STORIEMONSTER – Episode 4

MAART 2010

Die ingang na die groot kouestoor in die hartjie van Alrode, is ‘n miernes van vragmotors en werkers wat soos hoenders met af koppe rondhardloop. Marius vd Berg druk die toeter van die BMW verergd, en beduie vir die plaaslorrie met die aartappels op, en die drywer daarvan wat lyk asof hy dalk net-net ouer as die lorrie kan wees, om pad te gee. Nie dat dit vreeslik sal help nie, want reg voor dit, staan die hele gang vol koelkas vragmotors.

Hulle fok weer rond daar agter by die afvalaanleg, dink hy geirriteerd. Die ou plaastrokkie, gee rokend en met groot moeite vir hom ‘n klein gaping, en hy stuur die BMW behendig daardeur. Daar is net-net genoeg spasie vir hom in die gang om die motor deur te wriemel, en dan parkeer hy onder die skadunet, in die parkering met sy motor se registrasie nommer.

Hy klim befoeterd uit, en stap oor na die viertal vullisvragmotors wat slordig die hele wêreld vol parkeer staan. Hy skree, en vloek en beduie vir die beste deel van ‘n uur om die verkeersknoop om hom, uit te sorteer. Uiteindelik beweeg die eerste koelkaste in hulle ge-allokeerde spasies in. Sy dag kan begin.

//

Same shit, different day, dink Marius as hy deur die tientalle E-poste gaan. Dit is daardie tyd van die jaar. Sy kliente vervaardig voedsel. Hoender, vis, roomys, muffins, pasteie en kaas. Sy stoor is ‘n potpourri van eetgoed. Sy koelkamer tot barstens toe vol. Die publiek het nie geld nie. Hulle herstel nog van die Desember feestyd, en hulle spandeer oordeelkundig. Sy kliente produseer onverpoos voort, en hy wat Marius is, sit met die gebakte pêre. Hy het absoluut nog tweehonderd palletspasies oop. Dit is dit. Te oordeel aan die vragmotors wat buite toet, en naarstigtelik probeer om mekaar mis te ry, blyk niemand om te gee nie.

Hy vee oor sy oë, en sy gedagtes gaan terug na meer vreugdevolle herinneringe van die afgelope naweek. Hy en Heleen Bosch het getrek. Uiteindelik het hulle hul eie plek. Fine, dis nou nie ‘n mansion nie, maar dit behoort aan hulle. Die ongesproke kontrak tussen hom en die blou-oog meisie, is al amper ‘n jaar oud. Trou, is genadiglik nog nooit genoem nie, maar hulle is lief vir mekaar. Marius glimlag as hy aan haar dink. Die hupse lyfie, die vlymskerp brein, verpak in ‘n sexy brunet met die mooiste tiete wat hy nog aan ‘n lewende wese gesien het. Oeeef, en die seks. Hy voel ‘n reaksie, en hy kyk skuldig om hom rond in die kantoor.

Wiese is te besig om die palletrekening te probeer uitsorteer, en Ighbal Dawood, wat die vermoeë het om dwarsdeur enige mondering te sien, is genadiglik besig om die allokasies te hersien. Marius verstel sy bloeddruk, en beur weer terug in die E-poste in.

Net as hy sy konsentrasie weer op dreef het, lui sy selfoon skril.

‘V.d Berg,’ antwoord hy die klein foontjie, en knyp dit met sy skouer teen sy oor vas.

‘Meneer vd Berg,’ kom die diep stem ‘ek is Jacques Martinaglia, en ek is die eksekuteur van u oom se boedel, goeie môre.’ Marius luister skielik met meer aandag.

‘My oom se boedel?’ vra hy onseker. Om te groet ontgaan hom heeltemal.

‘Dit is korrek,’ sê die man saaklik, en vervolg, ‘ek het sekere dokumente hier wat u sal moet kom teken. U is die enigste bevoordeelde uit die boedel, so sodra dit vir u gelee is, sal u my moet kom sien.’

Marius krap in sy brein rond. Hulle is nie ‘n vreeslike groot familie nie. Hy weet sy pa het ‘n broer gehad, en sy ma ook ‘n enkele broer. Hulle is ook nie ‘n hegte familie nie, en hy kan nie onthou dat hy enige ooms het, wat aan hom sou geld bemaak het nie. Hy frons. Sy pa is al jare dood, en sy ma, alhoewel ‘n ekstrovert, het hy het seker die beste deel van twee maande laas met haar gepraat. Hy het definitief ook nie nuus gekry van slegte tyding nie. Weird.

‘Ummmm, ek wil nou nie stupid klink nie meneer Martinaglia, maar ek’t geen idee waarvan u praat nie, is u seker u het die regte Marius vd Berg?’ vra Marius onseker.

Die man herhaal Marius se ID nommer, plek van geboorte en name van naasbestaandes, foutloos. Daar is geen twyfel nie…. hy het die regte Marius vd Berg.

‘Goed meneer, het ek darem ryk geërf?’ skerts Marius.

Die stem aan die ander kant bly plat en emosieloos.

‘U sal my moet kom sien’. Die man gee sy besonderhede vir Marius, en sit die foon neer.

Sy kantoorfoon lui, en tien minute later is Marius so besig, dat hy heeltemal vergeet van boedels en afgestorwe ooms.

//

Die eerste keer wat hy weer onthou, is aan etenstafel.

‘Hey, daar het ‘n moerse snaakse ding vandag gebeur. Shit, ekt vergeet daarvan’ sê hy vir Heleen. Sy trek haar wenkbroue net op,en sy druk nog ‘n aartappel in haar mond.

‘Dalk is ons skatryk, en ons weet dit nie eers nie. My oom is dood, en ek is die enigste erfgenaam.’

‘Wel, skat, ons sal beide dalk iets moet erf. Ons het ongoddelike hoeveelhede skuld na die grappie.’ sê Heleen, en beduie in die algemene rigting van die huis om hulle.

‘Ek is eintlik n bietjie loopmagie. Ons vat ‘n moerse kans.’

Marius weet maar te goed. Hulle sal seker cope, maar as die TV breek, het hulle net moeilikheid. Beide van hulle se inkomste word net so terug gestuur bank toe elke maand. Na kos en petrol en een keer se uiteet, is dit klaar. Single ply kakpapier, dink Marius grimmig.

‘Ok ok,’ stuur hy die gesprek weg ‘ek moet my ma bel, want ek het geen idee wie hierdie oom was nie, en more sal ek ‘n afspraak maak by die eksekuteur, sodat ons kan sien wat’s wat.’

‘Eks nuuskierig’ por Heleen hom aan ‘bel haar gou, want eks jags ook. Ek soek jou lyf na ete, groot seun…. toe-toe, bel haar.’ Nog ‘n aartappel verdwyn… skalks dié keer, tong en tande en ‘n onderlangse kyk is betrokke.

Marius giggel vir haar. Dit is nou darem een girl, wat nie n moordkuil van haar hart maak nie. Hy staan op, en gaan haal sy selfoon uit sy aktetas. Hy skakel oppad terug eetkamer toe, solank die nommer.

Dit lui vier keer, en dan is die opgewonde stem van Ingrid van der Berg aan die ander kant.

‘Hallo my seun! Ek sê net vanmiddag vir my vriendinne, dat ek wonder of jy nog lewe.’

Soos altyd, borrelend, lewendig. Soms voel Marius hy mis iets.

‘Hey ma, hoe gaan dit?’

‘Altyd piekfyn, my skat, en met jou?’

‘Baie goed, ma moet kom kuier.’

Heleen stamp hom met die elmboog, en maak grootoog vir hom. Vir Marius is dit altyd hartseer dat die eindelike generasiegaping tussen ouers en kind, meestal nie oorbrug kan word nie.

‘Ma’ val hy met die deur in die huis ‘ek hoor daar is dood in die familie, hoekom weet ek nie daarvan nie?’

Sy ma bly ‘n ruk stil, dan kom die stem heelwat minder opgeruimd terug.

‘Waarvan praat jy?’

‘Ek het blykbaar geërf by my oom. So vêr ek weet is dit net oom Boetie, ma se broer, en as ek reg onthou, oom Renier, pa se broer. As ma nie weet nie, is dit seker oom Renier.’

Dit is stil op die anderkant van die lyn. Marius verbeel hom hy hoor sy ma se asem uitblaas. Bewend, geskok.

‘Ag nee. Nee, nee nee’ Sy ma se stem breek, en Marius ken haar nie as die melodramatiese tipe nie.

‘Is ma ok?’

‘Ek moet gaan’ sê sy skielik, en sonder waarskuwing klik die foon dood.

Dit was fokken akward, dink Marius. Hy sit ‘n ruk met die foon is sy hand, en Heleen sit vraend vir hom en kyk.

‘Dit het ek nou nie verwag nie. Sy klink regtig ontsteld.. Ek sal more die ou gaan sien.’

Skielik is Marius nie in ‘n skalkse bui nie.

Word vervolg … 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: