STORIEMONSTER – Episode 5

Die enorme glas gebou in sentraal Johannesburg, het ‘n tekort aan parkering. Marius stoei deur toetende taxis en dubbel geparkeerde motors, en kry eers parkering amper ‘n blok weg. Hy stap haastig terug.

Die informasiebord in die voorportaal toon aan dat die Martinaglia kantore op die twaalfde vloer is. As hy uit die hysbak klim, is die kantore reg voor hom, die naam sierlik en smaakvol op die getinte vensters van ‘n reuse skuifdeur. Die ontvangsdame is vriendelik, en stokoud.

‘Kan ek u help, meneer?’ kraak sy.

‘Ek het ‘n afspraak met meneer Martinaglia, my naam is Marius vd Berg’

‘Natuurlik, hy verwag u.’ Sy tel ‘n gehoorbuis op, en mompel vinnig iets, en dan beduie sy hom na die man se kantoor toe.

//

Jacques Martinaglia is in sy vroeë dertigs. Gemiddelde bou en lengte. Die gesig oop, die oë besonder skerp en intelligent. Die kraaispore om dit getuig van ‘n man wat nie skaam is om te lag nie. Die handruk is ferm. Die hand droog.

‘Sit gerus, meneer van der Berg’ sê hy en beduie Marius in ‘n gerieflike leerstoel in.

‘Jong, meneer van der Berg, is cumbersome. Noem my sommer Marius.’

‘Marius dan, ek is Jacques’ sê hy, en hy draai om en trek die laai van ‘n groot liaseerkabinet oop.

As hy agter sy lessenaar inskuif, sit hy ‘n swart dunraam brilletjie op, en skuif ‘n enkel vel papier reg voor hom.

‘Die boedel van Renier van der Berg.’

Hy kyk na Marius, en as hy doodstil bly, vervat die prokureur:

‘Die perseel in Kensington, en die voertuig, ‘n klein bedrag geld, en hierdie sleutel, en natuurlik die inhoud van die kluis wat hierdie sleutel oopsluit, is alles aan jou bemaak.’

‘Hoeveel geld?’ wil Marius dadelik weet, en die prokureur glimlag.

‘Jong, nie veel nie, ek’s bevrees, so twintig duisend rand. Die huis is egter baie geld teen geleen. So jy sal dit moet dek.’

Marius se moed sak in sy skoene.

‘Hoeveel geld?’ vra hy swaarmoedig.

‘Half miljoen’ sê die prokureur asof dit kleingeld is.

‘Ag my fok, ek het dit nodig soos ‘n skoot in die kop.’ kreun Marius.

‘Jong, jy sal moet gaan praat met die bank wat sy geldsake hanteer het. Al die besonderhede is hier. Dit is snaaks, hy was ‘n welaf man gewees.’ Hy gee die vel papier aan vir Marius. Daar is ‘n adres van die huis op, en die sleutel, is ‘n veiliheidskluisie op Oliver Tambo lughawe, en die naam van sy oom se bankbestuurder.

‘Was gewees, gaan my nou regtig nie help nie. Was jy sy prokureur?’

‘Ek was ja, en die vyf jaar wat ek sy sake behartig het, was ek sterk onder die indruk dat hy ‘n welgestelde man was.’ Jacques sit met ‘n fronsie en kyk na Marius.

‘Ek sal n draai gaan gooi by die bank’ sê Marius finaal. Hy nuttig ‘n koppie ongelooflike sterk aromatiese koffie saam met die prokureur, en die idee wat Marius kry, is dat die vriendelike prokureur bitter min weet van sy oom. Hy bedank die man, en buite stamp die hitte hom kru in die gesig.

//

Marius kyk na die chaos om hom. Die bankgebou is ‘n skamele twee blokke weg, hy gaan nie bodder met parkering nie. Hy besluit om te stap.
Herman de Necker, kondig die naambordjie op sy lessenaar die seningrige draadmannetjie aan. Hy beduie vir Marius om te sit, en dan praat hy met ‘n stem wat heeltemal te diep is, vir die klein lyfie:

‘Ek het u so half verwag, meneer Van der Berg. My innige simpatie, natuurlik.’

Die man het uitpeul oë. Waterig en sy gelaatskleur is grys, en laat hom amper siek voorkom. Toe die man die woorde uiter, tref dit Marius dat hy nog nie weet hoe sy oom dood is nie. Op die ingewing van die oomblik, vra hy die man voor hom:

‘Dankie meneer. Ons was nie ‘n vreeslike hegte familie nie. U moet verstaan dat ek nooit hierdie man in my volwasse lewe geken het nie. Ek dink nie ek het hom ooit ontmoet nie, om die waarheid te sê, en met die harwar van die boedel, het ek nooit eers probeer uitvind wat die man oorgekom het nie.’

Marius merk die trek om die man se mondhoeke.Afkeuring dalk? Hy sien ook die effense ongemak in die man se lyftaal. Dan kyk hy Marius in die oë, en sê:

‘ U oom het selfmoord gepleeg, meneer. Hy het homself geskiet.’

Marius staar net geskok na die man. Dit het hy nie verwag nie.

‘Die details sal u seker by die polisie kan kry’ gaan die bankbestuurder aan ‘maar ek is seker, u het nie na my toe gekom, net om daardie brokkie informasie te kry nie.’
Die man tik-tik met sy vinger op die blink gepolieerde lessenaarblad voor hom. Asof hy haastig is.

‘Natuurlik nie, nee. Meneer de Necker, ek is nie ‘n ryk man nie. Ek sou net graag wil weet, in watter tipe finansieële verknorsing ek my nou bevind?’

‘Wel, u oom was likied. Hy het minder as tien jaar terug, oor die sewentig miljoen rand se waarde gehad hier by ons. Dit sluit uit aandele en sekere ander beleggings wat hy in sy portefielje gehad het. Twee jaar gelede, het hy groot somme geld begin onttrek. Ek praat van etlike honderde duisend rand op ‘n slag. Eers het dit ons nie gepla nie, maar met die ekonomiese ineenstort oorkant die water, en sy skielike lenings teen sy woning, het ons begin ondersoek instel.’ Hy vroetel in ‘n goue sigaretdosie, en haal ‘n sigaret uit.

Marius sit net grootoog en kyk vir hom. Die bedrae wat die man rondstrooi soos goedkoop hoenderkos, laat hom skoon duiselig voel. Marius het ‘n gevoel in sy water, die skatting wat die prokureur gemaak het, gaan fokken kleingeld wees.

‘Ok, so, wat is die verband op die huis?’

‘Vyfhonderd en tagtig duisend.’ Reguit, droog, asof dit kerk kollekte geldjies is. Hy blaas ‘n groot bol blou sigaretrook plafon se kant toe. Dan tik die vinger weer.

‘Dit is geld wat ek nie het nie,’ mymer Marius, en hy laat sak sy skouers moedeloos, ‘wat is die huis werd?’

‘Meneer, dit is ‘n pragtige ou huis, in ‘n gesogte area. U sal dit lag-lag kan verkoop vir drie miljoen. Daar is baie min ongemolesteerde ou huise oor in Kensington. Met ‘n bietjie opknap, kyk u na nader aan vyf miljoen.’

Marius vlieg orent. Nou praat die man sy taal. Die klein mannetjie vervolg egter:

‘Soos ek gesê het, ons het ondersoek ingestel na u oom se geldsake, en dit lees soos ‘n storieboek. Letterlik.’ Hy bly dramaties stil. As Marius net sy wenkbroue optrek, vervat hy:

‘Jou oom het ‘n boekversameling, meneer Van der Berg. Die waarde daarvan het ek ‘n kenner laat ontleed.’ Hy draai die skerm van ‘n skootrekenaar na Marius toe, en hy tik oor die klawers. ‘n Verslag pryk op die klein skermpie. Marius staar hom vraend aan.

‘Boeke?’

‘Dit is korrek, boeke. Waar die versameling is, sal ek nie weet nie. Dit behoort in elk geval ook aan jou, so as jy dit kan kry, en verkoop, meneer Van der Berg, werk jy nooit weer nie. Die waarde word geskat op driehonderd miljoen rand.’

Word vervolg … 

1 Response so far »

  1. 1

    madaleine martinaglia said,

    Hoe toevallig my seun is ook Jacques Martinaglia en hy swot ook regte


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: