Vir Oulaas

En daar is die jaar toe ook op sy rug en onder die bed ingeskop. Nog 12 maande is verby. So vinnig. Soos wat ek ouer word, voel dit vir my so asof tyd net vinniger verby gaan. Toe ek klein was, was daar seker 36 maande in elke jaar. Dit het in elk geval so gevoel!

Liefie het gister verjaar, en ons het vandag die matriek uitslae gekry. Seun is deur! En sy drunken skunk maters ook. Wat ‘n verligting! Ek het ‘n rumour gehoor dat ons skool se slaagsyfer 100% is, maar kon nie bevestiging opspoor nie. Ons sal binnekort verseker weet. Ek en hy het gisteraand tot laat flieks gekyk, en hier by 3 uur besluit dat ons sommer maar vir die koerant gaan wag. En ja, gewoonlik is die koerant hier teen 5 uur soggens, maar vanmore het dit natuurlik eers na 7 aangeland. Teen daardie tyd het ons al soveel koffie gedrink, dat ek net so 2 ure kon sluimer, heel op ‘n caffeine high!

Weet nie hoe ek dit gaan maak nie, vanaand word Liefie se verjaarsdag EN die uitslae gevier. En die mense is nog steeds nie moeg gekuier van die begin van Desember af nie! Gee my krag! Sal maar bietjie Bioplus gaan soek… eish, ons word oud…

Voor hierdie jaar nou regtig sy stoffies in ons oë skop, wil ek net graag vir elkeen van julle wat in hierdie jaar my paadjie gekruis het, dankie sê. Op ‘n manier het elkeen aan my lewe geraak.

Ek het lekker gekuier by elkeen van julle, en gretig die stukkies wat julle bereid is om te deel, opgeslurp. Sonder dat ek wou, het julle deel van my gedagtes geword, net soos “regte” vriende. Ek weet al waar om te gaan kuier as ek wil lag, waar om stil te gaan raak en krag te kry vir die dag, waar my eie frustrasies ook verwoord word, en waar om die wêreld in foto beelde deur julle oë te gaan bekyk. Ek weet waar ek kan gaan aanklop as ek raad nodig het oor diep dinge, bietjie stout wil raak, en waar kan ek net my skoene uitskop en lekker laf wees. Dan is daar ook plekke met menings ver bokant my vuurmaakplek, maar waar ek graag vertoef en absorbeer. En mense stories wat aan my hart raak, my oë weer anders laat sien, en my soms net asemloos dankbaar laat. Dankie vir julle elkeen, julle is almal vir my baie spesiaal!

Nou ja maters, daar is nog net ‘n paar slapies oor van 2007… gryp dit aan die horings, en ry dit bloots! En mag 2008 JOU jaar wees!   

7 Responses so far »

  1. 1

    Roer said,

    Vir jou en jou gesin ook Dellie. Dankie vir al die lekker leesstof. 😀

  2. 2

    Voorspoed vir 2008 en vier dit behoorlik!!!

  3. 3

    boendoe said,

    Dellie, baie geluk met Seun se uitslae. Dis voorwaar ‘n mylpaal. En geluk met Liefie se verjaardag ook. Dis jammer ek het nie geweet nie, dan sou ek vir hom nog ‘n potent botteltjie gestuur het!! 😀

    Voorspoedige Nuwejaar! Soos jy se, ry hom BLOOTS!

  4. 4

    sonkind said,

    Mooiste 2008 vir jou en die hele familie. En geluk met jou seun se matriekuitslae!

  5. 5

    mykopop said,

    Dankie vir alles Dellie, ook ‘n besondere mooi inskrywing hierdie. Veels geluk aan julle en julle seun. Ons is terug by die huis en baie rustig, so ons gaan die nuwe jaar so gesels-gesels in, behalwe op Nuwejaarsdag beplan ons so ‘n trippie.

  6. 6

    sonneblomseplekkie said,

    Hi Dellie,

    Baie geluk met jul seun se uitslae. En baie geluk met jou man se verjaarsdag. Dankie vir die mooi posting. Mag jul jaar wat voorlê ryklik geseend wees.

    Groetetjies
    Sonneblom


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar op sonkind Kanselleer antwoord