STORIEMONSTER – Episode 6

Januarie 2010

Jack Matthysen se Bentley Continental GT gly geruisloos in die helder verligte straat op. Hy sien die sekuriteitsvoertuig van die maatskappy wat omsien na die belange van die inwoners van hierdie eksklusiewe privaat buurt, omring deur die Ebotse gholfbaan, stadig sy patrollie doen. Hy sit sy dakliggie aan, en gee die bestuurder ‘n tweevinger saluut, en die man flits vinnig die oranje rotasielig op die dak.

Jack swaai by die breë oprit in, en druk sy hek se afstandbeheer. Die massiewe gekartelde ysterhekke swaai geruisloos oop, en die helder verligte oprit vloei op na ‘n pragtige dubbelverdieping huis. Hy stop die voertuig onder die dak, wat gestut word deur twaalf reuse sement pilare, reg voor die voordeur. Hy wonder waar die donnerse butler is. Die man staan gewoonlik al reg as hy hier bo kom. Hy gaan definitief nie die kar self bêre nie. Hy klim geirriteerd uit, en as hy self moet sukkel met ‘n sleutel om sy voordeur oop te maak, raak hy net meer beduiweld. Waar is die fo…… Hy voel skielik die brandpyn in sy nek. Die laaste gedagte wat deur sy kop gaan, is LILITH. Hy sien flietend, voor hy sy bewussyn verloor, die donker figuur sweef voor hom. Hy het gehoop hy het nog tyd gehad. Dan val hy vooroor.

//

Speurder-sersant Martin Marx is besig om vleis te braai. Hy klingel die ys in die glas skoon Coke, en hy kan die fokken bier in sy pel se glas ruik. Herman Immelman, is heeltemal onbewus van die reuk van sy bier. Die stuk vleis wat lê en sis en spoeg, het meer sy belangstelling. Hy is honger. Soos ou vriende, hoef hulle nie te vreeslik te praat nie. Die samesyn is meer belangrik.

Martin Marx is al vyf jaar droog. Vyf jaar…. en steeds lok die bruin vloeistof wat so onskuldig vrolik borrel en skuim in die glas hom. Hy het hom destyds in ‘n rekord tyd uit sy vrou, en meeste van sy familie en al sy pelle uitgesuip. Wat seker nie ‘n te kak uitkoms was nie, dink hy grimmig. Kyk nou watse reuse rol red tape moes Herman deurgaan vanmiddag…. net om ‘n vleisie te kan kom braai vannaand.

Hy het ophou drink, vir homself, en vir sy werk. Vir die vrou in die rystoel. As hy heeltemal nugter was, sou hy die sneller getrek het? Hy het die fluisterstemme en die beskuldigende kyke in die gange destyds opgemerk. Hulle was te bang om hom te nader….. maar die grapevine was alive and well. Hy het ophou drink want soms was hy uit beheer uit. Hy het Viv geklap, en sy het geloop. Hy het inderdaad verskeie mense geklap, en die verkeerde kant van die tralies was sy voorland. In baie opsigte, was sy omkeer te laat. Promosie was skitterend in hul afwesigheid, en gunstige verwysings ook. Martin Marx het ‘n stigma gehad. Een wat hy aan homself laat kleef het.

As hy die twee reuse biefstukke behendig omdraai, en die vuur gulsig na hulle lek, lui sy selfoon. Hy en Herman kyk betekenisvol vir mekaar. As hulle nou vannaand niks gereël het nie, sou die donnerse foon ook nie gelui het nie. Martin vloek binnesmonds, en haal die foon uit sy gordel uit.

‘Marx!’ blaf hy.

‘Sarge, its Sargeant Nruli here. We have a situation’

Jissis, dink hy wrang, dit beter die moeite werd wees.

‘Carry on sergeant.’ por hy die temerige man aan.

‘We have a murder on our hands. I did notify Warrant Officer du Preez, but the Brigadier got wind of it, and she wants you there. I guess she will phone you shortly.’

‘Thank you sergeant.’ sê Martin, en sukkel om die irritasie uit sy stem te hou. Dit moet ‘n groterige vis wees, as die brigadier tussenbeide tree. Hy ken vir Du Preez. Die mannetjie is groen, maar ambisieus. ‘n Pyn in die gat, om die waarheid te sê. Hoekom die brigadier Martin daar wil hê, is vir hom ‘n duistere saak. Du Preez, is baie hongerder as hy, en promosie is sy fokken middelnaam. Weird. Hy kyk amper half skuldig na Herman.

‘Kyk, eks nou nie ‘n suksesvolle entrepeneur soos jy nie, ek werk vir ‘n salaris, en ek moet nou fokkof. Sorry boet. Braai klaar, en sluit as jy waai. Gooi die sleutel in die posbus.’

Herman knik net, en Martin vee haastig sy hande skoon.

//

Hy hoef nie te lank te wag vir die groot oproep nie. Die Brigadier is saaklik, haar stemtoon streng.

‘Inspekteur, jy het destyds die saak met die heksekring hier in die dorp, hanteer. Ek het met Luitenant Du Preez gepraat, en aangesien jy meer kennis het van die okulte, stel ek voor jy lei die ondersoek.’

‘Okulte?’ Martin wonder wat de fok die vrou gerook het. Dit was ‘n klomp tienermeisies wat ‘n kat geslag het in Northmead Mall se parkeerterrein.

‘Kry jouself net daar Inspekteur’ Sy gee hom ‘n adres, en ‘n naam……..wat vaagweg iewers ‘n geroeste klokkie lui, en dan sit sy die foon onseremonieel in sy oor neer.

As hy voor die hek stop wat meer as sy kar kos, druk hy geirriteerd op die hoeter. Hy gaan nie uitklim om‘n donnerse klokkie te druk nie. Dit werk, die hek skuif oop.

Daar staan vier voertuie voor die huis, waarvan die vleiswa seker die belangrikste is. Hy kyk op na die uitspansel wat dowwerig vir hom flikker. Heerlike aand om op jou moer te kry. Hy sug en stap nader.

Luitenant Du Preez sien hom, en kom openlik vyandig nader. Hy sal nie veel sê nie. Martin se reputasie loop hom vooruit. Du Preez het triomf in gedagte, nie traksie nie.

‘Naand Sersant.’ Hy rek die woord uit, want effektief is hy n hoër rang. Martin is nie lus vir voedselketting speel nie, en hy knik net sy kop.

‘Watse lucky packet het ons hier?’ wil hy droog weet. Hy sien dadelik die bebloede muur langs die voordeur. Snaakse spreipatroon. Die hoeveelheid dowwe stukkies tussen die bloed, beteken die ou onder die kombers, is taamlik opgefok.

‘Weirdste moord wat ek in ‘n lang tyd gesien het.’ Martin wil nog spot oor die “lang tyd”, die klein doos is nog net twee jaar in die mag. Lang tyd se moer. Hy bedink hom egter. Hy trek net sy wenkbroue op.

Du Preez haal versigtig die blink laken van die lyk af. Die groot man onder dit, ontbreek die helfte van sy gesig. Wat dit grotesk maak, is die feit dat die oë en tong na buite toe uitgeskiet is. Nie die gewone groot kaliber in die gesig, agterkop flenters besigheid nie. In die gapende mond, is donker stukkies te sien. So ook op die vloer om die kop. Dan sien Martin dat die man se broek op sy knieë is. Eenkant, effens weg van die lyk af, staan ‘n klein gasbotteltjie. Aan dit gekoppel, is ‘n warboel pypies, en ‘n suurstofmasker.

As Martin om die lyk beweeg, sien hy skielik die swart kol tussen die wange van die man se kaal boude. Hy frons.

‘Dis reg Sersant, iemand het ‘n kannon in sy gat gedruk, en die sneller getrek.’

‘Fokken hel!’ is al wat Martin uitkry.

‘Die vrou en die hofknapie sit daar binne, hulle is ook taamlik moertoe. Die moordenaar het hulle verdoof met pyltjies. Iets soos wat die natuurbewaarders gebruik. Kleinerige elf milimeter 5cc jobbies.’

‘Ok, run it by me, wie was die ou? En wat de dooie donner is ‘n hofknapie?’

‘Jack Matthysen. Selfgemaakte miljoener.’ Du Preez kyk langs sy neus op na Martin. ‘n Hofknapie…. ek weet nie wat is ‘n ‘butler’ in afrikaans nie.’

‘Hoekom lui dit ‘n klokkie?’ ignoreer Martin die snobisme.

‘Daar was ‘n televisie program lokaal, wat ‘n dokumenter gemaak het oor mense soos hy. Mense wat met moerse luck, skatryk geword het. Ummmm, ek dink dit was so twee jaar terug, of wat. Was op M-Net. Reality stront.’ sê Du Preez.

‘Ah,’ is al wat Martin kwytraak. Hy het nie ‘n TV nie. Soos dit met alle stories gaan oor mense wat bitter vinnig en bitter maklik groot hoeveelhede geld maak, en die man op straat wat altyd wonder wat hy sou maak as hy skielik ‘n kakhuis vol geld het, het hy iewers in ‘n dienskamer al die slagoffer se naam gehoor.

Martin stap die huis in. Sy oë swiep oor elke detail. Die reuse ontvangskamer. Massiewe vergulde kandelare hang bo hom. Hy sien aktiwiteit by die deur op sy linkerkant, en hy stap daarheen.

Daar is ‘n dik mat op die vloer, en die vertrek het n huislikheid omtrent dit. ‘n Reuse televisie pronk teen die verste muur, en Martin sien die klanksisteem. Eksotiese name.

Daar is ‘n span van vier manne, besig met vingerafdrukke, en forensiese leidrade. Dit pluk tot hare van die mat af op. Indrukwekkend. Hulle sal dit seker more saam met hulle Kentucky per ongeluk wegdonner, dink hy.

Op die rusbank sit-lê twee persone. Die ER 24 paramedici, is druk besig met die ouerige vrou, en ‘n heelwat jonger man. Die jong man is seker die hofknapie. Die ou vrou is nog so uit soos ‘n kers. Die mond hang slap oop, en dis spoegerig. As Martin so vinnig kyk, dink hy nie die prentjie gaan veel verbeter as die vrou wakker word nie. Fokken aakligheid, dink hy. Hy sien hoe die man hulle weer opnuut suurstof toedien, en sy tong klap.

‘Wanneer sal ek met hulle kan praat?’ vra hy vir die paramedikus.

Sonder dat die man opkyk, en met ‘n houding wat Martin onmiddelik herken as meerwaarigheid, antwoord hy: ’Ek is besig, ek moet hierdie mense stabiliseer, ek ka….’

Hy maak nie die sin klaar nie, want Martin ruk hom met soveel geweld regop, dat hy hoor hoe die man se werwels hulself herrangskik. As hy hom wou teesit, het die staal in die groot speurder se greep, hom vinnig daarvan laat afsien.

‘Ek het jou nie gevra om te trou nie, doos. Wanneer kan ek met hulle praat?’

‘Nie va…vannaand nie’ stotter hy, sy oë groot ‘hulle het beide ‘n reuse dosis Propofol in, en dit is aneasteties. Hulle respirasiegange is besig om plat te val, ek…. ek het werk, meneer.’ stotter hy.

Hy wys na die twee pyltjies wat op die vloer in ‘n bewystuk sakkie lê. Martin praat nie verder met hom nie. Hy stap oor na Du Preez toe.

‘Wie het dit aangemeld?’ vra Martin.

‘Ons weet nie, ‘n elektroniese gemengde stem, het ‘n oproep gemaak, ek het nog nie daarna geluister nie.’

Martin stap terug na waar die paramedikus weer effe sy mondering reg het. Hy sien die foon op die tafel langs die bank. Dit is effens van die mikkie af. Hy tel dit met sy sakdoek op, en druk “redial”.

Vier luie later antwoord ‘n stem:

‘S A P D, how can we assist you?’

Hy sit die foon neer. Hy het sy eerste antwoord.

//

As Marius ingedagte in die BMW klim, ruk sy selfoon hom luidrugtig terug na die werklikheid toe. Die verligte skermpie vertel hom dat dit sy baas is. Hy slaan sy oë hemelwaarts.

‘Hi John, I am on my way in. Another twenty minutes or so.’ maak hy sommer dadelik verskoning.

‘We have an issue with the pallets, have you sorted it?’ Nie ‘n hallo of ‘n brokkie fokken menslikheid in die drol nie, dink Marius.

‘Im on it, you will have results by Monday, as promised.’ sê hy net.

‘Ok, i am leaving to go play gholf with some customers…. hold the fort.”

‘Twenty minutes’ herhaal Marius, en sukkel om die irritasie in sy stem weg te steek.

Sy gedagtes skarrel terug na die chaos wat dreig om nou in sy lewe los te bars. Kyk, as hy die ou huis kan swaai, en sy en Heleen se plek betaal, met ‘n miljoen hier kan uitstap, vertel hy heel eerste die doos wat oppad is gholfbaan toe, om netjies in sy moer te gaan. Die gedagte laat hom ril van lekkerkry.

Dit gaan maar taamlik nag wees by die werk. Hulle slaan vervaard vure dood, maar die naweek is hy af. Hy en Heleen sal gou die plek gaan soek, en dan kan hulle saam besluit oor wat om te doen. Iewers in sy binnegoed, bruis ‘n opgewondenheid.

//

Vroeg Saterdagoggend, klim Marius en Heleen saam uit die stort uit. Sy is vatterig, maar Marius se kop beur Kensington toe. Hy blus die vuur behendig met ‘n belofte om by Eastgate ‘n draai te gooi.

As hulle by die hek uittrek, tik Heleen Marathon Str Kensington in, en die satelliet navigasie, mor en brom, en dan is hulle oppad. Beide van hulle het hierdie dekadente ou huisie in die middel van nowhere ingedagte. As hulle egter in Langermann weg opry, is die huisies vrolik en gerestoureer. Hier en daar is selfs ‘n statige ou herehuis, wat nog hulle koppe kan hoog hou in die geselskap van meer moderne blokke karakterlose sement.

Marius het Heleen net vertel van die huis. Die sleutel vir die kluis op die lughawe, het hy oor geswyg. Hy kan nie verklaar hoekom nie, maar dit is asof een of ander meganisme binne in hom, hom waarsku om eerder daardie deel van hierdie avontuur, alleen aan te pak. Hy beplan om gou vannaand te gaan kyk. Oor die boeke het hy liefs niks gese nie. Dit sou ontmoontlik wees om Heleen weg te hou van boeke af. Soms dink Marius dat hy haar tweede liefde is. Sy is ‘n boekwurm van formaat.

As die eentonige vroulike blikstem hulle aanraai om te draai, begin hulle naarstigtelik na nommer 55 soek. Op die hoek, staan ‘n pragtige ou gegewelde reus. Heleen sien heel eerste die verbleikte twee nommers op die hek.

‘Moer, dit is dié een!’ sê sy verdwaas.

Dit is ‘n manjifieke ou huis. Gebou in ‘n kort L vorm. Majestieuse koepels voor en op die kant. Massiewe sesmeter boogvensters in die ryk goue fyndraad Oregon Pine hout. Hoë spitsdak. Die tweede verdieping bestaan uit ‘n stoep, met reuse pilare tussen geboeë ingange. Die verste geuwel span ‘n vleuel wat twee reuse hoepel vensters huisves. Die pilare word verbind met amper onmoontlike fyn yster kartels en blompatrone. Die plek is omring deur ‘n lae vier voet asbes muurtjie. Die ingang is in Marathon weg, en dit is ‘n massiewe houthek, kunstig versteek in ‘n staalraam. Marius sien die hekmotor. Hy trek die BMW styf teen die hek, en hulle klim uit.

Teen die muur kondig ‘n klein geel bordjie skril aan wie die sekuriteitsdiens is wat ‘n ogie hou. Marius bel die nommer. Hulle kan seker net oor die muurtjie wip, maar hy is nie lus vir ‘n konfrontasie met ‘n sekuriteitswag nie.

Die foon lui net twee keer, en ‘n klokhelder damestem antwoord:

‘BMH security-good morning’

Marius verduidelik sy dilemma, en die dame is behulpsaam en stuur onmiddelik ‘n voertuig uit. Tien minute, verseker sy hom, en Marius lui af.

Heleen beur in die jukke. Sy “oe” en “aa” en wil net in.

‘Liefie, dis ‘n pragtige huis. Jy kan nie vir ‘n oomblik daaraan dink om dit te verkoop nie.’ Sy loop op en af voor die plek, en haar entoesiasme is aansteeklik. Die plek kielie haar arty side, dink Marius. Dit is mooi, thats a given….

Die sekuriteits Toyota kom om die hoek gesluip, en ‘n vriendelike groot rooikop man, skuif enkele oomblikke later moeilik agter die stuurwiel uit. Hy is ‘n groot man. Dit lyk nie asof hy die motor bestuur nie, dit lyk asof hy die kar aangetrek het. Soos ‘n duikpak…. Marius grinnik by homself.

‘Môre, môre, Thys Bekker,’ groet hy en steek sy hand uit na Marius toe. Daar behoort reëls te wees teen handrukke soos dié. As Marius deur die pyn newels weer terugkeer aarde toe, stel hy homself en Heleen voor.

Die man val letterlik met die deur in die huis. Die hek skuif oop, en dan bring hy ‘n bos sleutels te voorskyn.

‘As die papierwerk in orde is, kan ek seker maar dié in jou sorg sit’ sê hy en klingel die bos sleutels oordadig.

Marius oorhandig die dokumente wat die prokureur hom gegee het, en Thys kyk net vinnig daarna. Lees is nou nie sy stokperdjie nie.

Hy draai om, en begelei hulle na die manjifieke ou groot hout voordeur toe. Thys kry behendig die regte sleutel, en dan swaai 55 Marathon straat se voordeur oop.

//

Die houtvloere is onlangs behandel. Die son wat verwelkomend en helder deur die talle groot vensters spoel gooi ‘n diep glans met ‘n onmiskenbare rooi skynsel oor die vloere. Rhodiesiese kiaat. Daar is geen mufreuk, soos ‘n plek wat lank leeg gestaan het nie. Die plek is massief en selfs leeg, is daar ‘n warmte. Hierdie kan ‘n blyhuis wees. Dit lok jou in, en bederf jou met sjarme en karakter. Hulle bou huise nie meer so nie.

Heleen koer, en hardloop van vertrek na vertrek. Die hol klank van die houtvloere wat haar entoesiasme luid beklemtoon.

‘Ons trek!’ sê sy eenvoudig.

‘Wag nou,’ keer Marius ‘ons het nog skaars klaar uitgepak by ons plek.’

‘Ek gee nie om nie. Ek wil hier bly.’ Haar oë is amper smekend op Marius gerig.

Die onderste verdieping huisves ‘n pragtige ou kombuis. Die kaste se deure het ‘n growwe grein, en sommige van hulle het ogiesdraad voor, sodat ouma kan spog met haar ingelegde vrugte en konfyt. Daar is ‘n massiewe spens. In die middel van die vloer, is nog’n oorspronklike koolstoof. Die eetkamer is ‘n groot langwerpige vertrek, en Heleen begin sommer dadelik ‘n vollengte tafel met twintig stoele vir hom skets. Die vrou is heeltemal die kluts kwyt.

Twee groot lewensvertrekke. ‘n Reuse ingangsportaal. Die trappe na die tweede verdieping is ‘n versigtig gekerfde meesterstuk. Die plafonne is almal loodgedrukte kunswerke. Onder die trappe is ‘n amper versteekte deur na ‘n groot studeerkamer. Die handvatsel koper.

Dit is in die studeerkamer waar Marius die eerste onraad opmerk. Dit is duidelik dat iemand iets gesoek het hier. Teen al vier mure is duidelike gate gemaak met ‘n skerp voorwerp. Asof hulle ‘n vals paneel gesoek het, dink Marius. Hy frons onwillekeurig.

Heleen is al klaar huppelend die trap op. Die bloedstollende gil laat hom en Thys mekaar uit die pad uit storm, soos hulle boontoe haas.

Heleen staan op die verste punt van die lang gang wat al die slaapkamers verbind. Sy is spierwit. Marius hardloop nader, en as sy omdraai en beduie in die hoofslaapkamer in, verstar hy ook.

Die kamer het twee groot boogvensters. Dit is helder verlig, en in die middel van die vloer, is ‘n reuse pentagram uitgekap in die dik hout vloer. Regs daarvan, is ‘n groot stuk van die vloer, wat minder gebruik toon, en Marius raai dat die bed daar moes gestaan het. In die hoek op die vloer, lê nog ‘n stukkie verfrommelde polisielint.
Reg in die middel van die pentagram…..is ‘n dowwe vaal, amper wynrooi vlek. Ou bloed. Die mure is afgewas, maar dit vat nie ‘n genie om te sien dat dit ook gevlek was nie. Sy oom is hier dood, dring die besef tot Marius deur. Die helder sonlig gee ‘n Hollywood riller effek aan die toneel voor hulle. Marius ril onwillekeurig.

Daar is net een hout paneel in die vertrek, en dit is die een waarteen die groot bed se kopstuk moes gestaan het. Weereens merk Marius twee gate op. Op die vloer lê die residu van die poging.

‘Thys, weet jy dat hier iemand ingebreek het?’ vra Marius.

Die groot sekuriteitsman is nie stupid nie.

‘Ek sien hier is gepeuter. Dit moes gewees het in die tyd voor ons kom sluit het. Daar het ‘n week of wat verloop nadat die polisie hier klaar gemaak het, en die tyd wat ons die sleutel gekry het. Ek is seker daar is toé hier gekrap. Daar is geen teken van inbraak nie. Al die deure en vensters is heel. Nie ek of my kollegas het ondersoek ingestel voor ons toegesluit het nie.’

Heleen het effens herstel van die skok. Sy is besig om deur die ander kamers te gaan. Haar entoesiasme is duidelik gedemp. Die huis het egter die vermoeë om die vuur weer aan te steek. Dit is voorwaar ‘n meesterstuk. Die perfekte model om vervloeë dae se vakmanskap te adverteer.

‘n Halfuur later, oorhandig Thys die sleutels, en hy verskaf die alarm se kodes aan hulle.

‘Julle sal maar net met die kantoor moet skakel, sodat hulle die ding kan aktiveer.’ maan Thys.

‘Ek sal dit vroeg in die week reël’ sê Marius.

Thys groet, en los hulle allen in die groot huis. Marius gaan sit plat op die kombuisvloer, en Heleen skuif langs hom in.

‘Behalwe vir die fokkop daarbo, is ek mal oor die plek,’ sê sy. ‘het hy selfmoord gepleeg?’

‘Jip, ek het nie baie detail nie, ek moet nog met die polisie gaan praat. Ek’s nie heeltemal seker ek WIL weet nie.’ sê hy.

‘Ek stem nie saam nie. Ek sal wou vrede maak met die toneel daar bo. Ek sal wou weet.’ peins sy.

Hy knyp haar speels aan die bobeen.

‘Jy wat sommer net wil intrek… ons moet dalk eers ‘n keer of wat hier ‘n draai gooi in die aand’

‘Dalk ja, want ek voel al klaar weer lus vir trek. Ek dink nie ek gaan my laat afsit deur ‘n vaal kol nie. Huise soos dié……. is ‘n eer om in te bly.’

Hulle stap deur die tuin. Dit is effens verwaarloos, maar die opsies is eindeloos. Marius begin die droom voel…..

Word vervolg … 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: