Hulp?

Daar is rerig nie veel dinge in die lewe wat my irriteer nie. Ek vat maar alles soos dit kom. Maar daar is een element wat my geduld absoluut beproef en my emosies laat ervaar van die een uiterste na die ander.

Nee, dis nie PMS nie. Dis Esther.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is baie, baie dankbaar dat Esther drie maal ‘n week kom orde skep in my huis. Dis nou as jy dit wat sy doen, orde skep kan noem. Ten minste word die wasgoed gewas en gestryk, en die houtvloere kry politoer. Dit is die somtotaal van die hoogtepunte van my week.

Esther was twee jaar terug my buurvrou. Letterlik. Toe die vorige hulp haar neus oral indruk waar dit nie hoort nie, en boonop uit my huis begin praat by haar ander werkgewers (hoe sy die ene kon oorsien verstaan ek nie, ons ken mekaar immers goed – het sy gedink ons praat nie met mekaar nie?) het ek vir Esther gevra of sy weet van iemand anders wat my kan kom help. Sy kon niemand kry nie, en het toe maar aangebied dat sy self sal kom help. Vir sakgeld. Sien, haar man het al vir jare by die munisipaliteit gewerk, en sy het blykbaar nog nooit nodig gehad om te werk nie. Bietjie meer as ‘n jaar gelede is haar man oorlede, (ek het daaroor geskryf) en nou het sy NODIG om te werk, sy het nog ‘n skoolgaande kind wat versorg moet word.

Omdat die vorige dame die geneigdheid gehad het om ALLES weg te gooi, soos bv ongeopende briewe, of state en kwitansies wat nie erens in ‘n laai gebêre was nie, het ek die eerste dag vir Esther baie mooi laat verstaan dat sy nie slippies en briewe moet weggooi nie. Los dit net daar, ek sal dit wel bêre waar dit hoort.

Maar ek dink nie sy het die “slippies en briewe” deel gehoor nie, want sy gooi absoluut NIKS weg nie. Soos in NIKS. ‘n Opgefrommelde stuk papier sal vir dae op die toonbank in die kombuis bly lê. Die hoekie van die melkboksie wat afgesny is… sigaretboksies op die lessenaar… koeldrankbottels op die wasbak… sjampoe bottels vind hul weg van die badkamervloer af terug na die rakkie waar hulle leë-bek vir my lag wanneer ek dit wil gebruik. En sy kan om die dood toe nie daai mikroskopiese flentertjies seep weggooi nie.

Sy doen absoluut niks op eie insiatief nie. As ek nie vir haar vra om die afdroogvadoeke te was nie, het ons seker al voedselvergiftiging gehad. En altyd maar altyd word die waslappie opgevou in BINNE in die wasbak onder die kraan gelos… wat natuurlik veroorsaak dat dit altyd nat is en ek dit ten minste eenmaal ‘n week moet vervang, want dit ruik soos iets uit ‘n muf-fabriek wanneer ek my hande daaraan afvee.

Vensters en gordyne word ook nie gewas as ek nie vra nie. Sy maak ook nie ‘n venster of gordyn oop of toe nie. Sy sal staan en stryk en vergaan van die hitte, maar sy sal nie die balkondeur oopmaak of die dakwaaier aansit nie. As ek dit wel kom doen, en daar kom skielik ‘n stofstorm op, soos wat dikwels hier by ons gebeur, sal sy nogsteeds staan en stryk terwyl die takke en blare om haar warrel en sy moet sukkel dat die hemp wat sy besig is om te stryk nie wegwaai nie. En daarna sal sy nie die blare opvee nie, nee, sy het mos klaar hier skoongemaak!

Dit is ‘n roetine dat die honki’s se beddegoed eenmaal per week gewas moet word. Dit is al so van voordat sy hier begin werk het. Sy sal dit sowaar nie doen as ek vergeet om haar daarvan te sê nie. Nee, sy sal die handdoek wat Hasie teen die trap afgetrek het en in die sand mee gaan speel het, netjies opvou en op hulle vuil kombersies neersit. Die matjie voor die wasbak in die sentrum, is ook al amper opgewas, maar die handdoek? Vergeet dit, sy dink seker die mense maak hulle hande aan die matjie droog!

Woensdae is ook die dag waarop sy veronderstel is om ordentlik skoon te maak – soos in kaste regpak en uitwas in die kombuis, en vuil kolle op mure en deure en ligskakelaars skoonmaak. En die yskas skoonmaak. Maar so waar as vet, as ek nie vir haar sê om dit te doen nie, sal die handmerk teen die muur daar SIT.

Die asdrom in die kombuis is ‘n ander teer sakie. Dit is onder die wasbak, binne in ‘n kas. Toe sy een Maandag weer nie opdaag nie, haal ek self die sak uit en tot my skok sien ek hoe lyk die asdrom! Erg, ek vertel julle, erg. Ek het die ding in die bad gaan gooi en met Domestos en ‘n skropborsel bygekom. Seker maar my eie fout, maar ek het gereken dis logies om die asdrom self ook skoon te maak as jy die sakke ruil. Toe sy die Woensdag inkom, het ek amper haar kop daarin gedruk sodat sy kan sien en ruik hoe ‘n skoon asdrom moet wees! So far, so good…

Na byna twee jaar, is sy darem nou al sover dat sy self vir haar middagete maak. In die begin sou sy vrek van die honger en dors, maar as ek nie vir haar sê om vir haar iets te maak vir middagete nie, sal sy nie. Nie eers koffie of tee deur die dag nie.

Ek het wraggies nie tyd om haar heeldag op te pas nie, ek werk! Dit is mos juis die rede hoekom sy veronderstel is om my te help? Moenie dink praat help nie. Ek het al soos ‘n woedende bul voor haar gestaan en blaas met ‘n leë tissue boks wat nie weggegooi is nie, en geskree “Wat de donner dink jy wil ek hiermee maak? Hoekom gooi jy dit nie weg nie? Dis ‘n fokken leë boksie!”

Sy het hierdie jaar se siekverlof en menslikheid verlof al heeltemal opgebruik. Ek kry haar te jammer om geld af te trek as sy nie opdaag nie, en dis gewoonlik op ‘n Maandag wanneer die plek soos ‘n oorlogsone lyk. Sy het ‘n selfoon, maar as sy wegbly sal sy my nie laat weet nie. En sou ek HAAR probeer bel, is haar foon af. Maar elke dag as sy inkom word dit hier gecharge.

Ons kontrak en deal in die begin was nice. Sy was my buurvrou, dus was daar nie sprake van vervoerkostes om by die werk te kom nie. Nadat haar man oorlede is, moes sy die woonstel ontruim en het toe in Thabong ‘n huisie gekoop. Toe besluit ons OK, ek sal die helfte van haar taxi-geld elke dag betaal, sy is verantwoordelik vir die res. Maar alte gou het sy ‘n paar keer nie opgedaag vir werk nie, en die verskoning was dat sy nie taxi-geld gehad het nie. Van toe af gee ek elke dag vir haar R20, sodat sy by die huis kan kom, en weer kan inkom die volgende keer.

Ek is rerig nie ondankbaar vir dit wat sy doen nie. Sy is ‘n doodgoeie siel, en niks het nog sonder toestemming my huis verlaat nie. Sy sal vra as sy bietjie koffie/tee/suiker wil hê omdat hare by die huis klaar is. Ek sorg altyd dat daar kos is wat sy kan huistoe neem, genoeg vir haar en haar seun. Sy is ook nou maar net ‘n enkel ma wat moet sorg. Sonder haar sou dit algehele chaos gewees het in my huis, en sou ek naweke moes skoonmaak en wasgoed was. Maar die vet weet, ek het ook net soveel geduld!

Weet julle, ek voel eintlik nou sommer baie beter. Sy was vandag gordyne en vensters, en raai, ek het nie nodig gehad om te vra daarvoor nie. Ek dink die stof het haar eventually begin irriteer…

Advertisements

26 Responses so far »

  1. 1

    attie said,

    Daar is baie sulkes wat nie noodwendig in die huise werk nie en wat ook niks op eie inisiatief sal doen nie. Maar, daar is aan beide kante die wat inisiatief neem. Ons hulp neem inisiatief en dit is vir ons baie lekker – net die suiker. Ai, ai, ai -sy neem ook daar inisiatief.

  2. 2

    rb said,

    Ai, bly om te hoor ander voel soos ek.
    Myne stof nie eers behoorlik af nie. Ek bel haar so nou en dan, want ek sien haar nie in die oggend of aand nie, maar sy loop ook omtrent 12:00, geen idee hoe laat sy inkom nie.
    Sy gooi weer ALLES in die tuimeldroer, ja hier in die warme noorde. Nou moet sy bietjie langer werk, want die wasgoed moet eers droog op die draad.
    Sy vergeet gerieflikheids halwe van die studeer- en spaarkamers. As ek nie vra nie, sal daar nie skoongemaak word nie.

  3. 3

    Adrie said,

    Daar is min dinge wat my so kan afpis as mense sonder inisiatief.

  4. 4

    boendoe said,

    Whahahaha! Lag ek nou vir daai kat! 😆

    Ag, ou Dellie, wee jy? Ek weet ook nie. Mens (lees: ek) kla en moan, maar jissie, foute en al, is dit darem ‘n damn lekker luxury. Solank sy niks kwaadwillig doen soos steel nie, hou maar uit. Better the devil you know… 😉

  5. 5

    Kokkewiet said,

    Myne gooi ook NIKS weg nie,maar ek vergewe haar, want sy sal darem eie inisiatief neem en bv die matte, gordyne, ens was al sê ek haar nie.

  6. 6

    Dellie said,

    Ja, Boends, ek weet dis ‘n luxury… dis hoekom ek dit verdra! :mrgreen:

    As ek nie tien minute terug gaan kyk het wat aangaan nie, sou sy die skoongewaste gordyne terug gehang het teen die vuil, stowwerige vensters – en ekke dog sy verstaan dat dit gewas moet word voor sy die gordyne weer ophang… ek is lus vir opgee! 😆

  7. 7

    Carina said,

    Ek het nou lekker gelag. Ons hulp was my kind se nanny, so ek kry dit nie oor my hart om haar te laat gaan nie (al moet ek nou ekstra werk doen om haar te bekostig!), maar wat MY irriteer, is dat sy veronderstel is om te werk tot 5 uur…en 12uur loop. My magtag. My baas sou my lankal in die pad gesteek het as ek so gemaak het! Anyway, bly ander mense sukkel ook!

  8. 8

    Karl said,

    Ai ons almal sit met die nagevolge van ‘n goeie opvoeding. Ons sagte harte kyk anderpad en ons vrees om rassehaat aan te blaas laat ons foute oorsien.
    Niemand score nie – ons laat ons werkers verlseg onder ons oë en kla net by mekaar, terwyl ons werkers nooit leer om trots en ywerig te werk nie. Bose kringloop.

    Hehehehe ek geniet jou blog erg baie
    Karl

  9. 9

    koeksister said,

    As ek darem maar ‘n “ousie” was, sou ek my base verstom het met my werk. Hulle sou my later my eie kar gegee het en ek sou ‘n hengse vet salaris verdien het. 😉

  10. 10

    White Knight said,

    Asem in Asem uit 😀

    Dellie ons almal gaan maar deur daai een. Die probleem is dat hulle meestaal nie wil verstaan nie. 👿

    Jag jy hulle weg, voel jy sleg, bly hulle so werk voel jy ook sleg van die bloeddruk wat styg. 🙄

    Dellie voel ju dalk sleg hmmmm. 😆

  11. 11

    boendoe said,

    Toemaar, Dellie, ek moes ook vanoggend my woorde sluk. My ma se ousie is vandag hier by my, want my ma is nie hier nie. So gaan hang sy die wasgoed op, heerlike sonnige dag. Twee ure later sous dit, maar ma’am vacuum dat die biesies bewe. Kon sy nie KLIEK dat sy die wasgoed moet gaan afhaal nie??? 👿

  12. 12

    Dellie said,

    Esther is actually nogsteeds besig om die skoon gordyne op te hang. Ek moet sê, Carina, dis seker die eerste keer vandat sy by my werk wat sy nie net na 2 huiswaarts keer nie – my liefie wil al stuipe kry daaroor, want ek betaal haar nogsteeds vir ‘n volle dag se werk… :mrgreen: en dan voel ek skuldig as sy die tyd van die middag nog besig is. Oi, vroumense… ek verstaan myself nie eers nie, hoe op aarde kry mans dit reg om ons te verstaan? 😆

  13. 13

    CLAZINE said,

    Hi Dels,

    Hoe geweldige empatie het ek met jou! Ek het weer ‘n “dierbare een” wat verskriklik “slim” probeer wees en eintlik niks weet nie! As ek sê/vra dit of dat moet so wees dan kom die antwoord “ekt ok so gedink”, maar die regte manier van doen? nie maklik nie.

    Ons is maar deksels dankbaar vir dié hulp veral as ‘n ou werk. Foutjies en al! My probleem is dat ek ‘n “swart moeder” vir 23 jaar gehad het en sy het my en my kind letterlik “groot gemaak”, so toe sy moes aftree was dit nag! Maar gelukkig kom kuier sy so af en toe as die ou geldjie min word voor pensioendag en dan kan ek haar die “fyn” dingetjies in die huis laat doen, wat net sy weet hoe.

    Mooi dag en lyk my ons gaan dalk reën kry hier in die “ou Wes Transvaal”.

    Groetnis

  14. 14

    Dellie said,

    Clazine! So lekker om jou weer bietjie raak te lees! Ja-nee, ek tel maar die goete op na sy weg is en smyt dit in die asdrom… ek is sooo dankbaar dat ek nie hoef te stryk nie, so ek vergewe haar basies enige ander misstap! :mrgreen:

    Ek wens so ons kan reën kry hier in Welkom, julle ouens moet rerig vir ons ‘n gebedjie opstuur daarvoor. Dit is so nodig. Ek kry die boere baie jammer. En al waaroor ek worry is die stof wat nie wil gaan lê nie. Selfsugtig, ja. 😦

  15. 15

    Dellie said,

    Verskoon my, ek gaan net gou so bietjie gil!!!! 👿

    Ag fokkie toggie, Esther kom sê sy is klaar terwyl ek besig is met klas, en ek gee net haar geld, en sê “baai, sien jou Vrydag.”

    Toe ek nou gaan kyk aan die ander kant, sal ek vind dat die sitkamer gordyne pragtig uitgestal lê op die banke, en die doel daaragter? Die hakies is in ‘n paar stukke en lê op die toonbank in die kombuis…

    Flippen hel, ek het dan vir haar gesê toe sy met die kamer gordyne begin, om die hakies af te haal, anders gaan sit die goed in die wasmasjien se balie vas. (En dis nie die eerste keer dat ons gordyne was vandat sy hier is nie!!!!)

    Maar ek het nie gesê dat sy dieselfde moes doen vir die sitkamer se gordyne nie… so dis seker my skuld omdat ek myself nie duidelik gemaak het nie – ag blaas my siel, ek het nie krag hiervoor nie! Die sitkamer se gordyne het van daai complicated hakies, wat soos ‘n puzzle in mekaar pas… en dit is my voorland vanaand voordat ons kan gaan slaap. Hoekom op aarde het sy nie die goed afgehaal voordat sy dit gewas het nie…? 😮

  16. 16

    Paula said,

    Hopelik sorteer die klein irritasies hulself uit 🙂

  17. 17

    dellie ek weet wat jy gedoel 😉 en ja dit is ‘n reuse luukse

    net ‘n ander perspektief: inisiatief en idees kom maklik as ‘n mens belese, berese en ‘educated’, self met ‘n goeie matriek het, en toegang tot boeke, dstv, die internet, flieks, ens.

    dis iets anders vir baie ander mense. moet nooit die agtergrond van ‘n verwysingsraamwerk onderskat nie.

  18. 18

    Emma Dixon said,

    Hallo Dellie. Om net nog ‘n ander perspektief aan jou te bied, as ek mag. Ek lees jou hart is sag en jou brein billik, daarom dat ek dit waag.

    Domestics verwag van jou om hulle te vertel wat om te doen. Elke dag. Elke keer. Nie dom nie. Nie aspris nie. Nie lui nie.

    Twee goed: Bang om hul werk te verloor. Respek vir jou.

    Inisiatief en kreatiwiteit het hulle. Kyk waarvan bou hulle ‘n huis en wat word ‘n meubelstuk.

    Ek verstaan ook jou frustrasie baie goed. Jy sal haar moet mikro bestuur of vrede maak met dit wat jy kry. Dit sal nie verander nie. 🙂

    Emma.

  19. 19

    mockajava said,

    Hi Dellie, ek moet eerlik waar se dis die een groot ding wat hier nie algemeen is nie. Huishulp is hier nie van sprake nie, nie eers by die skole nie, dis n kwessie van jy maak jou eie klaskamer skoon. Jy kom vroeer in die oggend in om alles op te ruim. Ek wens so ek kan iemand kry om my plekkie net te kom regpak, but it ‘s not gonna happens, so ek moet na werk (half nege die aand) kom kos maak, die skottelgoed kom was, die wasgoed was en my flat kom skoonmaak.

    Dan dink ek daar aan, mens skep werk vir baie mense – hulle kom maak jou huis skoon, dus voorsien jy hulle van brood en botter en jou lewe word vergemaklik – but like you said thats the whole freakin idea.

    Ek wens ek kon vir my baas se ek het geld nodig om elke dag by die huis te kom, daarby gese dat hy my van kos moet voorsien elke dag terwyl ek by die werk is.
    Vb my ma betaal haar bediende R800 ‘n maand vir twee dae n week, van 8uur tot 2uur. Sy kry taxi geld en sy kan enige iets vir haar maak om te eet, sy kry twee weke verlof deur die loop van die jaar en dan oor kersfees en nuwejaar.Dan werk sy by vriendinne van my ma vir die res van die week. My ma betaal haar medies want sy is gereeld siek.

    Sterkte met die frustrasies wat jy het en die gordyne ophang (dit was my freakin werk toe ek in die huis was/

  20. 20

    Dellie said,

    Rosa, Emma, dankie vir die ander kykie… ek hoor julle. En ag, julle weet ook dat ek net gefrustreerd is, ek wil nie oordeel nie. Net so bietjie vent.

    Hier binne weet ek tog dat alles wat jy sê waar is, Emma, dis nie aspris of lui nie, ek besef dat sy onseker voel. Ek en sy gaan Vrydag bietjie gesels, dan het ek ‘n kansie om so bietjie tyd te spandeer saam met haar. Ek het ‘n lysie gemaak van die goete wat my pla, en ek gaan sekermaak ons verstaan mekaar teen die tyd dat ons klaar is daarmee. Kommunikasie is seker maar die sleutel, né? En ek weet dat ek dit dalk gruwelik ver agtergelaat het, en net aanvaar het dat sy weet wat ek bedoel.

    Weet julle, dis hoekom ek hierdie blog lief! Ek kry ‘n kans om ander opinies in ag te neem, en so my eie dinge in orde te kry.

    Dankie vir elke ene van julle wat hier kommentaar lewer. Julle het nie ‘n idee wat dit alles vir my beteken nie! 😉

  21. 21

    Dellie said,

    O ja, ek wou nog sê… die huis ruik hemels met die skoon gordyne! 😆

  22. 22

    Spook said,

    Aai Delie, ek het nou lekker gesit en lees aan jou stukkie en al die kommentaar. Heeltyd ‘n smile op die gesig gehad…
    Lyk my dit gaan maar oral omtrent dieselfde… 😉
    My bediende ‘vacuum’ weer ELKE dag die los mat in ons sitkamer.
    Wanneer ek by die huis kom, moet ek eers al die meubels terugskuif op die plekke waar dit moet staan. ELKE DAG!
    Sy werk al 13 jaar vir my en dit gaan nog my verstand te bowe dat sy meubels wegskuif en dit net daar los. ELKE DAG!
    Aai, maar ek geniet die luxury om haar te kan he en byt maar my tong vas…

  23. 23

    Zee said,

    From one extreme to another. My huishulp is nou weer so deeglik dat sy nie by my strykwerk uitkom nie. Maar ek is tjoepstil… Te bly ek hoef dit nie te doen nie.

    Ek het gaan loer daar by die asblik en gemaak soos jy, en dit was nou die enigste plekkie waar daar toe nou nie so deeglik skoongemaak word nie… 😆

  24. 24

    Sandra said,

    Sou ons dae by die werk nie boring gewees het as ons moes wag vir die “baas” om eers opdragte te gee nie? Ek wil nie vir jou situasie lag nie want hier gaan dit net so …. ons lag maar saam daaroor. Sterkte!

  25. 25

    Eben said,

    Gie gie wat ou Eben weer weet en dink is dat my vriendin hoogs de-moer in is !!! 😆

    Vat hulle vas Dellie!!

  26. 26

    Emma Dixon said,

    Spook se ELKE DAG vind ek komies. Al gewonder wat jy ELKE DAG doen wat jou bediende al verby moedeloos het?

    Eish, these madam, he left the clothes on the floor again. Why is he having the laundry basket!

    😉


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: