My kind…

My liefste kind,Jy staan aan die vooraand van die “grootmens wêreld”. Jou hele lewe lê voor jou in ‘n onbekende en opwindende roete. ‘n Paadjie wat jou gaan bring waar jy eendag wil wees. Maar “eendag” is net om die draai!

Dit voel net soos gister toe ek vir die eerste keer bewus geword het van jou diep in my binneste. Hoe opgewonde was ons nie! Ons het jou so mooi beplan, die idee was dat ons saam met jou wou grootword. Ek kon nie ophou smile nie. Om alleen te gewees het toe Dad Namibie toe is net na ons uitgevind het ons is swanger, was vir my nie so erg nie, want dan kon ek droom oor jou. Hoe jy gaan lyk, hoe ek jou gaan versorg. Dad het altyd gesê jy druk jou vingertjie in my keel, dis hoekom ek so naar word. Later met die sooibrand, was dit glo omdat jy nie gehou het waarvan ek eet nie! En dit was enige ding, selfs water! Maar veral tamaties en rooi koeldrank.

Dad het van die begin af geweet jy is ‘n seun, sonder dat enige sonars dit bevestig het. Hy het net altyd gesê: “Ek weet wat ek gemaak het, dis ‘n laaitie die!” Hy het baie graag met jou gesels. Met sy kop op my maag, het julle lang en diep gesprekke gehad. Hy het vir jou gesê om al jou kossies te eet en ‘n sterk seun te word. Selfs toe jy hom in die nag in sy rug begin skop het! Eish, en jy was bedrywig in die laaste paar maande. Hy was so trots op my magie, wat eerste om die draai gekom het, en dan eers EK! Ek kon op die einde ‘n hele glas op my magie neersit, soos op ‘n toonbank.

Jou geboorte was ‘n hoogtepunt. Die vorige aand het ons voor die TV gelê en die laataand Afrikaanse fliek gekyk. 1989. En ons het grondboontjies en rosyne geëet. BAIE. Toe ek dus teen 5uur die volgende oggend met ERGE krampe wakker word, het ek gedink dis die grondbone. Maar dit was al die tyd jy wat aan die deurtjie geklop het! Dad het my in die bad in geboender teen half sewe, en selfs klere gaan stryk om aan te trek.

Toe jy uiteindelik gebore is met ‘n noodkeiser, (nadat hy en die suster aan diens ‘n weddenskap geneem het oor of jy ‘n seuntjie is of nie) het hy die teater deur opgepas en jou gevolg tot in die broeikas. Jy was so sterk dat jy sommer net daar ‘n push-up gedoen het, met bloedjies en al! Jy was sowaar Dad se grootseun! Ons het nooit jou nekkie vasgehou nie, jy was ons sterk seun! (Moes seker daai blik Milo gewees het wat ek opgeëet het!)

Deur die jare het jy vir ons soveel vreugde verskaf. Jy was soos ‘n sponsie wat net alles opgeslurp het. Ek was bevoorreg genoeg om daar te wees vir al jou eerstes. En ons het elke oomblik van jou grootword geniet. Jy was vir my so kosbaar, ek wou niks mis nie. Mense het gesê jy word bederf, maar ek het jou elke aand in my arms aan die slaap gemaak, Dad ook, omdat ons WOU, omdat dit so LEKKER was! Jy was dan ons klein wonderwerk, bietjie van my, bietjie van Dad en sommer BAIE van Liewe Jesus! Selfs daai “time out” sessie op die plaas. Onthou jy? Jy was nie groot genoeg om die deur se handvatsel by te kom nie, maar groot genoeg om by die venster uit te klim! En toe ek jou soek, sit jy heerlik buite en speel in plaas van om “gestraf” te word in jou kamer!

En die moerbei boom in D’Almeida straat…hoeveel bokse karretjies het hul weg gevind na die “scrapyard” en is toe begrawe onder die boom? En jou eerste uitslaap… onthou jy? Die eerste aand tot by die hek, die tweede aand tot by Hetta se hek (drie huise af in die straat!) en uiteindelik tot in hulle sitkamer! En toe die groot oorslaap.

En Peanut, hy was mos jou hamster. Onthou jy hoe het hy daarvan gehou om agterop jou remote control bakkie te ry? Met daai pootjies so vasgekram op die rollbar, en die haartjies wat so wapper in die wind soos wat jy met hom jaag! Hy het darem ‘n pragtige “huis” gehad, wat jy en Dad vir hom gebou het – dubbelverdieping met enigiets wat ‘n hamster se hart kan begeer, né. ‘n Rolwiel bo, en takkies waarin hy kon rondklim, sy nessie, tonnels en toilet op die onderste verdieping. Al moes ek maar meeste van die tyd sorg vir kos, water en ‘n skoon hok…En toe hy doodgaan van ouderdom, is hy met die nodige respek begrawe, en daar is ordentlik getreur oor hom. Deur die hele buurt.

Hehe, ek onthou toe jy leer p-taal praat het. Ons het so lekker gesels as ons skool toe en terug gestap het, met baie koppe wat verbaas in ons rigting draai! Niemand kon ‘n woord uitmaak van wat ons sê nie! Jy het dit vreeslik geniet!

Toe jy 10 was, het ek mos begin met my besigheid. Ek wil vir jou dankie sê dat jy, al was jy nog so jonk, verstaan het dat dit maar moeilik was in die begin. Dankie dat jy verstaan het wanneer jy so graag iets wou hê, en ons nie kon bekostig om dit vir jou te gee nie. Dankie dat jy help in die huis wanneer ek moet laat werk, dankie dat jy kosmaak en skottelgoed was. Ek het jou nog nooit hoor kla of sien tantrams gooi daaroor nie.

En jy het toe na ‘n paar jaar ook besluit dat jy self iets aan die sakgeld sakie kon doen. Jy het begin koerante aflewer toe jy 13 was, en dit was iets wat JY wou doen. Ek is so trots op jou dat jy dit gedoen het om die las van sakgeld vir ons minder te maak. Sonder dat jy dit besef het, het jy toe reeds begin grootword. Jy het op ‘n stadium sommer twee wyke gedoen, en dit het nie saakgemaak wat nie, jy het gaan slaap 10uur in die aand, want more moet jy 4uur opstaan en koerante aflewer.

Die weer het nie saakgemaak nie. Die kere wat Dad jou gehelp het, was net as jou fiets se ketting gebreek het, of jy het ‘n pap wiel gehad wat jy nie dadelik kon herstel nie, of dit was regtig baie koud, of het erg gereën. Jy het nooit kom vra dat hy moet help andersins nie. Hoe baie oggende in die yskoue winter, het ek jou nie jammer gekry nie! My hart wou breek! Ek wou Dad wakkerskud wanneer jy uitgaan, en weer wanneer jy terugkom vir die tweede trippie en die koue hang letterlik aan jou, al was jy hoe dik aangetrek. DIT was verantwoordelikheid en betroubaarheid.

Jy het koerante afgelewer tot Junie 2006. Dit is wat jou organiseerder, tannie Carin, commitment noem. Sedert jy ophou aflewer het, het ons al 3 ander gehad. Sy sê sy gebruik jou as ‘n voorbeeld vir enige een wat begin aflewer. Ek is so trots op jou daarvoor! Weet net dat daardie koue wat so aan jou gehang het, omgesit het in die warmste gevoel in my hart vir jou!

Toe jy ‘n tiener geword het, het jy geen “normale” tiener streke uitgehaal nie. (Wel, nie waarvan ek weet nie, maar hulle sê mos wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie.) Jy het nie op my of Dad geskree nie, jy het nie deure toegeklap of geweier om met ons te praat vir dae nie. Maar my liefste BB, jy WEET dat jy met ons kan praat oor enige ding. Jy WEET dat ons altyd daar sal wees vir jou. Dat ons jou onvoorwaardelik liefhet. Deur die jare het ons nie veel perke aan jou gestel nie, ons het gereken dat mens jouself moet leer ken deur alles te ondervind en dan vir jouself te besluit wat die beste is.

Ons het jou eintlik maar grootgemaak soos ‘n klein grootmensie. Ons het jou alles vertel, wat aan die gang was finansieel en andersins, en jy het geluister en verstaan. En volgens my het dit baie goed gewerk. Maar het dit nie dalk ‘n stremming op jou geplaas nie? Om so sterk en verantwoordelik te moes word terwyl jy nog so jonk was nie? Het jy al gevoel dat jy uitgemis het op “kommervry”?

In my hart hoop ek dat ons nog al die tyd toeganklik was vir jou. In wese sien ek nie dat jy vreeslike dinge aanvang waarvan ons nie weet nie. Ek weet sommige goed is baie privaat, en ek dink nie ek of Dad het nog ooit rerig jou privaatheid geskend nie. Ek weet jy en ons en jou pels kan lekker kuier en gesels. Ons het jou al lankal jou eie besluite laat neem, maar soos jy ook weet, as dit ‘n dom besluit was, moet jy maar die gevolge dra. Dis deel van verantwoordelikheid.

En nou staan ons hier aan die vooraand van jou matriekeksamen. Een week oor. Op die 8ste Oktober begin dit. Dis die laaste eksamen van jou skoolloopbaan. Doen jou beste, sit bietjie meer in as gewoonlik? Laat ek actually SIEN jy is besig om te LEER? Ek weet jy het nog nooit ‘n jaar of kwartaal gedruip nie, maar maak hierdie die beste wat jy kan, vir oulaas? Sodat Mammie se hart net so ‘n paar beats stadiger kan gaan elke dag? Oor ‘n paar weke is jy klaar met skool, en in die oge van die regering ‘n grootmens… Dis amper verby…12 lange jare van skool!

En skielik raak ek bang. Soos nog nooit in my lewe voorheen nie. Ek was nie eers so bang voor ek gekraam het nie. Of voor jy skool toe is nie. Ek wil so graag ‘n kombersie van beskerming oor jou gooi. Jou klein hou, asof jy afhanklik moet wees van my vir die res van jou lewe. En sodat ek jou kan beskerm teen al die gevare daar buite.

Maar ek weet ek kan nie. Ek het my net nog nooit self in hierdie situasie gesien nie. Jy gaan nou besluite begin neem sonder dat dit regtig nodig is om my en Dad daarin te ken. Jy word nou ‘n grootmens… Al wat ons jou vra, is dat jy in kontak bly met ons, bly gesels, ons sal bly raadgee. En moet asseblief nooit ophou om jou velcro drukkies uit te deel nie! Ek kan nie sonder dit lewe nie.

As jy jou vlerke wil sprei, selfs oor die water, ver weg, ons liefste kind, onthou net altyd dat hierdie jou HUIS is, jy is altyd en op enige tydstip WELKOM! En ons sal nog steeds ons arms stompies baklei vir jou, al is jy 80! Jy sal altyd my ou seunatjie bly…

Ons lief jou, BB! Sterkte met die eksamen!

You can achieve anything if you put your mind to it! If you can dream it, you can do it! Go for it!

bear-hug.jpg

9 Responses so far »

  1. 1

    SHARKS said,

    Dellie jou inskrywing het my aan die dink gehad, jou Seun en Jaco is albei 18, albei in hulle laaste skool jaar, of eerder skool dae wat nog oor is vir die jaar. Dellie dit voel vir my asof Jaco gister maar nog ‘n klein ou baba’tjie was.

  2. 2

    Roer said,

    Ek sien GLAD nie uit na die dag wanneer my bulletjies ma se huis moet verlaat nie, maar nou ja, dis seker deel van die lewe. Weet nog nie hoe jy moet voel nie Dellie, maar sterkte!

    Terloops – Dis vandag Sonstudio se verjaarsdag!
    http://indigoblog.wordpress.com/

  3. 3

    idiwidi said,

    jou seun is ‘n gelukkige kind

  4. 4

    sonstudio said,

    Dellie, hierdie is sooooo mooi brief.
    Weet nie hoe gaan ek my twee feëtjies eendag “laat gaan” nie…

  5. 5

    Ma se Seun said,

    ((((((((((((((Mom&Dad))))))))))))))

    Dankie vir alles! Ek is glad nie spyt oor enige iets in my lewe nie. My vriende raak partykeer jaloers oor die ouers wat ek het. Omdat jul my so baie gee en so baie vir my doen!

    Niks wat julle ooit met my geshare het, het my onder enige druk gesit nie.(nie wat ek kan onthou nie)

    Julle het my die beste grootgemaak(sover)as wat julle kon, en ek sal altyd dankbaar wees darvoor.

    Een van die duidelikste memories wat ek het is toe ek so 2 of 3 was, ons het by een of ander oom gaan kuier in Riebeeckstad. Die oom het daai “hammer, spyker” ding met my gedoen en my in die swembad in gegooi. Ek was heel rustig onder water op-pad na die trapies toe om uit te klim, toe ek net klomp bubbles en ‘n pienk rok langs my sien die water deurdring! Ai.. Ma en Ma se pienk… Was noglas snaaks om Ma so histeries te sien. lol

    Weereens dankie vir alles!
    Mwha mwha mwha mwha Luv u Lots

    BB

  6. 6

    boendoe said,

    Pink ek nou ‘n traantjie weg hier! Dis kosbaar wat julle gesin het. Sterkte met die eindeksamen, Seuna!

  7. 7

    dirk said,

    Hei Dellie

    Ek verlang nou sommer na my kinders, en ek het hulle 5 ure laas gesien….en ek sien hulle weer oor vyf ure.

  8. 8

    Anonymous said,

    Dellie … Dellie dis vreeslik mooi geskrywe. Seun … jy vat alles so mooi saam “… my vriende raak jaloers oor die ouers wat ek het!” WOW (!!!) Dis mooi gestel.

    Dellie, so met die tyd is daar bloggers wat jy graag wil ontmoet, en ek wil nie name noem, maar JY en jou gesin is hoog bo my lys. Julle is kwaliteit mense.

    Dankie vir ‘n lekker posting (weereens) en ons gesels spoedig.

    Eben

  9. 9

    Annie said,

    Dellie
    My hart voel skoon week, my dogter het nog 2 jaar en boeta 3. Ek vrees noual vir wat kom.
    Sterkte BB met die eksamen en ook vir julle Dellie!!

    Annie


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: