Gunston en blou

Ek is OP gekuier. Ek dink ek begin nou te oud raak vir ‘n paar laat aande na mekaar. Ons naweek het eintlik al verlede Donderdag begin. ‘n Kennis het verjaar, en sommer die oggend voor die Landdros getrou ook. Dit moes natuurlik Donderdag aand gevier word.

Kyk, ons was al op vreemde parties, maar sommiges kry dit sowaar nog reg om my mond te laat oophang. Nie omdat ek neersien daarop nie, net omdat dit volgens my uitkyk weird is. Of op weird plekke plaasvind…saam met weird mense… !

Hierdie mense werk by ‘n scrapyard. Hulle woon in ‘n karavaan binne in een van die skure. Dit is ook waar die party was. In die een hoek staan die karavaan, voor die klankstelsel, die yskas aan die anderkant. In die ander hoek staan ‘n bakkie waaraan gewerk word. Langs groot gasbottels lê ‘n hoop tyres. Die sitplekke bestaan uit ‘n gehawende sitkamerstel, plastiek tuinstoele en twee lendelam tuinbanke met sponsmatrasse op. Op die tafel, tussen snacks van polonie en mash, was ‘n paar rose in ‘n afgesnyde “Marinda” twee liter bottel. In die deur op die sementvloer het ‘n paar roosblare gelê.

Die verjaarsdag man/bruidegom en bruid was albei geklee in jeans en rooi t-shirts. Met my hoë hakkies het ek nogal misplaas gevoel, en toe maar van my skoene ontslae geraak, en my bier uit die bottel gedrink. Dit was ‘n “bring-en-braai”, maar ons het sommer gou by die huis iets geëet voordat ons gegaan het, met die idee dat ons dan nie te lank hoef te bly nie. Ek bedoel, ons ken nie rerig die mense nie.

Eventually was daar so 12 volwassenes en ‘n paar kiddies wat rondhol. Terwyl die vleis gebraai word, is daar musiek gemaak en ons het maar begin beweeg op die maat daarvan. Op die ou end is ons eers lank na 12 huistoe. En dit was eintlik heel aangenaam. My voete was net lanklaas so vuil!

Vrydag aand moes ons van ‘n vriendin afskeid neem wat verhuis. Dit was ‘n lekker snoekbraai om die swembad, rustig om die vuur gekuier en  gesit en grappies vertel en strooi praat. Weereens het ons so teen eenuur die bedliggie afgesit.

Saterdag se rugby-party was natuurlik al twee weke terug beplan. ‘n Vriend van ons woon op ‘n plaas nie te ver buite die dorp nie, en ons almal het daar gaan oorslaap vir die aand. Hy is onlangs geskei en sy vrou het vir hom letterlik ‘n bed, yskas en TV gelos. En ek dink twee of drie borde, ‘n beker en ‘n glas. Dis dit. Maar gelukkig is ons nogal gereelde kampeerders, dus het almal kampstoele en opblaas matrasse en alles wat daarmee saam gaan – so ons meen toe ons gaan nou maar net onderdak uitkamp. Lekker.

So sit ons af plaas toe net na twee Saterdagmiddag. En ons is behoorlik blou. Dis hempde, pette, vlae, horings, en selfs ons toonnaels is blou. Ekke haat blou ooggrimering, maar ek het selfs dit gedoen. Die pels wat nie Bulle is nie, is Cheetahs wat nou skielik vir die Sharks skree. Maar hulle was net so ‘n handjie vol.

Ons het beplan om te gaan afkoel in die plaasdam voor die game begin, want dit was vreeslik bedompig. Maar ons was skaars op die plaas toe sak daar ‘n wonderlike reënbui uit. Met alles heerlik skoongewas en afgekoel, bêre ons toe maar die swem vir later wanneer die gallop-sop en woema-water begin inskop en ons meer moed het om die koue water aan te durf. Of onsself miskien wil verdrink na die game! Wel, ‘n paar het, maar nie in die dam nie…

En toe gebeur die ergste – die Bulle verloor! Ai, vir so vyf minute het ons stilte gehou, en die “ag shame’s” van die ander verdra. En toe vergeet  ons daarvan en hou party. Musiek aangesit, gedans, gebraai, geëet en baie pret gehad. Erens in die donker het ‘n paar van ons girls laatnag probeer om die plaasdam op te spoor – en oor ‘n stomp of iets gestruikel. Dit was vreeslik snaaks om in die donker tussen die beesmis vir mekaar te sit en lag. Ek het ‘n bloukol langs my knieg, en ek het op ‘n klip te lande gekom… die bewyse sit so groot soos my vuis op my boud… en dit lyk naar. En ek het ‘n blou pinkie ook. (?) Dis nou seker wat hulle brandewyn vlekke noem…

Toe dit tyd word vir slaap hier teen half vier Sondag oggend, kom ons agter dat almal hulle matrassies daar het – maar daar is geen pomp nie! Een brawe man wil toe sowaar die matrasse sommer so opblaas, maar het moed opgegee na die 12de asemteug wat nog geen verskil aan die matras gemaak het nie. Toe slaap ons in elk geval net so op die mat met ons kussings en komberse. Die hele plek vol. Kompleet gelyk soos ‘n krismisbed.

Sondag was ons vroeg op, en dit was lekker om buite in die sonnetjie te sit met ‘n koppie koffie en te luister hoe die natuur wakker word. Geen klanke van verkeer nie. Salig.

Al te gou was die naweek verby. Sondag het ek soos ‘n uitgewaste lap rondgelê en verlore slaap probeer inhaal. Nie baie suksesvol nie. Vandag voel ek nog effens soos ou toast. Die lyf is seer op plekke waar ek nie geweet het ek het plekke nie. En veral rondom die ribbes, maar dit is van al die lag.

Gunston, die Blou Bul mascot

Gunston, die Blou Bul mascot

Kyk net my horings!

Kyk net my horings!

Is ek nie pragtig nie?

Is ek nie pragtig nie?

O ja, geluk aan al die Sharks met julle span se oorwinning. Sien, ons Bulle is nie so suur soos wat julle dink nie. Dit was ‘n goeie game (dit wat ons wel gesien het!) en julle het dit verdien. Maar onthou, daai koppie kan nie te lank daar by julle bly nie – dit mag dalk net roes!

Lekker week vir julle almal – maak maar soos die Sharks – gryp dit aan die horings en ry dit bloots!

Advertisements

17 Responses so far »

  1. 1

    Eben said,

    Ek stem Dellie … ons Blou bloed mense kan ‘n pak vat, maar die Cheetahs-draadsitter kan nie pak vat nie 😆

    Lekker dag en ek glo julle het regtig groot gegaan. Gie gie!! Sorry, lag oor die beskrywing van die troue ….. ai ai ai !!

  2. 2

    Eben said,

    O jaaaaaaa my vriendin (Amelia) het met die liedjie probeer ……

    ‘n Haaitjie swem nie op die bodem nie,
    ‘n Haaitjie weet nie van verloor af nie!

    Ai …. 😆

  3. 3

    Tersia said,

    Klink of julle dit baie geniet het! Ek kan nie onthou wanneer ek laas lekker gekuier het nie!

  4. 4

    boendoe said,

    WAT bedoel jy, Eben?? Cheetah-draadsitter?? 👿

    Dellie, soveel paarties is nie goed vir wrinkle control nie, ne! Genoeg slaap en min drank. DIS die antwoord! :mrgreen:

  5. 5

    Bottertjie said,

    Ons het ook na die game eers ge: “O fok! Ek is dood Maandag by die werk!” Toe drink ons tequila en toe partie ons dat die biesies bewe. Ek herstel nou nog, het ‘n mother of ‘n hangover gister gehad!

  6. 6

    Pikkelik said,

    😆 😆 Julle arme wesens….. 😆 😆 Ek sê nog steeds Formula 1 is veiliger!!!! 😈 😆

  7. 7

    Dellie said,

    Ebie, jy weet dan hoe groot kan die Bulle gaan! 😉

    Tersia, nog so ‘n rukkie se kalmte, dan kan jy dit weer uitkap. 😉

    Boendoe, moenie so hard praat van wrinkle control nie… nie vandag nie, asseblief! 😆

    Botter, voel die koppie darem al varser vandag? 🙂 Ek is maar baie versigtig vir takiela…

    Pikkie, enige sport het sy beserings… selfs stoepsit! :mrgreen:

  8. 8

    Suz said,

    Dit klink of ‘n jol van ‘n tyd gehad het.

    Wat die bulle betref, ek is hartseer daaroor maar ek moet sê as daar enige ander span moet wees wat die beker moes vat dan is dit die sharks. Dit was regtig ‘n mooi game om te kyk.

    Ons het die naweek saam met die kerk gaan kamp en ons Ds is ‘n groot blou bul ondersteuner, dit was ‘n belewenis om hom te sien rugby kyk. Ek wonder hoeveel hare hy uit sy kop getrek het saterdag.

  9. 9

    White Knight said,

    Dagse Dellie

    Ten minste kan die Bulle net so goed verloor as wat ons kan wen 😉

    Ons skrik nie vir een van die twee nie. Wen of verloor, die Bul ondersteuners kan dit vat en dan nog partietjie hou daaroor na die tyd ook. 👿

    Groete en hoop regtig die einas word gou beter. 😀

  10. 10

    Parkie said,

    Die arme hondjie ly seker nou aan ‘n minderwaardigheids kompleks nadat hy so mismaak is 😆 :mrgreen: 😆

  11. 11

    Julle moet oppas dat die DBV nie hier lees nie. Julle gaan moeilikheid optel. 😆

    Lekker dag.

  12. 12

    boendoe said,

    Hei, Delilla! Ek het jou vandag seker al 50 pasella hits gegee! 😆

    Red my nou uit my ellende: GAAN JY VANDAG IETS POST OF NIE?? :mrgreen:

  13. 13

    Karl said,

    Bwahahaha vir daai troue. Ek ruik die verlepte knoffel polonie wat lê en opkrul in die hitte. Vergeet ok nie die tinfoil bakkies met peanuts nie en nick naks nie. Mayonaise doopsousie wat so ‘n skil bo-op gemaak het.
    Pret sulke troues want almal weet waaroor dit eintlik gaan en hou hulself nie high en mighty nie.
    Jy sal my nuwe rot storie geniet.
    Karl

  14. 14

    Dellie said,

    Dis oppad Boends, dis oppad! :mrgreen: Kom hit nog so 67 keer, dan staan ek op 60 000! 😆

  15. 15

    Nelba said,

    Ek sal maar niks oor die Sharks-oorwinning sê nie. Ons het dit gaan kyk in Durbs en dit was regtig ‘n goeie wedstryd. Albei spanne welgedaan.

    Maar die opblaasmatras-storie herinner my aan toe Vriendin en haar man gaan kamp het. Die matras moes ‘n gat in gehad het, want middernag lê hulle op die grond. Staan toe maar op en begin die matras oppomp. Maar die pomp raas iets allerverskrikliks: Tjierie-tjierie-tjierie…

    Onderdrukte gegiggel uit die buurtent. Kan net dink wat hulle dink.

    Manlief jaag Vriendin terstond uit om buite die tent te gaan sit terwyl hy rooi in die gesig spook om die matras weer opgeblaas te kry. Snaaks, hulle het ok toe nooit weer gaan kamp nie

  16. 16

    Dellie said,

    Whahaha Nelba, dit is baie snaaks! Dis nou die tipe stories wat mens vir altyd onthou. 😆 Ons het baie van hulle tussen ons pels, en elke keer as ons bymekaar kom word dit so ‘n “onthou jy nog…”

    Een vriendin het juis eenkeer op ‘n kamptrippie amper dieselfde oorgekom. Erens in die nag het die matras ook afgeblaas, maar hulle het nie moeite gedoen om dit weer op te blaas nie. Uhm, of eerder, hulle het dit nie agtergekom nie… :mrgreen: Het maar die volgende oggend met blou kolle opgestaan! 😆 Saterdagnag toe reken ons vir haar sy het mos nie ‘n probleem om op die mat te slaap nie, sy is mos gewoond om tussen klippe te slaap! 😆 Hie-hie! Ons gaan haar nie daai ene laat vergeet nie! 😆

  17. 17

    Spook said,

    Aai Dellie weereens het ek lekker gelees aan jou stukkie. 😉
    Ja, dis die eenvoudige dinge in die lewe wat ons die meeste plesier gee…!


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: