Die nes is leeg

Ek sluit die deur oop. Alles is doodstil. Ek sit my handsak op sy bed neer. Ek voel die leegheid, in die vertrek, in my hart. Ek ruik aan sy kussing. Ek maak my oë toe. Dit voel of hy hier by my is. En my toevou in een van sy velcro drukkies… die trane loop. Ek mis hom al klaar…

Die rit lughawe toe was voorspoedig. Ons het ‘n pel se GPS geleen, want vir verdwaal het ons nie kans gesien nie. Oulike ou dingetjie, die GPS. Het ons veilig by ons bestemming gebring, en gesorg dat ons teen twee uur reeds op die lughawe was.

Die mense van Away2Xplore was reeds daar, en besig met ‘n vroeëre klompie wat deur die prosesse moes gaan. Nadat die dame met hulle klaar was, het sy gou vir Seun nader gewink, en teen die tyd dat sy pel net na drie opgedaag het, het hy al sy rande vir dollars verruil. Toe het hulle die bagasie gaan toedraai en inweeg, (maar net 17kg, ons het mooi gepak) afdrukke gemaak van hulle vliegkaartjies, versekering, paspoorte en visums. En toe kan ons saam kuier tot ses uur.

Ouma en Oupa, asook Liefie se broer en seun, het ook kom groet. Voor hulle gekom het, het ons gou elkeen ‘n bier of wat afgesluk (dis nie dat ons skynheilig is nie, maar Oupa is ‘n pastoor en keur nie drankgebruik goed nie, so ons drink nie voor hulle nie) maar dit is vreeslik duur daar, R15 ‘n bier!

En dis nogal ‘n “teer” sakie vir die mannetjies, dié bier drinkery. Hulle is nou maar vir omtrent 6 maande “wettige” drinkers in SA, nou kom hulle anderkant, en daar moet jy 21 wees voordat jy ‘n bier in ‘n pub kan gaan drink! Blykbaar is Canada se perk ook 18. Dus laat ons hulle toe nou maar die laaste twee Castles geniet. Ons het so gelag vir Seun se pel, toe hy die laaste slukkie uit die glas neem, vat hy die leë Castle botteltjie, kyk dit so verliefderig aan, en sê: “Oh, I’m going to miss you!” gee die bottel ‘n innige soen, en fluister: “I’ll be back. I love you!” Lawwe ding.

Ek was baie dapper en het die trane so lank as moontlik terug gehou. Probeer om nie aan die naderende afskeid te dink terwyl ek die sms’e van bemoediging van my boeties en sussies lees nie. Erens het die kraantjies so effens beginne lek, iemand het dit gewaar, en ai, as iemand my jammer kry tjank ek al hoe harder. En toe huil Ouma ook saam. Maar ek het die klomp gou aan die lag gehad toe ek my voorraad tissues uit my handsak haal en ‘n hoop so groot soos ‘n rugbybal op die tafel pak! En genadiglik droog my trane toe ook op!

Net na ses was dit sulke tyd. Hulle vlug sou teen half agt vertrek. Vanaf Johannesburg na Dakar, waar hulle brandstof inneem, daarvandaan na Atlanta. Die lughawe daar is glo so groot, dat hulle met ‘n trein vervoer word na die volgende vlug! Vanaf Atlanta na Miami, en daarvandaan met ‘n bus tot erens in Texas, ek is nie lekker seker waar nie. Maar hy sal laat bel sodra hulle veilig aangekom het by hulle bestemming.

Toe moes ons groet. Die vertreksaal was vreeslik besig, en dit het ook seker gehelp. Ons het ons goed gedra. Maar toe hy my so vasdruk, wou ek nie laat gaan nie. Almal het vervaag, en ek het sy reuk ingedrink, sy sterk arms om my gevoel, geweet dis my vlees die, en dat dit altyd so sal wees. Hy was net nou die dag nog ‘n klein ou seuntjie. Vir wie ek moes sorg. Maar ek glo in hom. En ek weet dat hy nou ‘n groot, sterk jong man is, wat meer common sense en verantwoordelikheid het as baie volwassenes wat ek ken. En toe raak ek vreemd rustig. Hy sal OK wees. Daaraan twyfel ek nie vir ‘n oomblik nie. Net jammer dit maak nie die hol kol in my hart weer vol nie.

Gelukkig was dit donker oppad na Ouma-hulle se huis toe. Liefie se boetie en seun het saam met ons gery van die lughawe af. In die donker kon die trane maar vrylik loop. Liefie se skerp oë het dit wel raak gesien, en sonder ‘n woord het hy net my been gedruk. Ons harte verstaan.

Dis ‘n vreemde plek, hierdie leë nes. Ek het altyd geweet dit moet eendag gebeur, maar dis glad nie hoe ek myself voorgestel het dit sou wees nie. Ek verstaan my gevoelens hieroor nog nie lekker nie. Dis amper soos om weer ‘n tiener te wees. Onseker. Wat nou? Wat moet ek nou doen? Vir wie moet ek sorg?

My kop vertel my dat my kind groot is, maar my hart wonder hoe dit dan so vinnig gebeur het? Ek voel nie “oud” nie, maar dit voel of ek oud MOET voel! Maak ek sin? Ek twyfel, ek maak nie eers sin vir myself nie! Maar ons sal ook OK wees. Dis nie vir altyd nie. Hy sal terug wees op die 12de November. En dis mos sommer om die draai!

NS. Liefie reken daar is een ou plus puntjie aan die hele leë nes kwessie… ons kan nou maar kaal rondloop as ons wil! Hehe!

Advertisements

36 Responses so far »

  1. 1

    Zee said,

    Dellie, hoe lekker giggel ek nou vir jou voorraad tissues. Ek wou so graag die voorraad voorsien het 😉

    Dink net, 8maande is om die draai en voor jy jou oë uitvee is jou mannetjie terug.

    Ek is darem bly om te sien julle ondersteun my salaris 🙂

    Geniet die kaal rondloop maar moet nou nie doen wat ek sou doen nie hoor 😆

  2. 2

    sonneblomseplekkie said,

    Hi Dellie,

    Sterkte vir die volgende paar maande. Ek glo jou kind sal ok wees. Ek gaan nie eers probeer vir jou se dis net om die draai nie…ek weet mos… Maar intussen – geniet daai kaalgatgeit 😉

    Groetetjies
    Sonneblom

  3. 3

    Sammi said,

    Hallo Dellie
    O jel, ek ken daardie leë nes gevoel. Twee seuns, een in UK en een op koshuis. Dit was hel in die begin. Jou kind gaan ‘n GROOT avontuur hê, fantasties vir hom. Sterk staan vir jou.

  4. 4

    meermin said,

    Ek voel jou hartseer, huil dit laat mens altyd beter voel.

    Dankie vir jou hulp met WORD PRESS. Ek sukkel maar nog net om al my ander inskrywings van blogspot oor te vat WORD PRESS toe, aanhouer wen – ek sal dit wel een of ander tyd reg kry!!

    Lekker naweek vir julle.

  5. 5

    Koekie said,

    Sterkte Dellie en as die verlange te erg raak, maak jou oe toe en dink aan hom.

    Verder kan ek ook net se soos Zee, geniet die kaal rondloop..hehe.

    Lekker dag verder vir jou.

  6. 6

    Squiggles said,

    Dellie, ek wil net se sterkte vir jou! Dis al wat ek op hierdie stadium vir jou kan se…
    Ek dink aan jou!

  7. 7

    CLAZINE said,

    Hi Dels,

    Sterkte jong, being there weirs the t-shirt! Jy sal gou gewoond raak en glo my as hulle terug is mis jy eintlik die “stilte” weer!

    Daar is ‘n hele paar bloggers wat presies weet hoe jy voel op die oomblik, my eerste keer was hel om die minste te sê! Verstom my nog steeds oor ek en jy se amperse dieselfde omstandighede, met die dat ons altwee met “ouer” mans getroud is en elkeen net een kind het en dan nog ‘n seun, verstommend nê?

    Ek dink aan jou. Ns. die kaal lopery is lekker!!!

  8. 8

    Karl said,

    Dellie

    Ek het nog enetjie hier op hok by ons. Net 8 jaar oud, maar as sy die dag ok die pad vat sal ek beslis nie kalm wees nie. Mens mag mos maar jou longe uithuil.

    Nou is dit egter Dellie tyd. Nuwe haartsyl, oulike fyn ondergoedjies en ‘n nuwe ontdekking van daai man wat jou elke aand vashou. Pret suster pret.
    Verleidelke aande voor die vuur, middel van die week uiteet sessies, laaaang naweke tussen die komberse. Jy kry my trant.

    Geniet
    Karl

  9. 9

    krista said,

    ‘n Kollega van my se boetie is sopas terug VSA toe vir sy 2de keer. Hy het R25 000 teruggebring na sy 1ste sessie daar. EN ‘n jol gehad! Hou maar sy kussing vas en huil dat die snot so spat. Een van die dae is hy terug!

  10. 10

    boendoe said,

    Jinne, maar ons laat mekaar tjank vandag! Laat ek net my toiletpapierrolletjie naderhark… verkoue, jy weet!
    Ek kan nie help om te lag vir Karl nie – KRY jy actually sy trant?? Waarvan praat die man tog! 🙄
    En Krista – ‘hou maar sy kussing vas en huil dat die snot so spat’ Ek kan dit al sien!
    Ek neem aan dis nou die tyd dat jy ’empty nest syndrome’ moet gaan Google?
    Hou, moerderhart, hou!

  11. 11

    Dellie said,

    Ai, Zee, ek is net so spyt dat jy nie die tissues kon voorsien nie! Next time, vriendin…

    Eish Sammi, jy weet dan…

    Clazine, dis nogal wat vir my so lekker is van die blogs. Erens is iemand wat presies in dieselfde bootjie is, of ten minste al daar was. Dis hoekom dit vir my soms soos terapie is. Erens is iemand wat verstaan waardeur mens gaan. Dit maak net my eie emosies makliker om te hanteer. Soos ‘n sielkundige at your fingertips! 😎

    Karl, jy is darem vol idees, en ek hou daarvan… dis presies hoekom ons vir Seun gehad het toe ons nog jonk (!) was… sodat ons nou nog nie oor die muur is nie, en mekaar van voor af kan ontdek. Hmmm… pure lekkerte! 😳

    Krista, verlede jaar het ‘n outjie ook teruggekom met iets soos R40 000! Waar in SA kan mens dit spaar in nege maande as jy nie ‘n baie goeie werk het nie? Ek verwag nie dat hy vreeslik gaan spaar hierdie jaar nie, die ondervinding en onafhanklikheid weeg seker meer. Ek lei af dat die outjies maar lekker jol die eerste jaar. Solank hy net veilig terugkom, is die saak reg met my. En as hy daarvan hou, kan hy weer gaan volgende jaar. En dan miskien beter spaar!

    Welkom by WordPress, Meermin, hoop jy geniet dit! 😉 (Dis Sharks van Blogspot wat oorgeskuif het na WordPress, vir die wat nie weet nie. Gaan kuier gerus by haar, ek het haar as Meermin op my blogroll.)

    Carolina, hoe ganit daar in die vreemde? Wanneer kom jy terug? Geniet dit hoor!

  12. 12

    Dellie said,

    Toe post ek en jy so saam-saam, Boendoe! Ek het nou al genoeg getjank vir vandag. Dink ek. Sal seker weer vanaand so ‘n sarsie inkry as ek besef ek hoef nie vir hom kos in te skep nie…

    Maar jaaaa, ek vang Karl se trant… romance mater, romance… 😳

    Jy meen ek kan dit google? 😯 Sal gaan loer… 😆

  13. 13

    netjane said,

    Jy sal okay wees en hy sal okay wees (ek praat as die kind wat ver weg sit!), maar die huil van my nou nog onkant (soos nou!) en die verlange is elke dag daar, maar die lekkerte van ‘n avontuur kan baie goed draaglik maak. Sterkte!

  14. 14

    TristonJ said,

    Sterkte Dellie… so n lee nes het gelukig ook sy voordele, en voor jy jou oe uit vee is jou kind terug en voel dit weer of hy nooit weg was nie.

  15. 15

    Pikkelik said,

    Sterkte Dellie! Heng myne is nog klein (piepklein) en ek stres al klaar oor daardie uit die huis uitgaan eendag. Huil maar lekker, dit is mos ons gratis terapie! Ek dink nou net aan iets… Nou kan jy seker so lank in die bad bly soos jy wil! o, die voorreg!

  16. 16

    Carolina said,

    Hi Dellie,
    Ek huil toe sommer saam met jou oorlat ek verlang na my kinders (daarver in Amerika en daarver by die huis in Suid Afrika). Maar nou is dit eers manlief se beurt! Manlief was so verras! Ekke kuier lekker hier in anderland, groenland, koueland, reënland (St Patrick dag saam Iere gevier!).

    Kom terug begin Mei maand!

    Sterkte!! Gun jouself die huiltyd, hartseertyd, onthoutyd, waardeertyd!! Dit doen ‘n mens goed. Moenie dat iemand jou dit onsê! Traangoed is skoonmaakgoed! Ons vroue het dit van tyd tot tyd nodig! Ons besef dis tyd dat ons kinders die huis moet verlaat, maar dis ok hartseer!

    Ierland Groete

  17. 17

    mykopop said,

    Gelukkig is ons kuikens nog almal hier. Sterkte vir julle!

  18. 18

    karoles said,

    Hi Dellie

    Ek voel jou seer, maar bekyk dit positief vir jou seun!! Geniet van die tyd saam met manlief, en doen soos Karl sê!! Geniet dit

  19. 19

    attie said,

    Dellie: Daai seer is nie beskryfbaar nie. Groot word is vir mammas die moeilikste.

  20. 20

    BB said,

    My EMM was vir ‘n jaar in Holland – dit was by tye (veral in die begin) vreeslik swaar (meer vir my as vir haar) – glo my Delsch: November is om die draai!!!
    Heerlike (kaal) Paasfees vir julle! 😉 xx

  21. 21

    rb said,

    Sterkte Dellie.
    Ek stem saam met Ds Attie – grootword is erger vir die mamma as vir die kind.

  22. 22

    Emil said,

    En in ‘n kort ommesientjie is die tyd hom en is weer terug. Ek sien uit na die dag dat my seun ook sy voete wil gaan vind, maar aan die anderkant het ek ook begrip vir die hartseer wat daarmee gepaard gaan. Dis nie net alleen uit die huis uit nie – dis grootword en as’t ware ‘n skeiding wat normaal maar moet gebeur.

    Voorspoed, en geniet dan nou die vryheid om kaal in die huis rond te loop *wink jaloers wink*

  23. 23

    neykie said,

    Heit, kaal rondloop vir 8maande? Hoe gaan julle dan weer gewoond raak om klere te dra as hy terug is?

    😆

    Ek kan dink dit is baie swaar, maar soos jy al oor hom gepraat het klink hy heel volwasse en hy sal dit maak en ek glo hy gaan sy ouers nog meer mis

    Lekker naweek hou

  24. 24

    CLAZINE said,

    Hi Dels en bloggers,

    Net om te sê ‘n mooi Paasnaweek aan een en almal van julle, kyk mooi na mekaar en julle mense. Praat weer Dinsdag.

    Seënwense

  25. 25

    Marina said,

    So groetery op die lughawe is vir my nog altyd sleg…..ek huil sommer as ek ander mense hulle geliefdes sien groet. Jy was regtig sterk en kalm!!
    Ek dink my liefie sal dieselfde sê as joune as ons nessie leeg is. 😉
    Tipies die manne!

  26. 26

    sonkind said,

    Ek kan my net indink hoe jy voel. My meisiekind het anderdag net PE toe gevlieg, vir die eerste keer heeltemal alleen oppad iewers heen, en toe sy deur die hekke gaan en daai skouertjies so agteroor trek, toe loop my trane sommer sonder dat dit wou en ek weet – daar gaan sy alleen en sy is groot!

  27. 27

    bytjie said,

    Dellie, ja dis nou `n ding wat mens maar gewoond aan moet raak, my kinders is almal al op hul eie nessie, sien hulle maar min, en hulle is in Suid-Afrika.
    Sterkte vir jou, en vir die kaal loop, dit raak al bietjie te koud, of wat sê ek alles.

  28. 28

    007Meisie said,

    Ja nee! November is omi draai suster! 🙂
    Geniet die nudistiese neigings terwyl jy en liefie maar kan…. 😉

    BAIE GROOT DANKIE vir my super cool poskaarte! Kyk daai is uiters uniek…aangesien ek mos nie FHM lees nie…LOL!

    Heerlike naweek vir julle!

    Bravo 2 oor en uit!

  29. 29

    Lyanda said,

    Hallo Dellie

    Geseende Paasfees. Dankie vir hierdie heerlike ligte trant oor `n snot-en-trane inskrywing! Julle kan seker darem so dan en wan e-mail kommunikeer of nie?

    Hierrie 2 kiddo`s van my is nog klein genoeg dat ek NOU in die huis kaal rond-hol! Uhm…maar pa nie!
    Ten minste spaar ek nou al tissues…jy se `n berg vol?
    Sit `n graffiek oppi yskas-deur en skryf elke dag 1 boodskap wat jy self vir hom sou wou se vir die dag, met punte uit 10 hoeveel jy verlang. As hy terugkom, gee jy die hele graffiek vir hom. Al 8 maande.
    Groentee
    Lyanda

  30. 30

    Blue Eye said,

    Hi Vriendin ek het saam met jou gehuil Dinsdag, toe julle gery het.
    Dis moeilik vir ñ ma om afskuit te neem van haar kuikens, ek het gesien wat lê vir my voor, ek moet solank voorberei want die tyd vlieg so vinnig. Nou weet ek hoekom het jy ñ gordyntjie by die deur gehang!
    Geniet dit, belowe ons sal nie pla nie.

  31. 31

    Zee said,

    Kom wens julle net gou ‘n baie geseënde Paasfees toe!

  32. 32

    Carolina said,

    Hi Dellie,
    Ek het vandag goeie nuus daaruit verland(Amerika) gekry!! My dogter is swanger!! Ek en manlief is so opgewonde! Ons eerste kleinkind!!! Ekke wens net ek kon daar wees om haar ‘n drukkie te gee en styf was te hou!! Eerste swangerskappe is so spesiaal en ek is nie daar om dit met haar te deel!!! Is dit maar ons nuwe generasie se lot!! Kinders ver van ons af??

    Nou sien ek maar uit na Desember as hulle vir ‘n hele maand kom kuier!!
    Afskeid (kinders en kleinkind)??? Wil nie nou daaraan dink!!

    Groete van ‘n amper-ouma.

  33. 33

    Adrie said,

    Carolina

    Baie geluk. Jy is seker al reeds ouma, al is die asempie nog nie buite die mamma nie.

  34. 34

    Carolina said,

    Adrie,
    Dis waar!! Jy maak my dag! Wil so graag ouma word!!! Nou vertel jy my ek’s reeds een!! WHOW!!!

    Groete van ‘n eerste-kleinkind-ouma!!!!

  35. 35

    Adrie said,

    Carolina

    Ek hoop daar kom nog 11 kleinkinders, vir ‘n volle dosyn. Lyk my jy is reg vir groot bederf.

  36. 36

    Adrie said,

    Dellie

    Ek het geen idee hoe jy moet voel met ‘n leë nessie nie. Ek het al 11 jaar terug (en 5 jaar amptelik) die nes verlaat. My ma se jongste kind is die jaar varsity toe, maar daar is nog ‘n broer by die huis.


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: