Om aan te beweeg …

Voordat julle verder lees … ek wil graag hê julle moet weet dat ek nie hierdie geskryf het om julle simpatie te kry nie. Toe ons net begin blog het, het ek altyd gesê hierdie is soos terapie vir my. En nou het ek dit werklik nodig om terapie te wees.

Verstaan dus dat hierdie ietsie op my lysie is wat ek MOET doen – ‘n hekkie om oor te kom, in die woorde van ‘n wyse vriendin. Om dit sodoende meer werklik te maak, makliker te maak … alhoewel ek nie dink laasgenoemde is rerig ‘n opsie nie. Aanvaarding miskien? Anyways, ‘n paar van julle ken alreeds die hele sad storie, en vir die res … here goes …

‘n Mens is mos maar ‘n ‘creature of habit’. Jy kom in ‘n roetine, en so karring jy aan vir jare sonder om regtig daaroor te dink. Dis huis skoonmaak, kinders grootmaak, help met huiswerk, werk … en dan eendag is dit asof jy met nuwe oë kyk na die wêreld rondom jou … en alles het verander. En jy wonder, is dit EK wat verander het, of die res van die wêreld?

En jy kyk na daai mens in jou lewe, die een wat jy gedink het jou sielsgenoot  is, en jy sien ‘n vreemdeling … en jy wonder waar het alles dan verander? Hoekom het ek dit nie agtergekom nie? Wanneer het ons opgehou om te praat met mekaar? Dan wend julle ‘n poging aan om te verstaan, julle huil, julle skree, julle smeek, want dis moeilik om die verandering te aanvaar. Op ‘n stadium dink jy tog jy kan verstaan, die stukkies bymekaar vee, en weer las. Maar eintlik bluf jy jouself net, want die magic is weg.

Jy sit jou happy, carefree, smiley maskertjie op, en jy begin soos ‘n robot operate, en net deur die motions gaan elke dag. Sonder doel. Sonder droom.  Sonder voel. Snags huil jy jou kussing sopnat terwyl die onthou deur jou kop dans …  En stukkie vir stukkie begin jy afskeid neem, want diep binne weet jy dat dit nooit weer dieselfde sal wees nie. Maar jy is ook te bang om iets daadwerkliks te doen … bang om alleen te wees. En niemand swaai ‘n towerstaffie om dit beter te maak nie. Jy begin mure bou om jouself om die onthou uit te hou. Trek heeltemal terug. Sluit af. Julle praat nie meer nie, want dit maak seer. Na baie maande skrik jy wakker uit jou koma en besef dat jy alreeds alleen is …  lankal al.

En dan eendag kyk jy nie meer met pyn na hom oor wat verby is nie, daar is net ‘n doodsheid binne jou wat jou dryf om ‘n ander rigting in te slaan., om jouself te red! Want jy mis om liefgehê te word, saam te lag, vasgehou te word, beskermd te voel. Jy wil weer lewe. En jy weet hy ook.

Jy is verbaas oor die kalmte binne jou. Die aanvaarding. Sonder verwyt, sonder woede. Net hartseer oor iets so moois wat sommer so gesterf het. En jy aanvaar jou aandeel daarin, want jy is ook nie volmaak nie.

En dan neem jy die eerste treë op ‘n onbekende pad …



After a while you learn
the subtle difference between
holding a hand and chaining a soul

And you learn that love doesn’t mean possession
And company doesn’t mean security

And you begin to learn that kisses aren’t contracts
And presents aren’t promises and you begin to accept
your defeats with your head up and your eyes ahead …

With the grace of an adult not the grief of a child.

And you learn to build your roads today
Because tomorrow’s ground is too uncertain for plans

And futures have ways of falling down in mid-flight…

After a while you learn that even sunshine
burns if you get too much so you plant your
own garden and decorate your own soul
instead of waiting for someone to bring you flowers.

And you learn that you really can endure
that you really are strong
And you really do have worth
And you learn
And you learn…

En voor iemand my weer stenig oor die ene, ek het nie ‘n idee wie dit geskryf het nie …

37 Responses so far »

  1. 2

    weglekind said,

    Dellie my hart voel stukkend saam met jou oor al die verlore dinge maar my hart is ook bly dat jy daar deur is en besef dat jy jou eie mens kan wees wat liefde kan gee en neem. Hoop net die beste vir jou op jou nuwe pad en moet nie worry nie jy loop hom nie alleen nie – daar is baie van ons wat saam met jou loop

  2. 3

    Gatvol said,

    Eina!
    Sterkte!

  3. 4

    demoerin said,

    Deur dit te deel, maak jy net die las ligter, want daar is altyd ander wat bereid sal wees om saam met jou te dra. Jy hoef dit nie alleen te doen nie.

  4. 5

    Savanha said,

    (((Dellie))) sterkte vir die paadjie vorentoe, ons is daar vir jou.

  5. 6

    Twilight said,

    Ai Dellie. Ek is jammer dat dit moes gebeur. Maar ek wens jou net die mooiste en net die beste…

  6. 7

    Basil said,

    Sterkte (((D))) My mens … mens se journey is reeds vir hom/haar uitgele. Slegs jy kan verder daai journey bepaal. En as jy by berge kom wat jy moet oor, sal ons gereed staan om jou hand te vat en jou oor daai berg te lei.

  7. 8

    Phibbie said,

    Sterkte en as jy skouer nodig het, jy weet waar om my te kry enige tyd

  8. 9

    koeksister said,

    (((Dels))) Sterkte vir jou

  9. 10

    Skoenlappr said,

    Dellie, jou storie het my so diep getref vanoggend. Ek kan sien dis ‘n hart-possie hierdie. Dis asof dit my storie ook is.

    Die eerste hekkie sal jy met moeite oorklouter, maar glo my, later spring jy so hoog oor daai volgende hekkie!

    Ons is baie lief vir jou, bel ons as jy net wil praat … ons sal luister.

  10. 11

    ekisanna said,

    (((Dellie))) Ek gee maar ‘n drukkie soos ek die ander dit sien doen, want woorde het ek nie, behalwe “Sterkte”.

  11. 12

    Ou Vriendin said,

    (((((((DELLIE))))))

    Die maak nogals vir MY erg sin… Fanks… 🙂

  12. 13

    Dis nie ‘n maklike pad om te stap nie, maar jy sal in een stuk anderkant uitkom.
    (((Dellie)))

  13. 15

    Eben said,

    Ai ai ai … wat kan ou Eben sê. Sterkte my vriendin. Ek dink aan, ek bid vir jou … hoekom is Welkom so ver … Jy het my kontak besonderhede jy weet waar om aan te klop, miskien het ek nie raad maar ek is daar. ((Dellie))

  14. 16

    Flintie said,

    Dellie, vriendin.

    Dis die derde keer wat ek die comment skryf want jou blog log my uit elke keer as ek alt 126 om ‘n “ê” te kry.

    Here goes,

    Ek is geneig om van alles ‘n grap te maak, maar voor dit kan gebeur moet mens eers deur die seer werk. Ek glo die ware lesse leer jy eers as jy kan terugdink en nie ten gronde gaan nie, maar glimlag. Glimlag oor wat goed was, en oor goeie tye.

    Voor dit kan gebeur moet jy eers die eina hê, en soms veroorsaak. Geen groei sonder pyn nie, dit loop hand aan hand. Jy het probeer vriendin. Ek is trots op jou dat jy beheer van jou lewe gevat het, baie vrouens sit in liefdelose huwelike, mens mans wat hulle nie meer ken nie, en het nie die moed om te doen wat jy gedoen het nie.

    Sterkte, voorspoed en geluk vir jou vriendin.

    Ps: Ek lees baie hier, maar comment min. En jy het gedink jy is ‘n stalker!

  15. 17

    Antie Koekie said,

    Ai Dellie, jou favourite Antie sê net vir jou: Sterkte. Dis ‘n pad wat ek al goed geloop het. 1 Dag het ek vir ‘n shrink gesê dat ek ‘n mislukking is omdat ek soveel keer geskei het— toe sê sy vir my: Nee, jy’s dapper genoeg om jouself te red, voordat jy as vrou tot niet gaan.
    Onthou die woorde op die poster van ‘n huilende nar: “Share with me my sadness, and I’ll share with you my joy.”

    Kom drink die naweek ‘n biker-koffietjie, Asseblief?

  16. 18

    Sharpshoot said,

    Delsch…. Liefde en sterkte…. nogsteeds en elke dag meer en meer.

  17. 19

    Koekie said,

    ((Dellie)) my maaitje. Dankie dat jy dit met ons gedeel het.

    Sterkte vorentoe, ek dink aan jou. Soos Sav en al die ander sê ons is hier vir jou!

    xx

  18. 20

    Pikkie said,

    ….ek was hier…. ((((((D))))))))

  19. 21

    Sonderwoorde said,

    Dellie, dis hel my mens. Ek is ook onlangs hierdeur. Het ook presies daardie maskertjie opgesit en net aangegaan met alledaagse lewe. Mens kan dit net vir so lank doen.
    Jy moet deur die seer werk. Voel dit, erken en aanvaar dit. Dan vergewe jy jouself. Stap tree vir tree, al is daardie treëtjie bewerig en baie stadig. Beweeg net vorentoe en hou jou Skepper se hand vas vir al wat jy werd is.
    Omring jouself deur sterk positiewe mense.
    Baie sterkte, hierdie is nie iets wat mens alleen aanpak nie. Gelukkig lyk dit asof jy ‘n magdom ondersteuning beleef. Maak daarvan gebruik, want dit gaan jou staande hou.
    X

  20. 22

    Betsieboop said,

    Delsch, Bets weet presies hoe ongelooflik moeilik dit steeds vir jou moet wees om hierdie besluit eerstens te neem en tweedens deur te voer.

    Daardie alleen wees terwyl jy saam met iemand is, is nie maklik om vir ander te verduidelik nie. Die hartseerste is dat jy ietsie van jouself verloor het en dan wakker word en wonder — was dit ek of was dit omstandighede?

    Maak vrede met wie Delsch is. Embrace vir Delsch. Kyk vir Delsch in die oë en leef die lewe my mens. Jy stap op hierdie aarde net eenkeer.

    Maklik gaan hierdie paadjie nie wees nie, maar Delschie weet dat Bets luv u longtime my vriendin.

    (((delsch)))

    ps. ek is trots op jou wat hierdie ongelooflike moeilike alleen besluit geneem het

  21. 23

    Charms said,

    Dis die eerste possie wat ek van jou lees en toe tref dit my tussen die blaaie – dis dalk die paadjie wat ek moet stap om weer “sane” te wees. Met al jou vriende se ondersteuning sal jy wel anderkant uitkom. Sterkte.

  22. 24

    Vlam said,

    Dis crappy, dis tough, maar jy’s ‘n sterk meisie en jou kop is mooi aangeskroef. En jy’t tonne vriende wat jou gaan optel as jy dink dit raak te erg. 😉

    Sterkte.
    x

  23. 25

    eelt said,

    Sterkte Dellie, jy is dapper om die stap te neem. Ek wens jou krag toe, en hoop jy vind dit om weer liefgehê te word.

  24. 26

    Flintie said,

    Dellie, weet jy hoe sad maak daardie prentjie my?

    Jy moet sterk staan vriendin.

  25. 27

    Elma said,

    Dellie

    Is vir my hartseer dat uit 26 comments nie een is wat jou aanraai om mooi te dink oor wat jy doen nie. Gooi my maar met klippe maar ek gaan jou vra om 2 keer te dink oor wat jy doen…

    Wat van jou belofte aan God dat jy hierdie mens wat Hy vir jou gegee het en wat jy belowe het jy sal oppas, troetel, liefhe tot die dood julle skei…?
    Gaan jy eendag vir die Here se: o well ek het hom liefgehad maar erens langs die pad het dinge verander. Ons het met mekaar baklei, mekaar verneder en afgebreek en nou wil ek hom nie meer he nie…

    Kry vir jou die DVD en boek – FIREPROOF, Doen wat jy moet en kyk asb of dit nie wil of kan uitwerk nie. Skei is nie ‘n oplossing nie… Is net 40 dae se opoffering, doen dit ASB!!!

    • 28

      Vlam said,

      Elma, ek dink nie vir een oomblik Dellie het net eendag besluit sy is ‘moeg’ vir haar man nie. Soms speel ander faktore, waaroor jy geen beheer het nie, ook ‘n rol. 😉

  26. 29

    Elma said,

    Jammer ek het dalk te gou gepraat vanoggend. Is omdat ons nou self skeisake in die familie het wat dit ekstra seer maak.

    Dellie jy alleen weet wat is die regte ding om te doen.

    Ek bid saam met jou dat jy die regte besluit sal neem…

    Sterkte

  27. 30

    Dellie said,

    Baie dankie vir julle almal se ondersteuning. Julle dra my eintlik al so lank, sonder dat julle dit geweet het. I love you’s longtime 😉

    Elma, ons het rerig nie net een oggend opgestaan en besluit ons is nou lus v bietjie opwinding, kom ons skei nie. Daar is baie faktore wat bygedra het om ons tot op hierdie punt te bring. Ek wil net nie al die details so blatant deel nie. En ja, daai belofte wat ek afgelê het, spook nogsteeds by my. Maar glo my – ons het probeer – nie net vir 40 dae nie – vir meer as 2 jaar. Erens moet die streep getrek word. Ons is albei besig om emosioneel dood te gaan.

    Byna 20 jaar was magic – en ek sal dit alles in ‘n oogwink weer oordoen. Maar mens kan ook nie ‘n dooie perd ry nie …

  28. 31

    Smurfi said,

    Dellie,

    Dit is so hartseer Dellie, maar weet net dat daar soveel gevalle is waar man en vrou sielsongelukkig saam woon, dit is eintlik hel om so saam te bly en tog so verskriklik alleen te voel, geen mens is gemaak om eensaam en verstote te voel veral terwyl jy nog in die huwelik is nie. elkeen soek tog daardie maat saam met wie jy kan lag, speel, huil, lekker gesels en drukkies, daardie een persoon wat jy jou hele lewe aan toe vertrou. “lewens MAAT” deur alles. As dit nie werk nie dan is dit beter om heel op jou eie soms eensaam te voel as om elke dag daarin vas te kyk en elke dag oor en oor daardie pyn te ervaar, as dinge nie werk nie en nooit weer sal werk nie, glo ek julle het reg besluit en met tyd sal die rou wonde tog genees al lyk dit nou so vreeslik moeilik .

    Dellie jy het baie vriende, en ek glo daardie spesiaale vriend wat op jou pad sal kom sal die een wees wat jou weer sal laat lag en al daardie liefde wat jy nog in jou het opreg sal waardeer, iewers gaan hy jou lewenspad kom kruis, soms op ‘n vreemde wyse sal jy gestuur word in ‘n rigting waar julle mekaar sal ontmoet. Soms staan mens vertom hoe paaie soveel jare kan vat voordat hulle uiteindelik kruis en dan is jy eers op die werklike regte pad.

    ((((((drukkie)))))

  29. 32

    boervrou said,

    Hi Dellie my Pellie. Mens is so gewoond jy is die “life of the party’, dis ‘n skok om sulke emosies uit ons grapjas te hoor. Maar dit ruk mens half terug realiteit toe, alles is NIE ‘n party nie! Die lewe is soms rof en sonder maniere as dit by ons harte kom.

    Waarom gaan ons aan as dinge swaar gaan? Want more kom die son weer op, en God stuur ‘n nuwe dag, en die see,spoel die hartseer weg!

    Ai dit klink nou corny..maar delsie vasbyt maikie

  30. 33

    vissieindiewater said,

    ((Dels)) Sjoe girl, sterkte…..when one door closes 2 others open. Sterk wees !!

  31. 34

    Kadoes said,

    Ai toggie Dellie – ek lees hierdie eers nou..

    Ek weet presies hoe jy voel … ek en my eerste man was amper 20 jaar saam vandat ons begin uitgaan het tot ons geskei is. Maar die laaste 3 het ons al geweet ons is eintlik alleen, maar het maar aangegaan so .. tot eendag het ek opgestaan en geweet nie een van ons verdien dit nie. Dit was nie maklik nie en die proses was pynlik maar die uiteinde was belonend vir menslike selfrespek wat deur die jare afgetakel was.

    In my hart het ek jou beny omdat julle so gelukkig geklink het .. maar so ook het mense ons destyds beny en min het geweet wat agter die toe deure aangaan.

    Ek dink aan jou ….

  32. 35

    Gigi said,

    Ai (((((Dels))))), ek dra julle altwee op aan Onse Hemelse Vader, dat ook hier waar julle paadjies na soveel jare skei, julle altyd die mooi sal onthou en mekaar ‘n nuwe begin sal toewens, en dat as al die pyn en hartseer oor is na mekaar kan kyk as jare- lange vriende! Alles van die beste!

  33. 36

    Tersia said,

    Sterkte girl!
    Ek ken daardie seer….flip!
    Ek gaan elke dag op my kniee en se dankie dat my man se oe oop gegaan het…. ons is nou weer in ‘n nuwe fase, ‘n ander fase, maar na alles is dit, glo my steeds harde werk! As die eenvoudige sekretaresse net haar goed wil vat en uit die kantoor uit padgee! Vertroue en vergifnis is groot, groot woorde!!

  34. 37

    Tersia said,

    Ek dink aanmekaar aan jou! Hoop dit gaan goed!


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar op Phibbie Kanselleer antwoord