STORIEMOSTER – Episode 1

Skuus – ek het lanklaas geblog …

April 1995

Die verwaarlose Mazda B1600, bokspring onseremonieel oor die stuk sinkplaat pad. Deon Strydom, is befoeterd. Sommige mense is nou maar net eenmaal uitgeknip om te sukkel. Niks is straightforward nie.

Hy klim uit by die stowwerige kooperasie gebou. Hy is gemiddelde lengte. So vyfvoet nege, in die ou taal. ‘n Stewige man. Die magie span styf teen die verbleikte blou T-hempie, en hy loop haastig by die glasdeur in.

‘Yes, yes.’ groet hy vinnig die gryskop ou man agter die lang toonbank.

‘Jy lyk asof jy sukkel.’ merk die ou man op.

‘Dis nou nie nonsens daai nie, oom Martiens’ Hy is kortasem. Hy vervolg: ‘Daai klomp nuwe sesduim pyp, wat ek nou die dag by oom gekoop het, nê, die verdomde klient het nou die roete van die pyp gaan staan en verander, nou is ek so twaalf meter kort. Het oom nog stock?’

‘Daai staal besproeïngspyp?’ vra die gryskop.

‘Dis net hy daai, oom’

Die ou man staan op, en verdwyn in die swak verligte stoor se binnegoed in. As hy tien minute later beteuterd terug skuifel, val Deon se moed in sy skoene.

‘Nee, Deon….. Basie Venter het die laaste lengtes kom opkoop. Ek kan bestel, maar dit sal so twee weke vat. Jammer boet.’

Daarmee, is die gesprek oor. Die koôperasieman tel weer sy koerant op, en gooi sy bril oor sy neus.

Deon is met godsdiens groot gemaak. Hy vloek daarom net gedemp, en binnesmonds. As hy mismoedig by die deur uitstap, val sy oog op ‘n klein netjiese vragmotorjie, een of ander Koreaanse maak, wat teen die pad geparkeer staan. Agter op….. is presies die pyp wat hy nodig het. Nou wel net ‘n enkele lengte, en dit is taamlik oud, maar fok dit, hy begrawe mos die goed onder die grond. Hy stap nuuskierig nader.

Terwyl hy nog die pyp staan en bekyk, staan die groot kleurlingman skielik reg agter hom.

‘Kan ek u help?’ vra die man beleefd. Deon vlieg om…. senuwees was nog nooit een van sy sterkpunte nie.

‘Ummm, ja. Waar het jy die pyp gekry?’ val hy met die deur in die huis.

‘Ek het dit by die vendusie gekoop, hier onder… sommer cheap cheap ook.’

‘Lê daar nog n paar stukke?’ vra Deon.

‘Meneer, daar lê genoeg van die pyp daar, om al die pad Joburg toe te kan water lei.’

‘Wat het jy betaal?’

‘Dis mynpyp die meneer. Amper fokkol betaal nie. Bietjie geroes en so. Die stukkie was maar tien rand’ sê die man oortuigend.

Deon bedank hom, en die Mazda kreun weer hartstogtelik oor die sinkplaatpad.

//

Die vendusiegronde krioel met voornemende kopers. Hulle voel, en vat, en meet en kibbel. Voor elke item, is ‘n groepie mense besig om te redekawel. Behalwe die massiewe kamp waar die ou mynpype lê, hier is daar nie ‘n siel in sig nie. ‘n Netjiese donkerkop jong man, sit op ‘n opvoustoeltjie, en probeer vergeefs in die stram windjie, deur ‘n koerant blaai.

‘Ek soek ‘n stukkie van die pyp,’ begin Deon ‘ek het net so 15 meter of wat nodig.’

Die mannetjie kyk op, en amper beskuldigend en effens oordadig groet hy. ‘More oom.’

Deon knik net sy kop vinnig. Hy beduie met sy duim na die pyp.

‘Jissie oom, kyk hoe lê die stront hier. Vat maar sommer ‘n stuk oom. Die goed lê nou al maande hier’ hy sit sy geveg met die koerant voort. Deon stap die groot kamp in. So ver as wat hy kan sien, lê die pype. Seker op plekke amper twee meter hoog gepak. Verskeie diktes ook. Hy krap rond, kry twee lengtes ses duim, beduie ‘n halfhartige dankie in die seun se rigting, dan is hy fort.

//

Dit is al sterk skemer, as Deon oppak. Hy gooi die oorblewende halfmeter mynpyp hardhandig agter op die bakkie, en begin sy gereedskap bymekaar maak. Dit is nou wragtag seker nie die professioneelste job nie, maar wie sal weet?

Oppad huis toe, ry hy by die drankwinkel in Fochville aan, en koop ‘n bottel Klippies. By die huis, trek hy die bakkie onder sy tuisgemaakte afdak in, skop die kermende baster kollie ‘n mooie in die pens, as sy teen hom opspring. Hy sit die drank in die huis, en sluit die mankoliekerige sink garage deur oop.Versigtig pak hy al die gereedskap in die donker geboutjie.Net soos hy die deur wil toetrek, sien hy die gemors agter op sy bakkie.

Hy sidder. As sy stomme klient darem moet weet watse kak daar alles in sy waterpype is, kry hy ‘n toeval. Hy gooi die stuk pyp sommer in die langerige gras langs die garage. Dit val lawaaierig tussen ‘n klomp ander rommel, wat ook daar versteek lê. Hy vee sommer met sy hand die geroeste residu uit die bakkie, en as hy vyf minute later sy hande was….. verstar hy.

Deon Strydom kom uit ‘n elle lange familie van myners. Hy het self sy aambag deur die myn gedoen. Vir amper vier jaar moes hy self in die donker warm maag van moeder aarde insak, om sy skuld te vereffen. Hy sidder as hy terugdink. Hy,is nie ‘n fokken myner nie. Hy sukkel sy gat af met sy besigheidjie, maar hy lewe. Net-net soms. Strydom Besproeing en Loodgieters is nou nie ‘n donnerse empire nie,en die meervoud in die laaste deel van sy maatskappynaam is entoesiasties op die beste van tye, maar hy werk vir homself. Alleen, soos hy dit like. Een ding het hom bygebly uit sy myn loopbaan…….. Deon Strydom, ken goudstof as hy dit sien. Hierdie lagie op sy hand, is nie fairydust nie, dis verseker.

Hy soek naarstigtelik na die stukkie pyp in die lang gras, en as hy dit kry, dra hy dit versigtig in die garage in. Hy trek ‘n toutjie, en die enkel oorhoofse gloeilampie, gooi ‘n mistroostige kol op die growwe sement vloer.

Hy haal ‘n lang skroewedraaier uit die gereedskapskis, en hy krap ywerig van die neerslag in die pyp uit. Hy haas homself terug huis toe, gooi ‘n vinnige, stewige dop, en dan vroetel hy onder in die deurmekaar gangkas, en hy kry die ou radio luidspreker. Op sy pad uit gryp hy die drank van die tafel af, en neem ‘n diep teug.
Hy maak die gemors wat uit die pyp gekom het fyn met ‘n halwe baksteen.Hy beweeg die magneet van die luidspreker oor die fyn hopie stof. Die roes, en die stukkies materiaal wat aan dit vaskleef, gryp dadelik na die magneet. Tien minute later, het hy ‘n vaal hopie stof. ‘n Vaal hopie stof, met ‘n baie duidelike goue skynsel.

Hy werk koorsig aan die stuk pyp daardie aand. Hy het met ‘n blaasvlam, van die stof verhit, en hy is relatief seker die pyp is gietyster. Die smeltpunte van die twee materiale is heeltemal anders. As hy versigtig, en met klein hoeveelhede gewerk het, het hy die yster en die goud geskei gekry. Tienuur daardie aand, sit Deon Strydom met ‘n klein knoetsie vier en twintig karaat suiwer goud.

Dit is naweek. Vir die eerste keer in baie jare, is Deon vroeg op op ‘n Saterdag. Sonder ‘n moerse barbie. Hy ry in Carletonville toe, en by SPAR koop hy teen ‘n belaglike prys, ‘n klein elektroniese skaaltjie. Dit kan minmum een gram meet. Dit is prefek. Hy jaag huis toe.

As hy die onbeduindende klontjie op die skaal sit, lees die elektroniese skermpie een komma nul drie gram. Hy dink vinnig. Hy het nie ‘n foon hier nie, hy spring weer in die verinneweerde bakkie, en jaag dié keer middestad toe.

//

Jimmy Kaizan, is ‘n juwelier, en ‘n oppurtunis. As die verwaarlose bebaarde man sy winkel inkom, en ‘n klein korreltjie goud voor hom neersit, bied hy die man twintig rand aan. Meerendeels net om van die vuil bliksem ontslae te raak. Die man het hom skoon, en met relatiewe gemak oor die toonbankie getrek, en twee oorvee later, het Jimmy die goud gesmelt, en die suiwerheid was foutloos. 24 karaat. Die man was tevrede met honderd en veertig rand. Jimmy het homself getroos met die wete, dat goud soos dié, ten minste honderd en sewentig rand werd was. Dit was nog steeds ‘n winskoop.

//

Deon trap die Mazda, dat die kleppe knater. Fok dit, dink hy. Volgende week koop ek ‘n spik splinternuwe een. Hy jaag teen sestig kilometer per uur, die vendusie gronde in. Hy loop weer na die skattekamp toe.

‘Jong, die pyp is presies wat ek nodig het.’ belieg hy weer die knapie. ‘Wat gaan jy my ruk vir ‘n bakkievrag?’

Die seun krap sy kop, en kyk die verflenterde man voor hom bejammerend aan.

‘Jissie, oom. Vyftig rand’ vat hy ‘n kans.

‘Goed’ sê Deon, en hy skilfer die geld manhaftig af. Deon laai die bakkie tot barstens toe vol. Hy gooi selfs ‘n paar afgesnyde korter stukke voor in die kajuit. Hy waai vriendelik vir die seun, en net voor toemaaktyd, trek die bakkie die laaste keer uit die gronde. Die seun het hom die vierde vrag verniet gegee. Hy is weer broke, maar daar is ‘n driekwart bottel brandewyn oor, en hy het baie werk.

//

Vyfuur Sondag middag, is Deon se gasbottels leeg, en kan hy nie verder smelt nie. Hy kyk na die hoop pype wat nog langs die garage lê. Hy het seker darem so amper twee bakkievragte skoon gekrap. Hy glimlag breed as hy met ‘n Checkers sak, wat se plastiek handvatseltjies sommer so dun trek, by sy agterdeur instap. Hy klim stormdronk daardie aand in die bed. Langs hom op die vloer, staan 989 gram suiwer goud. Amper honderd en veertig duisend rand.

//

Deon voer die juwelier bietjie bietjie. Soms tien gram, soms vyf. ‘n Week later, het hy vyftien duisend rand uit die man uit, en vertel sy instink vir hom dat dit tyd is om groter te gaan….met groter visse. Hy het ‘n vragmotor gehuur, en al die pype opgekoop. Die totale bedrag, vir net oor die seshonderd ton pyp….. was n skamele elfduisend rand.

Hy het die draad agter om sy erf aan die een kant stukkend gesny, en die vragmotor het die kosbare vragte direk op sy perseel kom aflewer. Die pype het amper geuthoogte gepak gelê in sy erf. Deon Strydom, se skip het ingekom.

Word vervolg …

Advertisements

9 Responses so far »

  1. 1

    Charms said,

    Ek bly ook in ‘n myndorpie, maar hier is nie sulke pype wat rondle nie 😦

  2. 2

    aceofspades said,

    Waar is mei komments???

  3. 3

    aceofspades said,

    Eish – miskien issit mei vout.

    Ek soek ook pype soos daai.

  4. 4

    jagternw1976 said,

    Het jy self die storie geskryf Dellie ?

    • 5

      Dellie said,

      Nee Jagter – dis “Monster” se storie. Ek plaas dit net hier vir hom 😉

      Die eerste episode het so effens op verkeerde plek beland 😳 Van die tweede een af, volg almal mooi opmekaar

  5. 6

    jagternw1976 said,

    O ok….. Wie is “Monster” ? Ek like die storie kwaai …. het vandag tot by
    episode 5 gelees – sommer so tjop-tjop. Wil die naweek die res opslurp.

    • 7

      Dellie said,

      Monster se regte naam is Riekus van der Westhuizen. Dalk het jy al die storie gelees wat die hele interwebs vol swerf van die ou wat sy plakkie op die Anaconda verloor het? Dit is ook sy werk. 😆

  6. 8

    jagternw1976 said,

    OOOO,,,,,,, EK ken daai storie !!!!

  7. 9

    DIONISE MYBURGH said,

    EK IS AGTER OS IN DIE KRAAL, IS DIE BOEK OP DIE WINKEL RAKKE BESKIKBAAR


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: