Sop-sop

Voorbereiding

Dis Maandagaand. Ek kry al die bestanddele bymekaar, gooi dit in ‘n pot, en kook dit totdat dit sag en eetbaar is. Dis ‘n groot pot vol, (al het ek die resep gehalveer) en behoort my so ‘n paar dae aan die lewe te hou, dink ek na die eerste glasie wyn. En dis gerieflik vir my – dis klaar voorberei, en ek kan dus net eet wanneer ek honger word. Dit skakel ook die gerush tydens middagete uit, en ek kan boonop voor 5 in die middag aandete eet. Ek drink nog twee glase wyn, want vir die volgende 7 dae is alkohol ‘n no-no.

Dinsdag

Vandag mag ek net sop en vrugte eet. Behalwe piesangs. (Ek sien die volgende dag eers die vrugte deel raak – nadat ek heeldag net sop geëet het! Duh!) Ek trek los met ‘n bakkievol vir ontbyt, en dit gaan heel goed af. Dit smaak darem na iets. Teen die aand dink ek: ja wat, ek sal kan lewe hiermee. Geen probleem nie. Was niks honger deur die dag nie, het 8 glase water gedrink, en ek voel heel trots op myself.

Woensdag

Sop en groente. Behalwe aartappels. Ek het nie nog tyd om ander groente ook gaar te maak nie, so dit bly toe by sop. En water. Eet weer ‘n soppie vir ontbyt, sop vir middagete, en sop en ‘n GROOT jassie aartappel met botter en aromat vir aandete. Die sop is rerig lekker, en die hoenderstock-blokkie laat my amper glo daar is ‘n vleiserigheidjie daarin.

“Proe,” sê ek vir Liefie. Hy kyk my aan asof ek Grieks praat en trek sy neus op.

Ek begin die volgende pot sop kook, want intussen het Seun besluit hy eet saam met my sop sodat hy die vakansie pensie kan afskud. Maar ek raak besig met iets anders terwyl die sop kook, en die goed verbrand onherkenbaar. Ek het nie nog bestanddele nie, en dis laat in die aand. Ek drink toe sommer twee glase wyn vir die skok.

Donderdag

Sop, groente en vrugte. G’n aartappel nie. G’n sop nie, want ek het mos die goed verbrand. Ek het nog nie ‘n trippie winkel toe gemaak nie, so daar is anyway nie vars groente om aan te kou nie. Behalwe aartappels. Hoe lus is ek nou vir ‘n aartappel! Maar vrugte is al wat oorbly.  En water.

Ek oorleef wonder bo wonder die dag en vier dit met twee glase wyn saam met my vrugteslaai vir aandete. En ek wonder hoekom is dit so dat mens lus raak vir goed wat jy buitendien bitter selde eet of drink, wanneer jy op ‘n “dieet” is?

Ek kook die volgende pot sop, maar hou dit die keer met arendsoë dop. En ek vervang die hoenderstock-blokkie met ‘n beefstock-blokkie. Bad move.

Vrydag

Sop. Ten minste drie piesangs. Laevet melk. Dis op die menu vandag. Dankie tog! Ek begin nou sligthly gatvol raak vir die sop. Ek maak vir my ‘n banana smoothie vir ontbyt. Met middagete se kant, sukkel ek om die sop in te kry. Die beef-blokkie is toe nie lekkerder as die hoender-blokkie nie. Ek smag na ‘n stukkie regte, egte vleis – nie ‘n wasembelofte van een nie… Die wortels wil net nie verby my kleintongetjie nie. Ek kou en kou, maar sluk gaan moeilik. Ek smyt nog water by die sop, en sluk net om dit af te kry.

‘n Portugese student bring vir my een of ander tradisonele koek “for wif de coffee, ja?”  Dis ‘n lieflike sjokolade-bruin skepping, met neute wat hier en daar uitsteek. Klam, met geen versiersel oor nie. Dit ruik hemels. En gevul met ‘n verskeidenheid neute en droeë vrugte stukkies. Amper iets soos ‘n vrugtekoek, net heeltemal anders. Mensig, ek kan nou nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie, ek het mos maniere! Laatmiddag, saam met ‘n koppie koffie (darem met laevet melk en kunsmatige versoeter) eet ek so ‘n klein ou stukkietjie…

Saterdag

Hoera! Vandag mag ek biefstuk, tamaties en sop eet! Geez, ek moet nou hierdie pot sop klaarkry sodat ek ander kan maak met die hoender-blokkie. Ek hou my oog op die vooruitsig van ‘n sappige gebraaide steak, en sluk die sop vir ontbyt en middagete.

‘n Paar vriende braai saam. Hulle het natuurlik gesorg vir ander slaaie, en knoffelbrood, maar ek mag net tamatieslaai eet. Ek maak ‘n reuse bak vol tamaties.

Laataand na die braai, gaan dans ons so bietjie. Ek drink ‘n bier of wat, maar ek dink ek het dit weer uitgedans.

Sondag

Jinne, ek was slim om Dinsdag te begin hiermee, en nie Maandag nie. Nou werk die menu baie mooi uit. Vandag is dit biefstuk/vis/hoender en groente. Soveel soos ek wil. Net nie ‘n aartappel nie…

Vir ontbyt eet ek net die stukkie steak wat ek gisteraand nie klaargemaak het nie. Vir sop sien ek wragtig nie vandag kans nie. Ek dink ek moet die bak per ongeluk laat val …

Maandag

Bruinrys, groente, onversoete vrugtesap en … raai wat? Ja! SOP! Uuurgghh! Ek het toe maar die bak-val plan laat vaar. My ma het my geleer mens mors nie met kos nie. Maar ek is redelik oortuig dat sy nooit so ‘n sopmengsel soos hierdie moes afsluk vir 7 dae nie. Veral nie met beef-blokkies in nie…ek het die laaste sop vir Esther gegee.

Met die bruinrys saam het ons groente gestir-fry gemaak vir aandete – mag darem so ‘n blertsie olyfolie of botter gebruik – en dit was baie lekker. Mis net ernstig ‘n stukkie vleisie tussenin.

Nabetragting

Alhoewel dit nou beslis nie die gesondste manier is nie, is daar darem resultate. En eintlik het ek meer geëet as normaalweg. My dae is soms so besig dat ek net eenkeer eet – en dis laat in die aand. Hiermee het ek nou ten minste effens in ‘n roetine gekom van gereeld eet. Ek is seker met ‘n bietjie moeite en goeie beplanning, kan ek dit regkry om elke dag gereeld te eet.

Ten spyte van die feit dat ek vreeslik gekroek het, het ek sowaar 3kg verloor! Imagine nou net as ek vir 7 dae niks kroek nie… en ag, die sop is nie te bad nie…

NS. Ek onderskryf nie hiermee hierdie dieet nie. Ek weet dit is nie gesond om so gewig te verloor nie. Maar ek wil net ‘n kickstart hê, ek sal dit nie vir weke aaneen volg nie. As jy dus ook besluit om dit te doen, is dit jou keuse. Ek is nie verantwoordelik vir enige nagevolge nie!

Advertisements

19 Responses so far »

  1. 1

    meermin said,

    Dellie hierdie sop dieet is nie goed vir mens nie!!! My vriendin het ontwater en in die hospitaal beland!! Of sy dieet reg gevolg het weet ek nou nie, ek het dit ook probeer en ek was so siek, het gebewe soos ‘n riet, en 2 kilogram maar verloor!!

    Ek het in Januarie besluit om my voggies te los, ek drink nog ‘n glasie of twee wyn, en vandat ek Amarula gelos het, het ek 9 kg verloor (ek wou net 4 kg afskud) nou is dit so lekker om te sien hoe al my klere te groot geword het vir my dat ek nog 1 dalk bietjie meer gaan probeer verloor!! Het vrek baie sentimeters verloor oral oor, ek kla nie!!!

    Geen dieet is lekker nie, ek eet gelukkig net in die aande, nie honger in die dag nie, en ek drink MOER baie water!!

    Lekker dag verder vir jou!!

  2. 2

    betsieboop said,

    whahahahahahahahaha ai Dellie!! danksy hierdie inskrwying sal ek dan nou vandag vir my ‘n pot sop op die stoof sit. dankie vir die heads-ups met die beef vs hoender!

    en ja – dit is nie gesond nie, maar hel – desperate times calls for desperate measures!

    geniet jou sop!!

  3. 4

    Die Brein said,

    Goeie more Dellie

    Jammer oor wat ek daar by ons kwytraak, geniet die dieet ek en my vrou is ook vanaf gister op een vir twee weke.Ek wil 6kg en sy 4 kg verloor.
    Hoop jy bereik jou mikpunt.

  4. 5

    Pikkelik said,

    Nou wat kan ek sê??? Sterkte!!! En alhoewel ek saamstem dat dit nie ‘n goeie manier van dieet is nie, het ek al van slegteres gehoor en soos jy sê vir ‘n ‘kickstart’ Why not??? Ek hou my duime styf vir jou vas!

  5. 6

    BB said,

    Niks fout met ‘n detox nie… maar hel, ek sal hier by dag 3 al so naar raak van sop, dit gaan ‘n heel natuurlike proses wees om van alles oorblywende onverteerbare stowwe in my liggaam ontslae te raak… *BLEEEEGH*
    Sterkte!!

  6. 7

    boendoe said,

    Ek het gister die lekkerste sop geeet – die diet van jou maak my sommer lus om jou te join. 3 Kg? Bogger gesond gewig verloor! :mrgreen:

  7. 8

    2 glase wyn vir die skok. LOL! dit is nou goeie raad!

  8. 9

    Hey Dellie

    Ek is een van daai mensies wat ongelukkig ook probeer om `n gewiggie af te skud. Is op Weigh-Less, volgens my seker die gesondste manier om die ding te doen. Het nou al so vyf kilos verloor en ek voel baie goed.
    En die beste van alles: ek het eergisteraand die heerlikste, gesonde butternutsop gemaak! So mens kry seker maar best of both worlds, hehe…

    Sterkte
    Corli

  9. 12

    RB said,

    Hi, daai sop ding werk, maar ai om net vol te hou. Meng so bietjie chutney in en dan weer bietjie worcester sous, proe dan elke keer anders.
    Sterkte.
    Ek het die begin van die jaar daai Jumpstart sap ding probeer en nie eers ‘n kilo vrloor nie en ek het eers op dg 5 begin kroek!!

  10. 13

    gigi said,

    Bahaha Wondernet!

    Snaakste is ek vrek oor sop, enige sop en sal dit elke dag eet, maar die vader weet sodra ek die dieetsop gemaak het, is my is my lus vir sop helemal weg. Ek dink ek moet iemand kry om dit vir my te maak, dan VOEL dit nie so asof jy op dieet is nie!
    Sterkte

  11. 14

    Cat said,

    Hi,

    ek het ook van die diet gehoor, en wil dit graag probeer, soos julle se ‘n ‘kick start’ is dalk die regte ding vir my. kan iemand vir my die diet en die sop ding stuur??

    lekker dag
    Cat

  12. 15

    EK HET DIE DIEET GEDOEN EN VAN 78KG NA 65KG GEVAL MY MAN WAS SO TROTS OP MY EN MET SY ONDERSTEUNING HET EK MY MYLPAAL BEHAAL. DANKIE DANIE JUL HET MY LEWE VERANDER MET DIE DIEET!!!!!!

  13. 17

    Mariovette said,

    Hello daar was baie lekker om almal so kommentaar te lees wat die sop dieet betref, ek wil dit ook probeer, klink nogal lekker veral in die winter. Ek het n sop dieet maar daar kom geen kool in nie, ek is bereid om dit vir n week te prober en hoop om so 5kg te verloor is dit moontlik?

  14. 18

    Tommy said,

    Hi almal ek wil net graag hoor of watter tipe resultate julle met hierdie dieet gekry het? Was dit moeilik of maklik gewees?


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: