Geskiedenis en Genetika

Kampkoors is nie ‘n nuwe ding nie. Ek dink daar’s ‘n hele klomp geskiedenis en genetika agter die ding; geskiedenis soos in die Boereoorlog en genetika soos in daai vreemde klier in die kop wat maak dat almal in Pretoria voel hulle moet ‘n lapa hê.

In die oorlog destyds was kamp ‘n saak van oorlewing. Dit was die enigste manier vir die mans van die Volk om vir maande lank nie hoef te bad of te skeer nie. En na ‘n jaar of wat saam met Mamma (kaalvoet) oor die Drakensberge in ‘n ossewa is enige man geregtig op ‘n bietjie tyd alleen. Sê maar so twee jaar of so. En terwyl ons nou besig was om te kamp kon ons nou maar net sowel iets doen sodat die vroumense nie snuf in die neus kry nie, toe nooi die ouens gou die Britte oor om ‘n bietjie te kom stoei, net om ‘n rede te hê sien… Skielik was paraatheid deel van kamp. En dit is tot vandag toe nog so.

Die kern van kampkoors is die drang na skuiling. Van kleins af bou mens skuilings. Onthou maar toe jy klein was, toe jy in ‘n middag van toesigloosheid ‘n hele sitkamer kon omskep in ‘n donker doolhof van omgekeerde stoele en matrasse en komberse en handdoeke. Dit lyk vir die arme ouer wat huistoe kom asof die polisie kom dwelms soek het en toe halfpad onderbreek is deur ‘n span osse wat deur die huis is na hulle vir ‘n slang geskrik het…

Later in jou jeug is jy na ‘n veldskool toe waar jong seuns die voorreg gehad het om in die natuur te kan leer hoe versteurd ‘n onderwyser kan word wat te veel terug verlang na sy dae in die ‘Army’. En het jy skuilings gebou. Dis natuurlik veiliger om dronk en depressief op ‘n rotshang in die winter te slaap as onder ‘n skuiling wat deur ‘n span veertienjariges gebou is. Dít is omtrent die somtotaal van waardevolle lesse uit ‘n veldskool.

Soms kom die verskillende generasies bymekaar in ‘n kamp milieu, dan kan mens sien hoe almal die ding onder lede het. Sê nou maar jy’s vyftien en jy en jou pêl gaan saam met sy pa, sy oom en sy twee oupa’s visvang…

Laaities

‘Laaities’ loop rond met punt twee-twee’s en saai verwoesting onder die duiwe in die bloekomplantasies. Mens moet iets skiet, en die Kakies is nie meer te vinde vir ‘n vriendelike skermutseling nie. En jy voel of jy iets belangriks doen. (Ons ‘Rites of Passage’ is nogal onrusbarend gekoppel aan geweld, hetsy jag, baklei, of, die geweldadigste oefening van almal: motor bestuur.)

Jy moet natuurlik ook almal se lyne inroei en dit word ‘n ekspedisie op sy eie. Alles normaal, heel lekker. Maar daar’s pa’s en oom’s en oupa’s ook…

Pa’s en oom’s

Pa’s en oom’s is op daardie stadium wat hulle jou Iets Moet Leer, maak nie saak wat nie, solank jy net goed besef dat jy besig is om iets op ‘n baie ‘stupid’ manier te probeer doen. Mens is naderhand so verbouereerd dat jy ‘n hele naweek in die bootjie bly en maak of jy niks meer van die wal af hoor nie.

Verder is dit ook pa’s en oom’s wat besluit het om ‘n hele weermagtent saam te bring wat so groot is dat die ses of so mense wat saamkamp vir mekaar moet skree om gehoor te word. Dis ook pa’s en oom’s wat besluit het jy moet die lyne en hoeke rondom jou groottone bind sodat jou hande los is om te kan roei. Dan sal ‘n ligte trekkie vir jou laat weet of jy ‘n bietjie links of regs moet roei tot op die presiese plek in die hele enorme Vaaldam waar al die groot visse, na wat verneem word, op ‘n hopie rondlê en wag om gevang te word. ‘n Ligte trekkie ja…

Oupa’s

Na ‘n hele klomp minute se roei, kan jy nie meer die aanwysings van die wal af hoor nie, maar jy kom agter Oupa Linkertoon en Oupa Regtertoon het verskillende idees oor waar mens jou lyn insit en waar nie. Hulle was ook nie noodwendig die ene ore toe oom en pa gepraat het van ligte trekkies nie.

Oupa Links telegrafeer iets vir jou, moontlik dat hy wil hê jy moet dringend negentig grade links swenk, of dat sy pasaangeër ‘n ‘power surge’ gekry het. Hoe dit ookal sy, jou linkergroottoon bewe asof ‘n bose gees in hom is en jy moet omtrent jou been oor die kant van die bootjie gooi om hom nie te verloor nie.

Oupa Regs is net glad nie op enige manier akkoord met Oupa Links nie. Jy hoor later hy het opgestaan om te gaan fluit en sy kierie het iewers verstrengel geraak in sy visstok met die opstaanslag. Jou regtertoon swel soos ‘n sampioen soos Oupa Regs hom onwetend probeer afsny. So voeter jy agteroor bollemakiesie, bene in die lug uit die boot uit. Al wat jy kan doen is om vas te gryp aan die boot se agterkant sodat jy nie versuip nie…

Pa’s en oom’s sug en snou op die wal, want daai ‘laaitie’ roei soos ‘n dronkaard en kyk, daar neuk hy wragtag uit die boot uit en g’n mens weet wat nou weer in die stomme kind ingevaar het nie. Oupa Links is nou heel bebodderd, want jy’t nou die regte vangplek helemal gemis en hy begin nukkerig dog daadwerklik om sy lyn in te katrol. As jy skree gaan jy dam sluk, so dis uithou en aanhou terwyl Oupa Links jou en die bootjie aan jou toon inkatrol.

Later die aand lê jy in die tent, jou voete rou van die dorings, want skoene pas nie oor jou geswelde tone nie. Daar was darem ‘n vissie of sewe aan die lyne en dié lê nou in die ‘kiepnet’. Maar jong, Oupa’s se geheues is nog vol oorlog. Oupa Links het vertel van bewers of een of ander ongedierte wat deur die ‘kiepnet’ byt om die visse by te kom. Steur hom min daaraan dat sy generasie die laaste wildlewe hier in die veertigs uitgewis het. En soos in die ou dae is dit ‘n saak van die grootste erns.

Nou lê ons in die tent en die mense snork rustig. Oupa Regs het ‘n stuk vislyn aan sy eie toon vasgebind – dié loop by die tent uit en is vas aan die tou in die boom waaraan die ‘kiepnet’ in die water hang (en die groen gras groei daarom). Enige ongeoorloofde gekarring aan die net sal dus terstond onder Oupa Regs se aandag gebring word. En soos dit ‘n parate kamp betaam is die punt twee-twee’s onder die sorg en aan die sye van die senior burgers in die tent.

Moenie in die nag opstaan om te gaan fluit met tone wat twee keer groter is as wat hulle moet wees nie. Want mens trap dalk iewers oor die verkeerde tou. En Oupa Regs is juis diep in droomland, besig om die Kakies te laat les opsê.

Maak soos ons voorouers van ouds. Val plat as die wilde geskietery ‘n aanvang neem en skree die mantra so hard as wat jy kan: “Staak vuur, dis ons mense!”

1 Response so far »

  1. 1

    Boendoe said,

    Hi, ou Dellie,
    Nou kom ek maar weer na “waters waar rus is!” Ek het nou weer so toe oe in fights ingestap, en damn, ek is ook nie eintlik ‘n fighter nie! Kan net nie my snater hou as ek REGTIG nie saam met iemand stem nie!

    Geniet nog steeds jou posts baie, waar het jy dit gekry? Of is dit ‘n geheim?!

    Gaan nou maar slaap, sal more sien wie is almal lus vir my bloed!

    Tata


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: