Toe ons nog kinners was

Ek dink nie vandag se kinders weet meer hoe om te speel nie. Ek bedoel nie rekenaar speletjies of Playstation nie. Ek bedoel buite speel, met enigiets wat jy in die hande kan kry. Ek kon myself vir ure besig hou met plase bou en karretjies speel. Later popspeel ook, en modderkoekies, maar karretjies was my favourite. En bewaar die arme hond se siel as hy met sy groot pote op my plaashuis kom trap in die nag…

Toe ons nog in SWA gebly het, was ons hele erf omring met bome wat sulke rooi blommetjies gehad het. Ek kan dit seker gaan google, maar ek het nie ‘n clue waarvoor om te soek nie, ek was nog bietjie klein daardie tyd. In elk geval, die bome was so naby mekaar dat jy van die een se takke na die ander kon klim sonder om grond te vat. En daai rooi blommetjies was eetbaar. Flippen lekker. Ek sal die smaak altyd onthou. Amper soos ‘n suurtjie, jy weet, daai groen blaartjie goedjies wat so suur is? Maar met ‘n bietjie soet by. Ek kon vir ure van boom tot boom wei en blomme vreet.  Een jaar het ons die bure se troetel Blou-apie opgepas, en ek en hy het ons trommeldik gevreet aan blomme! Ek kan nie onthou dat daar enige nagevolge was, behalwe rooi lippe en rooi tonge nie.

Tye het ook so verander dat geen kind dit meer kan waag om aan te vang wat ons aangevang het nie. Toktokkie speel, vrugte steel, wiele afblaas… vandag sal hulle in die tronk slaap! En tog was dit onskuldige pret vir ons.

Haasdas het gister op Bosparra daaroor gesels, en terwyl ek die reaksies gelees het, kon ek nie help om op te merk dat my gunsteling speletjie nie daar genoem word nie. Onthou, ek was in die koshuis van Sub A af. Ja, ons was nog in sub’s en standerds. G’n grade vir ons nie, sorry! Vandag het almal in die regering mos een of ander graad – Mbeki het graad 5, Zuma graad 3 en Moegapie seker graad 1. Hehe!

Anyway, ons het ver weg gewoon van die koshuis af. Uitnaweke was een maal per maand. Die ander naweke het ‘n paar van ons in die koshuis gebly, so ‘n maksimum van 20. Gedurende die week het die seuns en meisies afsonderlike speelplekke gehad, maar naweke kon ons meng omdat ons so min was. Binne die omheining om die skool en koshuis, was ook ‘n stukkie bos, met doringbome en al daai dinge. Ons het graag gaan soek vir boomgom daar, (Suidwesters sal weet waarvan ek praat, ai hoe lus kry ek nou!) en die dorings aangedurf om ‘n sitplekkie in die boom te kry. Die seuns het ons in kruiwaens rondgestoot, en ons het al mooi paadjies in die “boendoes” uitgekerf. Dit was natuurlik nie in die week vir die ander koshuisbrakke toeganklik nie, so ons het half spesiaal gevoel oor “ons” bos. Daar was sulke spesiale wegsteek plekkies waar ons ‘n soortvan “kamp” gebou het, met klippe vir stoele en ‘n plekkie vir ‘n “vuur” wat net in ons verbeeldings gebrand het. Soms het ‘n onnie wat noodgedwonge die naweek moes inbly om ons op te pas, ons induldge, en saam met ons kom vuurmaak sodat ons kon marshmallows braai. Hy het natuurlik gesorg vir die marshmallows in ruil vir ‘n lekker stukkie biltong.

Terug na die speletjie. Ons het dit “Landkaart” genoem, en dit het so gewerk: ons deel op in twee spanne. Elkeen kry ‘n leier. Dan word daar besluit wie is eerste aan. Dit was ook weer ‘n proses op sy eie. Die twee leiers speel “op die klavier staan ‘n bottel bier – die een wat daaraan drink se asem sal stink”  om die wenner te bepaal. Die span wat verloor, moet in die toilette of kamers of erens buite sig, gaan wag totdat die leier van die ander span hulle kom roep. Die leier van span 1, vat sy maatjies en gaan steek hulle weg, elkeen op ‘n ander plek. Die area was nogal groot, so die wegstekery kon maklik ‘n uur of meer duur. Hy kom dan terug, en teken ‘n kaart in die sand, wat wys hoe hulle geloop het en waar elkeen wegkruip. Die wegkruipplekke word met kruisies aangedui. Sonder landmerke natuurlik, net die krulle en draaie soos hulle geloop het. Span 2 moet nou hierdie kaart bestudeer en memoriseer, want hulle mag nie weer kom kyk nie. As hulle klaar gekyk het, verwoes die leier van span 1 die kaart terstond met sy voet dat die stof so staan. En dan begin die soektog. Die leier van span 1 loop basies net saam, mag geen leidrade of aanduidings gee nie. Soos wat die lede van span 1 opgespoor word, trailer hulle nou maar agter almal aan soos in die storie van die Goue Gans. Sodra almal opgespoor is, is dit span 2 se beurt om te gaan wegkruip.

Daar was nie regtig “wenners” in hierdie speletjie nie, maar dit het ons soms heel naweek besig gehou, net sodat albei spanne darem ‘n beurt kan kry. Dit was my gunsteling speletjie. Maar eendag het ek my so in die game ingeleef, dat ek geglo het ek het ‘n Zoeloe in die bosse gesien terwyl ek weggesteek was. Verbeel jou, ‘n Zoeloe in die noorde van Suidwes in 1976… in volle mondering, met ‘n spies en ‘n skild en ‘n velletjie om die lyf… ek was histeries, en die koshuisvader het besluit ons mag dit nie meer speel nie. Tot vandag toe, sien ek nogsteeds die prentjie van die “Zoeloe” in my gedagtes…

Dan was daar natuurlik Rounders, blikaspaai, en moenie touchers vergeet nie! Donkerkamertjie was ook lekker, en daai hasie-hop speletjie waar jy so ‘n “pand” gegooi het. En dan is dit spring – een-voet, twee-voet, een-voet, twee-voet, en jy mag nie aan die lyne raak nie, tot jy by die ore kom, dan moet jy spring-draai. En erens op ‘n stadium kry jy mos jou pand, en koop dan daardie deel. Dan mag jy selfs daar sit ook as jy wil!

En rekspring, met broekrek of sykouse. En “bok inni hok”,  waar ons geleer het hoe warm ‘n tennisbal kan brand waar hy land… Ag, dit was die goeie ou dae… watter lekker speletjies onthou jy?

♪♫ Kinners was nog kinners ♪♫

♪♫ Toe ons nog kinners was ♪♫

31 Responses so far »

  1. 1

    Paula said,

    Laat jy my nou lekker terug verlang na my kleintyd🙂

  2. 2

    WhiteKnight said,

    Agge nee sies Dellie

    Hoe moet ek nou verder werk as jy my terug vat na daai lekker dae. Vandag se kinders mis uit “big time”.
    Albasters speel, giffie, donkies ry, toktokkie speel, klippe (in die aand) op die dakke gooi (soms ‘n ruit), kleilat gooi, dolosse speel, kleiosse maak, karretjies met hulle bane en sommer die hele plaas of dorp, uitkamp vakansies en naweke in die veld, aai daar is so baie mens raak op die daad nostalgies oor dit.
    Mooi dag Dellie en dankie vir die “trip down memory lane”.

    Groete

  3. 3

    Roer said,

    Donkerkamertjie was beslis een van my gunstelinge. Die bulte en heuweltjies aandurf met ‘n stuk karton was ook pret, maar my klere het dit nooit gehou nie.

  4. 4

    Kokkewiet said,

    Wow, wat ‘n trip down memory lane. Ja-nee, die kinders van vandag weet nie hoe om te speel nie.

    Die goeie ou dae…….

  5. 5

    Carolina said,

    Delllie,
    Jy laat my ok ver terug dink aan my wonderlike kinder jare! Rounders, blikaspaai, “bokinnihok’…. Ja ek onthou ok hasie-hop!!!

    Whiteknight: Giffie en veral toktokkie het ons ok graag gespeel!!

    En dan ons tienerjare: Daar het ons graag speletjies gespeel waar jou straf ‘n soen was. Daai straf was so lekker as dit per “toeval” die ou is wat jy so in die geheim bewonder! Natuurlik het ons vriendinne so ondermekaar gekonkel! Die soen straf het per “toeval” op die regte ou geval!!

  6. 6

    Zee said,

    Dellie, hoe vat jy my darem nou jare terug. Ek onthou hoe ek ook altyd modderkoekies in my eie stofie wat my pa nog vir my uit hout gemaak het, gebak het.

    Ek moet bieg, het al van die speletjies vergeet hoor, maar sal maar seker moet opbrush vir mannetjie. Ek gaan seker maak hy speel ook buite en sit nie heeldag voor die TV nie.

    Het klaar sy albasters en klei gekoop…..

  7. 7

    demoerin said,

    Ooo, dit was darem maar lekker. Ek onthou ook nog rounders en bokinniehok. Dan was daar ook daai nominations game, touchers, vroteier ens. Ek onthou die kiesprosesse ok nog goed, op die klavier… of mickey mouse built a house…. Dan ook natuurlik albasters en die karretjies in die sand. Ai, dit was darem maar lekker. En natuurlik “oorlog” in die nuut-omgeploegde landerye. Ek voel nou nog hoe brand daai klonte.😆

  8. 8

    Ja nee, die kids mis uit!
    Ek was ook in die koshuis vir ‘n wyle in ‘n landbouskool en ons het gejol hoor. Kleilat gespeel en in die rivier geswem en ‘n paar onnies hartaanvalle in die proses gegee. Toktokkie, rounders, touchers, kings, bok in die hok, modderkoekies het ek baie gebak. Net jammer ek kan nie die regte koekies so lekker regkry nie😉
    Ons het ook baie kere ons eie speletjies opgemaak, met nare hekse, prinse en prinsesse ens. Ek het lekker saam met die seuns karretjies gespeel en albasters gegooi. Wegkruipertjie, handjietennis, rekspring (England, Ireland, Scotland, Wales. Inside, outside inside on!) en touspring….daar is so baie!
    Dis darem maar lekker om kind te wees…

  9. 9

    Oulike inskrywing!

    Ek onthou nog hoe gewild albasters was. ghoens, “ainies” en wragtig was party van die albasters se naam “afrikaners”….btw, speel kinders nog albasters?

  10. 10

    Suz said,

    Hoe verlang ek nou terug na my kinderdae. Ons het ook baie telefoontjie en dink die game se naam was so iets soos “koning ken ek op reis gaan” en dan het ons ook overs gespeel, wat jy die bal oor die dak gooi of so iets.

  11. 11

    Suz said,

    @boerinballingskap, my kinders speel nog albasters, vroteier en koljander-koljander so deur die bos.

  12. 12

    neykie said,

    Dellie daar wag huiswerk vir jou

  13. 13

    Dellie said,

    Bib, ek weet nie!:mrgreen:

    Jis Suz, ek onthou daai ding van “koning kan ek op reis gaan” Dan sê dié “ja, vyf babatreetjies” of “6 piesangs” of sulke simpel goed. En die eerste een wat aan die koning vat, is die volgende koning. Moers exciting! Hehe!

  14. 14

    Adrie said,

    Haai

    Julle noem speletjies wat ek al vergeet het. Soos koning-op-reis.

    Ek was nogal ‘n boekwurm op skool.

  15. 15

    Pikkelik said,

    Ek wil nie eers verder lees nie… ek wil net weer ‘n kinders wees!!!! :mrgreen:

  16. 16

    boendoe said,

    Hasie was een van my gunstelinge. Dan het ons nog ‘n game gehad waar jy ‘n bal teen ‘n muur bons. Begin met maklike aksies, maar hoe later, hoe kwater. En ‘flee, fly, flo’. Jy pak 3 stokkies en jy moet oor hulle spring. Elke keer verder. Het ongelukkig nie ver daarmee gekom nie – my pokkelbeentjies was te kort!
    Jy laat my lekker verlang, Dellie.

  17. 17

    skoor said,

    Halleluja, ek beaam.

    Maar veiligheid in onse dae en vandag se dae speel darem ‘n helse rol.

  18. 18

    Eben said,

    Lekkerrrrrr posting Dellie jy neem Eben baie ver terug. Ek het hoeka ‘n rukkie gelede met Steyn gesels oor wat ons alles gedoen het. Al die kattekwaad en natuurlik die gevolge daarna😆

    Ek mag darem noem dat ek bevoorreg is dat Steyn op die Landgoed groot word en ook net daardie iets anders kan doen as om TV en speelletjies te speel.

  19. 19

    Suz said,

    Iets wat ons altyd speel as die krag af is “ek sien iets met my kleine ogies wat begin met bv R” Hou die kinders lekker besig.

    Moet sê my kinders speel baie buite, ons bly op ‘n plot en hulle geniet dit baie en dan gaan kamp ons ook baie met die kinders. Manlief sê net sondag vir my hy is dankbaar ons bly nie in ‘n woonstel nie, die kinders sou ons mal gemaak het.

  20. 20

    CLAZINE said,

    Ai Dels!

    Onthou jy nog? “bok-bok staan styf, hoeveel vingers op jou lyf??

    Lekkrrrrr! Wens ons kinders kan net nog kinders wees.

    Groetnis

  21. 21

    Wipneus! said,

    Jy het nou lekker herinneringe terug gebring!!

    Lekker inskrywing Dellie

  22. 22

    Marina said,

    Ag Dellieeeeee dit was nou lekker terugdink!!
    Boendoe on shet die klippe so gepak en dit 3 klip genoem…..my bene was ook altyd te kort.
    Onthou julle klippie-skool??? Begin op die boonste ry trappe dan moet jy raai in watter hand die “juffrou” die klippie het, so skuif jy af as jy reg raai en die een wat eerste onder kom is dan juffrou.

  23. 23

    JAAA! Ek onthou daai spring-speletjie, ag ure se pret.
    Ek stem saam.

    En rekspring en albasters en karretjies speel in die grond dan bou jy paaie. en skoolhou vir mens se poppe. En skattejag. Inkleur, sny en plak, papierpoppe.

    Geen verjaardag-party het omgegaan sonder vroteier nie.

    Ja en klippie-skool, Marina, hoe lekker.

    Lekker was dit nou. Cowboys en crooks.

    En wie onthou: Donker-kamertjie?

  24. 24

    Elize said,

    Rekspring. Dis wat my na jou blog toe gelei het. Kan jy dalk die stappe onthou? Ek onthou dit soos volg: altwee voete in, dan altwee voete op die rek; dan albei voete weer in; dan albei voete weerskante v.d rek (wydsbeen); dan draai jy en spring met albei voete in….of so iets?!?!? Kan jy my dalk uithelp?
    Baie dankie.
    Elize

  25. 25

    maggie said,

    Hi julle!! Elize ek sien jy het al twee jaar terug oor die reksprong gewonder. Het enige iemand vir my ‘n antwoord? Hoe werk dit nou weer? Ek probeer my kids in die ding kry!! Help as julle kan!!

    Maggie

  26. 26

    Michelle said,

    Kan enige iemand onthou hoe werk die rekspring speletjies asb?

  27. 28

    Zelda said,

    Ek leer nou my kleinkids om rek te spring. ek onthou van in en op die rek en weer in en dan weer wydsbeen oor en trek en uitspring dan op die rek en spring trek na die ander rek en uit spring.En dan al hoe hoer .Weet nie of ek als onthou nie.

  28. 29

    Chrissie said,

    Dit is so wonderlik. Ek is ‘n ma van 3 en hulle is nou op daai stadium wat ek hulle ook “ons” speletjies kan wys en besig is om te wys. Veral met hierdie lang vakansie. Hulle geniet dit tog terdee.
    Die rekspring werk as volg. Soos julle hier bo verduidelik het. Albei voete in. Albei voete op die rek. Dan weer albei in, albei wydsbeen bo-oor die rek. Dan het jy gedraai met die rek en moes dan weer na binne spring (d.w.s na een van die maatjies toe draai wat die rek hou om die bene en dan daai rigting in die spasie weer inspring. Daarna spring jy weer uit. Dan hak jy mos jou een voet aan die een kant van die rek en spring met die rek bo-oor die ander een, en dan weer binne in die “driehoek” spasie by jou maatjie wat die rek om die bene hou en weer uit. Dan word die rek hoer geskuif en jy herhaal die hele storie van voor. Dit is hoe ons dit gedoen het. Hoop dit is duidelik genoeg verduidelik.

    Ek is weer opsoek na die alabaster speletjies wat ons so onder die bome by die koshuise in SWA gespeel het. As iemand dalk vir my weer gaatjie kan verduidelik. Wanneer word daar met die 4 vingers gemeet? Wanneer mag jy ‘n paadjie trek om jou opponent raak te skiet ens.

    Vandat ek hierdie speletjies met my kinders weer speel, is dit asof die tyd weer begin stilstaan en die dolle gejaag weer tot ‘n einde kom. Dit is asof die dae weer dae is en nie net vol gepakte ure waaroor ons nie beheer het waarheen dit vlieg nie. Dit is tog so kosbaar. Dan besef ek dat tegnologie die grootste tyd steler is….

    Hoop julle geniet elke oomblik saam met julle kinders en kleinkinders

  29. 30

    Elna said,

    Kan jy my herinner hoe speel ‘n mens ‘rekspring’ asb. Ek wil my dogtertjie leer, maar kan nie presies onthou hoe dit werk nie.
    Dankie
    0824923169

    • 31

      Zelda said,

      Ek kan ook nie alles onthou nie, was jare terug. Ek weet jy spring in met altwee bene gelyk dan gelyk met altwee bene op die rek dan af buitentoe met altwee bene. dan trek jy die rek met die een been tot by die ander rek en spring uit. dan spring jy op die een rek met albei voete, spring vorentoe, trek die ander rek en spring uit. Dis maar min of meer wat ek kan onthou. My kleinkinders geniet dit vreeslik. Hulle is nou 5 en 4jr.


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: