Welkom in Welkom

Ek sien die meeste van my blogmaters ly aan die “einde-van-die-jaar” blues. En toe ek my ogie uitvee, sien ek hulle beplan ‘n “vaNkansie” hier by my, in Welkom!  Ek wens dit was moontlik, maar ons almal weet daar is nog so ‘n stootjie wat ons moet klaarmaak voor “vaNkansietyd”. Toe dog ek, miskien kan ek vir julle die tweede beste ding gee: ‘n virtuele vaNkansie in Welkom! Net om die gees weer so bietjie te lig!

So sit terug, ontspan, en geniet ‘n ietsie oor Circle City!

verkeer.jpg

Hierdie is ons sakesentrum/middestad 

Welkom is hierdie jaar 60 jaar oud. Ons stad het regtig nie verkeersligte nie. Op die inkomende pad vanaf Riebeeckstad, is daar wel twee. Maar dit tel nie, dis voor jy Welkom self regtig inkom. Daar is min of meer 28 sirkels in ons stad. Ons het nie verkeersprobleme nie. Ons strate is breed. Ons raak ongeduldig wanneer ons amper tot stilstand moet kom by ‘n sirkel, of vir langer as 5 sekondes moet wag om te kan ry! Dis nou in spitstyd… Ons het nie eens verkeersligte vir voetgangers nie.  Ons het daai zig-zag strepies voor die voetoorgange – dis al. Die ergste verkeer frustrasie vir ons, is mense van buite wat nie ‘n idee het hoe om om ‘n sirkel te ry nie! Maar ons kyk maar na die motor registrasies, en vergewe maar as ons sien hulle is nie van hier nie.

Daar is nie baie kapings in ons stad nie, omdat ons nooit regtig tot stilstand kom nie. Die spoedbeperkings in die grootste deel van die stad, is 75 km/h. Ons BEWEEG, heeltyd!  😆

Ons het nie baie hoë geboue nie. In die afgelope 15 jaar wat ons hier bly, het ons al ‘n hele paar aardbewingkies gehad. Party nogal erg, vensters wat breek en so aan. En op 8 Desember 1976 was daar mos ‘n grote, wat 4.8 op die Richterskaal geregistreer het. ‘n Woonstelblok van 6 verdiepings het inmekaar getuimel. Wonderbaarlik is niemand in die voorval beseer of dood nie. 

tornado.jpg

Skade van die tornado 

‘n Ander ramp was die tornado op 20 Maart 1990, wat minstens 3 500 mense dakloos gelaat het. ‘n Totaal van 800 huise en ‘n paar woonstelblokke is verwoes. Meer as ‘n R100 miljoen se skade is aangerig.

dam.jpg

Die gat in die wal van die slikdam 

En toe natuurlik die Merriespruit ramp in Virginia in Februarie 1994, waar die wal van ‘n slikdam aan die suidekant van die woongebied gebreek het. Ons was toe nog nie lank in Welkom nie. 25 huise word deur die modder platgevee, en 150 erg beskadig. Meer as 300 mense word in hospitale behandel, en 11 mense oorleef nie die ramp nie. Ongeveer 400 reddingwerkers moes die nag in stik donkerte op die hulpkrete van mense staat maak om hulp te kon verleen.

merriespruit-1.jpg

Van die verwoeste huise 

Ons het party dae al die seisoene in een dag. Die winde is erg in Augustus – September, soms is die sandstorms so erg dat die straatligte hier teen 4 uur in die middag aangeskakel word. En as dit dan nog boonop begin reën, is dit sulke groot modderdruppels. Letterlik, rerig! Dan is alles oranje…

Die hoofstraat van Welkom, Stateway, het in die afgelope 10 jaar begin ontwikkel in ‘n besigheidsentrum van sy eie. Dis hoe jy in elk geval in die middestad kom, dus maak dit sin. Meeste van die privaat huise is gekoop en omskep in besighede. Ons was gelukkig genoeg om so 9 jaar terug ons ou plekkie te koop hier in die hoofstraat. Heel gerieflik, ons woon en werk hier. En Sonneblom, daar is vreeslik baie sand voor die gebou, ons hou letterlik beach parties met sambrele en bonfires! Die see het net bietjie ver teruggetrek…

Byna alles wat ons nodig het is beskikbaar in ons stad. Ons hoef nie baie ver te ry om dit te kry nie. Keuses is soms bietjie beperk, maar nie sodat dit ongerieflik raak nie. Ons het al die groot kettingwinkels, en ‘n hele paar van die groot restaurant groepe. Ons het ook ‘n Casino, waar ek nog net ‘n paar keer was. Dobbel staan my regtig nie aan nie. Ek drink of eet liewer my geld uit, dan weet ek ten minste waarheen dit gaan…En dan natuurlik ‘n paar klubs.

Vroeër jare was Welkom baie afhanklik van die myne. Daar is nog steeds myne in en om Welkom, maar die fokus het effens verskuif toe baie van die myne begin toemaak het ‘n paar jaar gelede. Dit was ‘n moeilike tyd vir almal, maar intussen het ons besef ons kan nog steeds hier oorleef sonder dat almal in die myne moet werk.

concor-circle.jpg

Die sirkel wat deur Concor onderhou word 

In die afgelope paar jaar het Welkom baie agteruitgegaan, wat munisipale dienslewering aan betref. Toe ons hier kom woon het, was Welkom bekend as die Tuinstad. Al die sypaadjies en sirkels was pragtig versorg, daar was die mooiste parke…deesdae is die parke verwaarloos, met kniehoogte gras, mens kan nie meer waag om daarheen te gaan nie. Baie besighede het die versorging van sirkels op hulle geneem, sodat dié darem nog goed lyk.

Dan is daar die Phakisa renbaan. Glo die grootste van sy soort in Afrika, maar dit het ook nie lank ‘n ekonomiese inspuiting vir ons verskaf nie. Vandat die Moto Grand Prix nie meer daar aangebied word nie, gaan daar nie vreeslik baie aan nie. Dis nogal jammer, dis ‘n pragtige renbaan.

phakisa-2.jpg

Ons het ‘n lughawe, en op ‘n stadium was daar sprake van dat dit omskep sou word in ‘n groot vraglughawe, wat weer op sy beurt die Noord Kaap ook sou bedien en dus ‘n groot ekonomiese inpak sou hê, maar daarvan het niks gekom sover nie.

Ons het ‘n pragtige teater, die Ernest Oppenheimer teater, wat die oudste klavier in SA huisves. Niemand kan egter vir my sê hoe oud die klavier is nie!

sentraalpark-1.jpg

Sentraalpark vroeër jare 

Sentraalpark. Dit is in die middestad, en was vroeër jare DIE bymekaarkom plek vir die jong mense. ‘n Pragtige park met bome, groen gras, die dam en fontein, en bedding vol van die mooiste plante en blomme. Voordat die Liberty sentrum gebou is, het die pad in die vorm van ‘n perdeskoen geloop. Vandaar die naam “Hoefie”. Dit was die plek waar almal met hulle warm karre en musiek kom “afshow” het, ry om en om en om. Mense het Sondae middae gaan roomys eet in die park. Dié plek om te wees oujaar. Almal “party” sommer net daar in die pad, komberse en kampstoele net waar jy kyk, almal is jou pel, en dis een groot fees. Dis ongelukkig nie meer so nie.

sentraalpark-2.jpg

Sentraalpark met die Liberty sentrum in die agtergrond nou 

Ek bly lekker in Welkom. Hier is ook maar misdadige elemente soos oral in ons land, maar ek wil my verstout en sê dat dit nie so algemeen is nie. Daar is wel ‘n paar plekke in die stad waar jy dit liewers nie alleen moet waag nie. Maar ons het nie verkeersprobleme nie, ons het nie lugbesoedeling nie, en daar is nog steeds die plattelandse gevoel, met al die voordele van ‘n stad. Die voëltjies sing jou nog steeds wakker in die oggend, al bly jy in die hoofstraat!

Daar is baie flaminke en seemeeue teenwoordig by die soutpanne buite die stad. Die flaminke is asemrowend as hulle in massas op die water kom sit. (Verbeel jou daar is meer op die water, ek kon nie ‘n beter foto kry nie!)

flamingos.jpg

‘n Paar brokkies:

  • Die eerste staaf goud word op 25 Oktober 1951 by St Helena Myn gegiet

  • Op 20 Augustus 1960 is die eerste  Afrikaanse Taalmonument in Suid Afrika in Welkom se Van Riebeeckpark opgerig

  • In 1957 was daar net een motorhawe in Welkom. Om brandstof te kry was ‘n groot gedoente. Soggens moes motoriste hul voertuie in ‘n ry voor die vulstasie parkeer, die sleutels daarin los, en dit smiddae weer gaan haal

  • In 1961 is melk met ‘n perdekar afgelewer. Maandae het bitter min Welkomiete melk gekry, omdat die perd elke Maandag weggehardloop het en almal eers die perd moes gaan soek

  • Welkom het nog nooit sy eie tronk gehad nie

  • In 1952 was daar nog geen drankwinkel in Welkom nie, maar elke Vrydagmiddag het ‘n vragmotor vol drank van Odendaalsrus af gekom en het mense tou gestaan om ‘n “nattigheidjie” vir die keel te kry

Mense sê jy huil twee keer in jou lewe oor Welkom: die dag wanneer jy hier moet kom woon, en dan weer die dag wanneer jy hier moet wegtrek… en ek dink ek glo hulle… hierdie stoffies beland in jou bloed!

Wel maters, nou moet julle maar weer aan die werk spring. Hoop hierdie kuiertjie was lekker. Eendag is eendag… dan kom hou julle rerig vaNkansie hier by my op die see-lose strand!

En onthou…gryp hierdie laaste deel van die jaar aan die horings, en ry hom bloots!

Advertisements

42 Responses so far »

  1. 1

    Eben said,

    Wow(!!!) is dit hoe Welkom lyk … sorry maar ek het ‘n ander prentjie in my kop gehad. Dis pragtig!!

    Dankie dat jy dit met ons gedeel het!! Glo my ek en Marilee sal verseker kom kuier.

  2. 2

    Sonstudio said,

    Ek het lekker hier in Welkom gekuier.
    Het lekker gelag vir daai perd-storie.

  3. 3

    Joors said,

    Dellie,

    Dankie vir al die pragtige inligting. Ek self bly net “om die draai” in Bothaville. Kom gereeld so een maal ‘n maand in Welkom, veral die naweek as daar vlooimark is. Dit is nogal’s waar, as Augustus maand se winde begin waai wonder jy wat jy in die Vrystaat maak, maar as die eerste reën val en alles word groen en die mielies en sonneblomme begin groei, is dit die mooiste plek tog.

  4. 4

    Joey said,

    Mens huil glo net twee keer as jy ‘n Welkomiet is – die eerste keer as jy hier aankom en dan weer as jy eendag moet wegtrek! Onthou om jou Waarmaker cd by die regte plek te kom koop – kyk op bl 11 van die boekie!

  5. 5

    sonneblomseplekkie said,

    Hi Dellie,

    Dit was nou interresant. Maar ek wonder nou oor een ding. Ek was nog altyd onder die indruk dat die vroue tronk in Welkom is??? Rede hiervoor, By ‘n natuur oord waar my ouers gewerk het, was daar ‘n vrou, wat maar gelyk het of sy van die verkeerde kant van die gereg af kom, en sy het van Welkom afgekom. Sy het sommer gougou die bestel van lakens ens probeer oorvat. Sy wou die weggooibare soort lakens koop, die soort wat mens in die tronke kry. Ek weet die mense het gepraat van die tronkvoël vrou. Bietjie lig op die onderwerp toe seblief……

    Wanneer sien ons julle online? Jy moet lekker naweek hê.

    Liefde groetetjies

    Sonneblom

  6. 6

    Dellie said,

    Sonneblom, nee jong, die naaste tronk is in Virginia, en ek dink die vroue-tronk waarvan jy praat is in Kroonstad. Maar ek sal bietjie vir jou uitvind en bevestig.

    Hey, ons moet eers een harddrive format, internet konneksie wil nie werk nie, dan kan ons Battlefield update en speel! Seun is volgende week klaar met sy eksamens, dan sal ons aandag gee daaraan. Sien jou binnekort online!

  7. 7

    Dankie. Synde dat ek nog nooit in Welkom was nie en niks van die plek weet nie, was dit vir my nou baie interessant!

  8. 8

    SHARKS said,

    Lyk pragtig daar, heel rustig en stil nie soos hier in die hartjie van die stad waar dit raas en die verkeer met tye stil staan nie. Dellie ek sal graag eendag vir jou wil kom kuier, sal jou laat weet. Geniet daai rustigheid hoor. Lekker naweek vir julle.

  9. 9

    SHARKS said,

    O ja hierdie Sharkie gaan vir die CHEETAHS skreeu!!

  10. 10

    ekke said,

    Die stadsaal in Welkom het mos ‘n rooikoper dak?

    Die soort metaal ‘slaan’ mos aan (verkleur), oor jare, dan vertoon die kleur groen??

  11. 11

    Dellie said,

    Ekke, jy is doodreg! Die hele dak van die stadsaal is so ‘n paar jaar terug oorgedoen, en ja, dit vertoon groen.

  12. 12

    Jones said,

    Wowwwwwwwwww Dellie, dit was nou `n lekker geskiedenis les, baie mooi aangebied. Kan nie glo daar was vir jare nie `n drankwinkel nie….hehehehe

  13. 13

    Dellie said,

    Yo Jones! Lekker om jou hier te sien! Ai, ja, ek is net bly dis nie vandag nog so nie! 😆

  14. 14

    Frank Botha said,

    Cheetahwêreld lyk darem maar mooi. Sal die inwoners my skiet indien ek met my Bloubultrui daar rondloop?

    Frank Botha

  15. 15

    Dellie said,

    Nee Frank, ek dink nie jy moet dit waag nie… Nie erens in die Vrystaat nie anyway…hehe, ons skree maar die naweek virrie Cheetahs, die Bulle en die Sharks het mos die wereldbeker huistoe gebring? En ons kan mos nou nie greedy wees nie… 😆

    En afterall bly ons in die Vrystaat … laat die Cheetahs die beker geniet hierdie jaar, dis die laaste keer… dan kom die Bulle hom weer opeis. 😀

  16. 16

    Die Brein said,

    Grouse ,ek was nog net twee maal in Welkom en dit was twee maal te veel nie vir my nie dankie, daar gaan flippen niks aan nie en dan hou dit nogal `n maand lank aan.

    Ek was so in 1997 daar toe ek twee ouens se lasbriewe gaan haal het by die hof wat `n ligte vliegtuig daar gesteel het met `n trommel wat R4000 000.00 in gehad het. Die lughawetjie se personeel het nie agter gekom die vliegtuig is vermis nie. toe die twee vrinne in Johannesburg Internasionaal wou land het hul hul gatte af geskrik want onder op die grond was net polisie, maar die was daar om die AWB by die Worldtrade centre vas te vat, hulle het omgedraai en terug gevlieg na Welkom, toe eers wat hulle land het die klomp agter gekom en hulle oorompel.Die wag in die vliegtuig was oorrompel en vasgemaak sy vuurwapen was uit die vliegtuig gegooi erens in die lug. Hulle was twee goeie ouens wat net `n kans gevat het. Albei het ses jaar gevangenissstraf gekry en was na twee jaar op korrektiewe toesig vrygelaat.Die een is in tussen oorlede en die ander een is weer `n vlienier, maar as gevolg van sy veroordeling mag hy net Afrika vlugte doen en nie oorsee nie.Daar het jy nog `n stukkie historie van jul sirkel gemeenskap.

  17. 17

    Dellie said,

    Dankie vir jou bydrae Brein, maar ons verkies om positief te bly hier in Welkom. Gaan jou goed.

  18. 18

    Roer said,

    Dellie, sal maar GPS moet kry vir die vaNkansie, want met al daai sirkeltjies, gaan ek verdwaal.

  19. 19

    sonkind said,

    Dankie Dellie – dit is nou voorwaar ‘n baie cool post. Dit sal nogal lekker wees as elkeen van ons so vertel van die plek waar hy/sy woon, dan leer mens sommer jou land so kubergewys ken!

  20. 20

    unobastardo said,

    Nou weet hierdie dom Kaapse wynmaker ook hoe lyk Welkom. Jy skryf mooi beskrywend!

  21. 21

    boendoe said,

    Dellietjie, dit klink na net die plek vir ‘n vankansie!

  22. 22

    platterfuss said,

    Dellie, jy praat waar! Welkom kom op ‘n manier onder mens se vel in!! Tot jaar of wat terug was ek baie gereeld in Welkom…. Shaft Sinkers…. MID Mining…..

    Maar OMF!!! Daai damn sirkels! Ek kan ENIGE plek uitkom, maar ek kan nottedonner terugkom, ek verdwaal in my moerrrrrrrrrr in!!!

    Maar… daar’s mense ook wat erg diep in my hart ingeklim het! En… cybermense ook…. ((((((Dellie))))))

    Dink dis tyd dat ek weer die sirkels gaan aantree!!!!

    SORRY vir die duplisering! Die brein willie meerie!!! 😦

  23. 23

    Ek het Welkom die eerste keer gesien vroeg in Januarie 1977. Ek het die woonstelblok gesien waarvan jy praat, jy kon die vloere so opmekaar sien lê, so ‘n meter of bietjie meer tussen elke 2 vloere.

    Ek dink Welkom is ‘n baie lekker plek om te woon, ek kry dit elke keer reg om te verdwaal, maar glo mens kan dit gewoond raak.

    Toe ons nog in Upington gebly het was Manie Kitching die hoof-omroeper op Radio Oranje. Hy het altyd gesê: By die ingang na Bethlehem staan “Baie Welkom in Bethlehem” – hoekom staan daar nie by die ingan na Welkom “Baie Bethlehem in Welkom” nie! (Of so iets.)

  24. 24

    alleman said,

    Ek het ook al vreeslik verdwaal in daardie plek (in die nag, veral). Jy kom by ‘n sirkel. Jy kies ‘n rigting. Dan kom jy by nog ‘n sirkel, en kies weer ‘n rigting. Naderhand kan jy sweer jy was al ‘n paar keer by hierdie sirkel! Ek dink ‘n deel van Welkom se verkeer is mense wat die pad uit soek.

  25. 25

    Kokkewiet said,

    /me baie hartseer!!! Ek sien my comment van Vrydag het nie deurgegaan nie.

    Ek het in Odendaalsrus grootgeword so ek ken daardie wêreld baie goed. Ek is nou in Bloemfontein, maar gaan nog gereeld OD toe. My ouers bly nog steeds daar.

    Hier in Bloem vermy ek die sirkels wat hier is, want hiedie klomp weet glad nie hoe om by ‘n sirkel te ry nie.

    Ons moet ‘n koffie date reël as ek weer daardie kant toe kom Dellie!!

    Lekker week vir jou!

  26. 26

    mykopop said,

    Dis baie oulik! Baie mooi inskrywing, ek dink ons moet hom [TYDskrif]. Nou wil ek nie negatief wees nie – onthou jy so ‘n paar jaar gelede was hier so ‘n konferensie in Jhb, iets oor volhoubaarheid, ag wat was die ding se naam tog iets van ‘n W (world, natuurlik)? As ek reg onthou het Prof. Tertuis Harmse iets te sê gehad oor mense wat daar die beeldjies verkoop het wat van bedreigde bome gemaak word. Hoop julle kry die versameling vol voor Prof. T of die groen skerpioene toeslaan!

    Laastens, dis seker nie so moeilik om die goed te maak nie? Het julle gehoor van die ou wat vir die beeldhouer gevra het hoe kry jy dit reg om ‘n perd so mooi uit marmer te kap. Toe se die beeldhouer, maklik, jy kap net alles af wat nies soos ‘n perd lyk nie. (Amper het ek nou ‘n lelike spelfout met ‘beeldhouer’ gemaak – moeilike ding hierdie comments waar jy nie kan gaan regmaak wat jy verbrou het nie.)

  27. 27

    Jo-Ann Schou said,

    Jy is ‘n goeie ambassadeur vir Welkom en ek dink nogal so “show and tell” in die blogsfeer is ‘n bak idee. Ek deps Namibkus. My hart het nie saam Kaap toe getrek nie.

  28. 28

    mieliepap said,

    Ek is mal oor wat jy met Welkom gedoen het! Ek het daar naby grootgeword en besef dat jou gesindheid reg moet wees en dat mens doelbewus na mooi moet soek in sulke plekke, maar hulle wat soek vind absoluut.

  29. 29

    […] hart is van Ding Brief aan Stefan van Boer in Ballingskap Brief wat nie gepos is nie van labmuis Welkom in Welkom van Dellie Kraam suster kraam van Roer Slanghoek vallei van Uno Wat is in ‘n naam van […]

  30. 30

    Zee said,

    Sjoe, my kop is nou omtrent dronk met daardie sirkels. Dellie, ek was al ‘n paar keer in Welkom by my niggie hulle, maar het nie besef hoe interesant Welkom eintlik is nie. Dankie vir hierdie “virtual” toer!

  31. 31

    […] Welkom in Welkom van Dellie […]

  32. 32

    Retha said,

    Ah Dellie, pragtig geskryf.

    Ek bly ook in Welkom en dit verbaas my hoeveel mense van elders dink dat dit ‘n klein dorpie is.

  33. 33

    Dellie said,

    Hi Retha, dis nou ‘n aangename verrassing om te hoor jy woon ook hier!

  34. 34

    EK-EN-JY said,

    Hallo k bly ook in Welkom (Riebeeckstad) en ek wou net met julle deel dat as jy eers een keer Welkom se water gedrink het, jy nooit weer ‘n ander plek se water wil he nie. Ek is na 7 jaar terug in Welkom, en ak sal nooit weer weggaan nie.

  35. 35

    Nick said,

    Dit het so gelyk my vriende …. dit is nou absoluut chaos !!!!!!

  36. 36

    Betsie said,

    Ek bly nou n maand hier in Welkom, entlik tussen Welkom en Bultfontein, Ek vanaf Hartbeespoortdam in Pretoria, Maar ek moet nou se, ek het nie gedink ek sou aanpas hier nie, maar die rustigheid, en skoonlug hier, doen dit vir my. Dan moet ek ook se die mense van die dorp is baie gasvry, en het ons baie welkom laat voel hier. WELKOM BO

  37. 37

    Henry said,

    Dellie, baie goed geskryf en volledig. Ek lees ook op Wikkipedia dat burgermeester van ander stede na Welkom gestuur word om te kyk hoe werk dié stad se verkeer. ‘n Regte pluimpie vir die stad. Net jammer die huidige munisipaliteit doen nie hulle werk reg om die stad se beeld reg te hou as die ‘tuinstad’ nie. As die Vrystaat se 2de grootste stad en Suid-Afrika se jonge stad is jy ‘n baie goeie ambassadeur vir Welkom. Hou dit so!

  38. 38

    Peter Murray said,

    Die EERSTE Taalmonument is op 18 Januarie 1893 op Burgersdorp onthul. Dit was die Nederlandse Taalmonument genoem.
    Die TWEEDE Taalmonument, wat as die Afrikaanse Taalmonument bekendstaan, is in 1960 in Welkom onthul.
    Die DERDE Taalmonument, wat as die Afrikaanse Taalmonument bekendstaan, is op 14 Augustus 1975 in die Paarl onthul.

  39. 39

    No matter if some one searches for his necessary thing, thus he/she wishes to
    be available that in detail, thus that thing
    is maintained over here.

  40. 40

    bouncy said,

    I appreciate, cause I discovered just what I used to be taking a look for.
    You have ended my four day lengthy hunt! God Bless you man.
    Have a nice day. Bye

  41. 41

    stefan said,

    Ek ht groot geword in welkom ht 23 jaar daar gebel ek sal enige tyd terug trek welkom toe. Daar gebeur mar goed soos dt oorals gebeer mar dt bly leker baie gud om te doen en as jy vn kuier hou dan kan jy kuier tot son op en daar gee kakas soos di kant di

  42. 42

    Anoniem said,

    hi mense jamer ek weet die verkeerde plek ek hoop iemand kan my help ons soek bly plek n klein flat of iets ver 2 ou mense en dan ver my en my 2 kids en 1 hond ons is lief vermekaar maar ek en hulle sit so biekie vas so as julle dalk van iets weet kan jul my laat weet 0725474441 jana DANKIE ver jul tyd


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: