Trein na die Vrystaat

Ons het Suidwes toe getrek toe ek amper vier was. Na die noorde, Kaoko veld, Opuwa. Ek is gebore in Ladybrand, in die Vrystaat, en my Ouma-hulle het ook daar gebly. Nadat ons Suidwes toe is, het ons gereeld Desember vakansies by Ouma-hulle in Ladybrand gaan kuier.

Een spesifieke vakansie kan ek mooi onthou. Dit was in my Sub A jaar. Ons was daardie tyd vyf kinders. Twee boeties, twee sussies, en ekke. Die laatlam op die stadium. Ek was in Kamanjab in die koshuis, en boeties en sussies in Outjo. Ons het ‘n Volkswagen Kombi gery. Een van daardie vierkantiges met die dubbel kajuit, en die bak agter waarvan die kante so kon platslaan. ‘n Ligbloue.

Dae voor die tyd is daar begin om die padkos voor te berei. Frikkadelle, hoenderboudjies, koue skaapboud, gekookte eiers, toebroodjies… en ons was ‘n groot gesin. Dan was daar soetkoekies, pasteitjies, beskuit, biltong en droë wors wat ook moes saamgaan. En gemmerbier. Dit was ‘n laaaang trippie. En dit was somer.

Vroeg oggend is daar weggetrek by die huis. Dit was nog stikdonker en die voëltjies het nog nie eers begin sing nie. Die vorige aand is die Kombi gepak met al ons bagasie. Voor ons ry word die padkos gegryp, en almal met komberse en kussings in die Kombi ingeboender.

Toe die son sy eerste strale oor die vlaktes laat huppel, stop Pa langs die pad sodat ons brekfis kan eet. Ons klim gaap-gaap onder die komberse uit. Daar is baie tyd, en hy slaan sommer gou saam met boeties ‘n vuurtjie aan sodat ons vars, warm koffie kan maak. Op dié plekkie het ons baie gestop op ons ritte. Daar was twee wit beton tafeltjies, met beton bankies, en ‘n beton asdrom. Genoeg plek sodat ons elkeen ‘n troontjie kon kry, en ‘n paar groot bome om die son weg te keer. Dit het al soos “ons” plek gevoel, en gou-gou het die seuns een rigting en die meisies ‘n ander gekies om die natuur se roepstem te antwoord.

Terwyl die son opkom, geniet ons van die padkos, en koffie en beskuit. Vars koffie op ‘n vuur so in die natuur het darem ‘n reuk wat my vir altyd sal bybly. Dan word alles opgepak, die vuur doodgemaak, en Ma het altyd sekergemaak dat daar niks behalwe ons voetspore agterbly nie. Ons val weer in die pad. Ons is oppad Outjo toe, waarvandaan ons die aand ‘n trein haal al die pad tot in Ladybrand. Of was dit Bloemfontein? Ek kan nie mooi onthou nie. In elk geval, nog voordat ons Kamanjab haal, is daar probleme.

Ek kan nie onthou dat daar vreeslike gevegte was tussen ons kinders tydens die rit nie. Die seuns was agterop, en ek het soos gewoonlik “radio-radio” gespeel. Dit was wanneer ek OF vir almal gesing het, OF die stories op my Liewe Heksie plate woord vir woord herhaal het. En ek het geluister wanneer die volume afgedraai word, of die “radio” afgesit word. My ore en neus is gewoonlik vir dié doel gebruik.

Ek sing nog so lekker toe daar ‘n gekap op die dak is gevolg deur ‘n baie dringende gegil. Pa slaan ankers aan, net betyds om te sien hoe die Kombi se een agterwiel ons verbyvat. Sommer nog voor die kar tot stilstand kom, is die boeties af en sit die wiel agterna. Toe hulle uitasem terugkom daarmee, staan Pa hande in die sye die agterkant van die Kombi en bekyk. “Kom kinders,” sê hy, “soek daai nuts!”

Dit voel vir my of ons amper terugloop tot by die huis, maar die nuts is skoonveld. G’n mens sal weet hoe lank die wiel toe al los was nie. Einde ten laaste haal Pa een nut by elk van die ander wiele af, en sit die wegholwiel weer vas. Gelukkig is ons nie meer vreeslik ver van Kamanjab af nie, maar tussen hier en daar, gebeur ander dinge ook met die Kombi.

Rook begin oral uitborrel, dit hoes en proes ‘n paar keer of wat, trek dan weer weg met hernude ywer, en steek toe uiteindelik viervoet was. Die stilte is oorverdowend. Sonbesies skril in die bossies, en die hitte dans doer ver in die pad. Verkeer was nog nooit ‘n probleem hier nie. Ons sit langs die pad in die stof en eet frikkadelle en gekookte eiers, en sluk dit af met gemmerbier. Dis Desember. Dis warm. G’n volwaardige boom in sig nie, net sulke halfmas doringbosse. Maar ons kinders is gelukkig. Ons gaan met vakansie.

Na baie sukkel en vloek van Pa se kant af, en Ma wat soms my ore toedruk, kry die Kombi weer so ‘n willetjie om te beweeg, en so kruie ons toe maar aan tot by die dorpie se enigste garage. Die eienaar daar is toe nie die skerpste spyker in die dosie nie, OF het nie die regte onderdele nie, en kan nie die kar regmaak nie. En daar sit ons. Dit is al laat middag, en ons moet vanaand ‘n trein haal op Outjo. Ons sien al hoe verdwyn ons vakansie soos die stofwolkies in die grondpad.

‘n Barmhartige Samaritaan met ‘n bakkie snel ons te hulp waar ons moedeloos langs die Kombi staan. Dankie tog! Voor jy kan sê mes is ons bagasie oorgelaai op sy bakkie, en vasgemaak met toue. Daar moet darem spasie vir ons ook oorbly om te sit! En daar gaan ons, almal vol smiles. Pa en Ma voor in, en ons 5 agterop tussen die bagasie. Outjo toe. Ons het ‘n trein om te haal!

Ons het altyd drie kompartemente bespreek – een vir Ma en Pa, een vir die meisies en een vir die seuns. Dis ‘n lang trippie, en ons het sommer daar al begin vakansie hou. Ma en Pa moes ook seker erens bietjie privaatheid hê. Eintlik was ek heeldag by hulle, net soms snags by sussies geslaap. Ek was nog te klein vir hulle kattekwaad deur die dag.

Dit was nog treine wat met steenkool aangedryf is. Wanneer dit tyd was vir “strat-up”, het ons al die vensters na die kompartemente dig toegemaak, want die stukke roet kan jou sommer in die oog tref as jy op daardie stadium jou kop by die venster uitsteek. En dan begin dit…

Eers ‘n lang doef-doef-doef, gevolg deur ‘n fluit en stoom en roet wat oral heen blaas. En dan begin die masiewe yster slang staaadig vorentoe beweeg…doef – klak -doef – klak -doef- klak – al hoe vinniger. En uiteindelik is dit net die wiele oor die spore wat jy hoor – klik-klak… klik-klak… soos wat ons die stasie uit beweeg. Ons het al geweet – sodra ons deur ‘n tonnel moet gaan, moet die vensters ook toe wees, anders is die roet oral tussen die beddegoed en banke in. Tonnels was magic vir my – stikdonker, met net die geluide van die wiele oor die spore. So ekstra hard … klik-klak, klik-klak…

En dit was nag. En dit was more. Om in die eetwa te gaan eet, was ‘n besonderse plesier. Nie soseer vir die kos nie, want ek kan niks daarvan onthou nie. Net die feit dat ons EETWA toe gegaan het, was vir my genoeg. Maar soms het ons sommer in die kompartemente geëet. Iemand het omgekom en bestellings geneem. Die oulikste ding vir my in die kompartemente, was die wasbakkie wat so onder die “tafel” weggesteek was. Toilette en storte was beskikbaar aan die begin en einde van elke wa. Ma het nog ‘n kosie of wat saamgebring vir die reis. Ek was natuurlik uit my vel oor die feit dat ek BO kon slaap. Dit was flippen ver af grond toe vir my, en ‘n moerse avontuur om actually daar bo te bly tot more-oggend. En dit was die saligste plek om aan die slaap te raak … met die klik-klak, klik-klak van die wiele oor die spore in jou ore. Dit het alle ander klanke heeltemal uitgedoof, en vandag, as ek soms nie kan slaap nie, verbeel ek my ek hoor daardie klanke. Klik-klak, klik-klak…

By die klein stasietjies waar daar aangedoen is op ons pad, was boeties en sussies altyd gereed met handevol toffies. Daar was hierdie magdom klein swart en kleurling kindertjies langs die treinspoor. Soms het die trein nie eers behoorlik tot stilstand gekom nie, en ons mag nie afgeklim het nie. Dit was blykbaar vir die kindertjies al ‘n hele plesierige storie wanneer die trein verby kom – hulle sing, doen lawwe toertjies, enigiets vir ‘n toffie of ‘n koekie.  Ma het van die padkos wat oorgebly het, ook vir hulle uitgedeel. Soms was my boeties ook maar stout en het klippies in toffie papiertjies toegedraai, en vir hulle gegooi. Ek onthou die geskarrel tussen die klompie om by die “toffies” uit te kom. En die teleurstelling op hulle gesiggies as hulle die papiertjie afhaal en klippies in plaas van toffies kry. Siestog, miskien was dit omdat ek nog klein was, maar ek het hulle baie jammer gekry. My boeties het natuurlik gedink dit was ‘n groot grap.

Op De Aar het die trein amper ‘n hele dag gestaan. Ons moes oorklim na ‘n ander ene toe. Dit het ons darem ‘n kansie gegee om die dorp ook te verken. Ek kan nie veel daarvan onthou nie, behalwe dat ek baie bang was die trein gaan vir ons wegry. Dit het glo nogal ‘n gesmeek gevat om my uit die kompartement te kry!

Vir my het dit gevoel of ons vir weke op die trein was. En ek het elke oomblik geniet. Die vakansie by Ouma-hulle was bysaak.  Daarvan onthou ek nie veel nie. My vakansie was op die trein.


glitter-graphics.com

9 Responses so far »

  1. 1

    demoerin said,

    Aaah…lekker. Ek onthou ons het elke jaar Durban toe gegaan met die trein. Dit was vet pret. En ook so een of twee keer kaap toe met die Trans-Karoo…dit was darem maar lekker tye!

  2. 2

    Mmmm, lekker! EK het eenkeer met die trein karoo toe gery deur die nag en ek kon eenvoudig net nie slaap nie. Ek het my verkyk aan die sterrehemel wat so pragtig helder in die Karoo is en dit met die venster wawyd oop. Ek is mal oor die geluid van ‘n trein….

  3. 3

    Adrie said,

    Ek gaan ‘n trein vakansie bespreek iewers dat ek ook daaroor kan blog.

  4. 4

    rb said,

    Ons het amper 2 jaar terug Kaap toe gegaan met die trein, dit was heerlik, meisiekind wil gereeld weet wanneer ons weer so maak.

  5. 5

    CLAZINE said,

    More sê Dels,

    Ja nee, kyk hoe loop my gedagtes darem donkiejare terug. Ons het ook altyd die “padkossies” gehad en lyk my almal het dieselfde idees gehad met die frikadelle, koue eiers, skaapboud en hoenderboudjies was mos ook die “in ding”. te heerlik! Nou se dae is daar mos ‘n hele klein dorpie langs die pad met restaurante en toilette!

    En dan die dierbare trein ry. Dit was heeeemels! net altyd hartseer gewees as ‘n mens iemand moet groet wat op die trein weggaan, en die ene hang nog so halflyf uit die trein om te waa! Maar verseker, daar was niks so lekker soos die geluid van die tikke-takke van ‘n trein en die ver uitkyk deur die venster en die vooruitsig van jou volgende bestemming nie! Jammer ons doen dit nie meer nie.

    Mooi dag en week vir julle almal.

  6. 6

    matewis said,

    Hello mater!
    Dankie vir die bifdy wiesh, dit word opreg waardeer. Sal eendag as ek regtig tyd het biki hier op jou blog kom speel, maar nou gaan dit dol by my en wou ek net vinnig kom groet en sê thanx. Lekka daggie

  7. 7

    Jasper said,

    Wat ‘n storie…
    Dankie. Ek het dit nou geniet…

    Nostalgie bly ‘n wenner…

  8. 8

    Wipneus! said,

    Wat ‘n mooi storie!!!
    Ek het nog nooit trein gery nie, dit lyk of ek baie gemis het😉

  9. 9

    Paula said,

    Sjoe … dit is darem ‘n lekker onthou! 🙂


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: