julle is almal mal, sien.)

So jy’t nou getrap in ‘n ding en jy en Mammabeer beplan al weke lank ‘n voetklap die berge of iewers dergeliks in. Jou kampinventaris is natuurlik glad nie voldoende vir hierdie uitstappie nie. Sien, vir stap moet alles kleiner en ligter wees. En kleiner en ligter is net slegte Afrikaans vir duurder. Maar dis darem lekker om met ‘n staptoer as maatstaf by jou gunsteling kampwinkel in te stap. Skielik het jy ‘n verskoning om ‘fancy’ goed aan te skaf. Dinge soos die miniatuur gasbotteltjies met al die ‘gadgets’ by. Pannetjies en potjies wat inmekaar invou op ‘n manier wat net te pragtig is om nie te koop nie. En mens wil nie afsteek by die ander mense wat gaan saamstap nie.

Jy moet natuurlik ‘fancy’ klere ook aanskaf. Alles moet blykbaar asemhaal. Vroeg in die staptog in besef jy daar’s een ding waarop jy al jou geld sou verkwansel as hulle dit net wou verkoop, en dis asem…

Al jou kampondervinding dra bitter min by tot jou fiksheid. Die hele idee agter kamp is immers om niks te doen nie. Dis dan ook hier raadsaam om te noem dat die woord ‘kamp’ afgelei is uit die Latynse woord ‘campos’, wat allerhande dinge kan beteken, maar wat baie klink soos ‘kompos’. En die kenmerk van kompos is dat dit rondlê en niks doen nie. Nes jy beplan om te doen elke keer as jy gaan kamp. Dis dan loutere hel net om die tent op en af te slaan, party ouens hou sommer dae langer vakansie net om die opslaanslag te ontsnap. So nee, jy’s nie eintlik vir stap voorberei nie.

Maar daar trek jy weg en jy’s gepak van kop tot tone. Jy’s duurder as wat jy nog ooit was, want alles wat jy aangeskaf het hang iewers aan jou. Jy klingel-klongel daar weg soos een of ander Chinese monnik se pakdonkie op pad na die klooster in die berg. Maar waar die monnik se gedagtegang stil en gewyd is, is joune oordonder deur die gedruis van jou asem in jou ore.

Jy vergeet gou van die natuur wat jy so graag wou sien, want al wat jy op fokus is Mammabeer se hakskene. Dis te veel moeite en pyn om verder te probeer kyk as dit. Jy’t natuurlik helfte van jou salaris bestee op ‘n paar wilde ‘bootse’ wat, as jy die verkoopsmannetjie moes glo, basies die pad self loop, jy moet net inklim. Maar jou krom tone dink net aan een ding sedert jy hulle daar ingeprop het: “Dis donker en ons moet hier uitkom!” Hulle koer so saam en smee planne en vryf teenmekaar en dan haat hulle mekaar weer vir ‘n rukkie en wil net hulle eie rigtings gaan. Hoe meer jy hulle wikkel om bietjie gemaklik te word, hoe meer wikkel hulle terug om jou te herinner dat hulle aandring op hulle gunsteling omgewing: jou visplakkies.

Jou asem blaas en jy hoop niemand wil met jou praat nie, want enige onderbreking in jou keel se lugstroom maak jou wankelrig. Enige woorde met meer as een lettergreep laat jou duiselig voel. So jy sê baie keer ja en nee, met so ‘n suggie by asof jy jouself geniet, alhoewel die suggie die enigste manier is om van die koolsuurgas in jou longe ontslae te raak sonder om te klink asof iemand jou wind uitskop. En jy sweet soos ‘n ten volle gekleede eskimo wat in Prieska beland het en nou weghol met ‘n gesteelde TV.

Dan stop almal skielik, jy loop jou simpel in Mamma vas en dit klink vir ‘n oomblik asof die laerskool se hele slagorkes van die verhoog afduiwel. Jy raak sommer kerklik uit dankbaarheid vir die ruspose en wil dadelik oorbuk en jou hande op jou knieë rus. Maar jy’s natuurlik gelaai soos ‘n muil, so jy kry dit nie dadelik reg om jouself vooroor gebuig te kry nie. Jy beur en beur en dan is jy skielik in ‘n skrum van een of ander aard, want die pakaas wil jou nou doodlê. As jy gelukkig is kry jy die momentum gestop deur ‘n vinnige klomp klein treetjies vorentoe te gee. Almal om jou wonder natuurlik wat op aarde jy aanvang en hoekom jy skielik so kop omlaag rondstorm. Maar jy keer die val en staan dan nonchalant daar asof jy nie pas amper met jou gevreet eerste in die grond in geduik het nie.

Doodluiters strek jy jou uit, want jou rug is besig om vir homself ‘n reeks spasmas te reël. Maar weer is jy heeltemal onder ‘n wanopvatting oor jou ewewig en wat netnou ‘n skrum was wat op jou kom lê het, is nou ‘n ding wat jou aan jou trui uit die skrum uit trek. Stadig, maar onkeerbaar voeter jy agteroor.

Jou landing klink soos die laaste note uit die 1812 Overture. En daar lê jy. Jou arms en bene waai hulpeloos rond. Nogal soos ‘n tor wat op sy rug beland het. Hier en daar klingel ‘n koppie of ‘n ding wat nog iewers heen rol. Almal kyk jou uitdrukkingloos aan en kyk dan weg. Mamma het weer daai kyk op haar gesig. En dan sien jy die bordjie waarvoor almal gestop het.

Dit sê: “Staproete begin hier”.

1 Response so far »

  1. 1

    idiwidi said,

    Hierdie een is vreeslik snaaks. Ek hou van staptoere, maar kry ook altyd daardie benoude angs wanneer my asem begin blaas nog voor ons by die beginpunt kom.


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: