How do I love thee

… let me count the ways…

My Lief

Vandag is nie ‘n spesiale dag nie. Dis nie jou verjaarsdag of Valentynsdag nie. Dis ook nie ons huweliksherdenking nie. Maar vandag wil ek graag net bietjie vir jou vertel hoe ek jou waardeer en hoe lief ek vir jou is.

Hierdie jaar ken ons mekaar al 21 jaar. Ons is sowaar mondig! En as ek terugdink oor die jare, is daar niks wat ek wil verander nie. Nie ‘n ding nie. Dis asof my lewe begin het die dag toe ek jou ontmoet het. Voor dit is alles net vaag.

Onthou jy ons eerste soen? Dit was net na die “chicken” episode toe jy my huistoe geneem het. Sommer met die eerste kuiertjie het jy my gevra of jy my maar beter mag leer ken. En terwyl ek koffie gemaak het, kon jy nie ophou om my te komplimenteer nie. My mooi naels, wat glo so lekker sou rugkrap, en wat jy kastig so bewonder het terwyl jy eintlik my hand wou vashou, my hare, my oë, en jy het dit so geniet as ek bloos! En ek het gebloos as jy net vir my KYK! Hehe!

Toe jy ry, het ek nie lekker geweet wat om te doen nie. “Moet ons nou soen, of wat?”, het ek gewonder terwyl ek soos Liewe Heksie patroontjies in die sand getrek het met my tone. As ek ‘n hoed gehad het, sou ek dit seker laaaag oor my oë getrek het. Toe lig jy my ken met jou vinger, en soen my vlindersag. En tot vandag toe, lief ek jou lippe!

Onthou jy toe jy SWA toe is toe ek swanger was met Seun? Jy het vir my briewe geskryf. Nee, wag, dit was nie briewe nie, dit was boeke vol. Letterlik. Klein dagboekies met datums en tye, en al die detail oor wat julle doen, wat julle sien, en hoe jy na my verlang. En as die boekie vol was, het jy dit gepos. Dit was vir my heerlik om te lees. Om te weet dat ek elke dag in jou gedagtes was. Ek het nog al daardie boekies. En ook die klein, geel kuikentjie, en die padda sticker… (Bloos!)

Onthou jy toe ek jou vertel het ek is swanger? Ons het vir Seun so mooi beplan, daai kalender met die “regte” tye om die saadjie te plant, is nog steeds agter in my eerste resepte boek! Ek het in Westgate gewerk, jy het skofte gewerk, en my kom haal by die busstop. Toe ek in die kar klim, kon ek dit nie meer hou nie, net vir jou gesê “Hallo Pappa!” en ek sal nooit, ooit jou gesig vergeet nie! Jy het my in ‘n greep beetgekry, en my oraloor gesoen, ons het gelag en ek dink daar was selfs ‘n traan of twee gestort. Jy was so trots! En deur die hele swangerskap het jy met jou “laaitie” gesels, met jou kop op my maag. Dik stukke. (Terwyl ek ‘n baie ekonomiese truitjie gebrei het… elke keer as ons dit gewas het, het dit so bietjie gerek… Seun het daai trui gedra tot hy drie was… ‘n pragtige witte!) Jy het altyd gesê “Ek weet wat ek gemaak het, dis my laaitie daai!” En vir die volgende nege maande kon nie een van ons ophou glimlag nie.

Ons seun kon nie vir ‘n beter pa gevra het nie. Jy was streng toe dit nodig was terwyl hy groot geword het, maar jy is ook sy pel. Hy weet hy kan met jou praat oor manne dinge. Hy weet jy luister na hom en hoor wat hy sê. Jy het hom nog altyd die vryheid gegee om sy eie besluite te neem, maar ook geleer om die gevolge van sy dade te dra, soms groot verantwoordelikhede op sy skouers geplaas, maar so lei jy hom nog al die jare net, en jy laat hom toe om in sy eie mens te ontwikkel. Hy het so baie van jou in hom. Ek het altyd gedink ek het die laaste goeie man op aarde gekry, maar ek dink hy is ‘n goeie kandidaat vir tweede plek!

Jy het jare se geduld, jy is so sensitief vir almal om jou se behoeftes, jy kan dit nie verdra as ‘n kind erens swaarkry nie. Jy laat my toe om my eie mens te wees, jy onderdruk my nie, jy gee baie raad, maar dwing nooit jou opinie op my af nie. Selfs al is jy baie ouer as ek. En weet jy, die ouderdoms verskil het my nog altyd veilig laat voel, so asof ek weet dat jy sal kan help as ek verward raak oor dinge. Jy is soort van my “safety net”, die ene waarop ek terugval wanneer al my moontlikhede uitgeput is, wanneer ek nie meer self kan cope nie, die ene waar ek net myself kan wees. Want dis mos goed wat al ou nuus is vir jou! Jy sê ook nie verniet dat ou bokke groen blare like nie, né! Jy het my mooi volgens jou hand geleer… (bloos)

Alhoewel ons albei ons eie ding doen (besighede), ondersteun jy my so baie in myne. Jy boost altyd my intellek, jy waardeer die feit dat ek sowaar kan dink vir myself. Hoeveel kere sê jy nie jy is trots op my nie, spog jy met my prestasies by kennise, vriende en familie? Jy laat my glo in my vaardighede. Jy gee my selfvertroue. Ek voel asof jy my grootste fan is! Hehe! Is jy…? Wel, ek is joune. Hoe sê “hulle”? To the world you are just “someone”… but to someone, you are the world!

En jy kan kook! Jy het my dan leer kook. Al wat ek kon maak toe ons ons nessie begin bou het, was chips, varktjops en tamatieslaai. Onthou jy my eerste vetkoeke wat liewe ou Bowzer begrawe het? En die klipharde soetkoekies (waarop ek so trots was) waarmee julle rotte in die myn ondergrond gegooi het, omdat dit nie eers wou sagword in koffie nie, en die extra spiced BBQ hoender, en die rou pap…

Soveel aande as ek klaar gewerk het teen 7uur, is die kossies reg. Jy weet hoe om al die huishoudelike toestelle te bestuur, van die stofsuier en stoof, tot die wasmasjien en strykyster. Jy en Seun for that matter. Ek kan maar siek word met ‘n smile, en actually gaan RUS. Julle sal oorleef, my besigheid aan die gang hou,  en nie lyk of julle uit die wasgoedmandjie geklim het nie!

My lief, ek het jou lief met alles wat in my is. Jy is my asem, my glimlag, my soete nagrus, my common sense, my gewete, my beskermer, my veiligheidsnet, my ander helfte, my pot se deksel, my tamatiesous toebroodjie, my minnaar, my vriend, my velcro drukkie, my lewensmaat, MY MAN. Ek waardeer so baie van jou, waarvoor ek nooit vir jou dankie sê nie. Ek doen dit nou. Hier voor al my blog maters. Hulle moet weet hoe bevoorreg ek is om ‘n man soos jy te hê! Dankie vir wie ek is wanneer ek saam met jou is.

Al my liefde, vir altyd

Jou chicken

love.jpg

Advertisements

33 Responses so far »

  1. 1

    rb said,

    Dit is true love. Mag julle nog lank en gelukkig saam wees!!!!!!!!

  2. 2

    Adrie said,

    Julle gee my hoop vir die toekoms.

    😉 dalk kan ek die derde beste man iewers uitkrap

  3. 3

    sonkind said,

    Ai Dellie, hier het ek nou trane in my oë. Dis so mooi en baie dankie dat jy dit geskryf het. Mag julle in vrede en liefde saam oud word en eendag op julle stoep sit en terugdink oor ‘n vol en ryk lewe saam!

  4. 4

    Jaco said,

    Eendag as ek groot is wil ek ook nog steeds so oor lyfie voel. Jy (julle) is werklik ‘n inspirasie vir ons almal

  5. 5

    sonstudio said,

    Dellie, dis nou hoe dit moet wees!
    ‘n Beautiful brief wat jy hier geskryf het!

  6. 6

    Lief said,

    Dankie

    Ek sal vanaand in persoon vir jou dankie sê en wys hoe lief ek jou nog het.!!XXX

  7. 7

    Carolina said,

    Dellie,
    Ja ek dis so lekker om nog steeds verlief te kan wees na soveel jare!!
    Ek vlieg oor 2 dae na manlief! Ons mis mekaar so!! Hy weet ek kom , maar verwag my eers later! As hy die deur oopmaak, gaan ek net sê: “Hi sexy!”
    Ek sal jou die verdere detail spaar!

  8. 8

    SHARKS said,

    Ai jy dit is so mooi, julle het opregte ware liefde en geluk, mag julle vir altyd so gelukkig wees en so lief vir mekaar wees! Wat julle het is so spesiaal, koester dit, koester jou man, jou seun, min mense is so gelukkig om dit alles te hè!

  9. 9

    Eben said,

    Ai ai ai dis lekkerrrrrrrrrrrrrrrr om sulke goed te lees. Ek glo Wessie weet ook wat hy in jou het!! Per slot van sake hy het jou mos volgens sy hand groot gemaak Gie gie gie !!!

  10. 10

    Roer said,

    Ek het visioene van twee verliefde ou mensies op die ouetehuis se stoep wat hulle kleinkinders vertel hoe lief hulle mekaar nog het. Dis pragtig Delsch. Hoop julle sal nog laaank vir mekaar gespaar word.

  11. 11

    boendoe said,

    Die trane wel sommer op in my ogies! So mooi. Ek is bly vir julle.

  12. 12

    Marina said,

    Wat het ‘n mens meer nodig? So mooi Dellie!

  13. 13

    CLAZINE said,

    Ai ai ai ou Dels,

    Baie geluk met julle liefde se mondigwording! Jy het dit so mooi geskryf dis genoeg om van absoluut nostalgies te raak!! en ek dink jy is, veral gesien in die lig van Seun se weggaan! Geniet die liefde en sterkte vir Seun se weggaan ek kan sommer sien hier kom ‘n ding!

    Ps: Snaaks, my man is ook veel ouer as ek en ons is al 26 jaar saam!!

    Baie liefde en ‘n mooi dag vir julle (so bly Seun is nog hier om dit saam met julle te vier!)

  14. 15

    Dellie said,

    Thanks julle! Ja, die liefde is mooi, né! En lekker! 😉

    Carolina, jy moet veilig reis en kom inloer van daar anderkant af, hoor! Uhm ja, spaar ons die details… maar geniet dit! 😳 😆

    Net gou ‘n update: Seun was vandag by die Ambassade, en het goedkeuring gekry. Gelukkig is hulle visums eers geldig van April af, dus het ek hom darem nog hier vir so ‘n paar weke! Hoe lig voel my hart nou!

    Liefie, ek kan nie wag vir vanaand nie…! 😳 XXX

  15. 16

    sonneblomseplekkie said,

    Hi Dellie,

    Wat ‘n pragtige brief…..ek is jaloers!!! wil ook my liefie he vanaand…lol toema toema…enjoy…my liefie is donderdag terug! 😀

    Groetetjies
    Sonneblom

  16. 17

    Emil said,

    Hello Dellie – dis mooi wat jy hier skryf. Tussen alles wat soms so om ‘n ou se lewe spoel, is dit dinge soos die liefde vir ander wat mense regtig deur diep skeure kan trek. Die pos is so ‘n inspirasie vir my en laat my opnuut met wondering vir my eie vrou. Platterfus het my laas maand geroer, nou jy. Die maand is nog jonk, maar ek gee jou my Screaming Eagle Award vir Maart.

    Mag julle nog 21 jaar se geluk en vreugde beleef, saam met toekomstige kleinkinders. Die voorbeeld wat julle stel vir die liefde vir mekaar is inderdaad wonderlik!

  17. 19

    costello said,

    As my eks so oor my gevoel het, was ons nog getroud. Good for you!

  18. 20

    Hoe leef ek my nou in julle liefdesverhaal…mooi.

  19. 21

    bytjie said,

    Dit is so mooi, hoe verlang ek nou na my Kwagga, hy kom eers Donderdag of Vrydag huis toe. Dellie ek was die naweek by my dogter in Merriespruit toe ons deur Welkom ry dink ek toe aan jou, my dogter werk in Welkom by Telkom netwerke. Groete

  20. 22

    krista said,

    Sweet! 😉

    Ek gaan niks sê nie, woorde is nou hier oorbodig!

    PS: Dink jy Seun sal lekker speel met ‘n laatlammetjie-boeta of sussa?

  21. 23

    hanlie said,

    Ek voel asof ek nou ‘n romantiese fliek gekyk het! Baie mooi geskryf!

  22. 24

    Dellie said,

    Dankie vir daai award, Emil. Ek voel geëerd.

    Hehe, Krista! 😆 Nee wat, daar is nie sprake van sulke dinge nie! My tools werk nie so lekker nie. Ons sou vier kinders gehad het, maar Liewe Jesus het anders besluit. Ons is baie dankbaar vir die ene wat ons het.

    Bytjie, jy moet volgende keer laat weet, dan werk ons ‘n koffie erens in?

  23. 25

    BB said,

    So dear I love him, that with him,
    All deaths I could endure.
    Without him, live no life.
    William Shakespeare ~ ‘Romeo and Juliet’

    Dankie Dellie dat jy soveel gedeel het – soms het mense in die dolle gejaag van dié tyd sulke sweet sweet reminders nodig, dat drome wel geleef kan word.
    x

  24. 26

    Lyanda said,

    Liewe, liewe Hemel

    Stuur vimy ook so man. Elke vrou vra maar net om waardeer te word.
    Dellie, het gelag en gehuil tegelyk. Dit is vreeslik mooi geskryf. Geluk met julle mondigwording. Aha, nou kan julle verantwoordelik gehou word…volgens wet, ja?
    Sulke woorde is `n inspirasie om self harder te probeer.

  25. 27

    Adrie said,

    Mens word al op 18 mondig in SA

  26. 28

    Zee said,

    Dellie, dit is so mooi om te lees van julle liefde….
    mmmm…. ek sien Krista wonder oor ‘n laatlammetjie… eerstehandse kennis…. Dis lekker hoor!

  27. 29

    netjane said,

    Ek het so lekker gelees en dit was vir my so mooi en toe ek by die “tamatiesous toebroodjie” deel kom is dit my einde en die trane loop, want ek onthou toe juis wat jy van daai toebroodjies geskryf het.

  28. 30

    Dellie said,

    Welkom Hanlie, kom kuier asseblief weer.

    BB, jip, sonder hom is ek niks!

    Gypsy girl, dit is heerlik om waardeer te word, ja. Maar dit gaan albei kante toe, né?

    Netjane, jy weet dan! Daai tamatiesous toebroodjie is dan my krag!

  29. 31

    Emil said,

    Vir een of ander rede moes ek toe weer hier lees! Bly ‘s stunning mooi stuk.

  30. 32

    Hannelie said,

    Pragtig Dellie! Al is dit nou maande later. Julle liefde is opreg vir mekaar. Mag ons Here julle 3 seen en behoed en bewaar. Altyd.

    Sterkte met jou “lee nes”. (Jou seun wat uit die huis is). Dis lekker maar ook seer..


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: