Semi-final troue

Hoekom is dit so dat ‘n simpel gebeurtenis in ‘n plek waar mens veronderstel is om stigtelik te wees, (soos ‘n kerk) so histeries snaaks kan wees dat jy nie kan ophou lag nie?

Picture this…

Saterdagmiddag 4uur woon ons ‘n troue by. Teen kwart voor sit almal al en wag vir die bruid, want dis te warm om buite te staan. Toe word dit nog warmer in die kerk ook. Maar daar sit ons, netjies uitgevat en heel rustig en kalm. Ds spot nog so dat as daar meer Bul ondersteuners as Cheetah ondersteuners in die kerk is, hierdie ‘n laaaang diens gaan word… gelukkig is ons toe in die minderheid. Maar eintlik dink ek Ds het die warmste van almal gekry.

Die bruid kom die kerk binne, en sy lyk pragtig. Ek is effens verbaas om haar in ‘n tradisionele rok te sien, aangesien dit nie een van hulle se eerste huwelik is nie. Maar sy lyk nietemin stunning en neem haar plek langs haar aanstaande in.

Die preek is mooi. Kort en kragtig. En ek het aandagtig geluister en ek kan dit nou weer bevestig – Adam het in ‘n diep slaap verval sodat Eva uit een van sy ribbebene gevorm kon word… maar nerens staan daar dat hy weer actually wakker geword het nie! Dit verduidelik dalk die dade van ‘n paar mans, dames…  Hie-hie!

Toe Ds met die bruidspaar begin praat, wonder ‘n paar van ons of sy met die regte man trou… want dit wat Ds hom noem, en die naam waarop ons hom ken, is twee heel verskillende goed … en daar sit ‘n paar van ons toe reeds met ‘n grin om die mond toe die volgende gebeur…

Presies op die oomblik toe Ds sê: “Die huwelik is ‘n gelyke vennootskap tussen man en vrou…” gaan iemand se selfoon aan die lui… en met watse ringtone? “Achmed the Dead Terrorist” se demoniese laggie… whahahaha… en die foon is in haar handsak, dis ‘n mission en ‘n half om by die ding uit te kom om hom net stil te maak… Intussen gaan sommiges aan die giggel, party hou hulle pose baie mooi en sit roerloos, ander se gesigte is bloedrooi en terwyl hulle op en af hop, loop die trane geluidloos oor hulle wange… hier en daar ontsnap ‘n gedempte snork of snik… en vir die res van die seremonie staar almal net na die grond of voor hulle uit, te bang om vir mekaar te kyk en die gevaar te loop om uit te bars van die lag! Ons was wel histeries toe ons buite kom!

Daar was nie tradisionele confetti nie, ons moes bubbles blaas. Dit was nie ‘n reuse sukses nie, want mens blaas jouself lighoofdig en dan maak die bubbles so ‘n short left by die paartjie verby, en verdwyn om die hoek van die kerk op hulle eie mission. Of jy moet basies OP die paartjie staan, en dan beland die seep van die bubbles in hulle oë, of bars in sulke kolle op ander mense se klere. Die kinders het later by die onthaal darem heerlik daarmee gespeel!

Die saal was pragtig versier in wit, silwer en pers, en die mure en dak behang met rolle en rolle kantmateriaal. Klein liggies wat oral flikker, kerse en lampe in die hoeke en op die tafels.  Maar geen kans vir ‘n venster om oop te wees nie, en geen waaiers nie. Ons gebruik toe maar die verskoning van “te warm binne” om buite in die koelte om iemand se kar saam te drom en die game te luister op die radio. Ons wag in elk geval nog vir die bruidspaar om terug te keer van die fotosessie af.

Intussen kry ek ook kans om een van my gunsteling dinge te doen – mense kyk. En soms as ek dit doen, merk ek baie eienaardige dinge op wat niemand anders skynbaar raaksien nie. Soos die dame met die mini en die tan sykouse by haar swart sandale… (sy het miskien nie tyd gehad vir skeer nie?) en die dame wat sowaar net een voet se toonnaels geverf het! Hie-hie, sy het twee baie bedrywige kindertjies, en ek kan net raai wat alles in daai huis aan die woel was voordat hulle die troue net-net betyds gemaak het! En dan was daar die man met die “haarstyl” – dis baie moeilik om te beskryf, maar dit lyk basies of ‘n kameelperd sy tong in ‘n bottel jel gedruk het en hierdie ou toe van skuins bokant sy boude af vorentoe gelek het tot by sy neus. Maar die man het dalk nie ‘n spieël gehad daar waar hy aangetrek het nie…

Presies 5 minute voor die einde van die game, roep die seremonie monster ons om nou in te kom saal toe, die bruidspaar is oppad. Pure spitefullgeit reken ons, hy kon darem nog 5 minute gewag het… maar teen daardie tyd het ons nie veel omgegee nie, die Bulle het toe al klaar gewen. Ons is nie baie Bul ondersteuners in ons groepie nie, maar vir die res van die aand het ons sekergemaak ons trek die Cheetah’s se siele behoorlik uit. Gelukkig alles in goeie gees. En ons is nog welkom by hulle huise. Hie-hie!

Die kos was lekker en baie. Hulle het ‘n varkie en ‘n skapie op ‘n spit gehad, met slaaie. Erens na tien het die meeste familie van die bruidspaar gegroet. Al wat oorgebly het, was ons klomp vriende, omtrent so 30 van ons. En toe begin die pret behoorlik! Niemand sit ‘n dans uit nie, en niemand worry meer oor hoe hulle danspassies lyk nie, want dis net pels wat oor is. Op die ou end het almal either ‘n silwer of pers stoel versiering om die kop gehad. ‘n Paar selfs om die nek sodat hulle lyk soos katte met strikdasse. Selfs die bruid en bruidegom het saamgespeel. Gelukkig het ons nie op die tafels gedans nie…

Hier teen eenuur het die bruidspaar uiteindelik koers gekry, en nie lank daarna nie het die DJ ook opgepak. Maar ons was nog nie klaar gekuier nie, en is toe vort na iemand se huis toe waar ons basies gaan sit en tjol praat  en grappies vertel het tot in die vroeë oggendure. Half vier Sondag oggend het ek die bedliggie afgesit…

Baie geluk julle twee, mag julle bootjie veilig vaar. Dankie dat julle ons vriende is en ons hierdie besonderse dag met julle kon deel. Dit was ‘n awesome troue!


Advertisements

20 Responses so far »

  1. 1

    Zee said,

    😆 @ een voet met cutex op. Klink amper asof dit ek kon wees 🙂
    Lekker gelees Delsh!

  2. 2

    boendoe said,

    DIS mos hoe ‘n troue moet wees! Sonder nonsies, en mens moet kan feesvier want dit IS ‘n fees! (Al HET die bleddie Cheetah’s gaan staan en verloor…) 😆

  3. 3

    Bottertjie said,

    Hie-hie, lag ek nou lekker! Ek hoop nie jy kyk MY so uit eendag as ons ontmoet nie, sal my doodskaam as jy dalk sien dat ek nie beenhare geskeer het nie of dat my toonnaels se cutex afchip. Partykeer dink mens dat ander dit nie sal raaksien nie, maar tog…

  4. 4

    demoerin said,

    😆 Sjoe maar jy is oplettend…mis ook niks met daai arendsoge nie! Lekker-lees storie!

  5. 5

    Eben said,

    Jaaaa Bottertjie ek sit juis en dink ook aan jou comments. Wat gebeur as sy my moet ontmoet ….. op-en-af-op-en-af beloer en dan opgooi op haar Blou Bull hempie :mrgreen: (Gelukkig nie op haar enigste Springbok hempie)

    Dellie toe ek die posting lees, toe wonder ek wanneer begin die gedeelte waar julle tafel toe gaan gie gie!! 😆

    Ek is bly die troue was lekker. Kos en musiek maak maar altyd die laggies en grappies!! 🙂

  6. 6

    Roer said,

    😆 Dankie tog dit was net Achmed se laggie en nie “I kill you!” nie. 😆

  7. 7

    Wondernet ®© ♂♪♥♀ & WP said,

    Ja kerke is die goorste plek om ‘n lag aanval te kry.

    Die ergste is as jy uit die kerk stap en dit is dan nie meer so snaaks nie.

    Jy wil nog lag, maar …………………… nou ja.

  8. 8

    meermin said,

    Nou onlangs toe vriende van my sussies hulle baba doop het ons so in die kerk geskrik, die dominee het aan daardie “mike” van hom geraak, daardie geluid, so paar mense het amper en selfs wel gevloek!!

    Geniet jou dag, ek probeer so bietjie opvang!

  9. 9

    Pikkelik said,

    Hiehiehiehie, ek het nou sooooo gelag vir daardie bubble storie!!! Ons was ook so ruk terug op ‘n troue waar daar bubbletjies was, nogal oulik so in sulke piepklein sjampanjebotteltjies…. Tot die mense moeg geraak het en die bruidspaar sommer met die seep gegooi het!!!! OK, dit was seker nie snaaks nie…. Proooeeesssswhahahahaha… Maar dit daar gelaat! Ek het heerlik gelees en is bly julle het die troue geniet!

  10. 10

    Dellie said,

    Ebie en Botter, haai nee, ek het darem nie die mense geoordeel nie, dis net wat ek observeer het…! 😆 Moenie dat ek julle bangmaak nie!

    Ek dink ‘n paar mense het ook van my kennis geneem – dit was rerig erg warm maar ekke wou vir ‘n slaggie my hare los dra. Dis elke dag op vas op my kop, maar hierdie was mos nou ‘n uithang geleentheid waar ek nie wou lyk of ek werk nie. Maar reeds in die kerk het ek besef dat dit nie so ‘n goeie idee was nie, en die knip wat ek in my handsak wou sit vir “incase”, het op die spieëltafel agtergebly. My hare is baie dik, en nog voor die game verby was, was ek papnat gesweet tot op my kopvel. ‘n Liewe vriendin het toe sommer een van die strikkies in die ruiker op die tafel ontrafel en my hare daarmee bo-op my kop vasgemaak… :mrgreen: Nou almal wat lang hare het sal hierdie verstaan – daai strikkies rek nie, so dis basies useless… toe sy klaar is met my het dit gelyk of voëls op my kop nesgemaak het… maar dit het my min gespin, die verligting was groot! :mrgreen:

    Roer, ek dink dit was ons almal se gedagte en grootste vrees… en as ons oogkontak sou maak, sou iemand dit erens gefluister het, en dan sou ons nie verantwoordelik gewees het vir die gevolge nie! 😆

    Pikkie, gegooi met die seep? Whahaha! Hierdie bubbles was ook in klein sjampanje botteltjies en troukoekies – ek het laasgenoemde en dit word ‘n oulike aandenking, al is dit leeg! 😉

  11. 11

    neykie said,

    Dellie jy kan enige storie vat en lewe in hom blaas met jou vertellinge. Klink of julle lekker gekuier het.

  12. 12

    sommergoed said,

    Ek het nou lekker gelag en ek is net so mal oor mense kyk

  13. 13

    White Knight said,

    Dellie

    Ekke hou ook van daai mense waarneem sport. Dis skreeu snaaks veral as jy iewers in ‘n groot sentrum vir iemand moet sit en wag.

    Jammer vir daai Bruid en Bruidegom maar as ek dit moes hoor was ek die een wat die hardste sou gelag het en moes uitloop. 🙄

    Hoekom nou die “bubbles”? Wil seker maar ‘n headstart gehad het vir die honeymoon en nie tyd mors met ‘n ou stort of bad na die onthaal nie. 😉

  14. 14

    Karl said,

    Dellie

    Welkom in my wêreld. Om mense by troues dop te hou is histeries verby, maar onthou net, daar is altyd iemand wat jou ok dophou. Die besef het my al nagte wakker gehou.
    Karl

  15. 15

    ma se seun said,

    Hey moederliefste!

    weet dit het nou baie min te doen met ma se storie van die dag! will mar net se hallo hoe gan dit en al daai mooi dinge! hoop dit gaan nog goed by die huis! ek mis julle MO3R baie! het nie veel tyd om baie te se nie.. moet weer gan werk!

    Lief julle baie! mwa mwa mwa

  16. 16

    Bottertjie said,

    Ag, sweet!! Aai, Dellie, maar jou seun is oulik!

  17. 17

    Dellie said,

    (((Seuna!)))

    Oi, ek weet Karl, ek weet… ek is seker my voëltjienes is erens onder bespreking… 😆

  18. 18

    Pikkelik said,

    Ma se Seun – nou gaan sy weer die hele dag omhuil!!! Maar ek dink jy is ‘n dierbare ding!!!!

  19. 19

    Koekie said,

    Ai Dellie, hier kry ek toe sommer ‘n traan inni oog vir daai boodskap van jou seun.

    Ek stem neykie, Dellie het ‘n gawe om te skryf. Ek’s mal oor haar posts.

    Ja Dellie, ek is ook een van daai wat vinnig warm kry, so ek sou ook seker enige ding naby gegryp het om verligting te bring – gee nie om hoe dit lyk nie…..hehehe. 🙂

  20. 20

    Jah jah lmga ek het ook daaran gedink nounet hahahahhahah


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: