Ontgroening

Wie van julle onthou julle ontgroening toe julle hoërskool toe is? Toe dit nog pret en wettig was? Myne het so verloop:

Ons het nog in SWA gewoon, en op daardie stadium was standerd 5 die begin van hoërskool. Ek was in die koshuis, en het net so een keer ‘n maand huistoe gegaan. Die ander naweke het ek ingebly, of by maats gaan kuier wat naby genoeg en gelukkig genoeg was om elke naweek huistoe te gaan.

Op die eerste skooldag moes ons so aantrek: rompie en hemp verkeerdom, en onderstebo, skoene sonder sokkies, en aan verkeerde voete, jou grootste tas waarmee jy koshuis toe gekom het (myne was so groot dat ek en ‘n pel binne-in kon pas), jou tandeborsel agter jou oor, waslap op jou kop en jou tandepaste boksie wat met ‘n toutjie agter jou aangesleep word. Dit was jou budgie. En bewaar jou siel as iemand op jou budgie trap, maar jy moes hom sleep, mag hom nie optel nie.

Ons was sotte, en as “dit” aangespreek. Ons het plakkate gedra met ons name, byname en stokperdjies op. Soms het die matrieks sommer vir jou ‘n ander bynaam gegee – ek het opge-eindig met ‘kakkerlak’. Ons moes heeldag kop onderstebo loop, vir ingeval ‘n matriek leerling dalk erens te bespeur was. Ons was te laag om hulle in die oë te mag kyk, en as dit wel sou gebeur dat jy jou kop oplig, is jy weer vinnig grondtoe gebring met ‘n kwaai “dim jou ligte, dit!”

Voor skool en pouses moes ons in ‘n ry teen die muur in die vierkant aantree. Dan loop die matrieks en soek slagoffers waarmee hulle die spot kan dryf, terwyl die res van die skool toekyk. Ek het gedink dis ‘n moerse grap, en juis daarom is ek nogal getarget om ‘ingebreek’ te word. Party ouens kon dit nie hanteer nie, en het gou-gou in trane uitgebars. Ek skat dit was hulle doel, om jou so te verneder, en dan karring hulle nie verder met jou nie. Maar nie ekke nie, hulle kon my nie inbreek nie!

Een van die matriek meisies het agtergekom ek skeer my beenhare. Was nog nie veronderstel om dit te doen nie. Toe kry ek mooi lang swart koki beenhare, en ek moet op ‘n asdrom staan en Minora blades adverteer. Tot groot vermaak van die hele skool.  

Toutjie-kou was vir my die ergste, want ‘n veter is sommer uit die seun se skoen gehaal, en dan moes ons kou totdat ons lippe aan mekaar raak! Ek het eenkeer amper ge-ots, my partner het sulke geel puisies gehad wat al hoe nader gekom het! Hulle het altyd die jiggieste outjies uitgesoek om saam met jou te kou. Toe trek ek weg en weier om verder te gaan. Vir my straf moes ek toe ‘n paal vry. En dan word jy aangepor, “kom dit, vry, die paal beweeg nog nie, vry” terwyl die res van die skool hulle asem uit lag vir jou.

Ek moes ook menigmale borsslag swem op die grasperk, en het by baie suigstokkie stokkies gehuil sodat hulle kan water kry om te groei. Ons bene is ook deur die seuns gemeet met pendorings, en die lekkerste daar was dat jy hom kon klap dat sy ore tuit as hy te hoog op beweeg! Ek het ‘n paar lekker klappe daar ingekry.

Soms het die matriek seuns my uit die ry gehaal, so ‘n kringetjie om my gemaak, en my dan probeer verneder. Ek het nie my mond gehou vir hulle nie. Gelukkig was daar darem ‘n paar matriek meisies wat my kom red het as hulle die kans kry, net om my te laat sing op die asdrom of so iets, en my eintlik verder te verneder.

Teen die einde van die week is die hele gedoente afgesluit met ‘n waatlemoen fees die Vrydag middag, en ‘n sottekonsert die aand. Voor die konsert, en na die waatlemoenfees, taai en vuil, moes ek kondensmelk by ‘n hardeware winkel in die dorp gaan koop met 5c. En spykers by die apteek! Die winkeleienaars het maar saamgespeel, hulle het dit net so geniet! Ek kan nie onthou wat ons aangevang het in die konsert nie, maar ek is gekroon tot sottekoningin. My troon was weereens die asdrom, en ek was toegedraai in toiletpapier.

Ek het elke oomblik daarvan geniet. Ek kan nie onthou dat iemand seergekry het nie, en toe dit verby is, het ek regtig deel gevoel van die skool. Die matrieks was my beste pels, veral die seuns! Dis nogal jammer dat hierdie tradisie later jare so suur geword het. Vir my hou dit heerlike herinneringe in. Vertel bietjie van joune?

22 Responses so far »

  1. 1

    Roer said,

    Klink of jy ‘n stoutgat was. My tipe vriendin. Ek was in ‘n groot skool en het ‘n low profile gehou plus ek was klein met die gevolg dat tot en met st 8 was ek misgis vir ‘n st 6 en nogsteeds so nou en dan ontgroen. Daarna het ek bek gekry en toe vat ek nie nonsens nie!

  2. 2

    neykie said,

    ek en my vriendin het gesit en eet op die aantree blad toe word ons uit gehaal en moes ons voor die hele skool sing “sonbrilletjies ooh ooh my glas is gekraak” daai moerse sonbrille en al…..

    ek het so skaam gekry.

  3. 3

    mykopop said,

    Ja, ek is ook daardeur en dit was lekker! (Daar was natuurlik ook die wat dit te ver gevoer het deur ons met ‘n telefoonmagneto te skok tot jy huil.)

    Ek was in die HT&HS, die handelskool was net van St. 8 af en meestal meisies, dus is ons St. 6 seuns saam met St.8 meisies ontgroen. Kort rokkies was in die mode. Die lekkerste vir my was om ‘n St.8 meisie se been met ‘n vuurhoutjie te moet meet, tot sy jou ‘n klap gee!

    Ons het ook die gewoonte gehad dat die St. 9’s aan die einde van die jaar die matrieks doop deur hulle onder ‘n kraan naby die rugbyveld te druk. Daar was ook gewoonlik ‘n mishoop naby die rugbyveld… Ons groep was egter ‘n ander klomp. Ons het die St. 9’s gedoop!

    Toe ek by die Poskantoor begin werk het, het hulle weer die gewoonte gehad om ‘n nuweling na ‘n ander afdeling te stuur om ‘n paar longwaits te gaan vra.

  4. 4

    vygie said,

    Ek kan nie veel onthou van ons standerd ses ontgroening nie. Ek het my bloot skaars gehou. Universiteitsontgroening kan ek beter onthou. Weereens was ek ‘n “sluiper”. Ons moes elke oggend sesuur vir ‘n standbeeld op die plein gaan sing (en ‘n ander klomp dom goete soos vassuig aan mure en vrot eiers ronddra). Ek reken dit was erger straf vir die HK-lid wat ons moes vergesel as vir ons! Ek was erg geirriteerd oor ontgroening as sulks. Dit het by my in elk geval nie ‘n greintjie lojaliteit gekweek nie. My laaste skooldag het ek met ‘n vrolike wuif by die hek uitgehuppel terwyl die ander snot en trane huil. En uit die universiteitskoshuis het ek so gou getrek as wat ek kon.

    Maar ek stem saam met Roer dat jy ‘n stoutgat was. Soos jy dit aangepak het, is duidelik die ideaal🙂

  5. 5

    Rustig said,

    Ek dink daar is nog min mense wat die ongroening kan onthou. Niemand is werklik te na gekom nie. Ek was en is nog een van daai tipe wat so stil in die agtergrond verdwyn net om weer later verskyning te maak. Vir een of ander rede het matrieks my nie gepla nie. Was ook op kosskool. Op einde van dag is dit tog groot pret en dra baie by tot ‘n skool se spangees.
    Vandag is dit meer ‘n magspel en vernedering van persoon.
    Dellie was in Namibia terwyl ek army was. Mooi land op sy eie manier. Mis jy dit nie?

  6. 6

    Dellie said,

    Rustig, ek mis Namibië verskriklik! Ons het daar gebly vir 9 jaar, eers in die noorde (Kaokoveld) en later Gobabis waar ek ontgroen is. My boeties was ook daardie tyd in die weermag. Dis ‘n pragtig land wat onder jou vel inkruip.

    Eendag, as ek groot is, wil ek graag daar gaan toer en vir Liefie al die mooi plekke wys wat hy nog nie gesien het nie. Hy was darem ook ‘n ruk daar, destyds toe die SAW onttrek het uit Namibië. Hy was MP. Toe was hy op Otavi, Grootfontein, en selfs die Caprivi strook. Vir 3 maande. En dit was eintlik ‘n hele vakansie vir hom. Hy het teruggekom met pakke foto’s en kon nie uitgepraat raak oor die mooi land nie. Ai, hoe verlang ek nou!

  7. 7

    skoorblok said,

    Dis jammer die hele MENSEREGTE konsep het alles uit verband kom ruk (saam met onverantwoordelike indiwidue, natuurlik), want dit is nogal ‘n essensiele deel van ‘n mens se grootword proses.

  8. 8

    […] hare kort ‘n was… November 30, 2007 Posted by vygie in Uncategorized. trackback Dellie se pos oor ontgroening het my laat dink aan ons 20 jaar skoolreunie wat volgende jaar gehou sal […]

  9. 9

    Marina said,

    Toe ek in St 6 was, was my ouboet ‘n onderwyser by die betrokke skool en ‘n baie kwaai onnie. Dus was die seniors taamlik sku om my te erg te ontgroen.
    Maar toe my eerste jaar van swot kom, het ek deeglik deurgeloop. Die ergste was ook dat jy altyd op die grond voor jou moes kyk en dan kom staan ‘n HK of SR lid voor jou en gil “Eerstejaar, wie is ek ??” Ek het menigmale gebid die grond moet my insluk!

    Dis so lekker om weer terug te dink aan daardie tye.
    Dankie Dellie!

  10. 10

    platterfuss said,

    Std 6 ontgroening het ek so half ‘gemis’ omdat ek ‘pals’ met die ‘groot kinders’ was… maar o fok!!! 1ste jaar op PUKKE!!! Ek was ‘n ‘Door’… en ‘n GEMERKTE ‘Door’ as gevolg van baie dinge! HEHE!

    Die ‘dames’ het my 6/0 opgefokuleer… (tot vandag toe nog hou die spesie oor die algemeen nie te veel van my nie) en ek het ‘n ROYAL tyd saam met die manne gehad!!! (Daai tyd het ek nog gemodelleer, nie dikgat, oud en lelik soos nou nie, en dit het gehelp!!!) Gert Smal het my leer drink….. DM het my geleer om katvoet vir Drama en Kuns te loop…..

    Ek en Karin Hougaard was saam 1ste jaars, selle koshuis… so… ons het MOERSE 1ste jaar ‘sêrs’ gehad! Soveel so dat sy laringitis of iets opgedoen het voor haar ‘Lui lui telefoon’ ‘plaat’!

    Maar…. dit was ongefokkenlooflike lekker tyd!!!

  11. 11

    anne said,

    aaaaaaaaaahhhh!skool dae,ek het vader xmas op skool ontmoet,ek het swanger geraak,in std 5,met die eerst elf,vader xmas het nie responsibility gevat oor die kind nie,hy het die kind gevat en verdwyn,hy het n paar jaar verskyn met ander elfs,somtye worry ek,ek weet nie wie van die elfs is eintlik my seun nie.

  12. 12

    Anoniem said,

    Ek het in st6 by ‘n nuwe skool ingestap. Moet erken, die ontgroening was nie vir my so lekker nie en ek het my maats vreeslik gemis!

  13. 13

    sonstudio said,

    Anonymous hier bo is ek. Bietjie ‘n blonde oomblik beleef!

  14. 14

    Jaco said,

    Ek het 2 dae voor ek moes std 6 toe my voet oopgekloof met ‘n stuk yster. Met die gevolg is ek is met agt steke bo-op my voet en skoenloos skool toe.

    My bynaam is summier deur die matrieks verander na horrelpoot rockbiter. (rockbiter omdat ek so bietjie van ‘n overbite het)

  15. 15

    Louw de Twak said,

    In St6 is daar vir ons vertel dat Geskiedenis ook praktiese eksamens behels. Ons moes die oskop formasie op die rugbyveld oefen. Die geskiedenis meneer het ewe ernstig met ‘n boek voor hom gestaan en bevele ge-uiter. Geskiedenis was tot in st7 my gunsteling vak…

  16. 16

    Mollie said,

    Hi

    Ons was jelliebabas moet met ‘n sykous oor die kop,borslap en dummy in die mond rondloop. Hulle het dit bietjie ver gevoer, kruip kompetisie, melk drink kompetisie. Maar vandag lag ons daaroor.

    Lekker naweek

  17. 17

    wag-ʼn-bietjie said,

    My kind was drie jaar terug daar. Dinge het nie veel verander nie. Gelukkig was alles goed deur die skool beheer met genoeg ruimte vir lekker pret. Ek het net in die week op haar briefie afgekom wat sy vir die skoolkoerantjie ingestuur het. Ek sluit dit in met toestemming:

    Wooooow! Wat kan ek sê:”Lekker bly maar lekker!!!!”

    Ek dink nie daar is een DISSEL of DRAGONDER wat nie weet wat sy of haar naam beteken nie. RAMPASAT-HARIWAAI-SPOENILAAI-WIEMAKAJING sal ek nooit in my hele lewe vergeet nie!

    Ons DISSEL en DRAGONDER moes ook natuurlik weet hoe om aan te trek, van vliegtuig tot wilde dier (Baie, baie dankie Mams). Ons moes kan grappies vertel, konsert hou, dans, omkoop en sing ook nog! Dit het ek darem self gedoen. Dit was net die grappies vertel wat erg was, dit was nog nooit een van my sterkpunte nie.

    ONTGROENING, veral by Hoërskool …. is nie vir SUSSIES nie hier is dit vir ONDERGESKIKTE JANSIES!!!

    Maar soos ek sê:”Lekker bly maar lekker!”

    Maar nou moet ek ondergeskikte jansie u groet, Hooggeagte en gerespekteerde seniors van hierdie superior instansie waarvan ek, ook nou deel is.

    Baie, baie dankie!

  18. 18

    sonkind said,

    Ek was ook St 6 in die koshuis en moes ook allerhande belaglike, maar tog lekker-om-te-onthou goed doen.

    EEN daarvan sal ek nooit vergeet nie en ek kan dit vandag nog lag-lag doen. Vir die sottekonsert moes ek Jan Pierewiet sing op die wysie van Sarie Marais. Ek het so goed geoefen dat ek dit vandag nog, 100de jare later, steeds toe oe kan doen! My bynaam was Katjiepiering, fok weet hoekom.

  19. 19

    SHARKS said,

    Dellie hoe laat jy my nou terug dink, dit is donkie jare terug, maar ek onthou dit nou so goed, ek moes ‘n boom skrik maak, die ding skrik seker nou nog, image hier bekruip ek die boom, en maak hom skrik!!

  20. 20

    2010 matriek!! said,

    ekt nie sulke avontuurlike stories of idees vir ons sotte nie…kan iemand my n paar name gee asb en idees vir koshuissotte om goed te doen…asb asb!

  21. 21

    Anoniem said,

    my ontgroening klink amper identies !! ek is volgende jaar matriek en ons ontgroening duur vir drie weke. ek hoop ons word toe gelaat om te doop soos wat ons gedoop was !

  22. 22

    christelle said,

    my ontgroening eish. Oz mus sos siek vfools vir n klomp matrieks sing p hulle verjaarsdag en as oz ni reg sing nie moes ons oor begin het. MOes my hele hare vol ponies gemaak het. E ons moes ook klere onderste bo dra. ons moes eend voete en neuse heeldag gedra get met ons eier as ons kind. ons moes vir die matrieks geld insamel hele dag lank. n matriek die lelikste een het my vor die hele skool gevra om te trou en was ek gespot vir amper my hele st6 jaar lank. salit noit vergeti


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: