My happy plekkie

Ek lê op my rug onder die kombuistafel. Sontrale spring deur die venster en kom dans in die glans van die houtvloer. Erens sing ‘n geel kanarie in ‘n koutjie. Ek skuif-skuif saam met die sonskyn. Ek ruik kerswas en parrafien as ek my neus teen die vloer druk. Dis glad en blink, ek kan myself amper daarin sien.

In die hoek van die kombuis knetter die koolstoof gesellig. Ek ruik koffie, en die geur van brood wat besig is om te bak. En kaneel, altyd kaneel?

Ek skuif effens onder die tafel uit, en kyk op na die plafon wat wit afsteek teen die groen mure. Ek wonder hoe dit sou voel om onderstebo rond te loop. Op die plafon. Maar die meubels bly waar hulle is, op die vloer. Dit lyk vir my na die ideale speelplek. My oog vang die buitedeur, en ek dink, ja, dit kan goed werk. Ek sal makliker kan buitentoe gaan, want Ouma hou die onderdeur toe en ek kan nie by die slotjie bykom nie, al staan ek op my tone. Ek kan net die stoep se dak en die wolke daar buite sien.

Maar vir nou is ek doodgelukkig in my speelplek in Ouma se kombuis, onder die tafel. Hier lê ek en maak liedjies op, sing vir my poppe in die sonnetjie, hou tee-partytjies met die teestelletjie met sy klein koppies en klein-klein blommetjies. Ouma maak die potjies vol regte tee, regte melk en regte suiker. Sy gee soetkoekies saam, groot, rond, plat en blink, met suikerkorrels bo-op wat soos diamantjies skitter. Dit kraak stoopsoet in my mond.

Vanuit die koolstoof se rigting, kom die geur van vars brood. Ouma sny vir my die korsie af, terwyl die stoom nog daaruit trek. Mildelik smelt regte, egte botter deur die sagtheid in die binnekant. Ek ruik die appelkose in die canfruit bottel nog voordat Ouma dit oopmaak. Kry ‘n lepeltjie vol om net so te proe, mmm, dis soet en glad. Ek vat ‘n groot hap van die brood, my lippe blink van die botter en ek het ‘n appelkoos snor.

Dis tyd vir Oupa om huistoe te kom, en ek gaan kruip vir hom weg, op die gewone plek: die meeltrommel agter die agterdeur. Sien, as ek op die trommel staan, kan Oupa nie my voete “sien” nie, en ek staan net daar op die plek waar hy sy hoed ophang. Ek staan doodstil, my klein lyfie vol afwagting, my oë op die skrefie waardeur ek hom kan sien inkom. Wanneer ek hom gewaar, spring my hart in my keel en ek moet baie hard veg daarteen om sommer net te gil van pure plesier. Oupa is hier!

Oupa: “Middag my vrou, waar is Dellie dan vandag?”

Ouma: “Middag my man, het ek dan nie vir jou gesê dat sy nie vandag kom kuier nie?”

Oupa: “Ai, dis jammer, ek het dan vir haar iets spesiaals gebring vandag.” Dan draai hy om om sy hoed op sy plekkie te hang.

Teen daardie tyd kan ek dit nie meer hou nie, en spring jillend agter die deur uit. Oupa skrik hom “boeglam”, sak op die naaste kombuisstoel neer, en hou sy hart vas. Nog voordat hy behoortlik sit, is ek op hom, my armpies styf om sy nek. Hy vou my toe in sy groot arms en lag uit sy maag uit. Hy ruik na pyptabak, maar dis ‘n lekker reuk. Cherry en maple. Soet, maar tog manlik. Asof ek aan sy wang wil lek en proe.

Dan begin die volgende ritueel – ek moet sy sakke deursoek vir my iets spesiaals. Altyd eers die boonste sak, dan die ander sakke in sy baadjie. Nooit is dit op dieselfde plek versteek nie. En dan “kielie” ek hom ook nog in die soektog, wat afgewissel word deur uitasem lagbuie. Wanneer ek dit kry, sukkel my klein vingertjies angstig om die papiertjie van die lekkertjie af te kry. My mond water sommer nog voordat ek halfpad is, en Oupa vee die spoegies op my lip met sy duim af.  Uiteindelik in my mond!

Laatmiddag maak ek my poppe bymekaar onder die tafel, waar die sonstraaltjies nie meer baljaar nie. Ouma vou my toe in ‘n drukkie. Sy is sag, en ruik na poeier en soetkoekies. Ek voel veilig, gelief en gekoester. Die wêreld is ‘n wonderlike plek. En ek gaan huistoe saam met Mamma en Pappa. Tot more, Ouma se kombuis, tot more.

Advertisements

18 Responses so far »

  1. 1

    SHARKS said,

    Dellie hierdie stukkie van jou het my nou aan die verlang na my oorlede oupa, snaaks genoeg daar is ‘n liedjie van Louis Fivaz wat my net so aan hom laat dink, hilux bakkie en dinge, as ek na die song luister, dan huil ek tog te lekker.

    Ek kan met alle eerlikheid sè ek het twee dierbare ouma’s en oupa’s gehad. Ek verlang sommer nou baie na hulle.

  2. 2

    boendoe said,

    Snaaks hoe mens sekere grepies van jou kleintyd so goed kan onthou,maar ander dele weer glad nie. Dis ‘n mooi storie, Dellie. Laat my ook terugdink.

  3. 3

    unobastardo said,

    Ag Dellie, hierdie skrywe van jou maak my ou hart sommer week. Regtig, regtig baie mooi geskryf! Ek kon alles sommer voel en proe.

  4. 4

    sonneblomseplekkie said,

    Hi Dellie,

    Dankie. Jy laat ons almal terug dink aan iets spesiaals in ons kindertyd. ‘Oupa en Ouma Doep’ Of sommer net “Oupa Smarties”……Lekker verlang ek nou 😉

    Groetetjies
    Sonneblom

  5. 5

    mykopop said,

    Laat my ook so aan my kinderdae dink, en Anton Goosen se liedjie Ouma se Warm Kombuis. Baie meevoerend geskryf. Ek wonder net of ons kinders gaan terugdink aan die lekker videospeletjies, hulle eerste selfoon, ens. ens.?

  6. 6

    platterfuss said,

    ((((Dellie))))) Maak jy my nou weer ‘klein’ hierso… verlang DIEP na my oupa en ouma…

    Varsgebakte brood…. kussingsloop gedroogte perskes….

    Eish!!! Mooi ‘gepraat’ hier…..

  7. 7

    feetjieland said,

    Dit was nou so mooi, het my nou sommer laat verlang na my ouma se huis!! Ons vakansies by haar is ook van my mooiste herinneringe in die lewe!

  8. 8

    Eben said,

    Pragtig Dellie … maar weet jy diep binne my het ek altyd gekoester na ‘n Oupa en Ouma. Maar ongelukkig is dit so dat ek nie een van hulle kon sien en ken, omrede beide kante se oupa’s en ouma’s was reeds oorlede, met my geboorte.

    Maar, vertroetel die gevoel, is kosbaar.

  9. 9

    Sonstudio said,

    Mmm, dis so mooi geskryf.
    Terwyl ek hier gelees het, het ek ook vir ‘n rukkie op ‘n ander plek ‘gekuier’!

  10. 10

    Annie said,

    Ai, Dellie ek is nou so vol heimwee wil sommer nou huistoe gaan en al my foto’s uitpak en verder verlang. Pragtig geskryf!!!!

  11. 11

    lanaba said,

    Ai dis mooi – n mens verlang sommer dadelik……

  12. 12

    My spelling!!!! Ek kan ook net se: pragtig geskryf!

  13. 13

    die Brein said,

    Hi Dellie, fokkit het alle oumas en oupas se kombuise dieselfde gelyk. Ek is 43 jaar oud en dit klink presies na my grootouers se plaaskombuis buite Bloemfontein toe ek so ses jaar oud was.Wat `n moerse vooreg was dit om in daardie tyd te kon kind wees.Ek se ek wil eendag `n oupa vir my kleinkinders wees soos my oupa was.Hy is oorlede toe ek maar ses/sewe was.En my vrou se sy wil `n ouma wees soos ons oumas destyds.Lekker aand.

  14. 14

    Marina said,

    Ai Dellie, ek het altyd gewonder hoekom my pa hulle so liries kon raak oor hulle kleintyd. En nou……… daar is ek ook nou op daardie stadium van my lewe om terug te dink en nostalgies te raak. Dankie vir die rukkie se stilstaan en net weer verlang!

  15. 15

    Anoniem said,

    Dellie, ou ding! Dankie dat jy die heel eerste gas op my blog was.
    Waardeer baie!
    Ons 2tjies gaan nog lekke chat, as ek die dinge so kyk!
    🙂

  16. 16

    Adelem said,

    Genade! maar eks blond! EKS NIE ANONYMOUS NIE!!!!!!!!!

    Dellie, ou ding! Dankie dat jy die heel eerste gas op my blog was.
    Waardeer baie!
    Ons 2tjies gaan nog lekke chat, as ek die dinge so kyk!
    Groete,
    Adelem

  17. 17

    Roer said,

    Mooi inskrywing Dellie


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: