Trap Suutjies

Ek het hierdie vir Bosparra geskryf:

Daar is onweerswolke op die blog-horison. Sulke donkeres. En van veêer af kan die bliksemstrale gesien word.

 

Is ons nie ‘n vreemde spesie nie? Bloggers, bedoel ek. Dit voel soos in my skooldae toe jy aan ‘n sekere “kliek” moes behoort het voordat jy raakgesien of gehoor word. Of enigsins bestaan het. Kyk maar net na die hele slakke en parras kwessie…  Ai, en ek het gedink ons word groot en ontgroei dit. Maar ons het tog nie werklik nie. En of jy nou wil of nie, erens gaan jy in ‘n sekere blik gedruk word.

 

Ek is nie sommer naweke op die internet nie, eenvoudig omdat dit dan tyd is om aandag aan my gesin en huishouding te gee. (Vrydag-aand was ek bietjie alleen, en het heerlik saam met julle gekuier, dankie!) Dus het ek eers Maandag oggend agtergekom van die hele Litnet debakel. Almal het nou al seker iets te sê gehad daaroor, maar ek wil darem ook so ‘n ou stuiwertjie in die armbeurs gooi.

 

Ek is hopeloos te bang-gat om daai ouens te gaan aanvat, OF te join. Hulle sal met hogere woorde en begrippe waarvan ek nog nie eens gehoor het nie, maalvleis van my maak! Om hier op Bosparra iets te kom tjorrel, is in elk geval ver genoeg uit my comfort zone uit!

 

Eintlik loop ek al met hierdie possie in my mind vir ‘n week of twee. Nie oor Litnet nie, maar oor blogs in die algemeen. En ons interaksie met mekaar.

 

Ek is baie gelukkig met my blog (kliek) by WordPress. Dis lekker daar. Die mense ken my, en ek ken hulle. Ek geniet my Bioplus in die oggend saam met hulle, en kry idees oor wat ons vanaand gaan eet wat nie te vet maak nie. Ek sien hoe lyk die matriekafskeidrokke en foto’s van 20 jaar gelede, en wys weer vir hulle hoe klein is die baba Worsies wat Saterdag aangeland het. Hande word uitgestrek en ons bemoedig mekaar wanneer dit nodig is, huil saam as iemand iets of iemand verloor, raak heel laf en simpel by sommige inskrywings, en weer stil en ernstig by ander.  Sommiges neem ons op reise deur die wêreld en maak ons met foto’s deel van hulle ondervindings. Persoonlike ondervindings. Nie prentjies uit iemand anders se boeke nie.

 

Ek is gemaklik daar. Ek sien dat ek die naweek my 30 000ste besoek gehad het sedert Oktober 2007. Ek weet niks van blogstats en sulke goed nie, maar dis nice, dink ek. Vir die ouens wat langer blog, is dit seker nie snaaks nie, maar vir my is dit moers! En ek kry selfs redelik gereeld kommentaar! DIS nou lekker! Ons almal wil mos maar gehoor word. Wel, gelees word, in hierdie geval.

 

Dit beteken ook dat my blog nie net ‘n leë kardoes is wat in die kuberruim ronddryf nie. Iemand geniet dit wat ek daar deel. En ek kan dit deel sonder om woordeboeke rondom my te versamel, ek kan maar my tale soms meng, en ek hoef nie altyd honderd persent reg te spel nie, en ek kan vreeslike lang sinne maak. Ek mag maar ‘n drankie geniet, en selfs soms die stoute skoene aantrek om iets soos ‘n stripshow te gaan kyk omdat ek nuuskierig is en ek hulle daarvan wil vertel. Want dis wie ek is. Ek hoef nie grade te hê om lekker saam met iemand te kuier nie, en ek kan maar effens kommen ook wees as ek wil.  

 

So met die tyd, kom mens ook agter op watter blogs kan jy behoorlik lostrek, en waar moet jy maar eerder jou woorde versigtig kies. Sommige blogs is soos persoonlike joernale, ander het spesifieke temas. Oor die algemeen is daar ‘n gevoel van wedersydse respek. Lewer kommentaar ordentlik, let op jou taalgebruik. Maar soms is ‘n “fok” of “donner” nodig om die regte emosie weer te gee. En dan is daar natuurlik ander plekke waar jy kan lostrek soos jy wil. Vir my persoonlik, geld net een reël: as ek more hierdie kommentaar lees, gaan ek nog respek hê vir myself? En kommentare het so ‘n nare manier om jou te volg oral waar jy gaan. Mense begin jou daardeur ken. Is dit die beeld wat jy van jouself wil uitdra? Is dit wie jy is? Antwoord maar self op daardie ene. Ek was al baie spyt en soms baie skaam oor goed wat ek sommer so op die ingewing van die oomblik kwytgeraak het.

 

Ek het begin blog as ‘n stokperdjie. En ‘n stokperdjie is mos iets wat jy geniet om te doen in daai tydjies wanneer jy nie swoeg en sweet om kos op die tafel te kry nie. Vir die lekker daarvan. Ek bespreek juis daarom nie vreeslike swaar en morbiede kwessies nie, want hierdie is my afleiding. Ek wil nie vir myself nog werk maak deur navorsing te gaan doen oor iets nie. Maar ek is ook ‘n gewillige leerling op die blogs waar mense ernstiger kwessies bespreek, wat my belangstelling prikkel. Daar lees ek en leer, maar hou my kommentaar vir myself as ek niks van die onderwerp weet nie! Ek kan nie dig nie, ek kan nie sing nie, ek kan nie dans nie. As ek baie hard probeer, sal ek seker ‘n heel skaflike matriek opstel kan baasraak… maar ek wil nie, want dit klink te veel na werk.

 

Die afgelope paar weke het ek ernstig begin wonder of dit nog vir my lekker is. En toe weer besef dat ‘n mens nie al die mense altyd gelukkig kan hou nie. Ons smaak verskil tog. Ons kan onmoontlik nie saamstem oor alles nie. Dis wat alles so interessant maak! Maar ons kan mekaar die spasie gun om ‘n opinie te hê, foute te maak, verkeerd te spel en tale te meng. En miskien so bietjie selfsugtig te wees en aan jouself eerste te dink. Soort van – please yourself, not the crowds. Die ene werk goed vir my, aangesien ek nie ‘n celeb is nie.   

 

Dus, klieks sal daar altyd wees. Vind maar die ene waar jy gemaklik voel. Of observeer die ander eers so bietjie voor jy jou voet in jou mond sit. Ek beywer myself nie vir lewenslange roem as gevolg van my blog nie, ek wil net ‘n bietjie pret hê. Is dit nou soveel gevra?  

 

18 Responses so far »

  1. 1

    Jo-Ann Schou said,

    Ek kuier altyd lekker hier by jou….

    Jip, mens kan jou naam met ‘n plank slaan as jy nie versigtig is nie – sover het ek meestal nog net skaam gekry oor die tik- en taalfoute wat ek maak.

    Ek voel ook soms om ‘n paar goedgekruide vierletters rond te gooi of sommer tromop vir iemand te vertel dat hy riool roggel. Nou sit daar egter hierdie groot vet engeltjie op my skouer wat vir my bly vra of dit is wat ek wil hê mense, veral my pa, moet van my sien en dan backspace ek maar liewer. Sien, Oupa Henk lees hier rond…. en vir hom het ek net die grootste respek en wil hom nooit teleurstel nie.

    Dit is soos jy sê – in ‘n deel van die Afrikaanse blogsfeer is daar die laaste tyd “kampe”. Die grootste verdeeldheid het ‘n Janine vs Steve geurtjie en dit is ‘n saak waarby ek glad nie betrokke wil wees nie. Ek het toevallig betrokke by die blogsfeer geraak toe ek van SSSB in ‘n Deon Maas artikel gelees het. Ek was dus ook een van die oorspronklike “spoegbloggers”. Dit was voor die hele storie so Springerklankie gekry het. Ek lewer nou bitter selde op SSSB kommentaar en lees ook net so dan en wan wat daar aangaan. Ek hou verby die kommentaar…. dit is meestal ongelukkig nie my klas nie.

    Hier is ‘n hele paar juweeltjies op Woordstoot. Ook ‘n paar wat ek ‘n mis gee. Maar die meeste mense se hoekies is heerlike kuierplekkies en daar is baie te leer en ek het ook al antwoorde op vrae by party gaan haal. Dit is ook sommer ‘n gratis terapeut – ek het hier baie ondersteuning met die verwerking van my ma se dood gekry. En die aanmoediging met my rookstaking was magic (dit is nou 17 maande wat ek nie rook nie!)

    Ek mis vir Ding vreeslik baie – die man kan skryf!

    Lekker dag!

  2. 2

    demoerin said,

    Dellie, weet jy, in drie woorde….dit is lekker! Dink in elk geval hulle sal my weens taalgebruik na ‘n uur by Litnet uitgooi!

  3. 3

    Wipneus! said,

    Lekker stuk gewees Dellie.

    Jo-Ann geluk met die ophou rook staking, dit wil gedoen word.

  4. 4

    Pikkelik said,

    Hoor, hoor!!!! en weer Hoor, hoor!!!! Altyd lekker Dellie!

  5. 5

    BB said,

    Ek ‘click’ jou soooooooo graag!!! xx

  6. 6

    Dellie said,

    Jinne Jo-Ann, is dit al sowaar 17 maande? Ek is so trots op jou!

    Ai, en dit WAS lekker dae daar op SSSB in die begin. Ek is bly baie van ons het ten minste kontak gehou.😉

  7. 7

    Zee said,

    Ek laaik dit om hier te lees (het ek nou my taal gemeng hierso?)

    Party keer voel ‘n mens jy weet nie wat om oor te blog nie en ja, dan los jy dit liewers en lees jou gunstelinge al het jy nie altyd ‘n kommentaar om te lewer nie.

    Dellie, deur julle “click” het ek al baie bemoediging gekry wat my deur getrek het in donker dae.

    En ja, soos jy sê, SSSB was lekker totdat die gevegte begin het (at least het ek julle so leer ken)!

  8. 8

    me said,

    Nav gister se posting:
    Gee vir mamma Roxy nou puppy-pellets….
    Verkieslik Eukanuba of Hills produkte….
    Dit is waarme ‘n vroulike honkie gevoer moet word wat babies het….

    Info by Onderstepoort gehoor … my honne liefies is almal gesteriliseer. Ek sal nooit babies kan weggee nie, te lief vir die lojale liefies!

  9. 9

    Paula said,

    Ek is natuurlik heeltemal in die duister oor Litnet/SSSB ??????. Ek geniet jou blog ontsettend baie .. dankie daarvoor.

  10. 10

    Adrie said,

    😳

    Ek het in die begin (op ‘n ander blog) probeer om teen my grein te gaan. My taalgebruik het heelwat bloggers afgeskrik. Een oggend het ek wakker geword en geskrik om te sien hoe ek klink. My een vriendin het ook gebel en gevra as wie blog ek. Ek het haar gevra om te raai, toe se sy beslis nie A3 nie, want ek vloek nie so erg nie. 😳

    Ek het intussen probeer om my taal skoner te hou. Vloek bly ‘n lekker manier om van jou frustrasies ontslae te raak, maar nie as dit mense vervreemd nie. Dit het nogal gehelp dat my bloggers se taal ook ‘n bietjie skoner is.

    Ek vloek wel partykeer op ander mens se sites.

  11. 11

    Carolina said,

    Dellie,
    Ek kuier ok lekker hier by jou!! Hier kan ons saam praat oor die nornale allerdaagse dinge in ons lewe!! Saam ‘n traan pik, saam met jou lag en saam met jou sekere dinge oordink!! Dankie!!!!

  12. 12

    Meermin said,

    Ek kuier ook lekker hier, ek het maar my eie ou vaal bloggie begin om my etenstye uit die strate te hou, en om my hart soms daar uit te stort en te brek met my kinders en diere!! Dit is absoluut my uitlaatklep!!!

  13. 13

    Marina said,

    Dellie, dis so lekker om altyd hier by jou te kuier!
    Hou aan skryf asb!!

  14. 14

    Emil said,

    Hier of daar – dit is ‘n nice stuk.
    Dit is lekker om te blog – sonder die blog ding het ek nie sulke oulike (virtuele) mense soos julle ontmoet nie😉

  15. 15

    Eben said,

    Ja dit voel ook soos gister dat ek hoogs vervelig daardie staduim in Tanzania aangeteken het op SSSB, minwetend dat ek daardeur oulik mense sou ‘ontmoet’

    Dis maar ook so, dat soort soek soort, maar dis vir my besonder lekker om ALTYD hier by jou inteloer vir ‘n koppie koffee, en laat middag ‘n spierverslapertjie.

    Geluk Jo-Ann!!! Ek stem saam met jou, Ding kon darem ‘n mens se dag kort gemaak het met lekker skryfwerk.

    Dellie, dis vir my lekker/voorreg om jou as my ‘maatjie’ uit te wys, al is jy ‘n honde-ouma🙂

  16. 16

    costello said,

    Dit gee ‘n nuwe betekenis aan “waar of wolhaar”

  17. 17

    Ek het nou net hier gelees … Ek is ‘n Litnetter … En moenie bang wees om daar te kom loer nie … nie almal praat uit die hogere banke nie … Ek is splinternuut hier en sal later meer hier woel … Ludwig

    • 18

      Dellie said,

      Hi Ludwig … jinne, ek sit nou weer die stuk en die comments en lees … en dit voel soos ligjare weg … amper 2 jaar? WOW – hoe het dinge nie verander intussen nie … skielilk voel ek ‘n possie broei … kom loer weer.😉


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: