STORIEMONSTER – Episode 2

September 1995

Die klas mor en kerm rebels, as Brian Cartwright hulle take uitgee. Hy glimlag by homself. Dit sal darem seker meer as die helfte van hierdie bloedjies, se lentevakansies goed opneuk.

Brian is ‘n natuurwetenskap onderwyser in Nelspruit. ‘n Bleeksiel van ‘n man. Melkwit gelaatstrekke, met die opmerklike kraters en gleuwe, wat getuig van ‘n moeilike tienerlewe onder aknee.

Onderwys was nie sy roeping nie. Onderwys is nie sy passie nie. Onderwys sit kos op sy tafel, en koop elke tweede maand vir die lui teef by die huis, ‘n paar skoene. Brian Cartwright, is nie dom nie. Hy is lui. Soms, ‘n dromer. Hy is ‘n niks, en met sy bleddie midlife crisis wat soos ‘n donderwolk op die horison lê, is hy ‘n ewige pessimis. Die lewe is kak, en dit gaan nie verskriklik gou beter word nie. Tot Brian Cartwright sy budget Hyundai Accent, met die stoute olierokie, een Woensdagmiddag by die Engen vulstasie in sentraal Nelspruit inworstel.

Die groot vierwiel aangedrewe nuts voertuig, storm rats verby die verbleikte karretjie, waar Brian sit en peusel aan ‘n kas lietsjies. Hy het moer min plesiertjies. Lietsjies is een van hulle. Hy laat peul nog een van die vrugte in sy mond in. Hy sien hoe die amper filmster mooi jong vrou agter die stuur uitklim, en ‘n ewe mooi jong man flink anderkant om die groot voertuig draf.

Dan begin hulle die luikrug uitpak. Tasse, en sakke, gholfstokke, en ‘n oefenapparaat. Brian is ‘n afgewaterde wetenskaplike. Hy druk die stophorlosie op sy nuwe selfoon, as hulle die spaarwiel uitrek. Die jong man beur die groot band uit die gat in die vloer, en rol dit na die lugdruk pomp toe. Brian druk weer die stophorlosie, as die terugpak begin. Dit het hierdie mense negentien minute van hul lewens gekos, om ‘n spaarwiel se druk te bepaal. What a waste.

Hy klim uit, en stap oor na die groot voertuig toe. Hy sien die pompjoggie versigtig die vuller uittrek. Brian kyk na die ontwerp om die vuller, hel dit sal so maklik wees.

//

Brian krap die rowwe potloodskets vir die vierde keer dood. Die moeilikheid is die toevoerpyp van die klep af in die spaarwiel, na die kleppie vir die pomp in die vullerdeksel. Omrede die spaarwiel gewoonlik so laag sit, sal die pyp moet doelgemaak word vir elke voertuig.

Net na middernag, het Brian ‘n ontwerp wat werk vir hom. Vroeg die Saterdagmore, is hy by HiSense bande in die dorp. Die voorman, is ‘n hulpvaardige jong knaap, wat vroeër een van sy studente was.

‘Riaan, as ek ‘n pyp wil hê wat wind en weer kan weerstaan, en tog hoog genoeg druk kan vat, om sê ‘n band te kan oppomp…wat sal jy voorstel?’ vra hy die seun.

‘Definitief vlekvrye staal, meneer.’ en die mannetjie bedoel die “meneer” nog as ‘n onderwyser “meneer”. Brian laat hom begaan.

‘Dit sal roes en vuilgoed weerstaan, omdat dit ‘n vlekvrye staal omhulsel het, en sodoende die gewone hoe-druk pyp binne, sal beskerm.’

‘Waar kan ek so iets kry?’ vra Brian.

‘Hydraulic plekke, meneer.”

//

Die daaropvolgende week, ontwerp Brian ‘n netjiese stelsel, wat op enige voertuig gepas kan word, wat jou toelaat om jou spaarwiel se druk te kan nagaan, sonder om jou hele kattebak te hoef uitpak. Brian is dalk lui, maar hy is nie stupid nie. Hy registreer ‘n patent, en met die bietjie spaargeld wat hy het, bou hy twintig van die stelsels, en hy open ‘n klein webtuiste, met ‘n advertensie.

Hy verkoop al twintig binne die eerste week. Hy gebruik die winste, en bou veertig. Weereens verkoop dit soos soetkoek. Die bal was aan die rol.

//

Sy deurbraak kom ses maande later. Hy ontvang ‘n E-pos van Duitsland af. Ene Dr Randall Greybe. Van ‘n reuse duitse motorvervaardiger. Hulle wil die patent koop. Brian sit een Sondag middag en herkou aan die voorstel, en op die ingewing van die oomblik, vra hy vir hulle om ‘n aanbod te maak.

Twee weke later kom die niksbeduidende E-pos terug……

Brian Cartwright se skip het ingekom. Hulle bied hom twaalf miljoen Euros aan. Brian Cartwright gryp dit met beide hande.

Word vervolg … 

Lewer kommentaar