Koebaai Welkom

Toe ek vanmore die voorblad van die Volksblad sien, toe weet ek… dis nag vir ons stadjie. En dit is vir my so sad. Welkom was eens op ‘n tyd ‘n pragtige stad. Ek onthou toe ons net hier kom bly het – al die parke en sypaadjies en sirkels was so mooi versorg. Ons het menigmale ‘n piekniek mandjie gepak en ‘n Saterdag of Sondag middag erens in ‘n park gaan ontspan. Of by die munisipale swembad wat groen grasperke en skoon swembaddens gehad het. Nou is dit ‘n groot gemors, en het nog nie eens die deure oopgemaak vir die publiek hierdie jaar nie. Nou weet ons nie meer waarheen nie. Ek het redelike kontakte in die munisipaliteit, en hierdie is nie grappies nie. Toe my student netnou inkom, spot ek nogal so met haar dat ek nie gedink het sy het ‘n voertuig om haar klas te kom bywoon nie…

Ek haal sommer die hele berig hier aan, dan hoef julle nie nog te gaan soek nie. Eina.

Voertuie onder hamer geplaas
Nov 11 2008 10:55:33:853PM  – (SA)
Tom de Wet

WELKOM. – Die Matjhabeng-munisipaliteit se geldelike verknorsing is nou so groot dat daar binne enkele dae op al die voertuie in die munisipaliteit se besit, asook op sy bankrekening, beslag gelê gaan word in ’n poging om uitstaande skuld van miljoene te delg.

Dit beteken dat dienslewering totaal in duie kan stort en daar is ook gerugte dat munisipale werkers nie vandeesmaand of Desember betaal gaan word nie.

Altesaam 43 voertuie, waaronder brandweerwaens en noodvoertuie, sal reeds op 20 November om 10:00 by die Witpan-uitvalwerke in Powerweg buite die stad onder die hamer kom tydens ’n eksekusie-verkoping deur die balju.

Matjhabeng is onder die tien munisipaliteite in die provinsie wat die swakste gevaar het met die toepassing van wetgewerbesluite om hul bestuur en geldbestuur reg te ruk.

Tientalle voorskrifte is nie nagekom nie omdat hulle hulle nie aan bindende wetgewerbesluite oor hul geldprobleme en bestuursprobleme steur nie, blyk uit ’n onlangse gesamentlike wetgewerkomiteesitting.

Die waarde van die voertuie waarop beslag gelê gaan word, is maar R1,6 miljoen, terwyl die uitstaande skuld waarvan Volksblad bewus is en waarvoor bewyse bestaan, R3,6 miljoen bedra.

In ’n poging om die res van die skuld te delg gaan daar volgens ’n bevel van die Vrystaatse hooggeregshof ook op die munisipaliteit se bankrekening by Absa in Welkom beslag gelê word.

Daar is sprake dat daar ook op die burgemeester se luukse motor beslag gelê kan word om dit te verkoop.

Skuldeisers aan wie lasbriewe vir eksekusie toegestaan is, is Fire Trucks for Africa (R728 420), V & V Consulting Engineers (R1,2 miljoen en R856 695), Exempli Beleggings (Edms.) Beperk (R110 464), Pro-Care Civils (Edms.) Beperk (R197 822), Welkom Stationers & Printers (R12 810), Master Office (R18 464), Nimham Shand Raadgewende Dienste (R34 547), Telkom SA (R9 023 en R6 418) en Barnies Konstruksie (R475 661). By al die bedrae moet rente en koste gevoeg word. (Verlede jaar was ek op hierdie lysie. Het omtrent 6 maande gewag voordat ek betaal is vir opleiding. Hierdie jaar het die hoof van opleiding my laat weet dat daar wel begroot word vir opleiding, maar sodra hulle dit wil gebruik, is dit erens anders aangewend. En my motto met hulle is nou: betaal eers, en dan kan die mense kom vir opleiding. Ek is nie ‘n flippen donkie nie.)

– Die Matjhabengse munisipaliteit was die eerste Vrystaatse munisipaliteit wat sewe brandweervoertuie van Brittanje in gebruik geneem het. Vier hiervan is ook op die lys van die voertuie waarop beslag gelê moet word.

Die brandweervoertuie word deur Fire Trucks for Africa van Brittanje teen R8 000 per voertuig per maand gehuur vir vyf jaar. Die huur is nou meer as R700 000 agterstallig.

Mnr. Kgojane Matutle, woordvoerder van die munisipaliteit, het gesê hulle sal vandag kommentaar lewer.

Wat gaan word van ons stad? Ek het vertroulik verneem dat die regering erens ingegryp het met finansiële hulp sodat die mense ten minste vir die volgende twee maande salarisse kan kry. En dat ons “geliefde” burgemeester se motor al ‘n paar stampe weg het…. Hoe waar dit is, kan ek nie bevestig nie. Wat my egter baie bekommerd maak, is die feit dat noodvoertuie ook nie beskikbaar gaan wees nie!! Die Vader behoede ons!

UPDATE 14h05 pm:

Ons eie Hoenderkoning het tot die redding van ons munisipale swembad gekom, nadat hy ‘n paar weke gelede ‘n possie daaroor gehad het. Wat belangrik is, is hierdie berig op die voorblad van een van ons plaaslike koerantjies, wat ek natuurlik eers minute terug gekry het. En nou moet ek alles weer oortik, want Forum se online koerant is ‘n hele week agter die tyd:

Swembad lyk weer gesond

‘n Sakeman en die Matjhabeng-munisipaliteit het hande gevat en die munisipale swembad in Welkom is nou silwerskoon. Sodra kontrakte van menseredders hernu is, sal inwoners weer van die gerief gebruik kan maak.

Forum het onlangs berig oor die agteruitgang van die swembadkompleks. Die water was groen en geriewe in ‘n swak toestand.

Die swembad sou al bykans drie maande gelede oop gewees het.

Mnr. Thabo Petersen, munisipale bestuurder, het die leiding geneem na samesprekings tussen hom en mnr. Kobus Coetzee, ‘n plaaslike sakeman.

Coetzee, bestuurder van Chicken Express in Welkom, het namens die onderneming hulp aangebied om die swembad tot sy volle glorie te herstel.

“Daar is hard gewerk om die swembadgeriewe te herstel. Ons het reeds begin om die toilette te verf en herstelwerk is gedoen. Ons het ook onderneem om met die instandhouding van die tuin te help. Ek is beindruk met die werk wat die Parke-afdeling van die munisipaliteit tot dusver verrig het. Die swembaddens in volgemaak, en is silwerskoon. Ek kan nie glo dit is dieselfde plek as ‘n paar weke gelede nie.”

Coetzee gaan ook die leiding vir ‘n interessante somerprogram neem. Dit sluit in optredes deur TV karakters soos Takalani Sesame van SABC, die moontlike verskyning van Zakumi, die 2010-sokkergelukbringer, en ook ‘n musiekkonsert met Theuns Jordaan en Dozi in. Die program sal binnekort begin.

“Onderhandelings word gevoer met Musiek-profiel, die bestuur van die twee kunstenaars. Dit word vir Desember beplan. Verder is ons baie opgewonde oor ‘n spesiale Kersprogram, Carols by Candlelight.”

Volgens Coetzee word ook onderhandel oor die oprigting van ‘n nuwe waterwurm.

Dit sal ek lief! Go Kobus!


23 Responses so far »

  1. 1

    boendoe said,

    Eish, madam! 😯

  2. 2

    Sonia said,

    Dis nogal rof!
    Maar aan die ander kant, soos my ma altyd gesê het, ‘As die nag op sy donkerste is, is die dagbreek op sy naaste’ …of so iets, LOL. Hopelik het die stemmers nou hulle les geleer. Wat van ‘n vinnige revolusietjie en maartsj deur die strate deur belastingbetalers om die vabonde afgedank en ontsetel te kry?

  3. 3

    Carina said,

    As dit nou enige ander land se regering was sou ek dit nie geglo het nie. Maar hierdie is skokkend…maar BAIE geloofwaardig. Iemand sal seker maar ‘n brandweerwa op die veiling moet koop vir die wis en onwis. Ai.

  4. 4

    Eben said,

    Dellie, om sulke dinge te lees maak mens woedend. Daar is soveel regs mense daar buite maar nie een kon ooit ‘n ‘gaatjie’ vind om ons te beskerm deur net water en krag te betaal.

    Die belasting gedeelte terug te hou, omdat daar geen dienste gelewer word.

    Ai ai ai dit maak mens so negatief oor die pragtige land. Ons kan nie vinger wys nie, het die regste onder die regstes nie dit voorspel?
    😉

  5. 5

    Dellie said,

    Daar is darem iets positiefs ook hier – lees weer die possie, ek het so bietjie ge-update!😉

  6. 6

    Roer said,

    Ek moet se^ ons Munisipalieit het my aangenaam verras. Liefie vra laas week skryf asb epos oor die potholes in een van ons hoofstrate, want dis ‘n nagmerrie (veral met ‘n fiets). Doen dit toe maar dik mond en met ‘n gemompel van ‘tyd mors’ ens. Dit was nie 2 dae nie, toe is daai potholes reggemaak en ek is terug geepos om te hoor of ek tevrede is. Ek het vir hulle almal dankie gese^ per epos want, heng, dis darem great. Ek was uit die veld uit geslaan en dankbaar, want lyk my daar is hoop.

  7. 7

    Dellie said,

    Jinne Roer, ek sou daai mense persoonlik gaan bedank het!😮 Dit gebeur nie sommer nie.

    Iets wat ek vergeet het om te deel: ‘n jaar gelede is die elek meter van een van die woonstelle afgesit, want daar bly niemand nie. Let wel, daai meter is morsdood. Vir die afgelope jaar ontvang ons elke maand ‘n staat wat verbruik aandui van tussen R700 en R950 per maand vir die “dooie” meter. WTF???😯 Liefie het al hoeveel keer gaan navraag doen, en die belofte is elke keer dat dit reggestel sal word, maar f-ol gebeur! Daar was al selfs regsdreigemente na ons kant toe, en elke maand wys die staat dat ons weereens gecharge word vir “reconnection”. Watter “reconnection”? Die flippen meter is DOOD!😯

  8. 8

    King said,

    Dankie Dellie. Mooi post.

  9. 9

    White Knight said,

    Dagse Dellie

    Dis skrikwejjend dat die blikskottels toegelaat word om met sulke twak weg tekom. Dit nadat die wetgewer alreeds ondersoek gedoen het en daar bewyse van verkeerde bestuur is.

    Sterkte vir julle daar en ek haal my hoed af vir Kobus se inisiatief wat hy aan die dag le vir die dorp.

    Die wagtyd vir julle is amper om, alles van die beste en moenie dood druk nie.😉

    Groete

  10. 10

    Tersia said,

    Al hierdie dinge maak mens woedend…… Is daar nog ‘n toekoms vir ons kinders?!

  11. 11

    Alta said,

    Flip Dellie, dit klink rof jong.
    Ek kan ook onthou toe ons daar gebly het was die ergste die tornado 1990. Parke en dinge wat jy noem was alles nog baie mooi.
    Wys jou dat dinge oornag nogal kan verander.

  12. 12

    King said,

    King groet ongelukkig vandag, en verlaat die blogosfeer. Mooi bly Dellie.

  13. 13

    Sammi said,

    Hallo Dellie
    Is Seun al by die huis?

  14. 14

    rb said,

    Ek dink daar is baie Munisipaliteit wat sukkel.
    Onse dorpie het weet ‘n hele paar rand in die bank gehad toe hulle dit MOES oorhandig, destyds. Vandag is daar glo ook baie skuld. Die burgemeester het ‘n moese kar en geen lisensie nie, so daar word sommer vir ‘n bestuurder ook betaal om haar te karwei.

  15. 15

    Amanda said,

    Die sekondes raak nou milisekondes ….. tick tok tick tok …

  16. 16

    BB said,

    Mooi man Kobus!!
    Met mense soos julle kan julle een van die dae weer proudly sê: “Welkom!!”😉

  17. 17

    boendoe said,

    BTW, ‘n ‘waterwurm’. Is dit nou die outydse ‘supertube’? 😆

    Lekker hereniging gehad, Dellie?

  18. 18

    boendoe said,

    Hierdie stilte is nie goed nie… 🙄

  19. 19

    Wipneus said,

    Hoop jy geniet die tyd saam seun!! 😉

  20. 20

    Amanda said,

    Ons sal maar in spanning wag vir die nuus. Dit sal ‘n paar dae vat voor jy tot ruste sal kom en vir ons so kykie gee in seun se terugkoms!

  21. 21

    Dellie said,

    Ons is terug by die huis, Seun is veilig, en ek kan nie ophou vat aan hom nie!😆

    Sal Maandag vir julle al die detail vertel!

    Geniet die naweek, ons het nou eers BAIE gesels om in te haal!😉

  22. 22

    Emma Dixon said,

    Hallo Dellie

    Hierdie situasie vra vir ‘n entrepreneur. Koop die ambulanse en brandweerwaens op – bedryf die diens privaat.

    Baie munisipaliteite het reeds vullis verwydering oorhandig aan privaat maatskappye. Daar is ook nou privaat maatskappye wat die betaling van elektrisiteit behartig namens die munisipaliteit.

    Scary, but true.

    Emma

  23. 23

    Paula said,

    Ai ai ai! Hartseer verby!


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: