Ingelsman

Hierdie is net eenvoudig te snaaks om nie te deel nie. Geen idee wie dit geskryf het nie, maar dankie v die lekker giggel. 😆

As jou water na drol stink en jy sien nie een dryf nie, moet jy selfinspeksie doen en seker maak jy is nie dalk self die drol wat almal se water gatterig laat smaak nie.

Sommer met die intrapslag hou ek niks van die Ingelsman wat my kleindogter hier by ons kom aansleep nie. Vir weke al sien ons uit na haar kuiertjie uit London en aan die begin kon ons nie fout sien, dat sy nou haar Ingelse boyfriendjie wou saamnooi op ‘n onvergeetlike toer saam met Oupa en Ouma deur die Kruger Wildtuin nie. Uiterlik nie ‘n onaangename seun nie, maar toe die bleeksiel sy bek oopmaak en my met “Hello Gramps” groet, is my moer klaar suur. Sulke voorbarige vermetelheid. Met die pap handjie waarmee hy bladskud, skud ek hom amper uit sy oorbel en hy het reeds een verloor.

Maar opgedress vir die okkasie hoor. Leerstewels wat amper tot by sy knieë kom, sy khakibroek al die pad ingedruk. Met sy dik belt se gespe sal mens ‘n olifant met twee houe kan doodslaan. Wat die man als gelees het oor Suid-Afrika weet ek nie, maar aan die belt is ‘n waterbottel, ‘n mes wat amper sy stewels raak, ‘n moonbag met ‘n rooi kruis op en een van daai kanariegeel selfone met die baie knoppies. Die man dra ‘n swart t-shirt wat sê rook is verbode en iets van die aardbol wat warm word. Maar ek weet, die Wildtuin is nie speletjies oor Desember nie. Warm gaan die man beslis warm kry en rook gaan ek beslis rook, al het Kleinpop my agteraf gewaarsku dat die man so bietjie opgewonde oor tabakgebruik kan raak.
Die man is goed in tale ook. Al drie Afrikaanse woorde by Kleinpop geleer. ‘Dankie, kak en lekka.’ Alles is kak of lekka. Kleinpop is lekka. Ons paaie is kak. Die son is kak. Ouma se koeksisters is lekka. Vreeslik puntenerig oor kos ook, die mannetjie. Eet nie vleis nie, eet nie dit nie, eet nie dat nie, daai moet eers gekook word voor hy sal drink ens, ens.

Ek kon dit nog vat toe die man iets van “kak SUV” sê toe hy in die kombi klim, maar toe die man “kak music” op my Klipwerf mompel, steek ek summier my pyp op. Sommer so in die ry, soos ek altyd maak. Kleinpop probeer nog verbouereerd keer, maar Oupa leer die man nog bietjie Afrikaans:
“Fok jou, in my van rook ek, broer.”
Die man leer vinnig en maak sy eie Afrikaanse kombinasies:
“Fok, this rook is lekka kak, dankie.”

Maar met ‘n man wat nie vleis eet nie, gaan dit maar lekka kak in die wildtuin. Teen dag drie is die man se slaaiblare wat hy in Phalaborwa se Spar gekoop het al heel vrot. Sy dieet bestaan uit Ouma se padkoskoekisters, Nik-Naks en braaivleispap sonder sous. Teen aand vier is hy honger genoeg om sy vegetariese geloof te verloën. Natuurlik nie openlik nie. Vang ek vir Kleinpop uit, toe sy ongemerk ‘n tjop of drie na die man se tentjie toe smokkel.

Dag vyf ruik ons al vroegoggend vegetariese maagreaksies op vleis. Net mooi in die middel van nêrens en op die dag se hitte kom klop die man op my skouer hier voor in die kombi, so in die ry.
“I MUST go!” beduie die man na sy poephol asof ek nie lankal kon ruik wat hy wil doen nie.

Ek stop maar die kombi naby ‘n laagte boompies. Dit is in elkgeval so warm, geen dier sal dit in die omgewing waag nie.
“There,” beduie ek hom na die boompies.
“No ways!” protesteer die mannetjie toe.
Ek beduie vir die mannetjie in my beste Engels dat daar “no ways” is dat hy verder my kombi se binnelug met sy buikwinde gaan ontsier. As hy nie nou sy ding gaan doen nie, gaan hy verder stap.
“Gee vir die man kakpapier,” beveel ek vir Kleinpop.
Die man weet nou al genoeg van Afrikaans om te smeek “No, I want nice paper please!”

Soos iemand wat oor duwweltjies stap, benader die Ingelsman sy natuurtoilet. Na ‘n rukkie verdwyn hy agter die boompies. Ons kyk maar almal versigtig in die omgewing om die man darem betyds te waarsku, sou daar dalk ongediertes nader sluip.

Nou een ding van die Wildtuin. As een kar stop, stop almal agter hom om te kyk watse diere kyk die voorste kar. Veral so op die middaghitte as daar min is om te sien. Die Ingelsman het skaars gehurk, voor die Land Rover agter ons stop. Die gesinnetjie bespied die rigting wat ons kyk. Hulle wil ook sien wat ons sien. Verkykers word uitgehaal. Nog voertuie stop. Een ou klim uit met ‘n groot kamera op ‘n driepoot. Nog karre stop. Na vyf minute lyk dit soos die Dakar Rally wat wil afskop. Groepies brawes staan teen die reëls orals buite hul karre en kyk met lang lense. Party klim bo-op hul voertuie se dakke vir ‘n beter uitsig. Wild was besonders skaars hierdie jaar.

Nou of daar werklik een was, weet ek nie, miskien was dit ‘n oorywerige verbeelding in ‘n desperate soeke na diere. Maar toe die ou so ses karre van ons af skree “Leeu, ek sien hom!” weet ek die Ingelsman verstaan meer Afrikaans as wat ons gedink het. Met al die mense wat so staan en kyk na die veld agter hom, kry die kreet nog eerbaarheid ook.

Soos ‘n lus foksterriër wat hitte geruik het, peul die man uit sy bostoilet uit en hardloop vir die kombi. Die broek om die enkels laat die man so paar keer pens en pootjies neerslaan, maar sy herstel is elke keer merkwaardig. Sy roete na die eindpaal is een stofbol soos die man beweeg. By die kombi aangekom is die man se broek darem min of meer heuphoogte, maar in die veld lê ‘n lang mes en ‘n kanariegeel selfoon. Die Ingelsman soek dit klaarblyklik nie terug nie. Die konvooi karre agter ons, ry stadig verby, terwyl die Ingelsman sy broek en asem op die regte plekke kry. Te oordeel aan die hoeters en gesigte het die mense waarde vir geld in die wildtuin gekry.

Na die vakansie is Kleinpop heel uit haar Ingelsman uit. Dié het sommer vroeg ‘n vlug London toe gevat. Sy wil hom nie weer sien nie. Miskien was dit die nagedagte aan die ongebruikte toiletpapier. Miskien was dit die klein, bleek, swaaiende voorgedagte.

Die skrywer het my toe sommer opgespoor! Sy naam is Jan Nel, en volg sommer die skakel na sy blog as julle nog wil lees. Ek gaan beslis!

Advertisements

14 Responses so far »

  1. 1

    Vlam said,

    LOL!! “klein, bleek, swaaiende voorgedagte” Nee, jinne!! 😆 😆

  2. 2

    demoerin said,

    😆 Bwahahaha, dit is uitstekend! Ek het nou so lekker gelag, en dan laat dit my dink aan al hierdie mense wat binnekort op ons landjie gaan neerdaal… 😆

  3. 3

    Fokk said,

    DIt is MOER snaaks – ek het die eendag op Litnet gelees – die ou vertel darem die storie lekker!

  4. 4

    Dis verstommend hoeveel mense die epos gekry het… ek dink dis een van die mees verspreistes van 2010 sover! Dis briljant! :mrgreen:

  5. 5

    Phibbie said,

    gok maar is baie snaaks. Hehehehhehehehe

  6. 6

    Gatvol said,

    I MUST go!” beduie die man na sy poephol asof ek nie lankal kon ruik wat hy wil doen nie.
    Ek het nou myself geskeur! 🙂

  7. 7

    Dellie said,

    Daai deel van ‘Party klim bo-op hul voertuie se dakke vir ‘n beter uitsig.’ is v my absoluut classic! Ek sien daai prentjie! whhahahahahaha!

  8. 8

    ekisanna said,

    Oh my soul, nou moet ek eers weer my eie toiletpapier gaan soek!

  9. 9

    Alta said,

    Bwaaahahahahahhahaha!! Het nou my vitamiene vir die dag in!! 😆

  10. 10

    Jan Nel said,

    Hello Dellie

    Dankie dat jy nie die werk voorhou as jou eie, soos talle ander al gemaak het nie. Ek het die storie oorspronklik geskryf en op my Litnet Blog geplaas, reeds 4 Januarie 2010. Soos my ander skrywes is ook hierdie een onderworpe aan kopiereg. Ek gee hiermee amptelik toestemming dat die storie op jou webwerf mag bly MITS die skrywer erken word en ‘n skakel na die oorspronklike webwerf bygevoeg word.

    Die skakel na my webwerf is: http://blogs.litnet.co.za/jannel1/die-lekka-ingelsman

    Indien jy en jou lesers hierdie storie geniet het, daar is nog verskeie soortgelykes, krap maar net bietjie rond in die blog se argiewe.

    Hartlike Groete
    Jan Nel

    • 11

      Dellie said,

      Hello Jan!

      Ek voel baie geëerd, dankie v die toestemming om dit hier te los. Ek sit jou skakel dadelik onderaan die storie.

      En dankie – ek gaan beslis soek v ander stories ook, hierdie is absoluut briljant!

  11. 12

    Smurfi said,

    Dellie, Dit was nou omtrent lekker om te lees!

    Jan Nel,
    Jy mag maar skryf, dit was nou regtig die moeite werd om te lees, skreeu snaaks! ek gaan nou beslis gereeld jou skrywes opsoek en lees.

  12. 13

    Jan Nel said,

    Baie dankie vir al die goeie kommentaar hierbo en ook vir die besoeke aan my blog. Synde ‘n blog is daar maar ‘n hele klomp persoonlike bollie tussen, wat ek hoop, stories wat julle sal geniet.

    Weereens baie dankie, my hempsknope lê die hele wereld vol.

    Groetnis
    Jan

  13. 14

    twattie said,

    Jan, dis ‘n riem onder my blaas om sulke stories te lees! Ek gaan definitief in jou argiewe kom skrop.


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: