Skryf vir my ‘n briefie

Vlieg ‘n voëltjie van ver af

Hy kom sit op my voet

Met ‘n briefie in sy bekkie

Van my maatjie ‘n groet…

Ouma het hierdie liedjie vir my gesing toe ek nog baie klein was. Gister het dit sommer uit my geheue gespring toe ek ‘n baie spesiale pakkie ontvang, eintlik twee pakkies… en ene het ‘n regte, egte, handgeskrewe briefie in gehad… my dag is gemaak!

Iemand op die blogs het die ander dag ook geskryf oor ‘n brief… en nou verstaan ek heeltemal wat sy bedoel het! Wanneer laas het jy ‘n brief ontvang? ‘n Lekker geselsbrief? Wat iemand SELF vir jou geskryf het? Met ‘n pen? En wanneer laas het jy vir iemand anders so ‘n briefie gestuur? In die wêreld waarin ons vandag bly, is sms’e en e-posse mos baie vinniger. Maar ai, niks kom by ‘n regte, egte brief nie!

In die een pakkie, was ons liewe blogvriendin Sonstudio se CD. Ek voel baie bevoorreg om ene,  met ‘n persoonlike boodskappie van haar af, te hê! En sy sing pragtig. Julle moet maar oge oophou vir haar op die winkelrakke een van die mooi dae! Dankie Sonia.

In die ander pakkie was ‘n kristal. ‘n Clear Crystal Quarts. Van Sigeuner af. Sy is ‘n vriendin van die goeie ou dae toe ons nog rondgehang het op SSSB. Dankie jong, dis ‘n pragtige kristal! Dit het ‘n plekkie gekry waar ek dit altyd kan sien.

Nou kyk, ek weet absoluut niks van kristalle af nie, behalwe dat dit mooi is. Ek het toe so bietjie gaan google en op die volgende afgekom:

Crystal -Quartz : Known for its healing abilities. It helps one to clear the mind and focus on what is needed. It helps to connect you to the physical plane with the universal plane energies. It is also considered a conductor of energy.

Please know this: You CAN NOT buy your own crystal. It must be bought for you by somebody else, and given to you as a gift!

My eintlike punt is dit: hier in die kuberruim het ons al baie vriendskappe gesmee. Ons het mekaar nog nie van aangesig tot aangesig ontmoet nie, maar ek troetel hierdie vriendskappe! Dis amper vir my meer werd as die wat ek het met “regte” mense! Hehe, wat praat ek nou, julle is mos ook regte mense! Maar verstaan julle wat ek bedoel?

Om geskenkies te kry van iemand wat ek nie regtig “ken” nie, is vir my besonders. En elkeen van hulle kry ‘n baie spesiale plekkie in my lewe.

Seun het vir my ‘n skryfblok en koeverte gaan koop. Hy het my eers so skaapagtig aangekyk, en gevra of ek ‘n “notepad” wil hê! Dis verskriklik, my kind is 18 en hy weet nie hoe lyk ‘n skryfblok waarop mens briewe skryf nie! Onthou julle toe ons nog op skool was? Ek en my vriendinne het altyd die blaaie uitgeruil onder mekaar. Mens het die mooiste skryfblokke gekry, met blommetjies en diertjies, en veral die romantiese silhoeëte was baie gewild. Ja, toe het ons nog liefdesbriewe geskryf!  Ek gaan amptelik met Sigeuner begin korrespondeer. Regte, egte briewe skryf. Ek sien vreeslik uit daarna!

Miskien moet julle ook vir iemand ‘n regte briefie in die pos gooi. Glo my, daai gevoel van absolute plesier  as jy die koevert oopmaak, is iets wat jy nie in woorde kan omsit nie.

46 Responses so far »

  1. 1

    Suz said,

    Dellie, jy praat nou die waarheid, ek onthou ook nog die dae wat ons op skool was en ons skryfblokke se blaaie uitgeruil het. Ek het so jaar terug het ek my versameling weggegooi. Daar was darem baie mooi skryfblokke gewees.

    Ek onthou nog hoe ek en my niggie (sy het in Messina gebly) elke week vir mekaar geskryf het en hoe opgewonde ek was as daar ‘n ou briefie vir my was.

    En dan nog daardie briewe wat ek van my boyfriend gekry het wat in die weermag op die grens in Ondwanga was. Dit was ‘n baiel lekker geval as jy daardie handskrif en pos stempel herken.

    Dankie vir die lekker onderwerp!!!! hoe verlang ek nou terug na my jonger dae

  2. 2

    Jaco said,

    Ek en Krista het briewe geskryf toe ek nog vir SAW en seuns gewerk het. Sy het amper elke dag vir my ‘n briefie geskryf. Met parfuum opgespuit en allerhande snaakse sêgoed op die buitekant van die koevert.

    Ek moes ongelooflik baie opstote doen voordat die drilsersant my briewe vir my gegee het. Vandag lê elkeen van hulle veilig weggebêre bo in my kas.

    Seker een van my kosbaarste besittings is daai boks vol briewe

  3. 3

    Zee said,

    Dellie, troetel jou kristal. Gypsey girl het dit spesiaal vir jou uitgesoek. Sy het duisende pragtige klippies en kristalle daar by haar. Die dag toe ek daar by haar was, was sy so opgewonde om dit vir jou te stuur…

    Ek het nou nog die eerste briefie wat manlief 26jaar terug vir my geskryf het daar van die grens af. Ek bewaar dit soos ‘n stukkie goud!

    Nou wonder ek, wie kan ek voor skryf? Het nog die mooiste skryf papier van jare terug.🙂

  4. 4

    Carolina said,

    Dellie,
    My man is in Ierland! Ek verlang!
    Briewe!! Ek onthou van al ons vrybriewe weggebere in ‘n boks!
    Jaco, dit is ook een van my (en my man) se kosbaarste besittings!
    Meeste is ook geskryf toe hy op die grens was!
    Dankie Dellie en Jaco – Ek gaan dit nou dadelik uithaal en lees!!

  5. 5

    Dellie said,

    Zee, iemand in jou familie van wie jy lanklaas gehoor het, en wie nie blogs lees nie? 😉

    Jaco, ja, daai briefies Army toe… ek was net swanger met Seun, toe is Liefie SWA toe (dit was 1989 toe SAW hulle onttrek het) Hy was MP, en was weg vir twee maande. Hy het klein nota boekies vol geskryf vir my, datums en tye, en als wat gebeur. As die boekie vol was, is hy gepos. En natuurlik is my briefies terug ook met parfuum bespuit… ai, dit was lekker, né! Ek het ook nog al daai briefies en boekies – dis my kosbaarste besittings…

  6. 6

    Carolina said,

    Hallo Zee,
    Sien jy het ook nog jou grensbrief!
    26 jaar terug!
    Myne is 31 jaar terug geskryf!
    Lekka aand vir al die bloggers!!

  7. 7

    Zee said,

    Hi Carolina, jong, het hom sommer gou gaan uitkrap en weer gelees. Lekker aand vir jou ook!

    Dellie, jy gaan nie glo nie, ek was ook swanger toe manlief op die grens in SWA was al was dit nou 1983. Hehe, dalk ken Liefie en Manlief mekaar🙂 Manlief se laaste kamp was hoeka 1989.

  8. 8

    Dellie said,

    Suz, ek dink ek het nog erens in ‘n boks my versameling! Ek kan mos nie goed weggooi nie….😯

    Hi Carolina, ek sien nou eers ek en jy was amper SNAP! G’n wonder ek het jou gemis nie! Ek sit nou net by Liefie toe hy bad, en ek vertel hom van my blog vandag… en dit was so lekker, ons het saam al die briefies en lawwighede onthou, en hierdie naweek gaan ons die boks uithaal waarin daardie boekies en briefies is… dit weer lees en onthou hoe verlief ons was! Ag lekker! Ek kan nie wag nie!😳

  9. 9

    platterfuss said,

    eish! 2 van my swak plekke! n RERIGE brief… En enige klip of kristal…

    Dellie, jy laat my terugverlang na die ‘ou’ tyd!

    Maar nou se tyd het darem ook voordele! Mense soos jy en ander het in my lewe beland! Dankie tog…

  10. 10

    Dellie said,

    As ek reg onthou, (jis, ek is darem nou op ‘n trip down memory lane!) het daai sêgoed op die buitekant van die koevert goed behels soos SWANK (Send With A Nice Kiss) en ‘n rooilippies-soen op die agterkant waar die koevert toegeplak word.

    Wat was die ander? Kan iemand onthou? ❓

  11. 11

    Dellie said,

    Hi Platty! Hoe gaan dit met die trek? Het jy al genoeg dose en koerante gekry om die ding te doen?

    Jy moet net praat, vriendin, ek het ‘n nuwe skryfblok, (yeh) wil jy ‘n briefie hê? En as ek eers bietjie meer navorsing gedoen het oor kristalle… wie weet? 😆

  12. 12

    Adrie said,

    Ek is te lui om briewe te skryf. Een van my vriende is gek oor ‘n handgeskrewe brief. Hy kies dit bokant ‘n kar. Vir hom sal ek my luiheid opsy skryf en ‘n geselsbriewe skryf.

    Vir almal anders vir wie ek ‘n pen optel, is daar ‘n rede. Gewoonlik om ‘n boodskap meer spesiaal te maak.

    Ek is mal oor kaarte, enige kaarte. Ek gooi geen brief, kaart of persoonlike nota weg nie.

    Ek sien in die posting dat julle mekaar nog nie ontmoet het nie. Julle het seker al gesien dat ek en my gespuis hierheen “getrek” het. Op die vorige blog waar ons gekuier het, het ons eendag besluit ons wil mekaar ontmoet. Die geboorte van ‘n blogjol.

    WAt baie interessant is, is hoe mense dikwels van hulle blog besonderhede verskil. Op die blog is hulle miskien bekkig, in persoon tel hulle net tande. Omgekeerd natuurlik ook. Die blog grapgat is dalk baie erenstig en die stout klein hel dalk sedig. Ek beveel so iets beslis aan.

  13. 13

    Carolina said,

    Hallo Adrie,
    Welkom hier! Ons kuier lekker hier saam met Dellie!!
    Vanwaar het julle getrek? Vertel so ons!

  14. 14

    sonstudio said,

    Ag, dis sommer ‘n groot plesier!
    Regte, egte briewe is darem maar baie special!

  15. 15

    Adrie said,

    Carolina

    As Dellie my bliksem omdat ek die onderwerp op haar blog verander is dit op jou gewete. Ons het altyd op die Jacaranda blogs gekuier, maar ‘n baie onaangename siel het ons van plan laat verander. Die siel het waarskynlik saam getrek, maar gedra hom tot dusver nog.

  16. 16

    Carolina said,

    Adrie,
    Dellie sal ons nie “blik…” nie! Sy sal eerder vir ons ietsie skink sodat ons lekker verder kan kuier! Is mos so Dellie!! Ek het my briewe klaar gelees! En is nou op die “onthou” oomblikke! My man is ver! Is nie so gelukkig soos Deliie om die “onthou” oomblikke nou te deel met manlief!! So nou kuier ek op haar blog!!
    Ek dog jou trek was van iewers “oorsee”!
    OK , in elk geval “aangename kennis”

    Dellie , lekker om te hoor dat jy my gemis het!

  17. 17

    Adrie said,

    Carolina

    Ek het besluit die ape gaan my nie uit die land uit dryf nie. Wat maak jou man in Ierland?

    Een groot voordeel van epos is dat jy nie iemand se skrif hoef te ontsyfer nie. ‘n Nadeel is dat jy nie iemand aan sy skrif kan uitken nie. Om briewe te skryf is ‘n kuns, wat baie min mense vandag nog kan bemeester.

  18. 18

    Carolina said,

    My Man werk vir 2 maande in Ierland! Ek vlieg oor ‘n week na hom toe! Ons wil nie immigreer! Ons hoop dinge sal verbeter! Lekker om net vir ‘n ruk oorsee te werk. Sien mooi plekke! Verdien in Euro’s. Maar kom weer huis toe!

    Briewe: Skrif uitken is ‘n ander storie. ‘n Vriendin van my bestudeer handskrifte en sy kan “scary” goed daarin lees!
    Lekker om te kan gesels!

  19. 19

    Adrie said,

    Ek wou een keer handskrif analise vir die pret op swot, die kostes het my laat besluit om vir eers te wag.

  20. 20

    Eben said,

    Dellie, dis so waar soos almal hierbo getuig. My eie moeder (83) skrywe al om die week vir my ‘n lekker gesels briefie in haar eie handskrif. Buiten die geskrewe briewe, bewaar ek dit ook. As die dag kom dat sy nie meer met onse is, dan kan mens lekker terug dink en weer en weer lees wat op daardie staduim vir haar ‘n lekker onderwerp was om te lees.

    Met my getrek kom ek ook af op ou briewe …. love letters en die einste SWANK agter op!! Dan was jy ook lekker laf genoeg op aftersave op te gooi ens ens.

    Ai ai … lekker dae daardie!!

  21. 21

    SHARKS said,

    Ja so sterf briefies skryf heeltemal uit, wat ‘n jammerte, ek het ook so boxie gehad met love letters en dinge wat ek gebère het, maar eendag het my eks die goed alles gevat en verbrand!! Nou het ek maar net daai herinneringe oor.

    Ek weet Angie het so paar love letters wat sy bère. Dit is lekker om sulke briefies later oor en oor te gaan sit en lees.

    Jammer as ek so stil was die laaste ruk, maar ek is die week op training, kan net so 30 min of so vinnig in die oggende blog en soms etenstye, maar mens hier is so blogs om te lees, ek lees net so hier en daar!

  22. 22

    neykie said,

    dis waarlik lekker om so brief te ontvang, op skool het ons vriendinne terwyl ons eksamens geskryf het sommer op die vraestelle vir mekaar briewe geskryf, tot vandag toe nog hou ek styf vas aan die briewe en die herinneringe.

    Sharks, bly om te sien jy lewe nog.

    Lekker dag aan almal

  23. 23

    boendoe said,

    Laat jy my smile met jou SWANK en rooilippie-kiss! Ons was so stupid! 😛

  24. 24

    Sammi said,

    Hehe
    Verlang ek nou ook na daai dae. Ek kry elke week ‘n brief van my paps.
    Hierdie wordpress ding is langdradig, Dellie, maar is nou soort van aan die gang.

  25. 25

    CLAZINE said,

    More sê Dels,

    Sjoe, hoe laat jy my nou terug verlang na die goeie “ou” dae!!!

    Daai lekker briefies wat so terloops in jou hand of tas gedruk is was die heel lekkerste.

    Onthou julle, die kruisies agterop as die koevertjies toegeplak word met soentjies! En…. jy kon mos later van tyd skryfblokke kry wat lekker ruik, dit was ‘n pure plesier om een van daai lekkerruik briefies te kry! Mensig, hoe gee ons darem nou ons ouderdomme weg, lekkkerrrr!!

    Ek het ‘n rukkie terug onverwags ‘n koevertjie in my posbus gekry, en toe is dit ‘n goeie ou vriendin van my wat ver bly en ek jare laas gesien het wat my onthou en aan my fotos gestuur het van hoe groot haar twee dogters nou is, met ‘n kort briefie daarby, ek sê vir julle PRICELESS!!!

    More is Vryddaaaagggg!!!

    Lekker dag julle mooi mense.

  26. 26

    Squiggles said,

    Dellie, ek lees gereeld jou blog, maar het vandag besluit om kommentaar te lewer.
    Jy bring baie goeie ‘memories’ terug met die briewe. Ai, mens kon nie wag om by die posbus uit te kom om te sien of daar nie ‘n ou briefie in die pos is nie. Ek het ook ‘n boks vol briewe van my man, en as mens dit nou lees, kan mens jouself nie indink hoe simpel (maar opreg) ‘n mens destyds was nie…

  27. 27

    Blue Eye said,

    Hi Vriendin, ek gaan jou verras, ek sal nie meer e-mail nie, maar vir jou ook briefies skryf. Dis ñ goeie ding die van briefies skryf, want nou kan ek vir skoonsus wat trek vandag Durban toe, skryf, dit gaan net ñ bietjie lank vat om daar uittekom.Sy moet maar ñ computer aanskaf.Gelukkig is jy darem naby, dis so goed soos spoedpos.

  28. 28

    Dellie said,

    Welkom by WordPress, Sammi! Ek het klaar jou adres op my blogroll verander na jou nuwe tuiste. Lekker blog!😎

    Adrie, julle is welkom om te gesels oor enigiets.😉

    Carolina, waar in Ierland is jou man? Ek sien ek het ‘n besoeker van Kildare af, miskien is dit hy?😆

    Ek lief hierdie map goedjies, Zee! Nou kan ek sien waar die mense vandaan kom. :mrgreen:

    Clazine, ek onthou daai lekkerruik blaadjies, ja. Onthou jy die lekkerruik penne? Sommiges het geruik soos bubblegum, ek wou soms aan die papier lek om te proe!🙂

    Hi Squiggels, ek’s bly jy kom gesels nou saam. Hoop jy kuier lekker. Ja nee, ek dink ek en Liefie gaan lekker giggel oor daai ou briefies!😳

    Hi Blue Eye, gaan jy nou ook met my korrespondeer? Lekker! Begin solank sussie, ek wag vir daai brief!😀

  29. 29

    CLAZINE said,

    Dels,

    Ek onthou! en daar was mos die lekkerruik uitveërs ook, ek wou altyd aan hulle byt! Ai, goeie ou tye ne?

  30. 30

    Skoor said,

    Ek pos eergister vir een van die b(l)oggers ‘n pakkie. Toe die man agter die toonbank die seelboek oopslaan, snak ek na my asem vir die mooi posseel wat hy uitskeur.

    Ons is nie meer gewoond seels kyk – as daar op ‘n koevert ‘n seel is, deesdae is dit mos prepaid koeverte ook – as die pos opdaag nie, want dit is mos maar die bakhand briefie binne-in, wat baie mense grimmig laat.

    Hy vra toe of ek nooit ‘n brief kry nie, en ek antwoord nee. Toe se hy, toemaar ESKOM sal miskien maak dat mense weer kan skryf. Want die rekenaars werk met krag.

    Onthou jy nog die dae toe seelversamelings ‘n opgewonde event in menigte huis was! My ouma het so ‘n blikkie met seels gehad wat sy van die koeverte afgeskeur het, en in die winter as die sneeu buite val, het ek soms die blikkie oopgemaak en gekyk na die seels van die RSA.

  31. 31

    Dellie said,

    Dis waar Skoor, ek weet nie eers wat kos ‘n seël deesdae nie! Maar ek gaan uitvind as ek Sigeuner se briefie pos.:mrgreen:

    Ek onthou ook sulke velle “Paasseëls” wat ons altyd gekoop het toe ons in die laerskool was. Dan is die opbrengs gewoonlik geskenk vir liefdadigheid of een of ander verdienstelike saak. Gebeur dit nog?

  32. 32

    Ja! Dellie. Ek onthou die skryfblokkie van toe ons op skool was, ons het die blaaie versamel en met mekaar uitgeruil. Nou laat jy my ver terugdink.

    En die paasseëls, dit was ten bate van Kreupelsorg. Ai jinne. Ek glo nie die kinders koop dit meer nie.

    En die uitveers wat ons versamel het. En plakkers, daardie tyd het mens nie so baie plakkers gekry soos deesdae nie.

    My ma epos nie, want sy weet nie van rekenaars nie. So ek en sy skryf nog briewe vir mekaar. Dit is te lekker. Dit is net anders as ‘n epos.

    Ek is mal vir goeters pos vir mense en doen dit gereeld.

  33. 33

    Arabier said,

    Hallo Dellie en ander Bloggers,
    bring julle vanaand lank terug se lekker terug, al is dit net onthou. Die lekker-ruik briewe en opstote daar in Angola! Die soet saam met die suur!🙂
    As daar iemand is wat poskaarte versamel en wil hê ek moet vir julle vanuit die Sandput stuur, laat weet my, dan maak ek so. Ek stuur so van tyd-tot-tyd aan ander bloggers en nog so paar sal beslis nie ‘n probleem wees nie.
    Grootneus🙂

  34. 34

    Carolina said,

    Dellie, nee hy is in Letterkenny. Ekke het gisteraand so na hom verlang(nadat ek ons briewe gelees het)! Het vandag my vliegkaartjie bespreek na Ierland. Ek gaan hom verras!! Hy weet ek kom, maar verwag my eers later!! So oor ‘n week kan jy my ‘trace’ vanaf Letterkenny in Ierland. Lekker aand!

  35. 35

    Sammi said,

    Hallo julle. Kom vertel my of julle iets wil weet.

  36. 36

    rb said,

    Toe ek in die weermag was, met my basiese opleiding, het ons ook maar briewe geskryf. Ek het gewoonlik so dagboek tipe brief vir my ma-le geskryf. Sit elke dag die datum bo-aan en wat ons die dag gedoen het. Na so week het ek dit dan eers gepos. So skryf mens eintlik baie meer as wanneer jy nou net 1 dag sit en probeer om alles te onthou.
    (Ja, ek is ‘n dogtertjie wat in die Army was, basies in George gedoen, goeie ou SALVKOL gedoen)

    • 37

      Johanna said,

      rb

      Lorraine Martin (nee Barry) is tans besig om inligting in te win vir ‘n boek waaraan sy werk oor die “Soldoedies” Weet nie of jy al op haar website
      geregistreer het nie. Laat my weet asseblief.

      Groete

      Johanna Meyer
      028-537-1687

  37. 38

    Blue Eye said,

    Hi Vriendin, het jy jou briefie al gekry?Ek het die posman nou net hier sien verby ry met sy 4×4. Hulle is vinnig deesdae.
    Onthou ek is ñ girl met min woorde, maar as dit kom by skinder, dan pak ek out.

  38. 39

    boendoe said,

    🙄

  39. 40

    Dellie said,

    Whahaha, Blue Eye, dankie vir jou briefie!😆 Jy het my dag gemaak! Ek is veral mal oor die koevert en seël…

  40. 41

    Karl said,

    Hello Dellie

    Ek het 13 jaar met ‘n tante van my studentedorp Potch gekorrespondeer met briewe. Elke week het die klein blou koevertjie aangekom. En een vertrek terug soontoe.

    Selfs toe ek oorsee gebly het, het die blou koevertjies my gevolg.
    Deur die jare kon ek sien hoe die skrif begin verander, oud word en toe versleg tot bewerige woorde, maar elkeen net vir my bedoel.

    Toe sy sterf, het die laaste blou briefie net aangekom. Nou het ek net ‘n lee posbus vol Russels advertenies.

    Lekker naweek
    Karl

  41. 42

    Blue Eye said,

    Dis ñ groooot plesier, ek sê mos ek is vol idees. Daar is nog baie waar daai een van daankom.Jy sal sien.

  42. 43

    mykopop said,

    Baie oulike woorde van jou ouma – ek wens net ek kan hoor hoe klink die liedjie.

    Ek is bietjie in ‘n tweestryd oor die briewe – ek hou ook van die romantiek van regte briewe en sal nie graag wil hê dit moet uitsterf nie – tog, sedert email kry ek meer briewe, en dit gaan tog om die woorde en gedagtes.

  43. 44

    Lyanda said,

    Julle sal nie kan raai hoeveel ek uitsien na die brief van Dellie nie! Ek is dankbaar dat ek jou hart kon blymaak met die kristal, Dellie. Me hettie eers op mooi papier vijou geskrywe nie. Nou maak jy lat `n mooi-papier-gogga my byt!

    Uhm…wetie waar kom die inligting vandaan wat se mens mag nie jou eie kristal koop nie. As ek dit nie sou doen nie, sou ek nie `n versameling gehad het om uit te deel nie! Maar…die kristalle wat ek al by mense gekry het, is net soveel meer spesiaal.

    Skoor, jel girl! Mens kry mooi seels! Dis nou nie 1 van my goggas nie. Ek maak dit egter bymekaar virrie kids. Gooi als wat ek kry so ongeerg in `n boksie. Eendag kan hulle self die goed in `n seel-plakboekie sit.

    Ek versamel nie poskaarte nie, maar Arabier…maak my hartjie bly en stuur ene met kamele? Assimpleeze? Dan gooi ek vijou so Camel-size kristal met die posduif! Sal my pondok-plek vir jou sms.

    Sigeuner

  44. 45

    Dellie said,

    Gypsy girl! Jy was hier! Dis amper net soos lekker soos om ‘n briefie van jou te kry!😆

    Hou jou pondok-plek dop, jou briefie is oppad!

  45. 46

    […] November 1, 2008 Posted by Zee in Spesiaal. Tags: briewe, Spesiaal trackback Dellie het so ruk terug geskryf oor regte briewe.  Ek het onthou iewers het ek nog ‘n brief wat my […]


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: