Wat ek wou, en wat ek is

Ek doen hierdie huiswerk vir Neykie.

Vandat ek kan onthou, wou ek ‘n dokter wees. Ek dink dit het begin met my boetie wat altyd een van my poppe se arms afgebreek, toon afgekou, oor geskeur, of ‘n oog uitgehaal het. Dan het hy my getroos en gesê die pop was in ‘n moerse ongeluk, en ek moet haar nou gesond dokter. Ek het baie pasiënte gehad. Ek het later sommer self nuwe poppe se hare begin afsny vir brein operasies. En hulle dan steke gegee met swart wol. Soms is ‘n oog vervang met ‘n albaster. Of iemand het ‘n lapoor gekry, of iemand anders se arm. Ja, die eerste Brides of Chuckie was myne.

Daarvandaan het ek ‘n paar lewendige pasiënte gehad. In Suidwes was die akkedisse groot en baie. Hulle is onseremonieel oor die kop gedonner met my pa se skoen, en dan geopereer. Wanneer ek klaar was met hulle, het sommiges vyf pote gehad, sommiges geen pote, maar twee sterte. Harte en longe en ander binnegoed is ook oor en weer geruil. En alles is netjies toegewerk. Dan is hulle in visblik-bedjies toegemaak met tissues. Maar hulle wou nie weer wakker word nie, en na twee dae het my ma my met haar slipper gedwing om begrafnis te hou, aangesien die hele stoep toe al gestink het soos die hel. Dit was die einde van my oorplantings fase.

Begrafnis van troeteldiere en dies meer, was altyd ‘n vreeslike seremonie in ons gesin. My boeties het op ‘n stadium rotte gehad, en muise, en daar was budjies en kuikens en katte en honde. En sywurms. As een van die genoemdes die tydelike met die ewige verwissel het, was daar behoorlik begrafnis gehou. Ek weet iemand in die familie het nog foto’s hiervan, ek gaan soek en julle kom wys. Om een of ander rede, moes al die begrafnisgangers koolblare op hulle koppe hê. Swart poncho’s dra. Ten minste een moes ‘n “koos” op die kop hê, en iemand moes ‘n emmer in die hand hê. My boetie-die-pop-vernieler het altyd, maar altyd ‘n leë drankbottel in die hand gehad. Ja, op die begrafnis. Dan is daar geween en gekners op die tanne, en gesing soos die Grafsteensangers. Die gaatjie is gegrou, die lyk is begrawe, en dan kom daar koolblare op die graf. Wat was die kwessie met die koolblare???

Toe ek omtrent 10 was, was ek om een of ander rede in die hospitaal. Toe ek ontslaan word, kon ek die drip sakkie met sy megoedies saamvat huistoe. Ek was uit my vel uit! Want ek het ‘n klein sussie by die huis gehad…

Die man wat vir ons groentetuin verantwoordelik was, ou Grootman, was baie lief vir my sussie. Sy was immers heeldag om hom, en hy het haar basies opgepas. By die huis het ek haar in die bed gestop, haar gesig met waterverf bygekom sodat sy ‘n blou oog het en ‘n paar rooi krapmerke, “bloed” wat uit die mondhoeke drup… verbande om die kop, en natuurlik die drip. Volgemaak met koeldrank, en die pypie vasgeplak teen haar mond. En toe gaan roep ek vir Grootman om te kom kyk hoe siek Muis is. Sy speel baie oulik saam en kreun en steun toe hy die kamer binnekom… die arme ou man! Ek dog hy kry ‘n hartaanval! Hy het so aan die kerm gegaan, dat my ma hom moes kom lawe! Ek dink dit was daar waar die vlammetjie vir dokter wees geblus is.

Eendag het Pa ‘n tikmasjien huistoe gebring, en ek was hooked. ‘n Paar maande tevore het ons by Ouma-hulle in die Vrystaat gaan kuier, en ek het vir die eerste keer met TV kennis gemaak. En Dallas. Die sekretaresses was vir my magic. Daai geklik-klik van die tikmasjiene het my betower. Ek het ‘n hoekie in my kamer ingerig soos ‘n kantoor, en my Ousus se tik boeke nader getrek. Natuurlik kon ek nie veel regkry nie, maar ek wou soooo graag vinnig tik! Ek het baie ure in daardie “kantoortjie” verwyl.

Toe het skool-skool begin, want Muis moes leer. My pa was stout oor voëls, en daar was baie hokke op die erf. Ene was nuut, en nog leeg. Dit het ons klaskamer geword. Ek kon teen daardie tyd darem al iets getik kry, en het registers en boeke en what have you’s getik vir die skool. Somme gemaak op die swartbordjie, en baie toetse opgestel en gemerk.  Rooi penne het nog steeds vir my ‘n vreemde aantrekkingskrag!

In my tienerjare wou ek ‘n model word. Maar ek is te kortgat. En gladnie fotogenies nie. “Fame” het my vir ‘n wyle in sy kloue gehad, toe wou ek net ‘n danser word. Ek en my pels het ure geoefen aan baie weird moves in leotards en legwarmers…maar toe die ouens histeries vir ons lag toe ons dit probeer doen op ‘n sokkie, het ons besef dat Fame dalk maar nie vir ons is nie!

Om ‘n ma te word, soos Pikkie, was vir my ‘n wonderlike belewenis. Ek dink die meeste dogtertjies droom daarvan om ‘n baba te hê. Vir tien jaar was ek voltyds ma. Elke eerste was myne, nie ‘n dagmoeders s’n nie. Elke oomblik het ek benut en geniet.

Maar eventually het ek tog ‘n soort van onnie geword. En ek is nie spyt nie. Ek is mal oor my werk. Dis vir my lekker om elke oggend op te staan om dit te doen. Ek sien elke dag uit na die nuwe dinge wat ek gaan beleef, die nuwe mense wat ek gaan leer ken. Ek bou mense se selfbeeld elke dag. Ten spyte van die tools wat ek hulle gee om rekenaars beter te verstaan, leer ek hulle ook om hulle self nie te kort te skat nie. Om die lewe reguit in die oë te kyk. Om dit aan die horings te gryp en bloots te ry. Soms sonder dat hulle dit eers agterkom. En ek weet ek doen dit goed, want my hart is hier waar dit moet wees. Dis wat ek is.

Ek tag vir 007, Skoor, Paula en Eben.

10 Responses so far »

  1. 1

    neykie said,

    Dellie jy is ‘n wonderwerk jy vertel ‘n storie met kleur en laat my lag sodat my maag pyn.

    Well done!!!😉 atleast nie ‘n sluipmoordenaar nie

  2. 2

    Adrie said,

    WHAAHAHAHAHAHAHAA

    Arme akkedisse

  3. 3

    Ook maar goed ons het nie saam grootgeword nie, anders het ons dalk die hele akkedisspesie uitgewis!

    Dit was nou ‘n lekker lees en ek sal maar van voor af moet skrywe aan myne…

  4. 4

    alta said,

    Shame man Dellie. Die arme diertjies. 😀
    Het vir jou so ietsie op my blog. Gaan loer gerus.

  5. 5

    Pikkelik said,

    Dit was nou ongeklasifiseerde terapie as daar so iets is…. Ek het heerlik gelag, heerlik gelees, en heerlik gegril!!!! Heng ek is bly jy is nie Ouboet se ma nie, dan was daar geen diere meer op aarde nie!!! 😆 😆 😆 😆

  6. 6

    Emil said,

    Goeie stukkie – hier en by bosparra😉

  7. 7

    Wipneus! said,

    hahaha Hierdie was ‘n baie snaakse inskrywing, ek het lekker gelag!! 😆

  8. 8

    […] Dellie se Dinge Wat ek wou, en wat ek is […]

  9. 9

    BB said,

    Jaaaa Delsch…en soms dokter jy onbewustelik ‘n paar harte😉
    Ek sien iewers anders jy beplan dalk ‘n dvd of twee oor die naweek – probeer gerus “The bucket list” met Jack Nicholson en Morgan Freeman – awesome movie!!! xx

  10. 10

    sonneblomseplekkie said,

    Baie lekker gelees nou Dellie, jy het dalk al jou drome bewaar…van dokter tot onnie tot model…rolmodel that is…😉

    Lekker naweek,
    Sonneblom


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: