Skaapkop 2

Nou ja, wat kan ek sê. BB vra of ‘n skaapkop kan flop… hie-hie, ek wil amper ja antwoord! Maar dit was darem nie heeltemal so erg nie…

Ek het Saterdag-oggend gou drie ou koppies gaan kry. Twee groottes, en een kleintjie. Ek kon ongelukkig net gevriesdes kry, en het hulle toe vir ‘n paar ure in ‘n wasbak vol water laat week om te ontdooi. Toe begin die groot skoonmaak, want alhoewel dit klaar “skoon” was, wou ek dubbel seker maak daar is nie hare en yukkies wat ek per ongeluk saam met die vleisies gaan inkry nie.

Daar lê die Minora's en wag

Daar lê die Minora's en wag

Kyk hoe loer daai ogie

Gelukkig het hy klaar kop verloor!

Blou-oog se kinders het groot-oog kom kyk wat ek aanvang, want hulle wou hulle doodgril toe ons vertel ons gaan skaapkoppe eet. Maar hulle was eintlik baie belangstellend in die hele gedoente, ek het mooi verduidelik dat dit dieselfde vleis is as die tjoppies wat ons braai, en dat dit net op ‘n ander plek sit… en toe kon hulle nie wag om te proe nie.

Die seuntjie het probeer om die skapie se tanne te trek. Seker om die overbite so bietjie beter te laat lyk! Ek het die ore afgesny, want ek kon dit nie mooi skoonkry nie. Hy het toe tot groot vermaak van almal met die ore teen sy kop rondgehol en die buurkinders gaan bangmaak!

Na die gekrap het Wes die neuse bygekom, want daai snotstorie was nou een ding waarvoor ek nie kans gesien het nie! Toe hy met hulle klaar is, lyk dit toe so:

Neusloos en skoon

Neusloos en skoon

Teen die tyd kon ek die bekkies mooi oopkry, en met ‘n tandeborsel die tonge en wange binne skoonmaak. Sommer die tanne ook ‘n borsel gegee, om seker te maak alles is skoon!

Kyk hoe loer daai ogie vir jou BB!

Kyk hoe loer daai ogie vir jou BB!

Ek het toe besluit om hulle vir die nag in die oond te druk. Het hulle gesout en gepeper en effens geknoffel, en toe in foelie toegemaak, en teen 80 grade in die oond gesit. Eers half tien Saterdag aand.

Ek was omtrent elke uur amper wakker, want die hele huis het geruik soos skaapboud. Te heerlik! Maar om een of ander duistere rede (ek is maar deur die dinges in die nag) het dit nooit by my opgekom om actually te gaan KYK hoe lyk die koppe nie. Seker gedink dit gaan platval soos ‘n koek as ek die oond oopmaak…

Eventually het die gegrom van my maag my teen half drie effens wakker gehad. Toe gaan maak ek die oond oop, haal die pan uit, lig die foelie en brand my duim met die stoom dat ek gil. Die worsies spring vervaard op en gaan aan die blaf, en toe is ek helder wakker. Ek bekyk die koppe in die pan. En ek begin saggies giggel. Want toe lyk dit rerig soos roadkill!! Hie-hie-hie! Al die vel en vleis het “gesmelt” en “afgeloop” en in ‘n hopie om die onderkaak en nek gaan lê. Die kop is net spierwit skedel, bo-tanne en oë! Ek het maar besluit om nie ‘n foto daarvan te neem nie, want dit kan dalk net permanente sielkundige skade vir BB veroorsaak!

Uiteindelik was die vleis fantasties, so sag en sappig. Die kinders het behoorlik gesmul, en ons het twee koppe verorber. Hulle het selfs elkeen ‘n oog geëet, en saamgestem dat dit heerlik is. Hulle het nou klaar gegril vir die idee van skaapkop.

Maandag middag het ek vir my ‘n heerlike broodjie gemaak met die harsings. Ons was so vol geëet aan die vleis, dat ons nie eers Sondag daarby uitgekom het nie. Net so bietjie sout en peper oor, en die pietersielie is net daar om dit op te dollie. Infact, die broodjie is ook eintlik eye-blind, dis eintlik net ‘n bord vol breins!

Breinbroodjie

Breinbroodjie

Die koppie wat oorgebly het, het ons Maandag-aand versnipper, uie en aartappels in ‘n kerrie sousie gemaak, dit daarby gegooi en op rys geëet. Njammie.

Ek sal dit weer in die oond bak, maar net nie vir so lank nie. Miskien bly dit dan heel!

Advertisements

49 Responses so far »

  1. 1

    boendoe said,

    Hiehie…gesmelte skaapkop! Hahahahaha!!!!!!! Dellie, nou het ek alles gehoor! 😆

    • 2

      Anoniem said,

      Moenie vel oor neus beskadig nie. Om koker skoon te kry sit skaapkop op op sy ‘nek’ en gooi neusgate vol sout. Klam net effe aan indien nodig. Neus en sout vorm eie water. Dop later net om, dis nou net water wat uitkom. Spoel en walla!!

  2. 3

    Wipneus! said,

    Whahaha ja plaas jy vir ons foto’s van die gesmelte skaapkop gewys het!!

    Harsings, oge en brein 😯 ek sal maar jou woord vat dat dit lekker is 😆

    Jy moet Boendoe se inskrywing vandag lees dan sal jy verstaan as ek sê ek kry eerder babelaas van brandewyn as om ‘n skaapkop te tackle 😉

    Maar jou broodjie lyk baie lekker as ek my verbeel dis skaapboud wat vir my loer!! 😆

    Lekker dag Del!

  3. 4

    Adrie said,

    Wip

    Dellie op haar woord vat . . .

    Ja okay, netnou moet ek proe.

  4. 5

    boendoe said,

    Hell’s Bells! Waar draai BB vandag?? Ek kan nie wag om haar take hierop te lees nie… 😆

  5. 6

    Dellie said,

    Wippie, rerig, jy wou nie foto’s van die “roadkill” sien nie! Nagmerries, my ding, nagmerries! Dis ook net ek wat dit kan regkry om ‘n skaapkop te laat “flop”! :mrgreen:

    Hie-hie Boends, ek wag ook in spanning op BB se arrival! 😆

  6. 7

    Dellie jy hou van hard werk en sukkel ne? Mens kan skaaptjops koop wat reg is om net so te braai?
    Of wil jy re-connect met jou oer-vrou wat slag, skrop en skuur aan kopbene 🙂 🙂

  7. 8

    nella said,

    Ek is bly om te hoor die skaapkop het toe lekker uitgekom. As jy die snotkoker op ‘n ander manier skoongemaak het sou die vleis nie so afgekook het nie – dan was die hele vel mos nog om die kop. Ek sal my ma vra hoe sy dit skoonmaak – sy doen gewoonlik die skoonmaak werk. (Sy haal nie die neuse af soos jy gemaak het nie.)
    In elk geval, na al die skaapkop foto’s is ek nou al so lus vir afval – ek dink ek gaan maar die naweek een kook!

    PS: daai broodjie lyk njammies!

  8. 9

    Dellie said,

    Rosa, uhm, ja, miskien wil ek re-connect met die oervrou in my! Hie-hie! 😆

    Nella, ek het ook nogal gedink daar moet ‘n beter manier wees om van die snoterjasies ontslae te raak. Hoor tog by jou ma en laat weet my seblief? Net die idee van jiggies aan die vleis het my laat besluit om sommer die hele neus weg te sny… :mrgreen: Maar so gaan ek leer en op die ou end ‘n meesterstuk voorsit!

  9. 10

    Eben said,

    Dellie lekkerrrrrr …. as jy die info van Nella kry, stuur vir my ook deur asb, ons het mos nie geheime vir mekaar :mrgreen:

    Ek het self ook gewonder wat onse Boendoe sou kwyt raak, maar ek dink sy sal twee maal seker maak as sy skaap vleis by jou moet eet. Nie eers te praat van toebroodjies vir die pad!

    Persoonlik dink ek BB is agter die kraalmuur!! 😆 Sal iemand haar laptop vir haar neem dat sy sommer daarvandaan kan comments 😉

    Lekkerrrrrrrrrr posting Dellie!!! he-heeeee bure se kinders bang maak!!

  10. 11

    Eben said,

    O jaaaa vergeet ek amper Nella, jy is nie naby Tzaneen met jou afval nie. Ek reken ek wil ook aansit asb … jy skrywe van groot mense se kos!!

  11. 12

    BB said,

    /me loer ommie kraalmurr 🙄
    OOoOOhhhh my WORD!!! BLOU skaapkoppe!!! ***Triple BLEEEGGGHHH*** Deslch!! you really did it, didn’t you??? en belowe belowe nou jy het nie eers één keertjie ‘n jammer-knoppie in jou se keel gevoel nie??!!
    Dankie dat jy my die ‘flop’ ook nog gespaar het – en ‘n kniebuiging en opperste respeksbetoon vir die pragtige pietersielie rangskikking!!
    Hemel behoed my – nee, KOM HAAL MY ASB eerder!!!
    Wel – een ding is for sure – daai skapies het sag heengegaan – they don’t look like roadkill – i think roadkill looks like this: 😯 😯 – hulle lyk allervreeslik geheimsinnig met daai sagte skyn van ‘n smile onder die non-existing oopgekapte neusholtes!!
    Blou….. “Maaaammmmmaaaaaaaaaaaaa!!!!!!!”

  12. 13

    BB said,

    Ou Nellatjie – vertel haar asb!! but do it in private, please??? spaar my asb die strooitjie-relaas 😯 – *UHG* – ek picture al vir Delsch by die Wimpy instap – “could I please have uhhhmmm 40 straws?? i need to clean my skaapkop’s sinusses!” :mrgreen:

  13. 14

    Roer said,

    Bah, baaaahhhh, baba blue sheep… 😆 Wel gedaan.

  14. 15

    Dellie said,

    Whahaha Beeps, nee, ek het nie eers een keer sorry gevoel nie! Voel jy sorry as jy ‘n tjoppie eet? Of vars boerewors? Veral die wat nog aan die boer hang? :mrgreen:

    Dis vleis, girl, en vegetariers eet anyway die diere se kos, so hoe kan hulle nou reken hulle is oulik? Wat bly dan nou oor vir die diere as hulle klaar al die blaarslaai en tamaties opgevreet het? 😯 En dan laat hulle ons soos skurke voel. Gmpf!

    En mens mors nie met kos nie… dit sluit die kop ook in, want jinne, moet al daai lekkerte dan nou virrie honde gaan? 😮 ?

    LOL @ Roer! 😆

  15. 16

    Maak daai breinbroodjie mens slimmer?

  16. 17

    Nelba said,

    Ek is verskeur tussen nuuskierigheid en walging.

  17. 18

    BB said,

    Ditto Nelba – DITTO!! ek dink nog steeds ek het ‘n nuwe fetish ontdek – NEVER in my whole life have a revisited a site as often as this one – not even nekidmen.com :mrgreen:

  18. 19

    Dellie said,

    Bib, heit, ek het weggetrek en gewerk met ‘n spoed wat vir niks skrik nie! Al my assessments is tot op datum gemerk! Ek voel sommer al klaar slimmer van gister af! 😆

    Nelba, jy moet net proe dan sal die walging verdwyn! :mrgreen:

    Ebie, ons het ons gatte afgelag vir hom! Die bure se doggie speel baie gereeld saam met hulle (‘n swart dametjie) en ons het gereken sy ken van… toe nie! Jy wil nie eers weet wat gebeur het toe Liefie vir haar wys hy kan sy eie tanne uithaal nie… whahahahahaha! 😆

    Nou ja toe, Beeps! :mrgreen:

  19. 20

    flippiefanus said,

    Ek het as kind baie kere skaapkop geeet. Een keer later jare vertel ek toe vir ‘n Nederlandse vriend van my dat ek al skaap harsings geeet het. Hy vra my toe: het dit gehelp? 🙂 (Jammer, seker ‘n ou grappie al)

  20. 21

    Jaco said,

    O the horror!

  21. 22

    Janine said,

    Oh my soul, kry ek nou so ‘n rilling van kop tot tone!!!
    As daai ogie eers so vir my geloer het, sien jy net ‘n stof wolkie. Wat nog van ‘n stukkie brein…
    Maar ek is bly julle het dit geniet 😉

  22. 23

    Krista said,

    Nee jong, ek sal ‘n kuier daar in jou valley moet reël sodat ek ok by jou skaapkop kan eet . . . .

  23. 24

    Dellie said,

    Hie-hie Flippie, het dit? 😀

    Skuus Jaco, nog ‘n slapelose nag vir jou? :mrgreen: Ten minste kan jy nou nagmerries oor ‘n nuwe onderwerp hê. Skaapkoppe. Jig. O nee, as ek dink aan SAW (wasit 3?) , maar dit was mos ‘n vark, so dis glad nie van toepassing nie… night! Sweet dreams! :mrgreen:

    Janine, eendag is eendag… dan gaan jy jou woorde terugtrek… mens moet mos eers proe voor jy oordeel? 😉 Daai ogie waarvoor jy so gril, is die lekkerste…

    Krista, anytime! Ons sal vir Jaco stuur om met die worsies te gaan stap. Hulle behoort hom vir ‘n paar ure besig te hou! 😆

  24. 25

    flippiefanus said,

    Kannie verseker se^ nie Dellie. 😉

  25. 26

    mockajava said,

    Ek sal dit eet as dit gaar is en opgesny is, maar ek moet se as jy vir my n skaap kop op die tafel gaa voorsit gaan ek hom n paas gee. Ek het lank uit gehelp in n slahuis en dit is nie vir my erg om daarmee te werk nie, ek wil net nie die vleis so direk daarvan af eet nie,. Afval is n nee nee in my boek, dis waar ek my lyn definitief nou trek dankie – oe ens jy sal dit moet fein maak sodat ek geen resemblense kan sien om dit te moet eet.

  26. 27

    WhiteKnight said,

    Dellie, daai is nou nie my eerst ekeuse as ek baie honger word nie. 😳

    Maar daai toebroodjie lyk heel skaflik en nogals “presentable”. 😉

    Wonder nou aangesien dit regte Brein is of iemand nie jou foto gaan gaps vir ‘n gravatar nie. 🙄 👿 🙄

  27. 28

    “Silence of the lambs comes to mind”

    Mag ek nooit so honger word dat ek breins en oe wil eet nie! Mag ek gespaar bly! Die vleisies is fine!
    Afval…ek sal van my stoel “afval” as iemand dit op my bordjie plak! O kotselings….

    Ek het geen issues om daarmee te werk of om dit te aanskou nie, maar ek eet hom nie!

    NS:Daai skaapkoppe lyk vreeslik na die neuse so afgesny is. Lyk of ‘n hele army neuswurms daar in was!

  28. 29

    Wondernet ®© ♂♪♥♀ said,

    Het dit nog nooit probeer nie, maar nog altyd gewonder daaroor.

  29. 30

    Neil Kroese said,

    jere ek wil nou nie hoes poep of skinder nie maar vir my het ‘n skaap oorgenoeg ander vleis aan om te eet…ek laat die afval, kop en dinge maar aan diegene wat vreeslik honger is of nie geld vir vleis het nie! 🙂

    My pa was so lief vir ‘n gebakte skaapkop…ek kon egter nooit vat kry aan die gewoonte nie…

  30. 31

    Koekie said,

    Oe lekkerrrrrr! Ek’s sommer lekker jaloers. Dis seker ‘n gesukkel om daai neus af te kry, hê Dellie?

    Ek het lekker gelag vir jou “breinbroodjie” – skerp! 😉

    Moenie stres oor die “flop” nie. Floppies was nog altyd die lekkerste, ek onthou as my pannekoek gebak het. Die eerste twee of drie was altyd floppies en dan kon ek dit eet……hiehie.

    Ek’s ook nou sommer lus om so iets te maak maar ek weet nie wie gaan my help met die neus gedoente nie, ai tog.

  31. 32

    nella said,

    Eben, jammer man, ek sit in Gordonsbaai. Bietjie ver van Tzaneen af! Maar as jy ‘n Kaapse draai kom maak moet jy laat weet.

    Neil, jy praat van mense wat nie geld vir vleis het nie. Het jy al gesien wat kos ‘n afval in die slaghuis? (Gelukkig kry ek my skaapvleis en afval van ‘n plaas in Caledon.)

  32. 33

    A3 said,

    As iemand op die Oosrand is, weet ek van ‘n slaghuis op die plotte wat spesialiseer is skoon afval (SKOON – WRAGTAG SKOON – SKONER AS MY MA S’N) My ma was die een wat dit altyd skoongemaak het, en net dit het my afgesit van die deel van die dier. Dellie, ek is seker dit was baie lekker en kan aflei julle het dit regtig geniet. Ek sal maar verby hou!

  33. 34

    Dellie said,

    WhiteKnight – ek wonder ook oor daai ene! 😉 As hy mooi vra, mag hy maar! 😆

    Dis maar ‘n storie om die neus af te kry, ja. Dis hoekom ek liefie se hulp ingeroep het. Hy het so ‘n klein byltjie, en het hom so ‘n lekker wack tussen die oë gegee om die been te breek. En toe so al langs die kante losgesny met ‘n skerp mes. Daar is dit mos net kraakbeen, so dis nie te moeilik nie. Ons het dit seker so effens oordoen, maar ek was rerig nie lus vir ‘n verdwaalde stukkie snot erens op my vleis nie! 😯

    En Neil, die kleinste koppie was R57, en die groteres in die rigting van R70. Nie rerig so goedkoop nie, né? :mrgreen:

  34. 35

    mockajava said,

    Ek het nou so lekker gelag, my kollega by my skool moes nou vir die badkamer dash toe sy die foto van die skaap koppe sonder die neuse sien en toe die toebroodjie, Die koreaane is nie groot op skaap vleis oor die algemeen nie. 🙂

  35. 36

    BB said,

    Oh glo my Delsch!! toe liefie daai eerste *whack* tussenie oë gee, toe reverse daai skaap so van die skrik dat sy sinusse BINNE-IN daai harsings beland het!!! ***BLLLEEEEGGHHHH***

  36. 37

    Dellie said,

    Whahaha Mocka, ek het nou sowaar nie gedink dit sal die Koreane so uitfreak nie! Hulle eet dan sulke vreemde goete! 😆

    /me hou die emmertjie vir BB… :mrgreen:

  37. 38

    Jaco said,

    Pass daai emmertjie die kant toe ook asseblief.
    I have seen the end and it is horrible!

  38. 39

    duskant said,

    AHHHHHHHHH koningskos!
    Die lekkerste is daardie wangetjies as hulle so sag gekook is.

  39. 40

    duskant said,

    En die gesigvelletjies braai so crispy…heerlik!

  40. 42

    Sonia said,

    Ek stem saam met Mockajava, ek sal eet, maar asseblief tog ek wil nie van die kop af eet nie…Ek het so half duiselig gevoel toe ek die rou koppe so sien lê…(En daar is ‘n sin wat ek nie gedink het ek sal nodig hê om in my lewe te skryf nie…)
    Brawe vrou, Dellie, en baie lekker geskryf!
    Nou’s ek so lus vir afval ek kwyl behoorlik.

  41. 43

    Neewat, na al die parasiete wat ek al uit dierderms ge-oes het…no thanx! Julle moet maar lekker eet! Ek lag vir julle 😆 😈

  42. 44

    Karl said,

    Delli
    Het grootgeword met ‘n pa en oupa wat lustig sit en eet aan skaapkop. Het kleintyd al besluit nooit oor my lippe nie en 40 jaar later hou ek by my woord hehehehe.

    What’s next vir Delli – sien ons jou dalk eersdaags op Fear Factor?

    Lekker naweek

    Karl

  43. 45

    Emil said,

    Kom die agteros ook in die kraal! Of is dit nou die laaste skaap.
    EK het die affêre leer eet in Nambie by de skoonouers. Word sommer so in ‘n gat vol kole neergelê en dan eet ons rustig so van die kop af. Mal oor die oogkaste, wangevleis en natuurlik die brein. Afval op sy beste!

  44. 46

    Beertjie said,

    Dankie Vader ek bly nie in SA nie, so ek is dankbaar ek het ‘n verskoning as jy my wil nooi vir ete (lol)

    Ek gril nog steeds.

  45. 47

    Dellie said,

    Hie-hie, kom nou Beertjie! Jy sal die meeste SA-ners se hero wees as jy so ‘n byeenkoms reël! Jy is mos in NZ? A taste of home… :mrgreen:

    Maar toemaar, ek gril vir grondeters, so ek kan heeltemal verstaan as iemand gril vir skaapkop! 😉

  46. 48

    Sarel said,

    Ek my self as kind het darem daai skaap kop so uit gekyk as my ouma dit in die oond op n Sondag gemaak het,,die hele fam,,het so lekker geeet aan dit,ek en my ouer broer het net gekyk na die oogies,,en net eendag besluit nou gaan ons maar proe,en toe is dit verby van daar af as ons by die plaas aan kom en daar is nie n skaapie i die oond nie dan is ouma in die gemors,,ek nou al 39 en ek eet nog steeds skaap kop niks beter as dit nie..

  47. 49

    Anoniem said,

    Alles goed en wel maar waar koop ek skaapkoppe, vetderm en netvet en moenie skaapstertjies vergeet nie. Ek soek ook afval met die kop by. Hier gril die mense as jy daarvan praat.


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: